Ingrid se Glorie: Maandblad Zuid-Afrika

  • 0

Ingrid Glorie het onlangs op haar Facebook-statusbywerking geskryf oor die kinders in Nederland wat boeke saam met hul Happy Meals ontvang. Maar toe Naomi Meyer haar hieroor wil uitvra, blyk dit daar is ’n baie meer relevante rede om juis op 10 Oktober 2012 met haar te gesels. Hier beantwoord Ingrid die vrae in haar kenmerkend uitstekende Afrikaans.

Hallo Ingrid, en as ek nog nie gesê het nie: geluk met die aanstelling as hoofredakteur van Maandblad Zuid-Afrika. Sal jy kortliks vir ons lesers van hierdie tydskrif vertel?

Dankie Naomi! Dis vandag ’n groot dag vir my, omdat die eerste uitgawe van Maandblad Zuid-Afrika waarvoor ek as redakteur verantwoordelik is, nou net van die perse gerol het.

Maandblad Zuid-Afrika is die tydskrif van die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging (NZAV). Die NZAV is in 1881 gestig ter ondersteuning van die Transvaalse Boere ten tyde van die Eerste Anglo-Boereoorlog. Vandag is dit ’n kultuurorganisasie wat die bande tussen Nederland en Suid-Afrika wil bevorder. Sy tuisbasis is die Zuid-Afrikahuis aan die Keizersgracht in Amsterdam, waar ook die grootste Suid-Afrikaanse biblioteek buite Suid-Afrika gevestig is. In die apartheidsjare het die NZAV daarvoor gekies om steeds in kontak met Suid-Afrika te bly en te probeer om deur gedagtewisseling en versigtige diplomasie iets aan die situasie in Suid-Afrika te verander. Dit was ’n standpunt wat in daardie jare nie baie gewild was in Nederland nie. ’n Goeie gevolg is egter wel dat die biblioteek dwarsdeur die jare van die kultuurboikot heen steeds aktueel gehou is en dat daar geen gapings in die versameling ontstaan het nie. Agterna is daar ook heelwat bespieël of ’n kultuurboikot – anders as ’n ekonomiese boikot of ’n sportboikot – wel verstandig was. In elk geval is die NZAV nou ’n oop organisasie wat graag uitreik na enigeen en almal in Nederland, Suid-Afrika, België en daarbuite wat lief is vir Suid-Afrika en vir wie die band tussen Suid-Afrika en die Lae Lande belangrik is.

Maandblad Zuid-Afrika is die NZAV se belangrikste aktiwiteit. Dit verskyn tien keer per jaar in ’n oplaag van 800 tot 1 000 eksemplare. Die grootste deel van ons lesers woon in Nederland, maar ons het ook heelwat lesers in Suid-Afrika, in België en elders in die wêreld. Elke nommer het sy vaste rubrieke oor die politiek, ekonomie en aktiwiteite op die raakvlak van Nederland en Suid-Afrika. Dink aan die Afro Vibes-festival wat onlangs in Amsterdam gehou is, uitstallings van Suid-Afrikaanse kunstenaars, of konserte van Suid-Afrikaanse artieste. Verder is die maandblad al jare baie sterk waar dit gaan oor letterkunde en geskiedenis, met gewaardeerde medewerkers soos die letterkundige Hans Ester, die vertaalster Riet de Jong-Goossen en die historici Bart de Graaff en Gerrit Schutte.

My voorganger, Bart de Graaff, het geweldig baie gedoen om Maandblad Zuid-Afrika van ’n eenvoudige klubblad, wat in die ou dae nog met knip- en plakwerk aan mekaar gesit is, te transformeer na ’n volwasse en professionele tydskrif. Met enige aanpassings wat ek nou maak, bou ek dus voort op die fondament wat Bart gelê het. 

Maar natuurlik wil ek ook my eie stempel op Maandblad druk. Ek is gelukkig dat ek vir my eerste nommer die medewerking kon kry van twee nuwe stemme: cabaretière Anne van Veen, wat oor haar besoek aan die Darling Voorkamerfest en haar samewerking met die Kaapse kletssanger Churchil Naudé skryf, en Solet Scheeres, wat ’n pragtige oorsig geskryf het oor Suid-Afrikaanse kinderboeke, ’n onderwerp wat tot dusver in Maandblad ontbreek het. In die komende maande gaan ons ook Maandblad se webwerf verder uitbou, onder meer met ’n lekkerlees-blog en ’n vertalerswerkswinkel, waar ’n nuwe generasie vertalers – die “kinders” van Riet de Jong – van hulle werk kan presenteer. Hopelik kan ons daar ook dit wat ons weet oor vertalinge, en dan spesifiek in die wisselwerking tussen Nederlands en Afrikaans, verder verfyn. Vir albei projekte het ons toeseggings gekry van groot name in daardie veld. So ek is baie dankbaar, en baie opgewonde daaroor.

Verder is dit my taak as hoofredakteur om fondse te soek. Want 20 of 24 bladsye is maar min, en ek sou graag meer ruimte wil hê om méér verrassende en spraakmakende artikels te kan publiseer. Daar is so baie onderwerpe wat ons nou nie by uitkom nie! Ek sou ook graag my medewerkers beter wou betaal. Uiteindelik sal dit die kwaliteit van die tydskrif bevorder. So ja, dit sou wonderlik wees as ons meer intekenare en meer adverteerders kon vind.

Wat is jou persoonlike konneksie met Suid-Afrika (en waarom praat jy vlot en foutloos Afrikaans selfs al woon jy in Amsterdam)?

Ek het in 1991 vir die eerste keer met Suid-Afrika en Afrikaans in aanraking gekom, toe Wium van Zyl (UWK) gaskolleges kom gee het by die Vrije Universiteit in Amsterdam. Die kennismaking met die Afrikaanse letterkunde was ’n openbaring, want hier was boeke wat nie net oor abstrakte issues gegaan het nie, maar oor kwessies wat direk aan elke mens se basiese lewensbehoeftes geraak het, soos armoede, werk en ‘n plek om te bly. In 1993 het ek vir ‘n leerlingwerkskap van ses maande Suid-Afrika toe gekom. Uiteindelik het ek drie jaar gebly. In daardie tyd het John Kannemeyer ’n groot invloed op my ontwikkeling gehad. Hy het my allerhande boeke laat lees en plekke gaan wys. Ek was ook baie bevoorreg, omdat hy baie deure vir my oopgemaak het. Dit was ’n tyd wat ek intens beleef het en die vriendskappe wat tóé ontstaan het, lê 20 jaar later nog altyd baie na aan my hart.

Terug in Nederland het die werklikheid toegeslaan. Ek het ’n paar boeke uit Afrikaans vertaal, soos Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein! en Deon Meyer se Infanta. Ek was verantwoordelik vir die Afrikaanse insetsels in die Van Dale Spreekwoordenboek en ek het deur die tyd resensies en letterkundige studies bly skryf oor Afrikaanse literatuur. Ek het ook aan ’n proefskrif oor die vroeë Afrikaanse literatuur gewerk en so ’n bietjie Afrikaanse letterkunde gedoseer aan die Universiteit van Utrecht. Daardie klasse het geweldig baie studente getrek en hulle was net so mal en verwonderd oor hierdie nuwe wêreld wat vir hulle oopgegaan het as ons destyds. Maar dit was alles klein goed en hoofsaaklik het ek die afgelope jare maar skoolgehou om aan die lewe te bly. En daarin was ek beslis nie ’n natuurtalent nie!

My belangstelling vir Suid-Afrika het so ’n bietjie begin verflou, tot ek in Desember 2010 ’n konsert van Amanda Strydom bygewoon het in Leiden. Dit het reg tot my hart gespreek. Sowel my liefde vir Afrikaans as my drang om self kreatief te wees, om te skryf, is daardie aand weer oopgevlek.

In dieselfde tyd het ek begin aktief raak op Facebook. Deur Facebook het ek weer in kontak gekom met ou vriende uit Suid-Afrika en ek het agtergekom dat my ideale wêreld – die virtuele dampkring wat jy vir jouself skep deur juis bepaalde vriende te kies – oor twee dinge gegaan het: Suid-Afrika en skryf.

So geleidelik het ek besef dat die onderwys vir my nie die regte plek was nie. Dit was ’n langsame proses, maar uiteindelik het ek van die een dag op die ander besluit om my werk te bedank. Destyds het ek nie geweet wat die toekoms sou bring nie. Maar gelukkig hoor ek toe al redelik gou dat Bart de Graaff soek vir ’n opvolger. Ek het natuurlik ook al ’n verbintenis met die NZAV en die Maandblad wat oor meer as 20 jaar strek! In hierdie werk as redakteur van Maandblad Zuid-Afrika kom die twee lyne in my lewe, Suid-Afrika en skryf, op ’n perfekte manier saam.

Maandblad Zuid-Afrika is wel die tydskrif van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam, maar lyk my daar is nog baie ander aktiwiteite wat hier aangaan: ek sien onder andere van ’n leeskring in die Zuid-Afrikahuis (Eybersdag hierdie Saterdag, die 13de, en Abjatar wat so lag die einde van die maand). Is daar baie Nederlanders wat hierdie geleenthede kom bywoon? Of is dit meestal Suid-Afrikaners, expats, wat hierin belangstel?

Die Zuid-Afrikahuis het ’n vaste kern van besoekers. Dis meestal Nederlanders wat lief is vir Suid-Afrika. Daar is ook ’n aantal Suid-Afrikaanse expats wat inmiddels tot die vaste kern behoort. Die Zuid-Afrikahuis is ’n ou, smal gragtepand en die kamers is nie baie groot nie. Daarom moet daar vir ’n belangrike aktiwiteit soos die Eybers-dag ongelukkig ’n beperking op die aantal deelnemers gesit word. Anders sou die belangstelling seker nog baie groter wees!

Wat vir my persoonlik baie beteken, is dat ons op 18 Desember by die Zuid-Afrikahuis ’n aand rondom die Nederlandse vertaling van Kannemeyer se JM Coetzee-biografie organiseer. Kannemeyer was ’n vaste besoeker van die Zuid-Afrikahuis en dit is passend dat ons daar stilstaan by hierdie boek, wat sy magnum opus geword het. Die sprekers wat belangeloos hulle medewerking verleen, is die Vlaamse skryfster Kristien Hemmerechts, Coetzee se Nederlandse uitgewer Eva Cossee, en Coetzee-vertaler Peter Bergsma. Die uitnodigings moet nog verstuur word, so hier het LitNet nou die primeur!

Onlangs het jy op Facebook geskryf oor die verregse mense by die onthulling van die Mandela-standbeeld in Den Haag. Kan jy vir my van hierdie geleentheid en van jou ervaring hier vertel?

Ek dink die feite is bekend. By die onthulling van die standbeeld van Nelson Mandela in Den Haag het ons, omstanders, skielik bewus geraak van musiek wat kliphard gespeel is en wat aartsbiskop Tutu se gebed oorstem het. My hart het in my skoene gesak toe ek besef dis die ou “Stem” wat ek hoor. Die woorde wat in my opgekom het, was “captive audience”: ons was daar vir ’n feestelike geleentheid en skielik is ons vasgevang in hierdie muur van geluid wat ons nie aan kon ontsnap nie, nie uit kon wegbreek nie. Die demonstrante het ook rookbomme gehad en “Mandela, moordenaar!” geskree. Maar die ergste was die klank, omdat die keuse van “Die Stem” bedoel was om te skok en te affronteer.

Op die oomblik self het dit my geruk, die trane het oor my wange gerol. Ek het onmiddelik ’n Facebook-verslaggie gepos waarin ek geskryf het ek is “geskok”. Maar in die dae daarna het ek eers agtergekom hoe diep dit geraak het. Dan is “geskok” skielik ’n goedkoop woord. Ons wat daar was, het nog vir dae agterna siek gevoel, siek, siek, siek. Maar terselfdertyd besef jy, hierdie avontuur van ons is niks in vergelyking met die geweld en gevare wat mense in Suid-Afrika daagliks mee gekonfronteer word, in die stede, op die plase, op die Kaapse Vlakte, nie.

Ek was baie bekommerd toe ek agterkom daar is mense in Suid-Afrika wat dink dis ’n goeie ding dat hierdie neo-Nazi’s in Nederland aandag vra vir die plaasmoorde. Van my Suid-Afrikaanse vriende het ook so gevoel, mense vir wie ek baie lief is en wie se opinie ek respekteer. Op daardie oomblik het ek besef dat ons tog maar op twee verskillende kontinente leef, dat ons gevorm is deur twee verskillende historiese tradisies, en dat dit nie altyd vanselfsprekend is dat ons dieselfde aanvoeling het nie. Ons moet bly praat en ons moet bly soek om mekaar te vind.

Dis belangrik om te noem dat die insident in Nederland glad nie soveel aandag gekry het as wat Suid-Afrikaners miskien dink nie. Dit was nie voorbladnuus nie, hooguit ’n kort beriggie op bladsy 5, waarin hoofsaaklik melding gemaak is van die ordeverstoring deur ’n groep neo-Nazi’s. Die Nederlandse koerante het na die insident nie skielik die saak van die plaasmoorde opgeneem nie. Dit het in Suid-Afrika heelwat meer stof laat opwaai as hier.

Maar belangriker nog is dat enige assosiasie met neo-Nazi’s die Nederlandse aandag aan plaasmoorde net skade kan doen. Ek het so ’n bietjie op die internet ingegaan en die agtergrond van hierdie ouens ondersoek. Die indruk wat ek gekry het, is dat hulle organisasie betrokke is by die vernieling van Joodse grafte. Hulle vereer landverraaiers wat in die Tweede Wêreldoorlog die kant van die Duitsers gekies het. En hulle ondersteun “wetenskappers” wat die Holocaust, die moord op ses miljoen Jode, ontken.

Vir die meeste Nederlanders is neo-Nazisme fundamenteel onaanvaarbaar. Die verklaring daarvoor lê in ons eie geskiedenis, in die diep wonde wat die Tweede Wêreldoorlog in die Nederlandse psige agtergelaat het en wat ook twee generasies later nog deurwerk. Dat neo-Nazi’s hulleself nou manifesteer as die kampvegters vir die saak van blanke boere in Suid-Afrika, maak dat die geregverdigde bekommernis en die hartseer oor die plaasmoorde in ’n totaal verkeerde lig geplaas word. Dis belangrik om van daardie gevoelighede wat by die ander leef, bewus te wees wanneer jy as Suid-Afrikaner hoop dat Nederland – of enige buitelandse mag – druk op die Suid-Afrikaanse regering gaan uitoefen om iets aan die saak van die plaasmoorde te doen.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top