Internasionale betrokkenheid by Afrikaans neem toe

  • 5

Die plek van Afrikaans in dekolonisering, die doseer van die taal aan verskillende universiteite in die buiteland en probleme daarmee aan universiteite in Suid-Afrika het onlangs in die Universiteit van Kaapstad, asook op die Tuin van Digters-fees by die Breytenbach-sentrum op Wellington aan bod gekom.

Met die bou van brûe tussen die Weste en Afrika bly wen Afrikaans aan relevansie vir Suid-Afrikaanse én buitelandse universiteite. Die rol wat dit speel in die Suid-Afrikaanse taallandskap kring uit oor landsgrense heen. Afrikaans is onlangs uitgesonder as die suksesvolste dekoloniseringsinisiatief op die Afrika-kontinent deur die Ugandese akademikus Mahmood Mamdani (verbonde aan die Makerere-universiteit in Uganda en die Columbia-universiteit in New York) in ’n lesing by Ikeys.

Dit het slegs ’n halfeeu vir Afrikaans geverg om tot die draer van ’n intellektuele tradisie te ontwikkel; die groot ironie is dat die regering van die demokratiese Suid-Afrika nie dieselfde met ander inheemse Suid-Afrikaanse tale probeer doen het nie, het hy gesê, berig Rebecca Davis vir die Daily Maverick. (Lees die volledige berig hier.)

“Ware meertaligheid is deel van dekolonisasie; by hierdie debat en stryd het Afrikaans groot belang,” het Danie Marais, bestuurder van PEN Afrikaans in aansluiting by Mamdani gesê. Marais het by die Tuin van Digters op Wellington op ’n jaarvergadering van hierdie tak van die internasionale skrywersorganisasie gepraat.

“Daar is vele plekke ter wêreld – en ek beperk my nie tot Europa nie – waar Afrikaans bestudeer word, waar die literatuur in Afrikaans ontleed word. In hierdie opsig is Afrikaans ’n internasionale taal.” Só het die Belgiese literator Yves T’Sjoen in gesprek met die digter en vertaler Daniel Hugo op die fees op Wellington gesê.

“Dit is net jammer dat universiteite hier in Suid-Afrika in hul besture mense het wat nie altyd voldoende bewus is van die internasionale status van Afrikaans nie. As kulturele taal, maar ook as akademiese onderwystaal.” (Lees ’n verdere artikel deur T’Sjoen oor Afrikaans en universiteite hier.)

’n Baie positiewe ontwikkeling is die eerste leerstoel wat vir Suid-Afrikaanse tale, literatuur en kultuur aan die Universiteit van Gent ingestel is. Hein Willemse van die Universiteit van Pretoria sal op 10 Oktober vanjaar sy intreerede daar lewer.

“Dit is belangrik om die nuwe en minder nuwe stemme uit die Afrikaanse literatuur in die Nederlandse taalgebied bekend te stel, meer stemme as net die kanonieke. Die nuanses is belangrik,” het T’Sjoen aan Hugo gesê. T’Sjoen het ook genoem dat benewens die nuwe leerstoel in België en dié in Amsterdam daar die Week van de Afrikaanse Roman is waardeur Afrikaanse skrywers en lesers in Nederland en in Gent, Leuven en Brussel met mekaar kan gesels en kan kennis maak.

“Die nuwe leerstoel in die fakulteit lettere en wysbegeerte aan Gent heet amptelik Zuid-Afrika: talen, literaturen, cultuur en maatschappij. En daar is bewus gekies vir die meervoud: talen en literaturen. Dit gaan dus oor verskillende literature wat binne Suid-Afrika bestaan. Ons wil kenners, akademici wat hier aktief is in dié tale en literature, na Gent uitnodig om vir kollegas en ons studente insig te bied in die veelsydigheid van die literêre bedryf in Suid-Afrika, en dat hulle dit aan ons kollegas duidelik maak dat nie alleen Afrikaans of Engels die tale van Suid-Afrika is nie, maar dat daar ook nog andere interessante literature en tradisies bestaan.”

Op ’n vraag van Hugo het hy gesê die nuwe leerstoel gaan nie die vak Afrikaans aan die Universiteit van Gent vervang nie.

“In ons opleiding in Gent word die vak Afrikaanse taal en letterkunde aangebied. Dit gaan spesifiek oor Afrikaans. Dit gaan oor taalgeskiedenis, taalverwerwing, en dit gaan ook oor die literatuur in Afrikaans. Dit is deel van die bachelor-opleiding. Verlede jaar was daar 52 studente wat Afrikaanse taal en letterkunde as vak gekies het. Dit is meer studente vir Afrikaans as op bepaalde plekke in Suid-Afrika. Dus, daar is besonder veel belangstelling. Die fokus vir die leerstoel is veel breër. Dit gaan oor tale en literature, met wel ’n nadruk op Afrikaans, maar dan Afrikaans as een van die vele tale in Suid-Afrika. Elke akademiese jaar sal ’n kollega uit Suid-Afrika vir drie of vier maande aangestel word as gasdosent en hoogleraar. En volgende jaar sal ’n ander dissipline aan bod kom. Taalkunde, wellig. En daarna miskien geskiedenis. Daar is in totaal ses vakgebiede wat deel het aan die leerstoel.

“Belangstelling in Afrikaans ontstaan veral onder studente van Nederlands,” het T’Sjoen verduidelik, “en dit gebeur op verskillende plekke. Nie net in die Lae Lande, in Amsterdam, Leiden, Antwerpen en Gent nie. In Oktober gaan ek na Tsjeggië, waar ek ’n blokkursus Afrikaanse letterkunde gaan aanbied. En dit is studente wat Nederlands studeer en wat via Nederlands toegang het tot Afrikaans. Maar nie alleen in Tsjeggië nie, ook in Pole, in Duitsland.”

Hugo het gevra om redes vir studente in Europa se belangstelling in Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde.

Dit spruit uit uiteenlopende oorwegings, het T’Sjoen gesê en benadruk dat ’n gemene deler die noue bande tussen die tale is.

“Hulle het ook toegang tot die taal self. Hulle word uitgenodig om die Afrikaanstalige tekste te lees. Die belangstelling vir politieke geskiedenis is minimaal, dink ek. Ek dink dat dit eerder te make het met die sustersbande tussen Nederlands en Afrikaans omdat die tale so verwant is. Sommige taalkundiges sê dat Afrikaans ’n dogtertaal is, maar dit is baie ongelykwaardig. Ek praat liewer in terme van ’n sustertaal. Deur Nederlands het die studente toegang tot ’n besonder ryk literatuur. Histories ryk, maar ook aktueel.”

T’Sjoen het sy bydraes tot die gesprek met Hugo in die Nederlands van Vlaandere gelewer. “Ik denkt dat onze talen zo verwant zijn dat er geen barrière bestaat, daar geen grens is tussen Afrikaans en Nederlands.” Die Nederlands van Vlaandere is wel nader aan Afrikaans vergeleke met die Nederlands wat in Amsterdam gepraat word.

Heelwat Afrikaanse tekste word in Nederlands vertaal, het Hugo opgemerk. “As daar so ’n vertaling bestaan, wat gebruik julle in die klas?”

“Ons gebruik die brontaalteks,” het T’Sjoen geantwoord. “Ons lees die oorspronklike edisie.” ’n Opdrag aan sy studente is om een van die tekste te neem wat in die oorsig van die Afrikaanse letterkunde aan bod gekom het en dié teks, poësie of prosa, in Afrikaans te lees. “Ons het ’n groot biblioteek van Afrikaanse letterkunde in Gent – ’n poësiesentrum. Wellig die grootste versameling Afrikaanstalige poësie buite Suid-Afrika. Behalwe Gerrit Komrij s’n miskien. Maar ek dink dat ons soveel toegang het tot die oorspronklike edisies dat ons studente hoe dan ook Afrikaanse tekste kan en moet lees.”

Die poësiesentrum bevat die Ernst van Heerden-versameling. Van Heerden het indertyd aan Gent gestudeer. Dit is danksy onder andere Noordwes-Universiteit, Wannie Carstens, Dorothea van Zyl en ’n paar organisasies dat die literêre nalatenskap, die biblioteek van Van Heerden, via Lucas Malan indertyd in Gent tereggekom het. Ook die Afrikaanse digter Fanie Olivier het aangedui dat sy versameling Afrikaanse poësie na hierdie sentrum moet gaan, het T’Sjoen gesê.

“Wat woordeboeke vir Afrikaans en Nederlands betref, is die Afrikaans-Nederlands/Nederlands-Afrikaanse woordeboek (Anna) geruime tyd al beskikbaar. Anders as soveel ander woordeboeke bestaan dit nie uit twee dele nie, maar het dit ’n geïntegreerde woordelys; die Afrikaans en Nederlandse woorde staan alfabeties onder mekaar,” het Hugo opgemerk.

“Dit dui op die linguistiese verwantskap tussen Afrikaans en Nederlands en dit maak ’n statement,” was T’Sjoen se verduideliking. “Deur presies op hierdie manier metodologies saamgestel te wees, belig dit die verwantskap tussen Nederlands en Afrikaans en word dit heel aanskoulik gemaak. Die woordeboek is op ons (universiteit se) leeslys.”

T’Sjoen se kennismaking met Afrikaans was as tiener deur gedigte van Elisabeth Eybers en DJ Opperman. “Ek was toe al gefassineer nie alleen deur die melodie en die ritme van Afrikaans nie, wat iets heel anders as Nederlands is, maar ook vanweë die verwantskap tussen Nederlands en Afrikaans. Ek het toegang tot ’n buitelandse literatuur, sonder dat ek die taal moes studeer. En dit het ek heel besonder gevind.

“In die jare van die kulture boikot was daar sporadies kontak tussen die Lae Lande en Suid-Afrika. Maar: ‘It was not done.’ Sedert 1990 is daar ’n soort nuwe dinamiek tot stand gekom. En die kontakte transnasionaal, interkontinentaal tussen Afrikaans en Nederlands – Vlaandere en Nederland – het alleen maar toegeneem. Tydens die boikot was daar wel kontakte gewees tussen Afrikaanse en Nederlandstalige skrywers, persoonlike kontakte.” Danksy die Universiteit van Leuven se verbreking van die boikot kon Hugo daar studeer. En hy het ’n bekroonde Afrikaanse vertaler van werk van skrywers uit die Lae Lande geword.

Yves T’Sjoen en Daniel Hugo by die Tuin van digters 2017.
Foto: Naomi Bruwer

T’Sjoen sê hy het ’n bewondering en fassinasie vir Afrikaanse literatuur, ook vir ander literature. “Wat my in die Afrikaans so boei, is die taal, die ritme, die toon; daar sit ’n bepaalde vibrasie in Afrikaans. Dit is vir my ’n digterlike taal. En jy sien dit ook aan die bloei van die Afrikaanse poësie die afgelope jare. Daar sit ’n nuwe lewenskrag, ’n nuwe dinamiek in die Afrikaanse poësie.”

Hy maak dit aan sy studente duidelik dat Afrikaans “’n sambreelterm is, ’n algemene omskrywing van ’n grote verskeidenheid van taalvariante; Afrikaans is so gevarieerd en geskakeerd dat daar verskillende literature in Afrikaans bestaan.”

Benewens die nuwe leerstoel in Gent word ’n skrywersresidensie vir buitelandse skrywers met ’n internasionale statuur beoog en daar is planne om die Nobelpryswenner John Coetzee daarvoor te nooi. (Coetzee het werk van Nederlandse digters vertaal; dit is gebundel as Landscape with rowers: Poetry from the Netherlands en hy het die inleiding daarvoor geskryf.) Coetzee se waardering vir Afrikaans en steun aan Gelyke Kanse is eweneens bekend. Lees meer hieroor hier.

T’Sjoen het verder bekend gemaak dat “benewens writer-in-residence wil ons vertalers, onder wie Daniel Hugo, vir twee maande nooi vir werk saam met letterkunde- en vertalingstudente”.

Op die keper beskou, gaan die Universiteit van Gent se program daaroor om ’n platform te skep waar hulle op gelyke basis met kollegas in Suid-Afrika gedagtes kan wissel oor ondersoeke wat hulle onderneem, het T’Sjoen verduidelik. “Dit is belangrik dat ons organe het waar ons mekaar kan ontmoet en mekaar inlig oor mekaar se ondersoeke en mekaar kan stimuleer, en nuwe bevindinge en perspektiewe kan bring. Gent wil graag met Leiden en Amsterdam intensief saamwerk.

“Die plan is om ’n interuniversitêre as vir Afrikaans tot stand te bring waardeur ons kollokwiums organiseer, skrywers uitnooi. Ek dink dat ons heel veel kan fasiliteer vanuit ons interuniversitêre samewerking. Dit is ook die funksie van die leerstoel. Dat daar ’n nuwe debat kom. Dit is meer as 20 jaar ná 1990.

“Ek dink dat ’n nuwe dinamiek kan ontstaan. Die feit dat Gent die plan vir ’n leerstoel goedgekeur het, beteken gewoon dat hulle dit interessant genoeg vind. Want universiteite is bedrywe, en bedrywe dink ekonomies. Dit gaan dus ook oor visibiliteit, imago, rendabiliteit. Dit is die eerste leerstoel vir Suid-Afrika in België en die enigste in dié fakulteit. Daar is belangstelling vir Suid-Afrika vanuit ’n Europese perspektief. Die belangstelling is nie vanuit ’n neokoloniale oogpunt nie maar ’n opregte belangstelling in die gelykwaardigheid van Afrikaans en Nederlands.”

 

  • 5

Kommentaar

  • André Badenhorst

    Dis 'n baie insiggewende artikel! Afstand sorg hier beslis vir beter perspektief. Een van vele vars briese wat begin opkom vir Afrikaans.

  • Hanno Visagie

    Die Kase ly klaarblyklik soos die verloopte Afrikaner-elite steeds aan kruipsug. Verskoon tog maar die volgende polities gedienstige twak ten koste van Standaarafrikaans en ter wille van Capey-Afrengels : "Hy maak dit aan sy studente duidelik dat Afrikaans “’n sambreelterm is, ’n algemene omskrywing van ’n grote verskeidenheid van taalvariante; Afrikaans is so gevarieerd en geskakeerd dat daar verskillende literature in Afrikaans bestaan.”

    • Johannes Comestor

      Hanno, ek dink die aanstelling van Hein Willemse gaan ook nie die beeld van Standaardafrikaans en veral Afrikaners in Europa bevorder nie.

  • Dr Marthinus Jordaan

    Wonderlik ek wou graag n brief wat op 26-09-2017 in die Volksblad verskyn het ter ondersteuning plaas. maar kry dit nie reg nie. Opskrif: Skryf in jou moedertaal en laat vertaal

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top