IL de Villiers (1936–2009)

  • 0

Gebore en getoë

Izak Louis de Villiers is op 30 Julie 1936 in die Paarl gebore, sy ouers se enigste kind. Sy ma, ’n formidabele vrou, was al duskant 40 toe hy sy eerste skree gegee het.

Hy het aan Hanlie Retief in Rapport van 6 Augustus 2008 vertel: "Ek was so drie of vier jaar oud toe my ma my in die Paarl vir ’n toetsdaggie kleuterskool toe stuur om te kyk of ek sal aanpas. Na net ’n uur baklei ek so met die kinders (ek het een glo met ’n vragmotortjie oor die kop geslaan) dat die juffrou vra dat sy my liewer nie weer moet bring nie. My ma het my sulke dingesklere laat aantrek," onthou hy. "Een daarvan was ’n sailor suitjie met wit skoene en buckles en so ’n keppie op my kop. Dan sê die ander kinders: 'Kyk, Izak het in die karringmelk geval.' Dit het my baie ellendes besorg, want dan’t die vuiste uitgekom. My moeder was ’n eienaardige mengsel van skerts en erns. Sy kon die gruwelooslikste grappe vertel. ’n Mens het ’n paar groot en emosionele skokke in jou lewe wat jy moet oorkom ... haar dood was vir my een.”

Sy pa was ’n wynmaker by die KWV in die Paarl – ’n stil man, ’n leser, en hy het eers toe hy ouer was besef watter besonderse mens sy pa was.

Hy het aan die Paarl Gimnasium skoolgegaan, waar hy gematrikuleer het. Vandat hy kon onthou, het die besef van die Godheid hom gefassineer. "Ek was’n alleenkind en kan onthou hoe ek eenmaal in die klas sit en dink het oor die ewigheid en die volgende oomblik gooi die juffrou my met ’n stuk kryt. Ek dink nou nog baie oor die sin van die lewe. Ek dink nog soms so, dan gooi die lewe my met ’n stuk kryt!”

Hy het op LitNet aan Joan Hambidge vertel dat hy ses was toe hy begin gedigte skryf het. "Vir die Klein Burger. En vier sjielings en ses pennies. Toe af en toe vir die skooljaarblad en veral weer op universiteit. Die gedigte uit daardie tyd is almal asblik toe."

Verdere studie en werk

Na skool is Izak na die Universiteit Stellenbosch, waar hy die grade BA, BA Honneurs, MA en die Lisensiaat in die Teologie, almal cum laude, behaal het. In 1962 is die Croll-stipendium aan hom toegeken. Hy was redakteur van die universiteitsblad, wat dalk die eerste saadjie vir sy latere joernalistieke loopbaan geplant het.

Izak se eerste gemeente is die NG gemeente in Albertinia in die Suid-Kaap, waar hy van 1963 tot 1968 predikant was. Van 1969 tot 1972 het hy die NG gemeente Bonnievale bedien, ook in die Suid-Kaap, en in 1973 is hy na die gemeente Constantia in die Kaapse Skiereiland, waar hy tot sy aanvaarding van die redakteurskap van die vrouetydskrif Sarie in 1983 werksaam was.

In 1960 is hy met Rina Visser, ’n meisie van die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) getroud, en hulle het drie kinders, Louis, Jacques en Chérie.

Vanaf 1973 het hy vryskutwerk vir Die Burger gedoen, en baie radiowerk, en is hy gekeur as programaanbieder van ’n godsdiensreeks op televisie. Al hierdie aktiwiteite is die aanloop tot sy latere joernalistieke loopbaan as redakteur van Sarie en Rapport.

In 1983 is Izak as redakteur van Sarie aangestel. Hy het teenoor Hanlie Retief (Rapport, 6 Augustus 2008) erken dat sy jare as redakteur van Sarie die heel beste van sy lewe was. Hy het redakteur geword toe dit nie so goed met die tydskrif gegaan het nie, maar onder sy leidende en bekwame hand het Sarie spoedig ’n leier op haar gebied geword. "Ek het die perfekte span by Sarie gehad en was gelukkig om die regte mense op die regte tyd bymekaar te gehad het.” Sarie oortref alle verwagtings en die sirkulasiesyfers is op ’n stadium 240 000.

Izak de Villiers het ’n baie groot aanhang onder Suid-Afrika se vrouelesers gehad. Hy was van mening dat dit baie gehelp het dat hy "onder sy ma se basaartafels grootgeword het en saans saam met haar vir die ACVV in die Paarl se strate gekollekteer het dat hy ’n toespraaktreffer geword het". Enige onderwerp of gebeurtenis kon hom tot ’n toespraak of lessie inspireer.

Hy het aan Retief vertel: "Een keer, weer op pad na ’n elegante oggendtee, wou die redaksie weet wáároor praat ek tog nou weer. My oog vang toe ’n wit wolhasie in ’n winkelvenster, en ek sê: 'Oor wit hasies.' Dié withasietoespraak het die vroue later laat toustaan vir my handtekening.

"Daar was ’n ou tante wat een keer aangestap gekom het. Oe, en sy's liries oor my. Toe kyk sy my so en sê 'maar jy lyk anderster as jou portret in die Huisgenoot'. Sy't allietyd gedink ek is Murray Janson!"

In 1991 het Izak die redakteurspos van Sarie verruil vir die nog meer kontroversiële een van Rapport. Rapport was destyds nie bekend as ’n konserwatiewe koerant nie en sy aanstelling was nogal omstrede. Dit was selfs in daardie tyd ongehoord dat ’n predikant ’n Sondagkoerant lees, wat nog te sê ’n redakteur daarvan kan wees. Hy het egter erken dat vandat die eerste Sondagkoerant verskyn het, hy dit gereeld gekoop het. "Toe was ek nog ’n jong predikant, en ek het lekker gelees. Ek het dikwels die aanknopingspunt vir my Sondagaandpreek uit die dag se koerant gekry. Nee, ek het gewetensbesware oor ander goed, maar oor die beginsel van ’n Sondagkoerant? Nog nooit.”

Izak het sy visie vir Rapport in sy eerste rubriek as hoofredakteur so gestel: “Rapport sal in dié land die boodskap van Die Werklikheid baie duidelik maak. Saam met almal, van die hoogste tot die nederigste, wat nie wil sien hoe die verwoesting van ’n vroeë Armageddon op ons neerdaal nie. Meer, Rapport sal ook wys op die werklikheid van hoop, dat daar vorentoe lig is – soms dof en soms helder.”

Die politieke hekelrubriek "Pollux" was een van die dinge by Rapport waaruit Izak groot plesier geput het. Hy het aan Hanlie Retief vertel dat die skrywer van so ’n rubriek niemand mag ontsien nie en daar was mense wat hom kwalik geneem het oor goed wat hy daarin kwytgeraak het.

In 1997 het Izak uitgetree as Rapport se redakteur. Min redakteurs kon terugkyk en sê dat hulle in hul leeftyd die problematiese lotgevalle van twee publikasies suksesvol op die regte pad gelei het.

Izak en Rina het vanaf 1990 in Johannesburg gewoon, waar hy hom voltyds aan sy skryfwerk gewy het.

Sy eerste digbundel, Leitourgos, het in 1972 verskyn. Dit was die eerste digbundel wat ’n Afrikaanse predikant uit en oor die bediening geskryf het. Op LitNet vertel hy aan Joan Hambidge oor die ontstaan van hierdie debuutbundel: "Leitourgos het letterlik een nag begin toe ek in die donker wakker geword het en oor die ou 'disciplina arcani', die Christene in hul donker byeenkomste, begin dink het. En toe word dit skielik poësie."

Nog ses digbundels het gevolg, waarvan die jongste, Vervreemdeling, in 2008 verskyn het. Sy Jerusalem tot Johannesburg (2005) is in 2006 met die M-Net-prys vir Poësie bekroon.

Izak was ’n baie gewilde rubriekskrywer en behartig ’n hele ruk lank die agterblad in Sarie. Van hierdie rubrieke word gebundel in publikasies soos Teen winter en ontnugtering, Die goeie sal lewe, Die koningin se voetkombersie, Die geluk van onsin: ’n anderse kyk na dinge wat saak maak, Sieners van die môre en Die glimlag van God. Hy skryf ook drie kinderboekies, naamlik Eerste dankgebede, Eerste gebede en Eerste Bybelversies.

In 1986 is Izak bekroon met die Andrew Murray-prys vir sy boek Depressie, die siekte van ons tyd. Met die ontvangs daarvan het hy gesê: “Die toekenning van hierdie prys bevestig vir ’n mens dat dié talent wat jy weet jy het, maar waaraan jy tog soms twyfel, werklik daar is.” Volgens die beoordelaars het hy ’n “siekte waaraan hy self ook gely het, grondig ondersoek, professionele advies ingewin, en ’n werk geskryf wat van kennis, insig, begrip en deernis getuig".

In 2008 word die boekheruitgegee, en daarin deel hy jare se persoonlike ervaring en gee advies oor hoe om met depressie saam te leef. Destyds het dit as radioprogram met ’n psigiater begin, en toe ’n topverkoperboek geword wat talle herdrukke beleef het.

In Die Burger van 28 Julie 2008 het Izak vir Marthinus Beukes oor sy depressie vertel: "Ek het toe (na die boek geskryf is) gehoop depressie sal deur die ouderdom opgelos word. Dit is ’n bygeloof ... dat ’n mens dit teen 60 sal ontgroei. Jy ontgroei dit nooit nie ... Daar is nie ’n maklike oplossing nie.”

In 1980 het hy die Credo-prys vir Christelike Lektuur vir Leviet en vreemdeling ontvang. Hierdie prys is jaarliks deur die NG Kerk-uitgewers in Kaapstad toegeken. Izak was ook een van die Gesangberymers van die nuwe Gesangboek wat in die sewentigerjare verskyn het.

Izak het ook gereeld radiopraatjies in die destydse Vrouerubriek oor die Afrikaanse diens van Radio Suid-Afrika gelewer. Hy het sy radiodebuut nogal in Engels in die Langenhovenjaar met ’n reeks Christelike essays gemaak. In die tagtigerjare het hy ook ’n Sondagaandprogram, Godsdiens-aktueel, behartig, waarin hy onderhoude met bekende persoonlikhede gevoer het. ’n Gereelde rubriek, “Woord en wêreld”, het elke Saterdag in Beeld, Die Burger, Volksblad en Die Oosterlig verskyn. Hierdie rubrieke is in 1976 deur Tafelberg Uitgewers gebundel onder die titel Te vroeg vir moedverloor.

In 1998 is De Villiers deur die FAK vereer met die toekenning van die FAK se Prestigeprys vir die besonderse wyse waarop hy Afrikaans deur die joernalistiek en as digter en skrywer bevorder het. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 2002 die DF Malan-medalje aan hom toegeken, en hy het ook die Orde van die Disa (Offisiersklas) van die Wes-Kaapse regering ontvang, ’n toekenning aan persone wat werk van hoogstaande gehalte ter bevordering van die Afrikaanse kultuur lewer.

Met sy politieke kommentaar in Rapport het De Villiers in daardie stadium as een van die belangrike meningvormers na vore getree – met sy skryfwerk het hy ’n wesenlike en belangrike bydrae tot die Afrikaanse intellektuele wêreld gelewer. Piet Cillié, voormalige voorsitter van Nasionale Pers, was een van Izak se mentors. “Hy het van my ’n persman gemaak, my ghoeroe geword, ’n soort vaderfiguur,” het Izak gesê, en Cillié het Izak beskryf as “die veelsydigste Afrikaanse joernalis sedert Langenhoven”.

Ná sy aankoms in Johannesburg het hy uitgehelp as leraar by die NG gemeente Aasvoëlkop (Northcliff). Sy artikels oor kankernavorsing het hom die Media-prys van die Nasionale Kankervereniging in 1987 besorg. Hy was ’n stigterslid van die Chris Burger- fonds vir beseerde rugbyspelers, voorsitter van die Otto du Plessis-kollege vir verpleegkundiges, lid van die Mediaraad, en lid van die uitvoerende raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy het ook twee goue "Beste Publikasie"- toekennings van die Christelike Boekhandelaarsvereniging ontvang. Daniel Hugo noem hom "die beste mistieke digter in Afrikaans naas Sheila Cussons". Izak lewer in 2004 die preek tydens Sheila Cussons se gedenkdiens na haar afsterwe.

Ná sy dood in 2010 publiseer die Christelike Uitgewersmaatskappy Onder ewige vlerke, wat die laaste oordenkings bevat wat Izak oor die Psalms geskryf het. Daar is ook gebede, gedigte en ander gesegdes uit sy vorige boeke, asook huldeblyke en foto's uit sy foto-album.

Jerusalem tot Johannesburg (2005) het 27 jaar ná sy vorige bundel verskyn. In Rapport van 15 Januarie 2006 het Henning Snyman hierdie ironiese, mistieke, gerypte en suiwere verse ’n hoogtepunt in De Villiers se oeuvre genoem, terwyl Joan Hambidge dit op LitNet as ’n "puik bundel waarin die lewe in al sy fasette helder en oortuigend verwoord word" beskryf.

In Volksblad (27 Februarie 2006) praat Bernard Odendaal só oor hierdie bundel: "Met Jerusalem tot Johannesburg lewer hy digwerk wat energiek en gespierd is, as’t ware brandend van aktualiteit, maar ook ervare en insigryk."

In 2008 is Izak de Villiers se laaste digbundel, Vervreemdeling, gepubliseer. Tydens die bekendstelling in Aucklandpark het hy aan Marthinus Beukes vertel dat hy altyd maar ’n eenkantkind was, met ander woorde, ’n "vervreemdeling". "My ouers het my grootgemaak as ’n klein grootmens. As ek grappies by die skool gemaak het, het niemand gelag nie" (Die Burger, 28 Julie 2008).

Hy het verder vertel dat hierdie "vreemdelingskap" ook oorgeloop het na ander fasette van sy lewe, soos sy geloof. Hy het aan Beukes gesê: "Ek is een wat met geloof gebore is. Ek is begenadig. Maar dis ’n aweregse geloof. Ek is sinies en bevraagteken dit wat in die wêreld in die naam van geloof gedoen word."

As gevolg van sy eenkantheid is hy nie altyd baie tuis saam met baie mense nie. "Op die preekstoel is ek ontspanne. Maar moet my nie voor ’n groot gehoor sit nie. Ek word dan bang vir mense."

Op die voorblad van Vervreemdeling is ’n foto van Ta-tanka-Iyotanka, die groothoofman Sitting Bull. Oor die gebruik van hierdie foto wou Beukes weet of dit ’n gedeelde vervreemding is, waarop De Villiers geantwoord het: "’n Tydvak (in die land) is aan die verbygaan." En hy trek die vergelyking deur na die hoofman wat geweet het sy taal, kultuur en hy self is aan’t sterf.

"Ek onthou nog die dag toe ek die foto van die hoofman by die Universiteit van Chicago gesien het. Toe ek hom sien, was dit of ek myself sien. En die mens bly ’n vervreemdeling op aarde. Hoe ouer jy word, hoe ver­vreemder raak jy. Ons is net tydelik hier.”

Hoewel geloof tematies sentraal staan in sy werk, sien hy homself nie as ’n godsdienstige digter nie. “As ek Izak de Villiers die vullisverwyderaar was, maak dit van my die nagkardrywer-digter?”

Die dood en die rouproses is van die temas in Vervreemdeling, veral gedigte oor die dood van mense wat na aan hom was.

De Villiers vertel aan Beukes van een oggend in die Karl Bremer­hospitaal toe hy ene tannie Bettie gaan groet het. “Sy was ons peetma toe ek predikant op Bonnievale was. ’n Klein bondeltjie bene ná ’n stryd teen kanker. Toe ek met die wegstap voor die hospitaal se aaklige, liederlike hysbak staan en wag, toe huil ek.

"In daardie stadium was ek redakteur van Rapport en het daar gestaan en gewonder: 'Izak, wat maak jy by Rapport? Hierdie is jou werk. Hier tussen siek mense.'”

In Rapport van 5 Mei 2008 sluit Marthinus Beukes sy resensie van Vervreemdeling as volg af: "De Villiers se bekendheid en vaardigheid as religieuse digter word met Vervreemdeling bekragtig. (...) (Die digter) se verwoordingskrag is ’n waarmerk van gehalte. Soos in sy bekroonde bundel Jerusalem tot Johannesburg beïndruk die sterk en vaste stem van die digter weer eens. TT Cloete het in Die literatuur sedert Sestig (252) tereg De Villiers se 'onvervalste onpretensieuse' digterskap geprys. Vervreemdeling is ’n bundel, soos die digter se volledige oeuvre, wat ’n bevestigende bewys is van sy waardige bydrae tot Afrikaans. Lesers van sy verse sal steeds deur die afgerondheid en emosionele en geloofsensitiwiteit aangeraak wees – ’n vaardigheid wat getuig van ’n knap ambagsman van die woord."

Izak de Villiers se laaste publikasie was Strooidak en toring, waarin hy sy herinneringe geboekstaaf het. Die uitgewers het as volg oor hierdie publikasie geskryf: "Uit hierdie (ryk geskakeerde) lewe vertel hy van ver plekke en vreemde gebeure, van uiteenlopende mense, mense uit alle stande wat hy raakgeloop het. Hy vertel van sy lewenslange worsteling as Afrikaner met die politiek van sy mense, ook in sy verse. Dit terwyl hy homself 'onbeskaamd konserwatief' noem. En dan weer op ’n dag ’n sterwende Katoliek se belydenis aanhoor. Hy spaar nie sy oordele oor ander se dade nie, veral nie van politici nie, maar hy staan ook erg krities teenoor homself en skryf, soos hy self sê, 'sonder hoed of handskoen'. Die resultaat is ’n kyk op ’n belangrike tydperk in die geskiedenis, ’n anderster kyk – ook na homself en ’n lewe van kritiese deernis met mense, van ’n politieke kritikus wat Tony Leon [voormalige leier van die Demokratiese Alliansie] ‘’n ikonoklas op sy eie manier' noem, maar iemand wat sy mense liefhet."

In sy resensie van Strooidak en toring skryf JC Kannemeyer in Die Burger (27 Julie 2009): "Izak de Villiers se herinneringe, wat hy uit ’n hele lewe se ervarings en ontmoetings opdiep, volg nie ’n chronologiese lyn soos ’n mens meestal in ’n outobiografiese geskrif kry nie. Die jeugjare in die eerste aflewering wat so ’n lyn laat vermoed, word gou vervang met spronge in die tyd en ’n episodiese gang. Met die afwisseling van anek­dotes en meditasies, sonder dat die geheel rommelrig raak of in ’n opdringerige prekerigheid verval, gee die boek eerder ’n bont mosaïek ervarings van wat die verteller als beleef het, herinneringe waarin die profiel van ’n spesifieke persoon telkens in opeenvolgende aflewerings belig word."

Op LitNet skryf Kerneels Breytenbach dat dit vir hom ’n genot was om tydens die lees van Strooidak en toring Izak de Villiers se "spirituele sy" te ontdek. "Sy godsdiens ken mens goed, maar die spirituele sy slaan in vertelling op vertelling deur. As ek praat van 'spiritueel', dink ek aan die belewenis van die sielelewe, buite die dogma van die godsdiens.

"Die gesprek met Dalene Matthee wat Izak in herinnering roep, is die pragtigste voorbeeld daarvan. Mens kry die gevoel dat Izak moeite maak met hierdie verslag omdat hy snap hoe merkwaardig die dinge is wat Matthee sê. Dit is jammer dat hy nog nie gereed was om haar indringend te vra oor die geledinge van haar geloof nie.

"Ewe aangrypend is sy vertelling oor sy vriendskap met Sheila Cussons. Sy benader hom uit ’n meer Bybelse hoek, en sodra hy die sleutel het tot die gesprek, ontwikkel iets besonders. ’n Kosbare hoofstuk.

"Een van die dinge wat keer op keer deurskemer, is hoe groot die deernis is wat Izak vir mense in nood kon hê. Moontlik daarom dat sy depressie-episodes so fel was – ander se deernis kon hom nie uit dié dieptes trek nie. Hy moes self veg."

Op 27 September 2009 is Izak de Villiers in sy huis in Saxonwold, Johannesburg oorlede nadat hy ongeveer ’n maand vroeër met motorneuronsiekte gediagnoseer is. Rina het aan Die Burger (28 September 2009) vertel dat hy al twee jaar vantevore siek begin word het, maar daar kon nooit vasgestel word wat fout met hom was nie.

"Dit was asof hy geweet het hy gaan. Hy was nie bang nie. Hy was ’n diep opregte Christen. Hy was net bang dat sy verstand aangetas sou word, maar dit was pynloos en sy verstand was helder.

"Hy het my in die oggendure wakker gemaak om hom te help regop sit. Hy het swaar asemgehaal, want die siekte het sy longkapasiteit verminder. Dit was ’n doodgewone gesprek tussen twee mense wat al ’n lang pad saam stap,” het sy oor haar laaste gesprek met haar man gesê.

Izak is oorleef deur sy vrou, twee seuns, Louis en Jacques, ’n dogter, Chérie, en twee kleinkinders.

Hy is uit die NG Kerk Aasvoëlkop in Northcliff begrawe.

Huldeblyke

  • Danie van Niekerk, jare lange vriend en voormalige hoof van Tafelberg-uitgewers: "In my loopbaan waar ek met hoogs intelligente mense te doen gekry het, was De Villiers een van die heel slimstes. Hy was die man wat heel insigryk oor pres Jimmy Carter se gebreke kon praat en net so maklik oor Calvyn se deugde gesels, oor die Heilige Teresa van Avila of oor sy geliefde Paarl. En hy was een van ons knapste digters.” (Die Burger, 28 September 2009)
  • Rachelle Greeff: "Ek het ’n gespreksgenoot verloor. Vir tye in my lewe het hy ’n vaderrol vertolk. Ek het altyd die digter en godsman eerste gesien. Hy was ’n diep, diep geestelike mens.” (Die Burger, 28 September 2009)
  • Oudjoernalis Fritz Joubert, ’n jare lange vriend: "De Villiers was een van die veelsydigste skrywers en joernaliste nóg."
  • Skrywer André le Roux: "De Villiers was ’n regte korrelkop, maar hy was altyd eerlik en dit het in sy guns getel." (Die Burger, 28 September 2009)
  • Die joernalis Zelda Jongbloed het in Die Burger, 3 Oktober 2009 meer vertel oor haar verhouding met Izak de Villiers terwyl sy vir Rapport Ekstra en Rapport gewerk het: "Hoe sê ’n mens vir iemand ek ag jou as mens, as van waarde, sonder om lompe woorde daarvoor in te span? Ds Izak de Villiers het die magiese vermoë gehad om dit juis so te doen. In my kop lê talle voorbeelde van die vertroue en geloof wat hy kennelik in my gehad het.

"Toe my telefoon een oggend in 1993 lui en De Villiers sê: 'Loop soek Piet Koornhof waar hy ook al in die wêreld skuil en kry sy storie', was ek stomgeslaan. Die sogenaamde hoofkoerant het hom nie juis aan Rapport Ekstra of sy joernaliste gesteur nie. ’n Storie so belangrik soos die Koornhof-Marcelle Adams-liefdeskandaal sou gewoonlik deur niemand minder as die hoofverslaggewer geskryf word nie. Maar ek hou van uitdagings en is met tas in die hand na Reno in Amerika waar Koornhof en sy metgesel ’n konferensie vir grootwildjagters bygewoon het. Genoeg om te sê ek het die onderhoud gekry en het selfs ’n bietjie met die twee gekuier. Ek wou De Villiers se geloof in my waardig wees.

"Aanvanklik was die verhouding met De Villiers, aan wie ek direk gerapporteer het, maar ’n strammerige affêre. Hy was in die bedryf bekend as ’n beneukte man. Ons verhouding sou seker nooit verdiep het nie sonder die 1994-verkiesing en die hoofartikel wat De Villiers goedgedink het om vir Rapport Ekstra se voorblad te skryf.

"Toe ek dit lees, het ek geweet: As ek gedwing word om dit te plaas (en De Villiers as hoofredakteur sou kón), sou ek uit beginsel uit my pos moes bedank. Kortliks het dit daarop neergekom dat De Villiers bruin mense in die Kaap aansê om vir die NP, as enigste moontlike keuse, te stem. Ek kon nie hiermee vrede maak nie; en ná ’n week se gewroeg het ek hom gebel en lank gemotiveer hoekom só ’n hoofartikel Ekstra ten diepste sou skaad. De Villiers het my argument ingesien, en die hoofartikel het nooit verskyn nie.

"Hierna het ’n totaal ander faset in die hoofredakteur-redakteur-verhouding tussen ons ingesluip. Ek het geweet dat De Villiers my as professionele mens, vrou en redakteur van ’n deel van sy koerant respekteer. Ek het geweet ek kon altyd op sy ondersteuning en lojaliteit staatmaak, ook in my persoonlike lewe.

"As ek terugkyk na die Izak-era by Rapport, besef ek niemand het meer gedoen om die mindset te verander as juis hy nie. Dit was hý wat my bevorder het tot adjunkredakteur van Rapport doer in 1996 al, lank voordat dié reg vroue in die Afrikaanse media toegeval het. Dit het ingepas by De Villiers se filosofie oor vroue en by die jare lange gevegte vir vroueregte wat hy as predikant in sinodesale gevoer het.

"Die uitstaande kenmerk van sy lewe was sy absolute eerlikheid, lojaliteit en ’n wonderlike vermoë om verby die kunsmatige grense wat die samelewing daargestel het, te beweeg en te kyk. So het hy my byvoorbeeld voor 1994 met ’n onnutsigheid in sy stem genooi om sy metgesel te wees op die eerste teeparty van Rapport wat in Leeuwenhof gehou is. Ek kon hom amper hoor dink: 'Vat só, verkramptes!'

"Ek gaan nie voorgee dat ek De Villiers in sy volle menswees geken het nie. Hy was, soos Die Burger se hoofartikel vroeër vandeesweek lui, ’n huis met baie vertrekke waarin verskillende personas gewoon het. Dis in hierdie vertrekke dat hy van tyd tot tyd diegene vir wie hy omgegee het sonder woorde genooi het om te luier, te praat, die mensch De Villiers te geniet.

"Hoe anders dan sou ’n mens agter die bruuske uiterlike ook die man met die klein hart raaksien, die vriend wat jou wou help om jou lewenslaste te dra en tegelyk sý laste te deel, die man met die oop hand vir diegene wat minder as hy het?

"De Villiers was lief vir mense. Dit het dikwels geblyk uit sy fyn vertellings oor ambagsmanne, die gesin se huishulp, die mense wat hy op staptogte in sy buurt raakgeloop het; die verkoper van Persiese matte wat geen verblyf gehad het nie, by De Villiers tuisgegaan het en uit dankbaarheid so nou en dan vir die gesin ’n Persiese mat geskenk het.

"Daar was ook die ou roosboom voor sy voordeur wat maar nie wou blom nie. Op ’n dag besluit hy om die roos te wys wie baas is. Hy het, al verduidelikende aan die roos, dit gesnoei totdat net stompies oorgebly het. De Villiers het geskaterlag as hy vertel hoe dié roosboom toe vir dood gegroei het totdat hy later die lote van die voordeur af moes wegwerk!

"Ook in sy vriendskappe was De Villiers maar so. Dikwels is die snoeiskêr ingelê as daar geen groei was nie.

"De Villiers het graag grappe vertel en op ’n manier wat jou laat skaterlag het lank voordat hy by die trefreël gekom het. Ek kén niemand anders nie wat grappe (soms ook maar stouterig) met soveel smaak kon vertel. Daar’s die Koos Kok-juweel: Koos was ’n tuinier van Montagu. Op ’n dag het ’n ryk man amper verdrink, en Koos het hom gered. Die ryk man nooi hom na sy huis om hom te beloon, stap met Koos sy waatlemoenland binne en kies ’n kleinerige enetjie met ’n inseksteek wat hy as beloning aanbied. Seg Koos: 'Koos Kok, dit sal jou leer om met die Here se werk in te meng!'"

  • Joan Kruger (joernalis en oudredakteur van Rooi Rose): "Daar was in die Afrikaanse joernalistiek twee groot geeste by wie ek belangrike lesse geleer het: Dr Wimpie de Klerk het my geleer dat alles in die lewe eintlik baie eenvoudig is. De Villiers, weer, het my geleer dat niks in die lewe eintlik eenvoudig is nie!"

“Hy was lojaal, het reguit gepraat, en vir party mense was dit maar moeilik; hy’t al vir my dinge gesê ... maar dit het nooit die vriendskap in die gedrang gebring nie. En in sy kop was hy Joods (sy oerouma Kototsia was ’n Oos-Europese Jodin). Maar hy was op ’n manier ook Katoliek, met groot waardering vir elemente van die geloof.” (Die Burger, 3 Oktober 2009)

  • Chris Karsten, wat saam met De Villiers by Rapport gewerk het: "Hy was ’n man wat nie doekies omgedraai het nie. Iemand met ’n aweregse manier om koerante uit te gee te midde van kollegas wat alles op die tradisionele manier wou doen." (Die Burger, 3 Oktober 2009)
  • Ansie van der Merwe, De Villiers se persoonlike assistent by Rapport: "Ek het hom as mens beleef en glo dat hy tog op ’n manier laer om homself getrek het." (Die Burger, 3 Oktober 2009)
  • Die Burger, 3 Oktober 2009: "Niemand is louwarm oor Izak de Villiers nie. Daar is altyd sterk gevoelens vir of teen hom. En ’n mens moet amper paradoksale goeters verenig as ’n mens oor hom praat. As jy sy werk lees, kom jy agter De Villiers het oor twee goed gedig en geskryf: God en dood. Hy het ’n oop hand gehad, maar sy regterhand het nooit geweet wat die linkerhand doen nie. Hy het ’n klomp talente gehad wat hy in een lewe almal volvoer het. As koerantredakteur het hy geweet wat sy lesers wil hê en altyd gesê ’n mens moenie te ver voor jou lesers uitloop nie. Hy het ’n fyn aanvoeling gehad, vandaar sy sukses by Sarie, by Rapport.

"Inderdaad ’n man met baie gesigte, ’n huis met baie vertrekke. Dit is asof ek hom kan hoor sê: 'Man met baie gesigte klink reg. Moet my net nie ’n tweegesig noem nie!'"

  • Louis de Villiers, sy seun en sportverslaggewer: "Izak de Villiers, jy’t die wêreld omtrént gemoker en ek sweer ek het dit liggies sien roer.

"Sal julle vir oulaas by my dierbare, moeilike, liewe, besielende korrelkop van ’n pa se roudiens vir hom hande klap. Ek het destyds in een van my pa se meer morbiede buie vir hom gesê ek gaan dit eendag doen, en my pa het heerlik daarvoor gelag.

“Ek aanvaar dit was goedkeuring. My pa Izak had ’n swak vir ’n ronde applous. Hy’t baie gekry op sy tyd en ek vra u om asseblief saam met my vir oulaas hande te klap vir my pa.

“In Fidji sê hulle die mooiste ding as iemand sy merk gemaak het. Hulle sê jy het die wêreld gemoker en dit het beweeg. As jy dáái sin kon bottel, is dit die essence van Izak de Villiers, die gretigheid om ’n merk te maak en die fatalistiese berusting daarby dat ons maar ten beste net ’n ligte roerinkie in die groter prentjie kan veroorsaak.”

"In ’n laaste boodskap aan my pa, my boesemvriend, my gunsteling- sparring partner wil ek net sê: Pappa, dis lente. Jou laaste klompie boeke was waarskynlik jou bestes, jou tuin lyk pragtig, WP is tweede op die log, en die kerk is stampvol by jou begrafnis ..." (Die Burger, 3 Oktober 2009)

  • Ds André Bartlett van die NG Gemeente Aasvoëlkop: "De Villiers was ’n mens met ’n fyn aanvoeling vir die dinamika van menseverhoudings en ’n uiters talentvolle prediker." (Die Burger, 28 September 2009)

Bartlett het Izak de Villiers se begrafnisdiens gelei en tydens die diens gesê: "Ek het gewens ek kon met die diagnose (van MNS) soos ’n Dylan Thomas vir De Villiers sê: 'Rage against the dying of the light.'

"Dit was egter die diepste fondament van De Villiers se lewe dat as ’n mens se lewe in diens van die Here is, is dit nie tevergeefs nie en is die dood nie ’n einde nie. Daarom hoef ’n mens maar net vir hom te sê: ‘Go gentle into that good night.’” (Die Burger, 3 Oktober 2009)

  • Chérie de Villiers-Golding, sy dogter, het tydens die roudiens ’n brief wat haar pa op haar 21ste verjaardag in 2004 vir haar geskryf het, voorgelees. Hy het daarin gevra dat “as sy tyd kom”, sy Psalm 91 by sy roudiens moet voorhou. “Maak dié Psalm jou lewensmotto. Ek’t een ding reg gedoen in my lewe, en dit was om in God te glo.” (Die Burger, 3 Oktober 2009)
  • Die Burger-hoofartikel, 29 September 2009:"Soos ’n huis met baie vertrekke. Dit is hoe baie mense ds Izak de Villiers die graagste sal onthou. In die een vertrek het die filosoof gewoon. In van die ander was daar die digter, die skrywer, pastorale sielkundige, die joernalis en tydskrifredakteur, die vader, die vriend ... Maar die vertrek waarin die mensch, Izak, die graagste gewoon het, was die een wat sy eintlike nering was, die dominee. Hy was ’n diep en toegewyde Christen en ’n uiters talentvolle prediker.

"De Villiers sal onthou word vir die groot mentorskaprol wat hy gespeel het in die lewe van baie mense, veral jong (en nie so jonk) tydskrif- en koerantjoernaliste. Sy omgang met kollegas en mense in die algemeen is gekenmerk deur opregtheid en eerlikheid. Hy het sterk politieke menings gehad en was die soort man wat gestaan en geval het by dít waarin hy met oortuiging geglo het. As digter en skrywer het hy verskeie gesogte pryse gewen. Sy bekende boek, Depressie, die siekte van ons tyd, was baanbrekerswerk en het verskyn in ’n tydvak toe min oor depressie as siekte bekend was.

"Ons groet ’n besonderse mens wat op vele vlakke en by vele mense groot leemtes laat."

  • Cas Vos: "Soos te verwagte het ons (in ons gesprekke) baie sand oor die poësie gestrooi. Ek het sy vormvernuf bewonder. Dis hy wat my aangeraai het om ’n paar sonnette te skryf. 'Hou aan totdat jy dit regkry. Moenie ophou nie.' Ek het geluister. Sy Leitourgos is ’n meesterlike bundel. Vol liturgiese en teologiese wyshede. Daar is soveel kostelike humor. As jy ’n votum of gebed soek, is dit daar. Ek het sy twee laaste bundels hoog aangeslaan. Ryp, ryk met soveel lae. Ek het vir Izak gesê dat hy die beste skrywer van godsdienstige essays in Afrikaans is. Verder dat ek ’n paar kortverhale by hom vermoed. En nou bly alles in die laai van vergetelheid.

"Izak se bydrae tot die Liedboek van die Kerk is magistraal. Daar word deurleefde teologie gesing. En dié klanke sal nie ophou nie. Dalk eggo dit ook in die hemel.

"Izak, jy het my lewe verryk. Dankie vir jou vriendskap en menswees. Jy is nou in die skadu van genade." (Versindaba)

  • Joan Hambidge: "IL de Villiers se voortreflike hantering van die sonnet, distigon en tersine dwing bewondering af. Ek dink ’n mens sou uiteraard die digter kon tipeer as die digter van die nostalgie, maar nooit as sentimentele digter nie. Daarvoor is die tegniese beheer so dwingend dat dit die sentimentele of emosionele oordaad uitwis. Ons vind dikwels die epifaniese moment in sy digkuns, daardie oomblik waar iets oopgaan of ’n moment verhelderend voor die waarnemer staan. Uiteraard was die digter ’n komplekse mens: sowel joernalis as religieuse mens en die gedigte verraai iets van hierdie twee pole. In die digkuns egter word die teenstrydighede versoen, dikwels in aangrypende verse wat om die vormbeheer veral imponeer. (Versindaba)

Publikasies

Publikasie

Maak vrede met ...

Publikasiedatum

[197-]

ISBN

0869911465 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: NG Kerk-uitgewers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die siening van die vrou in die poësie van Totius en DJ Opperman met verwysing na Elisabeth Eybers

Publikasiedatum

1959

ISBN

(hb)

Uitgewer

Stellenbosch: IL de Villiers

Literêre vorm

MA-verhandeling

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Leitourgos

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1973
  • 1976
  • 1980

ISBN

  • 0624000982 (hb)
  • 0624014193 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Engel voor my uit: blaaie uit my Bybeldagboek

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1974
  • 1975
  • 1976
  • 1981

ISBN

  • 0624004473 (hb)
  • 624016897 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Bybeldagboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Manna oor die duine: gebede

Publikasiedatum

  • 1974
  • 1975

ISBN

062400564 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gelykenisse en ander verse

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1980

ISBN

0624007340 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wat dra my deur ’n krisis?

Publikasiedatum

  • 1976
  • 1982
  • 1986

ISBN

0869911740 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: NG Kerk-uitgewers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Te vroeg vir moedverloor

Publikasiedatum

  • 1976
  • 2000

ISBN

  • 062400872X (hb)
  • 0624038963 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Vrou en haar God

Publikasiedatum

1976

ISBN

0869911473 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: NG Kerk-uitgewers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dalk familie van Jesus?

Publikasiedatum

1977

ISBN

062401052X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Leviet en vreemdeling

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1986

ISBN

  • 0624011739 (hb)
  • 0624024474 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Credo-prys vir Christelike Lektuur 1980

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sieners van die môre

Publikasiedatum

1978

ISBN

0869912437 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: NG Kerk-uitgewers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wie is ek?

Publikasiedatum

1978

ISBN

0869912070

Uitgewer

Kaapstad: NG Kerk-uitgewers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Teen winter en ontnugtering

Publikasiedatum

1979

ISBN

0624012441 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Godsdienstige essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eerste Bybelverse

Publikasiedatum

1978

ISBN

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Godsdiens – Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eerste dankgebede

Publikasiedatum

1978

ISBN

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Godsdiens – Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eerste gebede

Publikasiedatum

1978

ISBN

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Godsdiens – Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nog gebede

Publikasiedatum

1979

ISBN

079810886X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kindergedigte

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die koningin se voetkombersie

Publikasiedatum

1981

ISBN

0624016307 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Toe nou, prediker!

Publikasiedatum

1982

ISBN

0624017648 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Godsdienstige essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Waarom is ek bang?

Publikasiedatum

1983

ISBN

0869971212 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Lux Verbi

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Daar’s nog altyd ’n God

Publikasiedatum

1983

ISBN

0869913212 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: NG Kerk-uitgewers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die goeie sal lewe

Publikasiedatum

1984

ISBN

0624021491 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Depressie, die siekte van ons tyd

Publikasiedatum

  • 1986
  • 2008

ISBN

  • 062402380X (sb)
  • 9780624046127 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Niefiksie

Pryse toegeken

Andrew Murray-prys 1986

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Net om jou ’n drukkie te gee

Publikasiedatum

1990

ISBN

0624029026 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Godsdienstige essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Klein geskenk van geloof: ’n kort keur uit die werk van IL de Villiers

Publikasiedatum

1991

ISBN

0869973789 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Lux Verbi

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die geluk van onsin: ’n anderse kyk na dinge wat saak maak

Publikasiedatum

2000

ISBN

06240389971 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die glimlag van God: in die gewone skuil die goddelike

Publikasiedatum

2003

ISBN

07963301956 (sb)

Uitgewer

Wellington: Lux Verbi

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Silwermedalje van Christelike Boekhandelaars van Suid-Afrika in afdeling Algemeen Christelike Boeke 2003

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

10 maniere om teleurstellings te oorwin

Publikasiedatum

2004

ISBN

Uitgewer

Roodepoort: CUM

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jerusalem tot Johannesburg

Publikasiedatum

2005

ISBN

062404341X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

M-Net-prys vir Poësie 2006

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liedjies uit ’n towerfluit

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781770004887 (sb)

Uitgewer

Roodepoort: CUM

Literêre vorm

Godsdienstige essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vervreemdeling

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624046387

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Strooidak en toring: van mense en my tyd

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781415200148 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Umuzi

Literêre vorm

Memoires

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Onder ewige vlerke: laaste gesprekke met God

Publikasiedatum

2010

ISBN

9781770008342 (hb)

Uitgewer

Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy

Literêre vorm

Gedenkbundel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gesprekke oor die lewe: die laaste gedagtes van IL de Villiers. Saamgestel deur Amanda Botha

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780796317964 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Lux Verbi

Literêre vorm

Preekbundel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor IL de Villiers beskikbaar op die internet

Artikels en publikasies deur IL de Villiers beskikbaar op die internet

(Daar mag dalk leemtes wees in die publikasielys – die opsteller vra om verskoning, maar is afhanklik van berigte in die pers, NALN se knipselversameling en die internet vir die inligting.)

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top