In the flesh

Helder oornag het hy aan haar verskyn in die spreilig wat hoër op blou word voor dit poeierwit in ’n verblindende stralekrans oorgaan. In die helder naglig, in die skerp spreilig soos ’n projektor in haar tuin. Hy het na haar aangestap gekom, die man van dekades gelede, presies soos sy hom onthou.

Om oor hom te praat, sou na al die jare heiligskennis wees. Dit was genoeg, die wete dat hy nooit weg of dood was nie en maar altyd daar was. Woorde verloor waarde en energie. Woorde gee af; woorde raak moeg, langsamerhand, en beroof van eie handeling. Heelwat later het sy hom liefgehad soos ’n vrou haar vader wat met die verslaentheid van die noodlot self bly staan en nie wankel nie, eensaam soos ’n rots as laagwater daaraan lek.

As jong kind het sy hom probeer skets. In haar hand het die potlood lewend geword en sy het hom gevorm: die sidies, die sywortels aan die slape. Sy wou hom vertolk, ja, sy wou hom vertaal; sy wou hom toonset en hom beeld en omvorm – sy wou hom volkome besit. Soms was hy ’n mot, ’n ou man gegewe háár jeug. ’n Mot as die lig skokwit daarop skyn, sluimerend voor die gordyn oopgaan en die soeklig van die dag soos ’n oomblikfloute val. In haar verbeelding was hy stekelrig met opslaghare in die gesig en ore en nek. Haar pa: die blinde, bejaarde mot. Dan het die beelde begin verdring en het sy ’n ou hond in ’n skut gesien.

Al die ander kinders in die skool behalwe sý het ’n pa gehad. En sy het begin fabriseer. Haar pa het in die korporatiewe sektor gewerk. Hy was nie in die weermag of staatsdiens nie, haar pa was anders. Dit was die onstuimige ‘80's met sy politieke onrus, diensplig en skoolkadette. Die kinders het grootoog geluister, want sulke eksotiese woorde het hulle nog nie voorheen gehoor nie. Telkens, en so vinnig as wat ’n vader uit haar drome vertrek het, het sy hom vervang en opgedis soos ’n vernuftige verteller of verkoopsdame.

Later het sy nie meer geweet waar waarheid of leuen of fantasie versny nie; ook het sy nie rekening gehou met die vele kopskuiwe van spontane dissosiasie nie. Dalk was haar pa die Jood, die skraal, stil man met die skerpsinnige gesig soos dié van ’n valk. Die ontspoorde wetenskaplike. Sy eie lewe en geliefdes het sy eksperimente geword. Sy sou leer om blitsvinnig die Soda Stream se silinder los te skroef en die gasbuis tussen die plante in te slinger.

Terug in die donker huis was die meubels skemer en stroef, want die fel lig het die Rhodopsin-plaatjies in haar oë gebleik terwyl hy gryns oor sy gemodifiseerde huishoudelike bom en die wrede poets op sy gesin. In die verbygaan het sy bottel Coke gestaan en sy onthou die siddering van die koolsuurgas, die sjuuuuut in die bruin skuim – en die Grand-Pa wat korsies om sy mondhoeke gebrand het.

Hierdie pa is volgens sekere rekords in die negentigerjare dood in ’n operasie waartydens die regering fisici afgevaardig het om kernafvalstowwe op te ruim. Heelwat later kon sy onthou dat haar oë met tyd buitengewoon ligsensitief geraak het en dat dit die pa was wat sy eerstehands doodgeskryf het in sy laboratorium in 1982, waar hy met ’n sadistiese grinnik in sy wit jas in haar kamera kyk – sý fokaliseer en hy speel in haar fiksie, die versteurde alchemis met sy wanaangepaste gipsglimlag op foto's. Wie was hy? Sy oë altyd rooi van die wynsteensuur, en dieper, onsigbaar vir die lens: die chroniese erosie van die maagwand. Op die laaste foto was hy weer hoog, sy plofstowwe en drade en wekkers soos speelgoed verstrooi in die garage.

Die Jood se pa, op sy beurt, het ’n tatoe op sy linkervoorarm gehad, die yk van ’n Messiaanse uitverkorene wat die res van sy lang lewe gewroeg het met survivor's guilt. My father moved through dooms of love.

Hy was die filosoof met die weerbarstige stap en vinnige fleks van spiere en trane. Die blonde pa met die Nazi-affiliasies en vreemde goue oë, uit dieselfde palet as sy haarkleur. Unheilig. Vir dekades lank sou hy sy kop verskans in kennis en grade en ander drome om van die lewe te ontvlug. In Pretoria-Oos-begraafplaas lui die eenreëlige epitaaf onder sy naam: “Wie kennis versamel, versamel smart – die Prediker.” Die reën se krale het bly ryg, die blink rygstringe oor die dooies se niemandsland, maar grafgrond genees nie. Die marmer spoel skoon en glim in die son wat opnuut die nuwe onkruid voed.

Dan was daar ook ’n derde pa, ’n onwaarskynlik keuse. Hierdie pa het sy versin een leë vakansiedag in ’n blou verekleed van rook en neerslagtigheid met Pink Floyd in die speler. Wat sy naam was, sou haar ontgaan, maar hy was ’n offisier. Want daar was die militêre begrafnis met soldate se bene wat snip soos skêre op die maat van die musiek, die choreografie van die dood. Sy kis toegedraai in ’n landsvlag – uiteindelik offer genóég – voor dit in die grond afgesak het. Maar hier bleik die Rhodopsin-plaatjies in haar oë die memorie aan die oorsaak van sy dood donker. Die skietvoorval. Sy was klein en min mense het die waarheid geweet. Haar vingers het sweterig gegly oor die Magnum se greep en sy het op die man met die belt in sy hand bly vuur. Haar binne-oog sou uitzoem na die spieël en die skerwende spinnerak wat geheimsinnig en vlymdun aan sy eie gewig gehang het – dit het 'n volle vyf sekondes geduur – voor dit bloedstollend neergekletter het op die teëls. Die kleiner, gebarste sterre in die ruite en spieëls het nie verbrokkel nie. Nee, die kleiner webbe was sterker. Sy sou swaar haar bene uit haar heupe voortforseer en struikel tot by die patriarg, waar hy in haar arms gesterf het, sy oë die kleur van leiklip, sy laaste asem ’n bloedborrel op die onderlip. Dan het die vergeet weer gekom soos ’n kamera se uitdoof oor ’n toneel, maar sy het die bloed en spieëls onthou. Die sikloop in haar, die derde oog, kon nog nie onverskrokke genoeg fokus nie, en sy wou skryf, sy wou fokaliseer ...? Nou het haar kussingslope haar biegvaders geword snags, en slaap die ontvlugting. Tanatos en Hipnos is tog tweelingbroers, Hipnos is net die saggeaarde een.

As die nag sy kwesplekke blootlê, het sy opgestaan en vir ure op genealogiewebwerwe rondgeswerf, aandagtig gestaar na die trotse stambome en -vaders, die befoeterde, arrogante gesigte met die lang baarde. Sy het die families beny, soos die klein en redelik homogene Labuschagne-familie wat nasate van die Dorslandtrekkers is. Van die familievaders was kartograwe, juweliers, krygsgevangenes, matrasmakers (die Moll-familie), of bloot wandelende Jode en matrose wat die land opportunisties binnegesluip en -gesmokkel het. Haar vriende het al meer begin belang stel in hulle stamgeskiedenis – weliswaar meer mans as vroue – en sy het geweet: ’n man raak oud wanneer hy bewus raak van sy stamboom. Die moederboom wieg en sterf van bo na onder toe af, want die wortelstelsel se hart wroet nederig en na aan die aarde. By tye het die blonde pa met die selfopgelegde Weltschmerz en die obskure Jood kataklismies versny in ’n moedermik hóóg op getak, en sy het gelag oor die paradoks wat niks meer as ’n kontradiksie kon wees nie. Hoe graag sou sy nie haar oorlede skoonvader wou ontmoet het nie, maar tyd verskiet in jaarringe soos konsentriese sirkels.

Vir jare aaneen, die scrapbooking wat sy beoefen het, ’n klandestiene aktiwiteit, want wie sou kon droom dat sý met die voorgee van ’n hardgebakte sinikus prente en kuriogoetertjies knip en plak? Soos ’n skooldogter wat die opstel van haar lewe verfraai. Tog was dit bisar – sy het haarself betrap dat sy foto's van onbekende vaders van die internet sou aflaai en redigeer tot oënskynlike pa-en-dogter-foto's. Soms het sy gelag, die wrang lag van selfironisering oor die identiteitsdiefstal waarmee sy besig was. Sentimentaliteit was nooit deel van haar mondering nie.

Tussen al die fiksies het sy wel reële dokumente gelas. Die inlas se afwesigheid het gestalte kry. Van die brief wat haar blonde pa vir haar geskryf het toe sy sewe jaar oud was, het sy ’n kleurkopie gemaak. Sy kon haar opnuut verwonder aan sy Victoriaanse skrif, die dubbelkrul by die “liewe” ... o, die verleiding van skrif! Die naskrif wat bly talm en haar terugroep … die rankerige voetnote en asteriske.

Sy het dikwels sy briewe herlees. Was daar nie méér agter sy woorde nie? Was sy verdwyning, wat later permanent geword het, dalk te wyte aan ’n fatale uiteinde, soos selfdood? Het hy nie lank gelede reeds sy eie dood getermineer nie?

Die ambivalensie het verdiep en sy kon sy stem hoor roep uit die argiewe van ou dokumente, en sy het geweet dat sy nooit sou versadig aan die melankolie om hom lief te hê nie. Sy het sy ongepubliseerde gedigte versigtig versteek met die troos dat die verlore kanon nie noodwendig apokrief is nie. Die los velle het gebrand in haar keel. Die sellulose in die papier het begin disintegreer soos ou drome, die lewende waak oor ’n geliefde in die buitewyke van ruimte en tyd. Dit was die wetenskaplike-pa vir wie sy bang was. Hy het sy stilte om hom gedra soos ’n ou, muwwe jas – of ’n kaal ysigheid, afhangend van in watter toonkleur sy swye sou sing. En hy was behoedsaam; het geplot en nie beplan nie, en in sy vrye tyd sy vyande getakseer vir swak skakels voor hy met ’n kil geduld sou wag. Hy het in die onderwêreld van die internet hacking-sagteware afgelaai en nagte aaneen rugwaarts versink in sy swart, magnetiese stilte, sy pynpoeier ’n helder vlam in die gees.

Tyd het gekom in al sy glorie, en sy het in haar kinders begin glo soos in ’n skepper. Bedags het sy vir lang wandelinge gegaan en die blare van eikebome opgetel. Dit was rooi en goud en koninklik, ook in vorm, en as sy fyn geluister het, kon sy die wind se draalgang hoor, of die geskarrel van skor blare, of die sweefgang van ander poeierklanke – sy het vermoed dat ook die wind ’n pedaal van sy eie had. Hoër op die botone van ver voëls. Sy het begin glo, noudat alles agter haar was, want oorgawe is lig, niks by te voeg of weg te laat nie. Die bagasie van ’n bejaarde is weerloos. Sonder besit is daar geen afskeid of skeiding of herinnering nie. Die begin en einde ontmoet, herrangskik die telraam van atome tot die binding van molekules. En die stof neem die vorm aan van ’n mens.

Helder oornag was hy daar. Sonder herkoms of identiteit – hy wás net. So dikwels het sy gedroom oor die herontmoeting, hoe sy met ’n ouwêreldse vroulike tirade vorentoe storm, ’n gilletjie los en met ’n Victoriaanse vloermoer hom klap met reguit, gepeitste vingers, maar reeds weet hoe sy gesig sou verstrak met ’n effense swik van die kakebeen, en hy sou sy oë stadig knip, die pupille ’n aks donkerder. Waar was jy al die jare? kon sy hom toesnou, maar die nawoord swyg. Dit word sterfkennis. Hy het nader gestap tot in haar gesigsveld, en ligweg gesê: “Kom, ek het kaartjies vir ’n middernagvlug vir twee teen halfprys gekry.” Of, sy kon die slot deurhaal en ’n ander uitgang bewerk. Want na alles het sy getreur asof dit reeds verby was, ’n glimp van ’n eie persoonlike apokalips. Maar niks van belang nie, soos die sagte knettervuur van die toetsbord onder haar vingers: Pappa slaap uit vir werk vanaand.

Kommentaar

  • Hierdie vele vaderfigure (of die universele smagting na die perfekte vader) is enige kind se droom.
    *Die ambivalensie het verdiep en sy kon sy stem hoor roep uit die argiewe van ou dokumente, en sy het geweet dat sy nooit sou versadig aan die melankolie om hom lief te hê nie. Sy het sy ongepubliseerde gedigte versigtig versteek met die troos dat die verlore kanon nie noodwendig apokrief is nie.* Hierdie beeld daardie smagting die beste uit - dis so perfek geskryf! Lieflike, lieflike storie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top