Ingrid Glorie wen Vertaalengel 2018

  • 1

Ingrid Glorie, Voertaal se korrespondent in Nederland, het pas verneem dat sy die Vertaalengel 2018 gewen het.

Ingrid Glorie (Foto: Naomi Bruwer)

Baie geluk met jou prys, Ingrid! Watter instansie is betrokke by die toekenning van hierdie prys?

Dankie, Menán! Ek het dit glad nie sien kom nie en ek is nog heeltemal verbysterd. Maar om jou vraag te beantwoord: die Vertaalengel is ’n prys van die werkgroep Literair Vertalers, wat deel is van die Nederlandse Auteursbond (tot onlangs bekend as die Vereniging van Letterkundigen). Daar is ’n Vertaalengel en ’n Vertaalduivel. Die Vertaalengel is ’n prys vir iemand wat hom- of haarself verdienstelik gemaak het vir die beroep van vertaler; die Vertaalduivel is ’n vriendelike aansporing om ’n meer positiewe houding teenoor die vertalersvak aan te neem. Ek het darem gelukkig die Vertaalengel gewen!

Afrikaanse literatuur in Nederlandse vertaling

Wat behels die prys?

Dit is ’n trofee, ’n simboliese prys. Ek verstaan ek kry die prys as ’n blyk van waardering, nie net omdat ek met my werk vir die Week van de Afrikaanse roman en ander geleenthede die kennis van Afrikaans en Afrikaanse letterkunde in Nederland en Vlaandere probeer bevorder nie, maar ook omdat ek altyd probeer om vertalers wat boeke vanuit Afrikaans in Nederlands vertaal, daarby te betrek. Tydens die Week van de Afrikaanse roman het ons byvoorbeeld nog elke keer ’n vertalersdebat of ’n vertalerswerkswinkel georganiseer waar skrywers en vertalers mekaar kan ontmoet en kwessies rondom vertaling kan bespreek. Vir hierdie spesifieke byeenkomste het ons hulp gekry van die Expertisecentrum Literair Vertalen, die Vertalershuis en die Nederlands Letterenfonds. Ek kom agter dit is sowel vir die vertalers as vir die skrywers geweldig stimulerend. Skrywers sê nou al as hulle weer Nederland toe kom, hoop hulle dat húlle werk ook die onderwerp van ’n vertalerswerkswinkel word!

Die Week-logo is deur Nathan Trantraal ontwerp.

Een van die hoogtepunte van hierdie byeenkomste was die toekenning van ’n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan Riet de Jong-Goossens, wat absolute baanbrekerswerk gedoen het. Sy het van die vroeë ’90’s af amper vrou-alleen die Afrikaanse letterkunde vir Nederland ontsluit. Inmiddels het daar ’n nuwe groep vertalers opgestaan, soos Rob van der Veer, Martine Vosmaer en Karina van Santen, Dorien de Vries, Bert Aquarius, Michiel Angenent, Elke van den Bergh en Jente Rhebergen.

Week 2014: Kirby van der Merwe, Marita van der Vyver, Etienne van Heerden, Sonja Loots

Hoe voel jy oor die toekenning?

Jy bedoel behalwe nou totaal verras? Ek is baie dankbaar vir die erkenning wat dit aan die Week van de Afrikaanse roman gee. Dit bevestig dat ons van 2014 af iets waardevols tot stand gebring het. Die Week het oor die jare al hoe groter gegroei en ek wil dan ook baie dankie sê vir die hele span: Marisa Botha, Laura Engels, Jente Rhebergen, Karen Vegt en Elize Zorgman. En natuurlik vir die skrywers en feeskunstenaars wat die Week elke keer weer so ’n absolute plesier gemaak het! Maar ek besef ook die Week sou nie moontlik wees sonder ons vennootorganisasies (die kultuurorganisasies, boekwinkels, biblioteke en universiteite wat ons skrywers ontvang), en sonder die borge in Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika. Mense in Suid-Afrika besef dit dalk nie aldag nie, maar jy kry in Suid-Afrika trusts, organisasies en maatskappye wat in ’n belangrike mate verantwoordelikhede wat in Nederland en België deur die regering vervul word, oorgeneem het. Ek is altyd weer geweldig beïndruk met hulle betrokkenheid en omgee vir Suid-Afrika en sy mense en vir Afrikaans as taal. En ek is diep dankbaar dat hulle my werk vir Afrikaans, sy skrywers en sy kunstenaars, hier in die Lae Lande help moontlik maak.

Week 2016: Francois Smith, Marita van der Vyver, Simon Bruinders, Marlene van Niekerk, Ena Jansen, Lien Botha (ontbreek op foto: Karin Hougaard, feeskunstenaar)

Wie het dit voorheen gewen?

Die Vertaalengel en die Vertaalduivel word sedert 2008 uitgereik. Kom ons hou maar by die Vertaalengel. Die prys word gewoonlik toegeken aan mense wat aanhoudend opkom vir die posisie van vertalers. ’n Enkele keer is dit ook toegeken na aanleiding van ’n publikasie wat ’n gesprek oor vertalings aan die gang gesit het. Maar dan sien ek ook die televisieprogram De Dode Dichters Almanak het al die prys gewen; ook Poetry International en die bekende Amsterdamse Athenaeum-boekwinkel. Ek kan steeds nie glo dat my naam ook aan hierdie ry toegevoeg gaan word nie. Ek kan dit maar net as ’n opdrag vir die toekoms beskou. My eerste stap is dat ek die vertaalrubriek wat ons in 2012 op Maandblad Zuid-Afrika se webwerf begin het, op Voertaal wil voortsit. En verder is ek en Isabelle Vermeij van Zuid-Afrikahuis in Amsterdam besig om te ondersoek of ons in September weer ’n Festival voor het Afrikaans in Nederland kan hou. Daar is al planne vir ’n vertalerswerkswinkel as onderdeel van dié fees!

Week 2017: Stefaan Goossens (Poëziecentrum, Gent), Willem Anker, Rudie van Rensburg, Ingrid Winterbach, Andries Bezuidenhout, Deidre le Hanie (ATKV) (ontbreek op foto: Karien Brits en Suzie Matlhola (Afrikaans in Soweto))

Wanneer mag jy die trofee in jou hande hou?

Die uitreiking is op Maandag 26 Maart tydens Vertaalslag, ’n byeenkoms georganiseer deur die Werkgroep Literair Vertalers in samewerking met Stichting Literaire Activiteiten Amsterdam (wat in 2016 ook die openingsaand van die Week vir ons georganiseer het). Dit word gehou in die Tolhuistuin in Amsterdam. Die hoofprogram gaan veral oor Shakespeare en die vraag hoe sy werk deur moderne vertaling in die 21ste eeu lewend gehou kan word. Die belangrikste sprekers is die Shakespeare-deskundige Ton Hoenselaars, wat verlede jaar nog ’n boek gepubliseer het met die titel Shakespeare forever!, en die Vlaamse skrywer en dramaturg Tom Lanoye – natuurlik goed bekend in Suid-Afrika – wat fenomenale werk gedoen het om Shakespeare se koningsdramas nuwe woema te gee. Dit klink na ’n wonderlike program. Ek sien baie daarna uit. En ek is natuurlik baie nuuskierig na my kollega wat die Vertaalduivel gewen het …

  • Foto’s: Elize Zorgman
  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top