Illustrasiekompetisie: ’n onderhoud

  • 0

Picture This is op soek na buitengewone opkomende kunstenaars en Protea Boekhuis organiseer die Suid-Afrikaanse been van dié internasionale kompetisie om kunstenaars op te spoor. Naomi Meyer gesels met Rentia Bartlett om meer oor die kompetisie uit te vind.

Rentia, ek sien ’n illustrasiekompetisie word aangebied vir illustreerders in verskillende lande. Wie mag deelneem? Moet ’n illustreerder reeds ’n professionele agtergrond of opleiding as kunstenaar hê?

Protea Boekhuis organiseer en bemark die kompetisie in Suid-Afrika, maar enige illustreerder van enige land ter wêreld mag deelneem. Jy hoef geen agtergrond as illustreerder of kunstenaar te hê nie. Trouens, indien jy reeds ’n kinderboek illustreer het, of die illustrasies van ’n gepubliseerde kinderboek gedoen het, mag jy ongelukkig nie deelneem nie. Jy mag wel deelneem as jy ’n opvoedkundige boek geïllustreer het of illustrasies vir ander genres gemaak het (soos byvoorbeeld gedigte, volwassenefiksie, boekomslae ens).

Is julle op soek na illustrasies vir spesifieke kinderboeke, en watter ouderdomsgroepe is ter sprake? Of kyk julle na illustrasies (saam met stories) wat as nuwe en oorspronklike werk uitgegee kan word?

Ons is nie op soek na illustreerders vir spesifieke kinderboeke nie en daar is ook geen ouderdomsgroep ter sprake nie. Ons is eerder op soek na talent. Ons wil graag die geleentheid gee vir kunstenaars en illustreerders om blootstelling te kry. Die idee is nie dat die spesifieke illustrasies wat ingeskryf word vir ’n spesifieke boek gebruik word nie, maar dat internasionale uitgewers bewus kan word van die kunstenaar en illustreerder. Die wenkunstenaars se werk word in ’n internasionale katalogus gepubliseer en aangebied aan die top internasionale uitgewers by die Bologna-kinderboekbeurs in 2017. Ook word die wenkunstenaars se werk deel van ’n internasionale reisende tentoonstelling in verskillende lande.

Chris Venter (een van 2015 se wenners)

Waarna kyk die beoordelaars? Moet ’n illustrasie noodwendig mooi wees, of realisties? Wanneer weet jy iets is besonders?

Natuurlik kan ek self nie sê waarna die beoordelaars hierdie jaar sal kyk nie. Maar as ek die wenners van 2015 beskou, kan ek sien dat daar beslis ’n voorkeur vir unieke styl en goeie tegniek was. Wat maak ’n kinderboek vir my persoonlik besonders? Ek dink dit is belangrik dat ’n prenteboek kinders se verbeelding moet aangryp en dat dit genot moet verskaf. Is dit ’n illustrasie wat jou asem wegslaan omdat dit ’n wêreld optower wat tot die verbeelding spreek? Só moet ’n wenillustrasie lyk!

Enige medium mag gebruik word – verf, pastelle, potlood, ens. Wat van digitale illustrasies? Wat is die kriteria en beperkinge?

Wat tegniek en media betref, is daar geen beperkinge nie. Handgetekende illustrasies, collages, digitale illustrasies ... enigiets is moontlik. Die enigste beperking wat ons het, is grootte. Die individuele illustrasies moenie groter as A3-grootte wees nie; die resolusie van die bestand wat opgelaai word moet minstens 150 dpi wees, maar dit moenie groter as 600 kb wees nie.

Dale Blankenaar (een van 2015 se wenners)

Daar is ook praktiese oorwegings as dit by illustrasies kom, of hoe? Kleurillustrasies is duur, en as dit ingewikkeld is om te druk, is dit seker ook nie ideaal nie. Of wat praat ek? Waaraan moet kunstenaars dink as hul inskrywings stuur?

Ek sou sê dat hulle bloot aan die beperking van grootte moet dink. Verder kan hulle ons verras met soveel kleure, lyne, karakters moontlik.

Illustrasies is deesdae deel van jeugboeke soos Diary of a Wimpy Kid, en heelwat soortgelyke boeke verskyn as gevolg van hierdie reeks se suksesse. Sal sulke soort strookprente oorweeg word as illustrasies?

Ja, vir seker. Strokiesprente is hoogmode, vir kinders en volwassenes. Ken jy die Suid-Afrikaanse strokiesprentheld Kwezi? Illustrasies vir daardie reeks is deur die kunstenaar Loyiso Mkize. Ek sou sê, ja!

Kobie Nieuwoudt (een van 2015 se wenners)

’n Teks/storie moet jou drie illustrasies vergesel, is ek reg? Maar die illustrasies is die belangrikste, of hoe? Die storie hoef nie die mense soveel te beïndruk soos die prente nie? Verduidelik, asseblief.

Die storie is daar om jou as illustreerder te help om jou drie illustrasies as deel van ’n samehangende storie aan te bied. Ons gaan egter net die illustrasies beoordeel. Dis belangrik om te weet dat jy ook selfs ’n reeds bestaande storie kan gebruik.

Jy het self ’n kunsagtergrond en werk in die uitgewersbedryf. Watter illustrasies en in watter boeke gryp jou persoonlik aan, en om watter redes?

Seker as gevolg van my kunsagtergrond, hou ek self baie van illustrasies wat gebruik maak van tradisionele in plaas van digitale media. Ek is mal oor illustrasies wat gebruik maak van syskermdruk, waterverf, collage en lyntekeninge. Van my gunstelingillustreerders is Einar Turkowski, André Bouchard (vir sy humor), Sophie Blackall en Blexbolex. Een van my gunstelingkinderboeke is Madeline van Ludwig Bemelmans, en ek is mal oor Cloth lullaby: The woven life of Louise Bourgeois van Amy Novesky en Isabelle Arsenault wat verlede jaar verskyn het. Advice for little girls, ’n kinderboek van Vladimir Radunsky, gebaseer op die 1865-kortverhaal van Mark Twain, is ’n ander gunsteling. Dit is vir my verbeeldingryke, intelligente, goedhartige boeke wat inspireer, verruim en genot verskaf.

Linki Lutz (een van 2015 se wenners)

Interpreteer vir my die woord “illustrasie” – dit lig ’n storie toe, nie waar nie? Of kan die illustrasie die storie vertel, met die woorde wat absoluut sekondêr is? Waarna is die beoordelaars op soek, dink jy?

’n Illustrasie hoef geensins net bykomend tot die teks – letterlik ’n illustrasie van die woorde – te wees nie. In byna alle moderne kinderboeke werk woord en beeld saam. Waar die illustrasie reeds iets kommunikeer, word dit nie noodwendig in die woorde gesê nie, en omgekeerd. Saam maak die twee ’n storie. ’n Illustrasie kan dus sonder woorde sélf ook heeltemal ’n storie vertel. Ek dink byvoorbeeld aan die pragtige Journey van Aaron Becker, Wave van Suzy Lee en A river van Marc Martin. Hierdie boeke het almal geen (of baie min) teks nie en vertel die storie hoofsaaklik deur beelde.

Verduidelik asseblief die proses: jy moet ’n Word-dokument met die storie stuur (wat reeds mag bestaan, soos jy aangedui het), en dan jou illustrasies oplaai (waar?) – is ek reg? Sit asseblief die proses uiteen vir enigeen wat belangstel om deel te neem.

Gaan na http://www.picturethis-illustrationcompetition.com/wwpbic.com/index.php/af-ZA/submission-rsa en laai daar jou illustrasies en bykomende teks (as Word-dokument en maksimum 250 woorde) op. Baie maklik! Indien jy probleme ondervind of verdere vrae het, stuur gerus vir my ’n e-pos: rentiabartlett@gmail.com. Afsnydatum van die kompetisie is 15 Mei 2017. Daar is dus minder as ’n maand oor om in te skryf!

Hier is ’n skakel na die Suid-Afrikaanse wenners van 2015: http://www.picturethis-illustrationcompetition.com/wwpbic.com/index.php/af-ZA/wenners-2015/wenners-2015-rsa.

Theodore Key (een van 2015 se wenners)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top