Ilse van der Merwe gesels oor Jan Braai se Vuurwarm

  • 0

Titel: Vuurwarm
Skrywer: Jan Braai
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798162760

Koop Vuurwarm by Kalahari.com.

In Jan Braai se jongste boek, Vuurwarm, staan daar by die erkennings: "Ilse van der Merwe het aangebied om te help en sy was reg!" Maar wie is hierdie Ilse van der Merwe van wie Jan Braai praat? Naomi Meyer het eers haar mooi webwerf bekyk en haar daarna gaan vra wie sy is - en wat sy in die braaiboek kan aanbeveel.

Ilse, jy kook, of hoe? Sal jy asseblief vir ons lesers vertel van jou agtergrond en waarmee jy alles besig is?

Ja, ek kook deesdae letterlik, vir ’n lewe! So drie jaar gelede het ek besluit om my loopbaan as musiekagent en -organiseerder te verruil vir die (kos-) potte en die (skryf-) penne. Ek was nog altyd baie lief vir lekker eet en kosmaak, maar op ’n dag het ek besef dat ek dit wou deel maak van my daaglikse werklikheid. Aan die begin van 2011 het ek my blog begin skryf (www.thefoodfox.com), en dit het nog altyd gedien as ’n vertoonvenster vir die werk wat vandag na my kant toe kom. Ek is tans voltyds besig met vryskut resepontwikkeling, skryf van sosiale-media-inhoud, kookklasse, kosnavorsing, bemarking en verspreiding van my swaer se forelboerdery op Lourensford, en om my eie Afrikaanse TV-kosreeks op die planke te bring. Om ’n loopbaanskuif te maak is nie vir sissies nie, maar ek is elke dag dankbaar dat ek die sprong geneem het!

En toe ontmoet jy vir Jan Braai en jy kyk na sy tweede boek en gee idees oor die resepte. Het jy dit self probeer? Het jy dit getoets – en als op die vuur?

Jan het ’n baie spesifieke idee gehad oor watter resepte hy in sy boek wou hê. Hy het my gevra of ek hom kon bystaan as “stunt double” – ek het gehelp met die resepontwikkeling en navorsing. Ek en Jan het vir drie maande oor en weer gekommunikeer totdat almal gelukkig was met die eindproduk. Ons het albei al die resepte getoets, sommige ’n hele paar keer! Ons het sover as moontlik alles op ’n vuur getoets, maar baie van die resepte kan mens ook met groot sukses op ’n gewone stoof of in ’n gewone oond maak. Die idee is dat mense besef ’n braai is nie net vir steak, tjops en wors nie – jy kan eintlik enigiets op ’n vuur maak as jy die basiese “tricks” ken!

Die lekkerste gedeelte van hierdie projek was om die kos te maak vir die boek se fotosessies. Ek het die geleentheid gehad om saam met Brita du Plessis (kosstileerder) en Matthys van Lill (fotograaf) te werk, en hulle is albei uitstekend. Dit was harde werk (ons het somtyds tot soveel as 11 disse per dag gemaak/gestileer/afgeneem), maar ’n absolute fees!

Uit die oogpunt van iemand wat goed kos kan maak: Hoe verskil braai van kook?

Ek dink braai is amper lekkerder as kook. Dis ’n groter avontuur. Om iets op ’n vuur gaar te maak is ’n uiters bevredigende ding! ’n Kombuis is net ’n bietjie meer gereguleer in terme van temperature ens. Maar die beginsels van braai en kook is eintlik dieselfde. In ons huis is my man lief daarvoor om self te braai, so dis die een keer wat ek rustig terugsit met ’n drankie in die hand en kyk hoe iemand anders dit doen!

Maar is die sjarme van braai nie juis dat dit nie “formele kosmaak” is nie? Gooi ’n eenvoudige vleisie op die vuur – of hoe?

Jip, jy slaan die spyker op die kop! Dis ’n lekker kuieraktiwiteit, ’n sosiale ding wat jy saam met jou vriende kan doen. Almal staar na die vuur en luister na die sissende vetjies, met ’n drankie in die hand. Klink mos hemels!

Watter van die resepte in Jan Braai se boek werk vir jou die beste, of is vir jou die lekkerste? Watter is die maklikste?

Ek dink al die resepte is regtig heerlik, maar as ek ’n paar gunstelinge moet kies, is dit die geskroeide tuna met sesame-sade en ’n soja-doopsousie, die springbokboud met port, en baba-aartappels met knoffel, botter en roosmaryn. Die soet botterskorsie met sjerrie en kaneel is ook regtig kwyllekker. Daar is baie maklike resepte is die boek, maar die kaasfondue met brandewyn is baie eenvoudig en ongelooflik lekker – jou gaste sal weer en weer aan jou deur kom klop!

* Lees ook 'n onderhoud met Jan Braai oor Vuurwarm

 

 

* Ilse van der Merwe is op 10 September 2013 genomineer as een van drie finaliste vir Fair Lady se Consumer Awards: Best Food Blogger.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top