Informele apartheid

  • 20

Ek was gister alleen Gold Reef City toe, nie om aan die pretpark se vermaaklikhede deel te neem nie, maar suiwer om tussen die gewoel van die pretgangers te wees, om die plesierige atmosfeer geestelik aan te voel, asook vir loopoefening wat ek gekort het.   Ek was daar die hele dag, eers ten doel vir ’n vieruur-periode, wat uiteindelik uit suiwer plesier, tot 17h00 gestrek het.  Die weer was helder sonnig met ’n koue briesie, welke koue ysig in die skaduwees gevoel was. 

Wat my opgeval het was dat die demografie van die pretgangers in die oggend hoofsaaklik oorheersend wit, met ’n minderheid bruin en Indiër tussenin, hier en daar swartes, was; maar teen 12h00 begin omswaai het na hoofsaaklik swart, en teen 15h00 omtrent net swart met ’n ietsie van wit, Indiër en bruin tussenin.  Deurgaans was die publiek die ene uitgelate plesierigheid sonder enige voorval van rassewrywing.  Die pretgangers onder die rasse was merendeels in groepies; of jong enkellopende paartjies, of families met hulle kinders en vriende, ook in groepies saam.   Wat my opgeval het was die onsigbaarheid van enige ooglopende gay pretganger onder die skare, wat seker daaraan toe te skryf was dat gays wat wel daar was, saam met hulle “straight” vriende verkeer het. Toeriste van ander lande was bitter skaars te sien.

Weens die opgewonde atmosfeer, het mense hard gepraat en kon jy gesprekke duidelik aanhoor.  Onder wittes en die meeste bruinmense was die taal oordonderend Afrikaans, met Engels hier en daar aangehoor.  Indiërs het of Engels of ’n Indiërtaal gepraat; onder swartes uitsluitlik hulle eie taal.  Ek het nie een geval gehoor waar swartes in Engels onderling gekommunikeer het nie.

In die oggend tussen 10h00 en 11h00 en weer die middag tussen 14h00 en 15h00 het ek myself op ’n sitbank reg oorkant die draai in die “rapid waters”-kanaal geparkeer, ’n area waar daar die meeste voetgangerverkeer was (naby die Anaconda en Wegholtrein).  Ek kon die verbygangers beide dophou en aanhoor.  Jy kon ’n minuskule weergawe van Suid-Afrika voor jou oë sien verbyloop.

Wat my opgeval het was hoe die “soort soek soort” beginsel onbewustelik onder die skare daar was.  Behalwe vir drie blinkoog Duitse toeriste met opgewonde swart vrouens aan hulle sye, het ek selfs nie een veelrassige geselskap gewaar nie, en dit in ’n kosmopolitaanse stad soos Johannesburg!  Selfs bruin en wit Afrikaanssprekendes het nie saam verkeer nie. Dit was asof die rasse, wel van  mekaar bewus was, maar mekaar nie raakgesien nie. Waar aanknopings onder vreemdelinge vir mekaar wel plaasgevind het, was dit onder dieselfde rasgenote.  Selfs by die eetplekke was daar geen veelrassigheid nie. Rasse was wel skouer aan skouer in die geskaar, maar geensins geestelik saam nie. Die groep wat vir my die luidste liggaamlik aangespreek het (body language), dat hulle niks met ander te doen wil hê nie, was die Moslems met hulle Oosterse kleredrag en versluierde vroue. Wat my tog heerlik verbaas het was die Moslem- gesluierde vroue.  Hierdie vroue was uitgelate laggend en skreeuend op die pretmasjiene.

Terwyl ek die pretgangers op my sitbank dophou, het ek myself afgevra, Hoekom?  Ek het tot die slotsom gekom dat die pretgangers se gekuier by die pretpark ’n verlenging van hulle huislike privaat lewens in die openbaar vertoon word. Gedurende werksure, weens finansiële en ekonomiese belange, geskied rasse-oorvleueling as onvermydelik, maar na ure word ontspan onder eie soort, ’n gemaksone vir eie sielsorg en heil.

By die pretpark wil almal hulself geniet. ’n Ontsnapping van die politieke, godsdienstige  en ekonomiese druk daar buite wat ander emosies opkikker. In die pretpark, ten spyte van diversiteit, vergun elkeen onvoorwaardelik die ander sy reg binne dieselfde grondgebied (die park) om ook aan die plesiere wat die pretpark aan te bied het, saam te deel.

 

  • 20

Kommentaar

  • "Dit was asof die rasse wel van mekaar bewus was, maar mekaar nie raakgesien het nie."
    Verbaas dit jou of is jy hartseer daaroor?

      • My gevolgtrekking sal wees dat jy hartseer is/was, en dit maak my hartseer.
        Jou kruks klink eerder soos die antwoord. Ten spyte van - kan almal wel saamleef sonder dat rassevermenging in jou keel af forseer word.

        • Jou gevolgtrekking is 'n mistasting van die werklikheid. Jy het ooglopend geen van my vorige politieke kommentare gelees nie. Lees hulle en maak weer 'n gevolgtrekking. Terloops. Waar is rassevermenging in die pretpark in enige keelgat afgedruk? Almal wat daar was, was daar as gevolg van vrye keuse.
          Die onvermydelike is dat ons leef in 'n land waar verskillende rasse skouer aan skouer in die openbaar dieselfde grondgebied deel. Die onlangse politiek het dit dat wit mense deur sommiges in hierdie land nie 'n bestaansreg gegun word nie. Hierdie einste groepe wil voorgee Afrikaners is nie geregtig op hulle taal en kultuur nie. Die pretpark-analogie het dit, sonder om enige ras uit te sonder, dat ons as wit volk, ook in dieselfde land ewe aan ons regte op geregtig is, soos wat ander rasse in dieselfde grondgebied op hulle regte geregtig is, is jy ongelukkig heeltemal byster.

    • Die kruks van my waarneming was eerder: "In die pretpark, ten spyte van diversiteit, vergun elkeen onvoorwaardelik die ander sy reg binne dieselfde grondgebied"

  • Jaco,
    Jy skryf hierbo "Wat my opgeval het was die onsigbaarheid van enige ooglopende gay pretganger onder die skare, wat seker daaraan toe te skryf was dat gays wat wel daar was, saam met hulle “straight” vriende verkeer het".

    Hoe verstaan ek jou nou? Jy het al hier verduidelik (om jou punt te staaf dat diegene so gebore word) dat hulle (julle) mekaar op 'n afstand kan "uitken".
    Jy weerspreek jou mos.

  • Raed
    Dankie vir die geleentheid om weer met jou te gesels.
    Maar om jou vrae in jou tweede paragraaf te beantwoord, wil ek net sê dat jy my vorige stellings hier misken.
    Wat ek wel in die verlede gesê het, is dat daar AANDUIDINGS is dat VAN die gays (na my mening, 'n minderheid van hulle) so gebore is weens WAARNEMINGS van PRE-PUBERTEIT-kinders wat al die gedrag-simptome daartoe toon (veral verwyfdheid onder seuns en butch gedrag onder dogters). Ek het ook al gesê dat daar geen feitlike bewyse is dat gays wel so gebore is nie. Ek het ook al genoem dat tweelinge wat van kleins af van mekaar geskei is, dat dit al waargeneem is dat in die meeste gevalle die ander een ook so bevind is. Wat wel vasgestel kan word is dat gebeurlike faktore gedurende puberteit jare daartoe aanleiding kan gee in die meeste gevalle. Seks in watter formaat ook al, is gevestig gedurende sodanige puberteitjare, en werklik sonder kastrasie, is daar weinig wat in die toekoms daaraan gedoen kan word.
    Ek self het al gesê ek glo nie ek is so gebore nie, maar ja, ek sal dit beslis nie anders wil hê nie.
    Gays kan mekaar nie normaalweg uitken soos wat ek 'n swart of wit van mekaar kan onderskei nie. Die oorgrote meerderheid gays kom heteroseksueel voor (veral gays met vrouens getroud), tensy hulle die teendeel wil voorgee. Wat ek wel in die verlede al gesê het is dat indien jy iemand dophou, indien dit 'n man is en sy oë dwaal in geselskap uitsluitlik na ander mans, jy verseker kan wees hy is gay. Selfs jy as hetero kan dieselfde oefening doen. In my pretpark-waarnemings, het die mense te vinnig verbygeloop om tot enige konklusie te gekom het.

  • Interessant Jaco; goeie waarnemings. Dit is inderdaad so; voëls van eenderse vere ...
    Jan Rap

      • Helmine le Roux

        Baie interessante waarneming, Jaco. Dit verbaas my egter nie. Ek dink dis hoe mense oor die algemeen voel. Meer tuis en gemaklik in jou eie kultuurgroep waar jy presies weet wat jy te wagte is sonder om op jou hoede te wees.

        Dis 'n baie oorspronklike idee. Wat het jou daaraan laat dink?

        Mooi loop.

        Helmine

        • Helmine

          Dankie vir jou respons.

          Dit was toe ek in die pretpark alleen met my gedagtes was, dat ek toevallig daaraan gedink het.

  • Baie goeie waarneming wat ook as metafoor vir ons hele samelewing kan geld.

    Sedert 1994 bestaan daar nie meer groepsgebiede nie. Tog bly die woonbuurte meesal (veral in plattelandse dorpe) apart. Geld is nie noodwendig die rede nie - baie middelvlak- en self hoëvlakposte is deur bruin en swart mense beset.

    Mense van alle kulture ("rasse"?) verkies om saam te wees, soos by die pretpark.

    In Duitsland hou die Turke ook byvoorbeeld bymekaar.

    Dalk 'n universele verskynsel.

  • Japie
    Informele "Apartheid" (die "soort soek soort" beginsel) is beslis 'n internasionale verskynsel. In Brittanje bv is daar in stede soos Manchester-voorstede wat 'n uitsluitlik Pakistani voorkoms het. In die VSA kry jy voorstede wat oorwegend Sjinees ("Little China"); Italiaans (Little Italy); Iers, ens is. Hier is SA is selfs die swart immigrante (Somalis, Keniane, Zimbabwiërs, ens) besig om eie gemeenskappe te vorm, juis om die xenofobie te ontduik.

  • Ja Jaco dit is 'n natuurlike verskynsel en geforseerde integrasie lei tot spanning en onmin soos in die hele Afrika. Soos ek nog heeltyd sê, om verskillende kulture in 'n arbitrêr-begrensde gebied saam te gooi en vir hulle te vertel dat hulle nou 'n demokrasie is, is waansin. G'n wonder Afrika (en SA) is gedurig in beroering en onrus nie.

    • Presies Jan Rap, presies. Dankie vir jou insig. Dit behoort eintlik algemene kennis te wees. Dit is waarom hierdie "reënboogprojek" gedoem is tot mislukking, indien die onverdraagsame houdings wat SA se verskillende bevolkingsgroepe tipeer in stand gehou word, of erger, vergroot. Niemand neem egter leiding om dit te verhoed nie, en blykbaar is dit dan in hulle gedagtegange net so 'n uitgemaakte saak, as in myne.
      Eintlik is die koeël LANKAL reeds deur die kerk.

  • Google jy "birds of a feather" sal die volgende heel bo aan jou soektog verskyn:
    A proverb is an old saying that's considered to be wise or good advice. “Birds of a feather flock together" has been around in the English language since the mid-1500s. When applied to people, this phrase means that people who are similar to each other or share similar interests tend to spend time with each other"
    Lê die oplossing nie dalk daarin dat die volke se verskeidenheid juis ontstaan het vanweë geografiese skeiding wat gelei het tot duidelike uitkenbare unieke fisiese eienskappe asook taal, kultuur en geskiedenis en dat dit die 'sement' is wat mense aan mekaar bind in 'soort soek soort'?

  • Soort (kultuur - daarmee saam natuurlik word verstaan ook een van die vernaamste ankers van kultuur - naamlik taal) soek soort (kultuur/taal) . Dit is regtig SO eenvoudig. Dit moet sekerlik een van die wette van die natuur wees? Noem dit wat jy wil: informele apartheid, vrylike natuurlike assosiasie; dit is wat dit is en gee nie voor om iets te wees wat dit nie is nie. En elkeen het die reg om vrylik te assosieer met sy soort, en nie gedwing te word tot gedwonge assosiasie nie. Verder is kultuur belangrik en spreek tot jou menswees, MENSWAARDIGHEID en selfrespek en is dit hoe jy as mens jou plek in die wêreld volstaan, jou eie belang besef en jouself relatief tot ander persone in konteks en verband bring. In kort is dit ’n maatskaplik-kognitiewe kwessie wat in die praktyk beteken dat elkeen outomaties sal assosieer binne sy kultuurgroep, (let wel: nie rasgroep nie, want 'n swart persoon wat VOLLEDIG die Afrikaanse kultuur aanhang en praat, is net soveel deel van my kultuur as die volgende soortgelyke persoon nieteenstaande ras) contra die sosiaal marxistiese eksperiment wat nou op staatskampusse plaasvind en waarvoor Afrikaans maar net 'n gerieflike verskoning voor is. Birds of a feather flock together.

  • Goeie artikel, dankie. Sien somtyds baie sulke situasies. Was ook al daar by Gold Reef en ander plekke. Dis wat my opval: Ek het nie kinders nie. Die mense saam met wie ek was het. Die hele dag se beplanning was vir die kinders. Nie kleur, geur en politiek of geslag nie, net pret. In 'n veilige omgewing. Die kinders het hulle gate uit geniet. Hulle toekoms vorentoe sal hulle oor die goed nog moet deal waaroor hier geskryf word. Die volwassenes is baie toegeeflik met enigiemand en mekaar. Valse milieu? So what. Daai plekke is duur. Pret en lag en om swaartekrag te verstaan is punt nommer een, nie toebroodjies uitdeel, koembaja of voëlvleg nie. Partykeer dop die ouers baie dan raak dit onsmaaklik. Kinders het ook boelies, maar in my oogpunt wen die kinders. Hoë dag en baie gelag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top