Informele apartheid

  • 6

Ek was gister alleen Gold Reef City toe, nie om aan die pretpark se vermaaklikhede deel te neem nie, maar suiwer om tussen die gewoel van die pretgangers te wees, om die plesierige atmosfeer geestelik aan te voel, asook vir loopoefening wat ek gekort het.   Ek was daar die hele dag, eers ten doel vir ’n vieruur-periode, wat uiteindelik uit suiwer plesier, tot 17h00 gestrek het.  Die weer was helder sonnig met ’n koue briesie, welke koue ysig in die skaduwees gevoel was. 

Wat my opgeval het was dat die demografie van die pretgangers in die oggend hoofsaaklik oorheersend wit, met ’n minderheid bruin en Indiër tussenin, hier en daar swartes, was; maar teen 12h00 begin omswaai het na hoofsaaklik swart, en teen 15h00 omtrent net swart met ’n ietsie van wit, Indiër en bruin tussenin.  Deurgaans was die publiek die ene uitgelate plesierigheid sonder enige voorval van rassewrywing.  Die pretgangers onder die rasse was merendeels in groepies; of jong enkellopende paartjies, of families met hulle kinders en vriende, ook in groepies saam.   Wat my opgeval het was die onsigbaarheid van enige ooglopende gay pretganger onder die skare, wat seker daaraan toe te skryf was dat gays wat wel daar was, saam met hulle “straight” vriende verkeer het. Toeriste van ander lande was bitter skaars te sien.

Weens die opgewonde atmosfeer, het mense hard gepraat en kon jy gesprekke duidelik aanhoor.  Onder wittes en die meeste bruinmense was die taal oordonderend Afrikaans, met Engels hier en daar aangehoor.  Indiërs het of Engels of ’n Indiërtaal gepraat; onder swartes uitsluitlik hulle eie taal.  Ek het nie een geval gehoor waar swartes in Engels onderling gekommunikeer het nie.

In die oggend tussen 10h00 en 11h00 en weer die middag tussen 14h00 en 15h00 het ek myself op ’n sitbank reg oorkant die draai in die “rapid waters”-kanaal geparkeer, ’n area waar daar die meeste voetgangerverkeer was (naby die Anaconda en Wegholtrein).  Ek kon die verbygangers beide dophou en aanhoor.  Jy kon ’n minuskule weergawe van Suid-Afrika voor jou oë sien verbyloop.

Wat my opgeval het was hoe die “soort soek soort” beginsel onbewustelik onder die skare daar was.  Behalwe vir drie blinkoog Duitse toeriste met opgewonde swart vrouens aan hulle sye, het ek selfs nie een veelrassige geselskap gewaar nie, en dit in ’n kosmopolitaanse stad soos Johannesburg!  Selfs bruin en wit Afrikaanssprekendes het nie saam verkeer nie. Dit was asof die rasse, wel van  mekaar bewus was, maar mekaar nie raakgesien nie. Waar aanknopings onder vreemdelinge vir mekaar wel plaasgevind het, was dit onder dieselfde rasgenote.  Selfs by die eetplekke was daar geen veelrassigheid nie. Rasse was wel skouer aan skouer in die geskaar, maar geensins geestelik saam nie. Die groep wat vir my die luidste liggaamlik aangespreek het (body language), dat hulle niks met ander te doen wil hê nie, was die Moslems met hulle Oosterse kleredrag en versluierde vroue. Wat my tog heerlik verbaas het was die Moslem- gesluierde vroue.  Hierdie vroue was uitgelate laggend en skreeuend op die pretmasjiene.

Terwyl ek die pretgangers op my sitbank dophou, het ek myself afgevra, Hoekom?  Ek het tot die slotsom gekom dat die pretgangers se gekuier by die pretpark ’n verlenging van hulle huislike privaat lewens in die openbaar vertoon word. Gedurende werksure, weens finansiële en ekonomiese belange, geskied rasse-oorvleueling as onvermydelik, maar na ure word ontspan onder eie soort, ’n gemaksone vir eie sielsorg en heil.

By die pretpark wil almal hulself geniet. ’n Ontsnapping van die politieke, godsdienstige  en ekonomiese druk daar buite wat ander emosies opkikker. In die pretpark, ten spyte van diversiteit, vergun elkeen onvoorwaardelik die ander sy reg binne dieselfde grondgebied (die park) om ook aan die plesiere wat die pretpark aan te bied het, saam te deel.

 

  • 6

Kommentaar

  • "Dit was asof die rasse wel van mekaar bewus was, maar mekaar nie raakgesien het nie."
    Verbaas dit jou of is jy hartseer daaroor?

      • My gevolgtrekking sal wees dat jy hartseer is/was, en dit maak my hartseer.
        Jou kruks klink eerder soos die antwoord. Ten spyte van - kan almal wel saamleef sonder dat rassevermenging in jou keel af forseer word.

    • Die kruks van my waarneming was eerder: "In die pretpark, ten spyte van diversiteit, vergun elkeen onvoorwaardelik die ander sy reg binne dieselfde grondgebied"

  • Jaco,
    Jy skryf hierbo "Wat my opgeval het was die onsigbaarheid van enige ooglopende gay pretganger onder die skare, wat seker daaraan toe te skryf was dat gays wat wel daar was, saam met hulle “straight” vriende verkeer het".

    Hoe verstaan ek jou nou? Jy het al hier verduidelik (om jou punt te staaf dat diegene so gebore word) dat hulle (julle) mekaar op 'n afstand kan "uitken".
    Jy weerspreek jou mos.

  • Raed
    Dankie vir die geleentheid om weer met jou te gesels.
    Maar om jou vrae in jou tweede paragraaf te beantwoord, wil ek net sê dat jy my vorige stellings hier misken.
    Wat ek wel in die verlede gesê het, is dat daar AANDUIDINGS is dat VAN die gays (na my mening, 'n minderheid van hulle) so gebore is weens WAARNEMINGS van PRE-PUBERTEIT-kinders wat al die gedrag-simptome daartoe toon (veral verwyfdheid onder seuns en butch gedrag onder dogters). Ek het ook al gesê dat daar geen feitlike bewyse is dat gays wel so gebore is nie. Ek het ook al genoem dat tweelinge wat van kleins af van mekaar geskei is, dat dit al waargeneem is dat in die meeste gevalle die ander een ook so bevind is. Wat wel vasgestel kan word is dat gebeurlike faktore gedurende puberteit jare daartoe aanleiding kan gee in die meeste gevalle. Seks in watter formaat ook al, is gevestig gedurende sodanige puberteitjare, en werklik sonder kastrasie, is daar weinig wat in die toekoms daaraan gedoen kan word.
    Ek self het al gesê ek glo nie ek is so gebore nie, maar ja, ek sal dit beslis nie anders wil hê nie.
    Gays kan mekaar nie normaalweg uitken soos wat ek 'n swart of wit van mekaar kan onderskei nie. Die oorgrote meerderheid gays kom heteroseksueel voor (veral gays met vrouens getroud), tensy hulle die teendeel wil voorgee. Wat ek wel in die verlede al gesê het is dat indien jy iemand dophou, indien dit 'n man is en sy oë dwaal in geselskap uitsluitlik na ander mans, jy verseker kan wees hy is gay. Selfs jy as hetero kan dieselfde oefening doen. In my pretpark-waarnemings, het die mense te vinnig verbygeloop om tot enige konklusie te gekom het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top