Ink deur Ingrid Mennen, ’n resensie

  • 2

Titel: Ink 
Skrywer: Ingrid Mennen
Illustreerder: Irene Berg
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624077947

Hierdie boek bied ongetwyfeld iets nuuts vir die klassifisering van prenteboeke. Buiten die postmodernistiese aard kan dit gebruik word om ’n leeskultuur by jong kinders te bevorder.

Ink is postmodernisties van aard omdat dit handel oor ’n boek binne ’n boek.

Dié boek is die skrywer Ingrid Mennen en haar dogter Irene Berg se tweede projek saam. Hul eerste kinderboek as span was Ben en die walvisse (2012). Ben en die walvisse het onder andere die MER-prys vir beste geïllustreerde boek in 2013 ontvang, asook die gesogte Tienie Holloway-medalje vir kinderliteratuur in 2015. Ink bou voort hierop en is nog ’n suksesvolle projek wat ’n kwaliteitboek opgelewer het.

Die illustrasies is pragtig en werk goed saam met die tema van koerante en die geskrewe medium. Daar is van gemengde mediums gebruik gemaak, wat bydra tot die skep van tekstuur. Dit maak die boek tasbaar vir die leser – die koerant lyk so werklik.

Die boek is ’n lekker grootte vir jonger lesers om te hanteer en is nie te groot of swaar nie.

Ink is ideaal vir kinders wat tussen voorlees en selflees staan en die teks is bevorderlik vir leerprosesse soos tel, spel en lees.

Die inleiding stel kinders bekend aan die formaat van meer gevorderde leesboeke met individuele hoofstukke. Die boek begin eenvoudig, met enkele woorde, en die sinne en paragrawe groei soos die boek vorder. Hierdie benadering bevorder die ontwikkeling van leesvaardighede, wat dit ideaal maak vir kinders wat leer lees en nog steeds kan baat by ’n ouer of volwassene se hulp.

Ink is só geskryf dat dit vir beide die kind en die volwasse voorleser ’n eiesoortige leeservaring kan bied. Die interessante element is die postmodernistiese aard van die teks wat die volwasse leser sal betrek. Daar word baie fyn met die stylverskynsels van postmodernisme gespeel.

Dit is Ink se treffendste eienskap, omdat teoretiese konsepte soos postmodernisme nie gewoonlik eksplisiet in prenteboeke gebruik word nie. In hierdie geval is dit baie effektief.

Maar eers ’n vlugtige oorsig van postmodernisme en wat die stylverskynsels daarvan behels.

Postmodernisme is ’n kunsbeweging wat gemoeid is met selfbewustheid. Hambidge gee ’n kompakte verduideliking van wat die postmodernisme behels; sy sê dit is:

’n kunsbeweging wat die grense van die kunsmedium ondersoek, (her)definieer en verironiseer. Die parodie is stellig die uiterste vorm van die postmodernisme, aangesien dit by uitstek die leser/kyker attent maak op beperkinge én vindingrykheid van ’n bepaalde stelling. (Hambidge 1995:9)

Hambidge wys op verskillende stylverskynsels wat as leidrade kan dien vir die leser om ’n teks as postmodernisties te klassifiseer. Hierdie stylverskynsels word dan funksioneel gebruik om met die leser se aandag “te speel”.

Eerstens word daar breedvoerige gebruik gemaak van intertekste. Sodoende word die leser as aktiewe rolspeler betrek. Die leser moet die verbindings tussen die verskillende tekste maak en betekenisse daarin raaksien. In Ink se geval sal die ingeligte leser sien dat Tinka ook ’n kopie van Ben en die walvisse besit. Ons sien ook dat sy vir Ink uit die bladsye van Die Burger knip.

Selfrepresentasie is sekerlik die duidelikste stylverskynsel. Die postmodernistiese teks maak die leser spesifiek bewus van ’n teks se tekstualiteit en dat die verhouding tussen fiksie en realiteit problematies is. Postmodernistiese tekste is daarom selfverwysend en verwys na hulself as teks en die teks as ’n verteenwoordiging van ’n enkele waarheid of werklikheid.

Ink bewerkstellig hierdie stylverskynsel baie duidelik en suksesvol. Eerstens is die titel, Ink, en die karakter Ink verbind tot woorde, teks en taal. Die feit dat Tinka besluit om haar afgetrekte maat Ink te noem en dat sy uit koerantpapier bestaan, onderstreep die selfverwysing van die boek as ’n teks. Wat tot die stylverskynsel van dekonstruksie lei.

Postmodernisme bevraagteken hiërargieë en ordes (Hambidge 1995:11). Hiermee saam word die grense van ordening bevraagteken deur vrae te vra, soos: Wie is die skrywer? Is Ingrid Mennen die skrywer of Tinka? En wie is dan die karakter? Hierdie tipe dekonstruksievrae word bevorder deur die genre-eienskappe van ’n prenteboek, waar daar baie min tot amper geen teks is om te ontleed nie. Die prente word dan deel van die teks.

Die grense tussen die werklikheid en die fiktiwiteit van die boek word dus bevraagteken.  

Die gesag van die skrywer word ook in twyfel getrek en vorm die middelpunt van die boek. Soos reeds gevra: Is Tinka of Ingrid Mennen die skrywer? Want Tinka lees aan die einde ook ’n boek getiteld Ink. Hierdie aspek wys ook terug na die selfverwysing van ’n postmodernistiese teks asook waar die grense tussen werklikheid en fiktiwiteit lê.

Laastens is die postmodernisme se gunsteling-stylverskynsel die parodie. ’n Parodie is die gebruik van ’n bestaande teks waarop iemand anders grappige ironiese kommentaar lewer. Die populêre gebruik van “meme’s” op die internet is ’n goeie eietydse voorbeeld, want ’n eenvoudige foto of grafika word uit die oorspronklike konteks gehaal en daar word kritiek of kommentaar daarop gelewer binne die raamwerk van ’n nuwe konteks.

Tinka gebruik koerantpapier om vir Ink te maak en sy neem vir Ink oral saam – sy is selfs ’n gas tydens aandete. Volgens Tinka is haar nuwe maat werklik. Tinka meld ook dat Ink nie mag nat word nie, al is sy vuil. Ten einde word Ink ’n boek, dalk dieselfde boek wat die leser lees. En waar laat dit die grense van werklikheid teen oor fiktiwiteit? Is Ink dan nie werklik omdat sy ’n boek word nie?

Hierdie postmodernistiese stylverskynsels funksioneer baie goed binne die raamwerk van ’n kinderboek, omdat dit verbeeldingsvlugte aanwakker, maar ook in ’n werklikheid grond – die werklikheid van die boek, maar ook die fiktiwiteit.

Ten slotte is Ink nie net ’n oppervlakkige prenteboek nie, maar ontgin die gebruik van postmodernistiese stylverskynsels suksesvol. Hierdie boek is beslis geskik om ’n leeskultuur tuis te skep, wat dit die ideale geskenk maak vir kinders wat hierdie jaar “grootskool” toe gaan en leer om te lees.

 

Bibliografie

Hambidge, J 1995. Postmodernisme, Pretoria: JP van der Walt

 

  • 2

Kommentaar

  • Interessante ontleding. Vir my, die koper, gaan dit oor die vlak waarop die boek my aanspreek. En, hierdie boek is 'n gunsteling geskenkboek vir 'n wye ouderdomsgroep, want dis prettig. Die kunswerk is verfrissend en die storie vol verassings.

  • Pingback: Ander resensies – Nerd Literêr

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top