In Memoriam: Patrick Cull

  • 0
patrick_cull240

Patrick Cull

Die dood van die voorslagjoernalis Patrick Cull verlede week het my herinner aan die bywoning van my eerste politieke partykongres, my ontmoeting met hom en hoe hy oudpresident Thabo Mbeki laat lag het.

Dit was op 17 September 1994 op Uitenhage by die Allanridge-gemeenskapsaal. Ek en ʼn hoërskoolvriend was op pad om navorsing vir ʼn skooltaak by die biblioteek wat in dié gebou geleë is, te doen.

Op daardie stadium was ek al ʼn ywerige leser van die politiek en letterkunde. Ek het dus die paar weke voor dié sonnige Saterdagoggend in die koerante gelees dat die Arbeidersparty (AP) op Uitenhage gaan ontbind.

Die nuuskierigheid in my het gesê hier gaan iets vandag baie belangrik gebeur. Hoe gemaak om in die saal te kom? Want ek was nie ʼn afgevaardigde nie, nie AP-lid of ondersteuner nie, en boonop ʼn heftige teenstander van die driekamerparlement. Ek was egter so nuuskierig dat niks my sou keer om binne-in die saal te kom nie.

Toe bied ek aan om ʼn Wes-Kaapse afgevaardigde wat teen ontbinding gekant was, te help om ʼn tafel die saal binne te dra.

En so kry ek toe my sit tussen die Wes-Kaapse afgevaardigdes wat tussen 10 en 20 van die sowat 100 afgevaardigdes uitgemaak het.

Tussendeur die emosionele toesprake vir en teen ontbinding het ek doodstil gesit sodat niemand my kon sien nie. Diegene vir ontbinding het geseëvier en so het die einde van “bruin politiek” in Suid-Afrika aangebreek. Allan Hendrickse, wat ook vir ontbinding was, en wat ons geken het as ʼn goeie orator, was duidelik aangedaan. Hy het die trane met sy sakdoek uit sy oë gevee.

Patrick sou dié emosionele oomblikke so mooi en beskrywend in sy berigte vasvang. Hendrickse sou in later jare toe ek hom vertel hoe ek by die kongres beland het, lekker lag en sê dat die ontbindingskongres die seerste politieke gebeurtenis van sy hele lewe was.

Na afloop van die kongres het Patrick buitekant die saal met afgevaardigdes onderhoude gevoer. Hy het my genader vir ʼn mening. Ek het dit vir hom gegee op voorwaarde dat hy my nie mag aanhaal nie. Ons het vir meer as 30 minute oor die politiek gesels.

So het my kontak met Patrick alreeds as hoërskoolseun begin en tot sy dood gehou. Hy was altyd gebalanseerd in sy beriggewing en het ʼn aptyt vir droë grappe gehad.

Ek, Patrick en ander joernaliste was bevoorreg om Mbeki tydens sy 2004-verkiesingsveldtog in die Oos-Kaap te vergesel. Mbeki en sy veiligheidspersoneel het natuurlik gesneuwel onder Patrick se grappe. Die tekens van ʼn koue politikus en ekonoom het skielik uit sy normaalweg “hartseer” oë verdwyn. Vir ʼn oomblik kon ons Mbeki die mens in sy oë kyk en van nader beskou.

Die joernalistieke beroep, veral in die Oos-Kaap, is armer sonder Patrick. Rus sag.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top