In memoriam: Bertie du Plessis

  • 8

bertie214Bertie du Plessis is op 17 Desember na ’n kort siekbed aan kanker oorlede. Dit was vir almal wat na aan hom was ’n groot skok, want hy was so aktief en suksesvol as die Chief Learning Officer van die Naspers Groep die afgelope twee en ’n half jaar. Hy het wyd rondgereis en vernuwende meesterklasse en werkswinkels met onderwerpe soos UX-ontwerp, “Big data”, Strategie deur Harvard-gevallestudies, en vele meer vir die Naspers-groep binne Suid-Afrika aangebied, sowel as wêreldwyd in stede soos São Paulo, Hongkong en Poznań, Pole, met die hulp van net die top-deskundiges in die wêreld.

Bertie was ‘n indrukwekkende mens wat jy nie maklik sou vergeet na ’n ontmoeting nie. Hy was ’n man van vele talente en het ’n onuitputlike honger na kennis gehad – sommige van die beskrywings wat mense al aan hom toegedig het, sluit filosoof, veelsydige teoloog, kommunikasiekundige, strategieadviseur en kunstenaar in. Op sy nuutste webtuiste (www.bertieduplessis.com) beskryf hy homself as “Change Agent / Educator / Artist”. Hy sê hier ook: “People often ask me if I do not regret it that I do not practice fine art fulltime. My reply: ‘I do art all the time, but instead of using paint on canvas, my canvas is the human mind and my pigment human behavior.’”

Na hy in matriek die wenner van die Nasionale Wetenskap-Olimpiade van Suid-Afrika was, het hy ’n MA (cum laude) in Afrikaans en Nederlands en ‘n DTh-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Na amper tien jaar in die bediening het hy homself gevestig as ’n strategie- en kommunikasiekundige waar hy geput het uit die kennisvelde van gedragsekonomie en skrywers soos Daniel Kahneman, BJ Fogg en  Roberto Cialdini. Hy was oor die bestek van sy lewe dosent of gasdosent in ses verskillende dissiplines by tersiêre instellings: Afrikaans en Nederlandse literatuur, die literatuur van die Griekse Nuwe Testament, joernalistiek, beeldende kunste, grafiese ontwerp en besigheidsadministrasie en -bestuur.

My persoonlike ervaring van Bertie strek oor baie jare. My pa, wat professor in teologie was, was sy promotor en Bertie was sy sterstudent. Ek was toe nog op skool. Vele jare later het ons mekaar weer raakgeloop en hy het my ingetrek om die aanlynopleidinggedeelte van die Naspers Akademie te behartig. Dit was so ‘n wonderlike ervaring om nou met Bertie saam te werk – sy helderheid van visie, energie en toewyding was vir my ’n inspirasie.

Bertie was die afgelope jare ook by LitNet Akademies en LitNet betrokke, en het saam met Etienne van Heerden die LitNet-bestuurskomitee gevorm.

Kyk gerus na van Bertie se werk by die volgende skakels: Die Naspers Akademie as Chief Learning Officer, sy ouer webtuiste, waar daar inligting is oor vorige projekte, artikels as adviseur in Entrepreneur Magazine, sy bydrae by fin24.com, aanbieding oor “digital disruption and education” op YouTube; en besoek sy outeursbladsy op Amazon en besigtig van sy kunswerke aanlyn.

Ons het sowaar ’n groot gees verloor! En so skielik en voortydig, soos goed beskryf deur die sanger Jackson Browne toe hy ‘n vriend aan die dood afgestaan het: “He stopped his singing in the middle of his song.”

Bertie, jy word ongelooflik baie gemis.

Kosie de Villiers

Van links: Bertie du Plessis, Bharat Anand (Harvard-sakeskool), Felix Oberholzer (Harvard-sakeskool), Kosie de Villiers

 

  • 8

Kommentaar

  • Ai, so skielik! Ons wou graag nog bietjie skaak voortsit ... na die laaste pastorieskaak in Stellastraat. 😥

  • Fanie Olivier

    Ek het met groot hartseer die mooi dinge gelees wat Kosie oor Bertie geskryf het. "Indrukwekkend" is inderdaad 'n woord wat by Bertie pas. Ek het hom op Stellenbosch goed leer ken, en met baie waardering. Ons het mekaar nou en dan raakgeloop en dan het ek met verbasing gehoor waarmee hy hom nou weer besig hou, en hoe! Ons paaie het skielik weer hier in Poznan, Pole gekruis, met 'n lank-gesels ontbyt. Hy het later sonder huiwering gehelp met 'n borgskap vanuit Naspers Academy [die logo op die toer se T-hemp, en die plakkaat] vir die finalejaar South African Studies studente, en op 'n Saterdagoggend in Februarie saam met hulle gekuier rondom [nog] 'n lang ontbyt.
    Bertie kón gesels.
    Toe ek op 26 November 'n briefie van hom kry met net vyf woorde, het my hart juis daarom gaan draai en my kop gaan staan: "Fanie jammer lymphoma, erge chemo"
    Wat daarmee gemaak?
    Ek het vir hom 'n gedig gemaak en aangestuur, want wat anders kan 'n mens dan doen. Of hy dit ooit gelees het, weet ek nie. Maar ek plaas dit hieronder en as iemand kontak het met sy mense, sal ek bly wees as hy of sy dit kan aanstuur.
    diefwering
    vir bertie
    die dief in die nag desondanks het die hef
    in die hande bedryf die groot monopolie
    skielik, met jou driewoordbrief, weer dié besef:
    net die hoof het ’n bedekking van betekenis.
    verder is die mens se pantser van kop
    tot tone bra baie yl vir alles wat hy is.
    die oog se lede is maar dun, maar teer;
    die oor ooglopend blootgestel vir warm olie
    skerpgevylde penne. die tong word maklik op
    sy plek gesit, stomgeslaan, net só uitgeruk.
    die nek word met ’n skouerknak gebreek. die keel weer
    swig onder die streel van vingers. twee duime se druk
    laat tuimel die strot ineen. dis nog net bokant die skouers...
    a! vir die dapper hart kloekmoedige longe: die ribbekas.
    ai! dié bied maar skrale troos teen ’n buffer; die mes pas
    netjies tussendeur. daaraan gedagtig: die helm swig
    voor ’n piksteel net so gedienstig en gedweë.
    in ’n breukdeel puil die ingewande gapend uit.
    ’n onderonsie laat die heup sienderoë eenkant lê.
    die bekken beteken as wapenrusting niks, word te lig
    bevind wanneer die geslag deurloop onder ’n lem
    die liggaam steierend gaan lê net van ’n skop.
    sal mens die inventaris ondertoe voltooi? hoe jou treë
    wegval rondom jou knieë, die slanke enkel keer op keer verstuit.
    wat sal ’n mens, aan wie gedenkt is, van al dié dinge sê?
    maar hierteen kan jy jou verweer.
    dis die klein jakkalsies
    die motte wat fladder voor die sensors in die bloed
    die blinde vlerremuis se laboratoriumpiep wat beklem
    sonder ophou of rede. verniet pleit jy “askies, grootbaas,askies!”
    verniet belowe jy hand en mond; verniet “vat al my goed,
    maar...”
    terwyl ek met jou praat, weet ek, weet ek, weet ek
    hoe kriewel en woel en werskaf dit binnekant; word bestek
    opgeneem van alles: hier is die dna orraait, maar daar skiet iets tekort!
    roep die polisie uit die murg! gaan haal die brandweer
    uit die limf! voorlopig is hulle daar, kan, wil hulle nog reageer;
    word my broos huisie uitgespaar.
    [Erkenning: sekere woorde, frases en sinsnedes is ontleen aan en geleen by my ouers, die WAT, Groot Verseboek en ander bundels van verskeie digters (binne en buite die kanon), die Bybel, kategeses, idioomwoordeboeke, boeke wat ek sou moes kon gelees het en enkele vriende.]

    • So word ons telkens herinner aan ons eie sterflikheid. Pragtige gedig, Fanie. Ek het as 'n ywerige eerstejaartjie 'n kortstondige kontak met Bertie gehad, toe hy redakteur van Die Matie was, en is toe al meegevoer deur sy entoesiasme en mededeelsaamheid.

    • So word ons aan ons eie sterflikheid herinner. Aangrypende gedig, Fanie. As ywerige eerstejaartjie het ek met Bertie kontak gehad toe hy redakteur van Die Matie was, en is toe al beïndruk deur sy entoesiasme en mededeelsaamheid.

  • Rosemarie Breuer

    Thank you Bertie, dear friend, for the many times you gave me help and encouragement. Rosie StellenboschWriters.com

  • engemi ferreira

    Met groot skok verneem ek so pas hier van Bertie se dood. Hoe kan dit wees dat hy, veral hy wat so 'n indruk op almal om hom kon maak, so sonder taal of tyding verdwyn? Mense verdwyn mos nie net nie. Maar dit lyk my hy het dit reg gekry.
    Ek het Bertie nie intens geken nie, maar elkeen van die kere wat ek met hom te doen gehad het, was ek buitengewoon beïndruk deur hom, eenvoudig omdat hy 'n Mensch was. Teen die tyd dat ek hom leer ken het, het hy nog net een van 'n groep van sewe potlood-studies oorgehad gebasseer op 'n gedig van Van Wyk Louw, waarvan ek die eerste by Marguerite Robinson gesien het; die volle gesig. Die orige potloodsketse was van die verskillende elemente van die gesig. Ek het die mond gekry; niemand anders wou dit ooit hê nie, het Bertie gesê en ek het verstaan hoekom nie; want dit was vir my bestem. Dis klaarblyklik die mond van 'n Nobel-pryswenner, Bertie het self nie die naam onthou nie. Wat dit so besonders maak, is dat afhangende van die manier waarop mens na die werk kyk, sien jy of die mond, of 'n oog. Dit het vir my die simbool geword van hierdie tyd waar ons in Afrikaans spesifiek stil gemáák word, maar meer as Afrikaans, waar soveel ander tale moet veg om oorlewing. As die mond gesnoer word, is die oë al wat oorbly om te praat. En Bertie se enkel mond/oog praat duidelik; nie net met die digter se woorde langs die beeltnis nie. Dit praat oor stiltes en swye en te veel lawaai en die ego-gedrewe geskree uit duisende kele oor dinge wat nie saak maak nie, en dan praat dit ook oor die gebrek aan erkenning van 'n Mensch, 'n heer, en een van die klein groepie aardbewoners - tydens my eie reis op aarde - wat ek opreg en uit die hart uit kon respekteer en graag wil eer met hierdie skrywe, al is dit dan net ter wille van geliefdes en vriende wat hom geken het. Salud, Bertie; ek is opreg dankbaar dat ons treë gekruis het. RIV.

  • Valda Gossmann

    What a shock to learn about Bertie’s death! I opened two portraits today that Bertie sketched for me - one with an eye and another with him as an aged man in the portrait. I searched for him on the internet, hoping to make contact and learnt that he had left us. He made such an impact on me when we worked together at Sasol it was profound. He could talk for hours. I was hoping to talk once more ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top