Iemand met wie ek kan praat …

Jy staan voor ons in die klas
by jou tafel, by jou moedertaal
by jou boeke, jou hoedjie en jou tas
Jy staan voor ons soos 'n klein Jerigo
en al het jy mure om jou gebou
dra jy tande van silwer en goud
en al het jy wagters in al jou torings
bly daar 'n Ragab in jou

Tog bly jy sterk,
al trek ons elke dag om jou
met die ark van die jeug op ons skouers,
met trompette van ligsinnigheid voor ons monde

Tog bly jy werk, al krummel jou mure op die sewende dag
al val jy vooroor op die aarde
jy sal nie kla oor jou lot
wat Malherbe is jou here en
   Totius jou god

Vandag sit ek hier by my lessenaar soos die onderwyser in Antjie Krog se gedig “Onderwyser” in haar bundel Dogter van Jefta (1970). Hierdie einste gedig is in sierskrif in swart teen die voorste muur van my klaskamer neergepen. (Tot groot ontsteltenis van die faktotum.) Ek lees gereeld Krog se gedig. Net soos dié onderwyser moet ek daagliks allerlei uitdagings in die gesig staar. My moedertaal lê my as Afrikaans-onderwyser ook na aan die hart, “want Malherbe is [my] here en/ Totius [my] god” (Krog 1973:38). Maar ek bly sterk en beklee soggens flink my pos om my liefde vir my vak met tieners van alle uithoeke van die land en Suidelike Afrika te deel.

Soos die meeste onderwysers het ek ’n passie vir my beroep. Ek wat Christelik-Nasionaal opgevoed is en na 1994 talle proeflopies van verskillende onderrigmodelle moes trotseer, het toe uiteindelik nie te sleg anderkant uitgekom nie.

Ek het sedert my graad 1-jaar geweet ek wil eendag ’n onderwyser word. Terwyl die meeste seuns van my portuur smiddae die tyd met ’n rugbybal of krieketkolf verwyl het, het ek die hele straat se kinders leer lees en skryf nog voor hulle skoolpligtig was. Skool-skool was ’n gewilde spel in ons rondawel in Centurion. Elke sent van my sakgeld is op skryfbehoeftes spandeer, want elke onderwyser wat sy/haar sout werd is, moet ’n rooi pen en goue sterretjies hê. So het hierdie passie van krag tot krag gegaan en my lewe totaal in beslag geneem. Op universiteit ontdek ek die Afrikaanse letterkunde en die res is geskiedenis. Nou onderrig ek alles van Totius, Malherbe en Opperman tot Jaco Jacobs en Fanie Viljoen aan Engelssprekende leerlinge aan ’n onafhanklike skool in ’n klein dorpie in die middel van wye oop vlaktes.

Maar ten spyte van alles wat rooskleurig voorkom, moet ek bieg dat ek soms wonder hoekom skool-skool speel nie meer so kommervry is nie. Ek is bevoorreg om geen messtekende, toekomstige misdadiger in toom hoef te hou nie. Ek werk immers baie lekker en in ’n paradysagtige werksomgewing. Maar daar is iets in die skoolstelsel wat my reeds jare lank kwel. Die kwelling het tydens my tienerjare ontstaan. En dit is beslis nie sinoniem met Suid-Afrikaanse skole nie. Hierdie “kwelling” kom in skole regoor die wêreld voor, naamlik: Hoe kan gay tieners in skole ondersteun word? 

Op dertien het ek reeds “anders” gevoel. Hoekom was die ander seuns skielik so met meisies behep? Meisies was immers nog altyd die “vyand” gewees. Min het ek geweet. Drie jaar later weet ek wat “gay” beteken. Die woord “moffie” word lekker op die speelgrond rondgeslinger en ek verstaan uiteindelik die konteks van hierdie “populêre” woord. So tesame met aknee, hormone, lompheid, groot voete en hare wat oral groei, kry ek ’n ekstra “straf”: ek hou van dieselfde geslag. Ek is gay. Daardie drie vreesaanjaende woorde wat enige gay tiener aan hom- of haarself uiter, en wat soveel dapperheid verg. Wie vertel ek? Hoekom gebeur dit met my? Wat gaan die mense sê? O, en dan praat ek nie eers van al daardie godsvreesaanjaende Bybelversies wat die ooms en tannies by die Sondagskool so pligsgetrou aan ons voorgedra het nie. Oral word jy gebombardeer met jou “sondigheid”. Alleenheid. Soos ’n kanker wat jou van binne verteer … En tussendeur dit alles sit jy en dagdroom oor daai blonde seun wat oorkant jou in mevrou Barnard se Engels-klas sit.

’n Dekade later is al die onsekerhede van tienerwees vergete en staan ek sterk soos die mure van Jerigo. Maar daardie mure het tog ingetuimel … Soms moet mure intuimel sodat die grense van die onbekende oorgesteek kan word. En in die onderwys moet grense gereeld oorgesteek word. Uitdagings wat daagliks soos onkruid oral opduik, moet aangepak word. My grootste uitdaging is om die onderwyser te wees na wie ek altyd opgekyk het. Ek was bevoorreg om talle rolmodelle op skool te kon hê. Een van hierdie rolmodelle was ’n gay onderwyser. Sy was die een persoon wat vir my sekerheid binne hierdie tydperk van talle onsekerhede kon bied. (Selfs al was dit eers nadat ek skool verlaat het, het ek geweet van haar “teenwoordigheid”.) Gay-wees is nie ’n siekte nie en mens kan immers normaal funksioneer. Sy was een van die eerste persone vir wie ek my diepste geheim omtrent my seksualiteit vertel het. Sy het my ondersteun. Sy was en is steeds my held.

Maar ek was ook bewus dat gay onderwysers hulself aan kritiek kan blootstel. “Wees versigtig wat jy sê en moenie onnodige aandag op jouself fokus nie.” Jou seksualiteit is immers ’n groot geheim waarvan niemand mag weet nie. Gou vergeet ’n mens hoe daardie skaam tiener gevoel het toe daar niemand was om mee te assosieer in ’n tydperk toe hy/sy daardie geheim omtrent sy/haar seksualiteit met iemand wou bespreek nie. Enige gay tiener het ’n behoefte om met iemand te praat. Iemand wat verstaan. Iemand wat jou nie gaan kritiseer nie. Iemand wat nie die Bybel gaan uitruk en versies begin resiteer nie. Iemand wat aan jou kan verduidelik wat met jou gebeur. Iemand wat vir jou kan sê dat dit oukei is. En dat dit oukei gaan wees.

So bevind ek my vandag hier agter my tafel saam met my geliefde moedertaal, in ’n video-opname van myself dertien jaar gelede wat voor my oë afspeel. Voor my sit ’n agtienjarige seun. Skaam, onseker en vreesbevange. Ek hou nie vir dié spesifieke seun skool nie. Ek ken hom skaars. As departementshoof was ek onder die indruk die afspraak was gemaak om sy voorbereiding vir die rekordeksamen te bespreek. Min wetende. Die woorde tref my soos ’n warrelwind in die gesig. “Sir, I am gay.” Geen graad of kursus kon my hierop voorberei nie. Dadelik gaan sirenes in my kop af. Wat moet ek vir die seun sê? Hoe hanteer ek die situasie? Waarom vertel hierdie seun ’n Afrikaans-onderwyser by hierdie “klein Engeland” (soos die digter Melt Myburgh na privaatskole verwys) dat hy gay is? Hoekom ek? Die skool het immers ’n uiters bekwame sielkundige.

Maar soos die gesprek vorder, begin my senuwees bedaar. Hier sit jy. Voor jouself. Dertien jaar gelede. In my hart glimlag ek. Ek bewonder hierdie seun wat die moed het om my van alle mense uit te sonder en raad oor sy seksualiteit te vra. Hoe hy sy ma moet vertel. Wat hy moet doen omtrent die feit dat hy, net soos ek destyds, op daai blondekop-, blou-oog-seun verlief is. Deel van ons gesprek handel oor homofobie in skole. Homofobiese onderwysers wat gay tieners van talle geleenthede ontneem. Die konserwatiewe skoolsisteem waarin ons ons in ons land bevind. Wat gaan die skool se reaksie wees indien ’n gay paartjie die matriekafskeid wil bywoon? Of die lentedans? En so wonder ek by myself: Wat kan ék doen om die lewe vir miljoene gay tieners oor die wêreld heen makliker te maak? My hande is figuurlik gesproke afgekap. Daar is egter een ding wat ek kan doen. Ek kan luister.

Helaas het ek nie al die antwoorde op die seun se vrae gehad nie. Ek wens ek kon al sy vrae beantwoord het. Hy staan op, duidelik ligter van gemoed, groet en bedank my. Hy gaan my na die vakansie kom vertel wat sy ma se reaksie was.

Ek gaan sit in my stoel. Ek staar na die rekenaarskerm waar die e-posse soos lastige indringers my Jerigo binnedring. My mure het vandag ingetuimel. My hart bloei van trots vir hierdie dapper seun wat sy lewe met trots gaan aandurf. “I only want to be myself. I no longer want to hide who I am.”  Wéés jouself, seun. Hierdie onderwyser kon vandag op ’n klein wyse jou lewe aanraak. Ek kon die persoon wees na wie ek tydens my skooljare gesmag het. Iemand om te vertel. Iemand om raad te gee. Iemand wat my nie gaan veroordeel nie.

Daar is nog ’n lang pad om te loop. Gay tieners is oral. In elke skool. In elke klaskamer. Op die sportveld en in die koorbanke. Hoor hul stemme, onderwysers. Ondersteun hulle en wees bereid om openlik oor seksualiteit met leerlinge te praat. Wees bereid om vir hul regte op te staan. Wees bereid om die homofobiese samelewing waarin ons leef, vir hulle effens makliker en minder bedreigend te maak. Op welke klein wyse dit ook al mag wees.

So pak ek my tas aan die einde van nog ’n besige week. Ek voel tevrede. Ek het vandag ’n verskil in iemand se lewe gemaak. Ek loop verby my bord en kyk na Antjie se gedig teen my pers muur:

Tog bly jy werk,
al krummel jou mure op die sewende dag
al val jy vooroor op die aarde
jy sal nie kla oor jou lot
want Malherbe is jou here en
   Totius jou god.

 

Bibliografie
Krog, Antjie. 1973 (1970). Dogter van Jefta. Kaapstad: Human & Rousseau.

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top