Oop kaarte: Goeie leesvermaak, ook vir manne

  • 0
Klik en koop!Oop Kaarte
Outeur: Annemari Coetser
Kleinhandelprys: R140,00
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624045724
Formaat: Sagteband
Publikasiedatum: 2007
Bladsye: 256
 

Dis altyd lekker om iets nuuts te ontdek en dan daaroor te kan verslag doen. Dink net hoe opgewonde ‘n ornitoloog sou wees as ‘n nuwe kwarteltjie iewers in die Karoo ontdek word, of ‘n plantkundige as ‘n nuwe soorte boomorgidee uit die woude van KwaZulu-Natal aan ‘n bewonderende gehoor bekendgestel kan word.

Op ‘n soortgelyke noot is dit vir ‘n resensent lekker om ‘n nuwe tema in ons letterkunde bekend te stel. Oop kaarte van Annemari Coetser is, na my beskeie mening, die eerste liefdesroman in Afrikaans wat openlik die tema van poli-amorie ondersoek. Dis boonop ‘n jollie lekker roman ook, so ek hoop van aller harte dat mense die teks met sy uitspattige voorblad sal optel en geniet.

Ek sal oor ‘n kort rukkie meer deeglik verslag doen oor die roman self, maar eers wil ek vlugtig die konsep van poli-amorie bespreek. Diegene wat egter reguit na die bespreking van roman wil spring, klik hier.

 

Wat is poli-amorie?

Daar is heelwat teenstrydige definisies van poli-amorie, en dié ding pluk ook aan die hartsnare van Oop kaarte, want die karakters toon ‘n (geloofwaardige) gebrek aan kennis oor die onderwerp en die eksperiment waarmee hulle besig is.

Die beste definisie wat ek daarvan kan gee, is dat poli-amorie ‘n situasie is waarin daar meer as twee mense gelyktydig in ‘n seksuele verhouding is en dat – baie belangrik – oop kaarte gespeel word oor die manier waarop al hierdie verhoudings bedryf word.

Hier is een voorbeeld van ‘n ware troika wie se lede ek mee bevriend is: ManA is getroud met VrouA1. Hy het egter ook ‘n intieme, seksuele verhouding met VrouA2. Hierdie drie weet van mekaar en die twee vroue is baie goeie vriende. Hulle deel ook ‘n man. (Die twee vroue doen dikwels dinge saam, maar hulle het nie ‘n seksuele verhouding nie.) Hulle drie beskryf hulle eie verhouding as ‘n ménage à trois, of dan ‘n huwelik van drie. As hulle sou kon, sou ManA en VrouA2 graag wou trou. VrouA2 het haar eie huis, maar sy spandeer baie tyd in die ander twee se huis.

Volgens die definisies wat ek al gelees het, en die navorsing wat ek al gedoen het, is hierdie drie ‘n sprekende voorbeeld van wat poli-amorie is: ‘n hegte, baie intieme vriendskap tussen meer as twee mense – en een waarin daar oop kaarte gespeel word. Die probleem is egter dat ons samelewing nog glad nie gerat is om hierdie drie se verhouding te aanvaar nie. Hulle nabye vriende weet, maar min van hulle familielede weet. VrouA2 het al by meer as een geleentheid genoem hoe moeilik dit is om aan ander mans te verduidelik dat sy nie beskikbaar is nie.

Poli-amoriste verskil soms oor die aard van hulle verhoudings, maar in wese is hierdie verhoudings veronderstel om eksklusief te wees. Man A het dus ‘n eksklusiewe verhouding met elk van die twee vroue, en hulle met hom. Daar is geen ander partye by betrokke nie.

Heelwat gestrenge poli-amoriste sal ook vir jou sê, as jy sou vra, dat poli-amorie nie ‘n “oop huwelik” beteken nie. Volgens die streng poli’s is ‘n “oop” huwelik té oop en té vry om deur onverskillige seks verwoes te word. (Ons leef ‘n tyd van Vigs!) In Oop kaarte sukkel die karakters nog om hierdie onderskeid te tref.

Die streng poli’s sal dus frons oor hierdie een – weer eens ware mense met wie ek bevriend is: ManB1 en ManB2 is al jare lank bymekaar. ManB1 het egter al talle verhoudings gehad met vroue in ons vriendekring; twee van hulle was baie ernstig en het ‘n hele tyd geduur. Op die oog af is dié scenario baie eenders as die eerste een wat ek beskryf het, maar minstens een van die twee vroue beweer dat ManB2 nie weet van die verhoudings nie. Ek twyfel hieroor, maar die idee van oop kaarte is dus nie hier betrokke nie.

Dan is daar hierdie geval – streng gesproke glad nie ‘n poli nie! VrouC is getroud met ManC. ManC kom uit ‘n baie stoere Afrikanerfamilie en na ‘n paar jaar het sy ouers ernstige goed begin vra aan VrouC. Hulle wou kleinkinders hê en basta. Die probleem blyk egter toe ManC se spermtelling te wees: hoewel sy broers suksesvol en vrugbaar voortplant, verdoem die dokter hóm toe deur voor te gee dat sy sperms glad nie die doelwit kan haal nie. Dít wou ManC se ma egter nie glo nie. Verskoon my dus die skeptisisme as ek nie dink dat die kindjie wat so tien maande ná die dokter se ondersoek gebore is, ‘n ingryp van God was nie. Wel meen ek dat dit ‘n intelligente skuif van VrouC se kant was. (Veral omdat ‘n ander, vroulike, kennis vertel het hoe ManC een aand op háár ‘n skuif gemaak het terwyl sy vrou “laat gewerk" het. Genoemde vroulike kennis was ‘n kollega van VrouC en het geweet wanneer die besigheid gesluit het daardie aand.)

Wie is ons om te oordeel? Gooi die eerste klip as jý sonder sonde is, het ‘n rebelse Jood eendag die heiliges toegesnou toe ‘n “los” vrou geteister is deur hulle heilige skynheiligheid.

En hier is nog ‘n mooie: PartnerD1 en PartnerD2 is nou al jare net partners. Dis die probleem. Geen seks meer nie. Dus soek PartnerD1 deesdae sy plesiertjies buitemuurs. Hier is nie poli-amorie ter sprake nie – juis nie. Hier is bloot die realiteit ter sprake wat soveel mense in verhoudings ervaar: een partner wil, of kan, nie meer nie, wat dan?

‘n Veel veiliger oplossing vir PartnerD1 sou ‘n ander partner wees, ‘n vaste, seksuele verbintenis met iemand wat nog kan en wil. Poli-amorie, dus.

Terloops: die lede van my alfabetsop deel een ding: minstens een van elk kom uit ’n Afrikaanse huis en het tydens hulle jeug elke Sondag in een van die susterskerke gesit. Voorts is hulle suksesvolle, professionele mense wat in goeie woonbuurte bly.

(En waar pas Izak in? wil lesers dalk weet. Nee wat, ou Sakkie was van jongs af die een op wie skouer gehuil word. Mense deel hulle stories met my, nie hulle lywe nie. Dis hoekom ek ‘n skrywer geword het – my lewe is altyd valer as die stories van die mense wat ek ontmoet.)

 
 
Wat sê die godsdienstiges?

Godsdiens speel ‘n belangrike rol in Annemari Coetser se Oop kaarte; vandaar ‘n vinnige verwysing hierna.

Daar is deesdae ‘n kille, ongedurige woede onder gelowiges oor die kerk se domastrante houding jeens gays en vele godsdiensleiers daag nou die orde openlik uit. Onlangs het ’n aantal Kaapse Metodistedominees skorsing in die gesig gestaar oor hulle die skynheiligheid van die kerk in die openbaar aangespreek het. Dr Fritz Gaum was ook ‘n leidende figuur in die NG Kerk om die agtergeblewenes se koppe te swaai jeens gays. So kan ons aangaan.

Ek betrek opsetlik die gaydebat, juis omdat dit ‘n toetssteen is vir die kerk se houding jeens vaste verhoudings.

Een van die twintigste eeu se groot kerkvernuwers is die Amerikaner John Shelby Spong. Spong, wat nou al bejaard is, het onlangs ‘n baie suksesvolle toer deur Suid-Afrika gehad. Sy boeke oor teologiese denke verslind ek al ‘n hele ruk, juis omdat hy so eerlik is omtrent die manier waarop die dogma agtergebly het.

Spong het veel gedoen om sy agtergeblewe landgenote anders te laat dink oor die aanstel van gay priesters. En toe ‘n klein skandaaltjie ‘n paar jaar gelede aan die ander kant van die oseaan, in Engeland, uitgebreek het oor ‘n bekende in kerkmusiekkringe (manlik) wat op ‘n priester (vroulik) verlief geraak het, was dit Spong wat persoonlik die paartjie te hulp gesnel het. (Vir diegene wat nou wil weet van wie ek praat, hier is ’n cleo (sic): Konings en orrelpype. Nou behoort die kerkmusici te weet. Dit is, terloops, nog ’n storie wat op my breë skouers beland het tydens ’n gesprek met die paartjie.)

In sy boek Living in Sin? maak Spong dan ook die hele idee van seks wat kwansuis slegs binne ‘n huwelik mag plaasvind, af as outyds. Spong sê jongmense en ouer mense moet hulle seksualiteit kan geniet en die kerk moenie in hulle pad staan nie. Wel sê Spong dat seks vir hom tuishoort in ‘n vaste, stabiele verhouding. Hy is ook oortuig dat enige seksuele verhouding eksklusief behoort te wees, aangesien ander partye ‘n verhouding kan opfoeter.

Spong plaas dus nie die huwelik bo ander verhoudings nie, maar hy plaas wel klem op vaste verhoudings. Hy het hierdie siening herhaal tydens vraetyd na ‘n lesing wat hy op Sondag 28 Oktober 2007 in Unisa se raadsaal gelewer het.

Of hy poli-amorie in die strengste sin, naamlik seks tussen meer as twee persone, maar binne ‘n eksklusiewe web, sal goedpraat, weet ek nie.

Wel kan ek noem dat Dr Christina Landman, die formidabele teoloog van Unisa, oneindig baie beteken het vir VrouA2 toe dié nog in ‘n geweldige wroeging was oor haar eie betrokkenheid by ‘n getroude man. VrouA2 het Landman gaan sien en Landman het op ‘n nugter, vriendelike wyse vir VrouA2 tot selfaanvaarding, ook op ‘n spirituele vlak, begelei.

 
Wat van die letterkunde?

Boeke oor verhoudings buite die huwelik is legio, ook in die Afrikaanse letterkunde. Noem feitlik enige André P Brink, en jy sal waarskynlik daarop afkom. Of wat van Marita van der Vyver? Dié skrywer het die mite dat vroue geen sekslus het nie, sommer gou-gou nek omgedraai. Die reisende kok in haar kortverhaal “Aptyt” (in Bestemmings, bl 8) beskryf haar verhoudings soos volg: “Dis hoe sy haar mansvriende in haar gedagtes verdeel, in bedmaats en tafelmaats. Dikwels is die tafelmaats gewese bedmaats – en die bedmaats gewoonlik toekomstige tafelmaats.”

Ons kan verder gaan en Kleinboer se Kontrei oproep. Kleinboer was hoegenaamd nie die eerste persoon wat seks met prostitute beskryf het nie, maar die wyse waarop dit gedoen is, en die skaamtelose interrassigheid van die teks, het die literati laat handeklap.

Marlene van Niekerk se Triomf het inses óópgeskryf in die Afrikaanse letterkunde.

Jacqui Nagegaal het met Daar’s vis is in die punch die mite van maagdelikheid wat opgeoffer word, finaal die nekslag toegedien. Volgens dié roman verloor jongmense vandag hulle maagdelikheid heel terloops, sonder om dit te vier of daaroor na te dink.

Ons kan dus nie sê dat Oop kaarte die Afrikaanse letterkunde vernuwe met seks of met verhoudings buite die eg nie.

JM Gilfillan se wonderlike kortverhaalbundel Glas raak ook talle aspekte aan wat deur Oop kaarte aangespreek word. Hier is voorbeelde, almal uit Glas:

  • In “Padkamp” wéét ‘n man sy vrou het ’n seksuele verhouding met ‘n ander man en hy gaan uit sy pad om daardie twee se verhouding moontlik te maak.
     
  • In “Kaktus” gloei ‘n sakeman se vrou van al die aandag wat sy ontvang van ‘n verwer wat hulle huis kom opknap en die sakeman sien dit raak. Hy besluit daar en dan dat indien sy vrou weer sou vra om na ‘n spa te gaan, hy eerder weer die verwer vir ‘n paar weke sou laat kom.
     
  • Oor die affair in “Of cabbages and kings” word gefrons, maar die weduwee oorweeg dit selfs vir ‘n oomblik om die ánder vrou in die familiebank te laat sit wanneer die egbreker te sterwe kom.
     
  • Die vrou se soeke na seks en ‘n man wat haar eenvoudig nie kan bevredig nie, kom pragtig, maar hartseer, na vore in “Die kersieboom”. Later, in “Laura en Sophie”, word die tema (klaarblyklik) herhaal.
     
  • In “Ant Dolly” word ‘n vrou se smagting na seks, en die gemeenskap se afkeer daaraan, ook blootgestel.

Daar is dus talle romans en kortverhale waarteen ’n mens Oop kaarte kan gaan weeg. Waarom beweer ek dan aan die begin van hierdie resensie dat ek iets núúts ontdek het?

Wel, ten eerste is Oop kaarte ‘n liefdesroman.
 

Oop kaarte, ’n liefdesroman

Voor ek oor die stereotiepe liefdesroman praat, die volgende: daar het onlangs, uit die stal van Lapa, ‘n meesterlike roman, Tussen stasies van Irma Joubert, verskyn. Ek sou dink dié roman moet ‘n aanspraakmaker op die M-Net-Prys wees, juis omdat dit so grafies is en op so ‘n groot doek vertel word. Tussen stasies is reeds halfpad na ‘n filmdraaiboek toe, maar dis toevallig ook ‘n roman oor die liefde. Tussen stasies is meesterlik en die ruggraat van die roman is ’n liefdesverhouding, maar dis nie ‘n stereotiepe liefdesroman nie. ’n Liefdesroman het gewoonlik ‘n patroonmatige gegewe. Sou ‘n mens die moeite doen om by die uitgewer Mills & Boon aan te klop om dalk vir hulle te skryf, stuur hulle selfs ‘n resep vir jou. Tussen stasies verval egter nooit in ’n stereotiepe resep nie en word uiteindelik baie meer as ’n roman oor die liefde.

Ek het egter al by talle ander geleenthede in die verlede “vernuwende” liefdesromans probeer lees, maar was telkens teleurgesteld as die roman uiteindelik maar net in nog ‘n stereotiepe storie verword. In Oop kaarte word dié soort liefdesroman, daardie patroonmatige, stereotiepe geskrifte, soos volg beskryf: “outydse vrystories met ’n voorspelbare begin, middel en einde; lekker resepmatige verhale wat sy binne ’n uur of twee deurdraf” (bl 161). Die verteller (en outeur by implikasie) is dus baie bekend met hierdie resep, maar sy breek heerlik hieruit weg.

Oop Kaarte is wél skaamteloos chick lit. Dit gaan oor ‘n aanvallige jong dame, Leandi, wat eendag deur ‘n professionele gholfspeler se bal getref en katswink geslaan word. Die gholfspelende heer, Renier, se van is De Ridder en hy loer baie diep in die mooi, katswink meisie se oë. Natuurlik raak hy op haar verlief en sy op hom – ná sy eers van die skok en die knop op haar kop herstel het.

Ag, ons ken die resep, nie waar nie? Wel, hier kom ‘n verrassing. Die heer De Ridder is getroud, maar die kalant wil tog die mooi meisie in die daglig knyp. Jip, helder oordag wil hy haar vry, want, sê hy, sy vrou het gesê hulle mag maar. Die getroude paartjie se verhouding is “oop”. (En dan sê hy ook hy wil poli-amorie probeer.)

O genade. Natuurlik wil sy nie, en hy wil. Dan ontmoet die heldin vir mevrou De Ridder, en dié sê "Jy mag my man maar met my deel."

Tog – en hier kom die resep weer ter sprake – onse omgeklitste vriendin val nie sommer voor die ridder se voete nie. Sy vra haar vriende, en hulle sê jy meng nie met getroude mans nie.

Interessant genoeg is twee stelle van haar vriende in gayverhoudings, en in hierdie teks is dié vaste, eksklusiewe verhoudings die norm, en geen mens knip ‘n oog daarna nie. Dit is egter die moontlikheid om ‘n verhouding met ‘n getroude man te hê wat hier die wenkbroue lig.

En net soos die leser dink die resep is lekker onder die knie, dan ontmoet ons vir Dehlia. Dehlia is ‘n veel ouer vrou, en ‘n weduwee. Sy is op soek na ‘n vaste vennoot en probeer die internet, asook ‘n verhoudingsmakelaar. Albei misluk. Hoe maak ‘n ouer vrou om weer ’n man te kry as sy nog lus is?

Oop kaarte word uiteindelik ‘n eksplorasie van die manier waarop Dehlia, Leandi en Renier de Ridder se paaie kruis. Maar dis ‘n resensie hierdie, so ek gaan nie geheime uitlap nie!

 
 
Die liefde vloei darem maklik

‘n Mens sou kon noem dat die verhouding tussen Leandi en De Ridder darem net te maklik vlam gevat het. Behalwe vir ‘n hengse eier op haar kop weens sy gholfbal, had hulle niks gemeen voor hy begin vry het nie. Nou ís dit seker so dat ‘n mens metafories kan kyk na die meisie wat van haar voete af geslaan word, en basta – Oop kaarte ís immers ’n liefdesroman, en dis die manier waarop mense mekaar ontmoet.

Die teendeel word egter ook gestel. Dehlia sukkel veel meer om die regte persoon raak te loop. Oop kaarte speel dus met die realiteit én die sprokie; die twee word baie slim vervleg.

‘n Ander dilemma wat ek met die teks het, is die gebrek aan redes vir meneer en mevrou De Ridder se besluit om hulle verhouding “oop” te maak. Daar is dikwels redes vir só ‘n besluit en in dié geval word dit glad nie gedeel met die leser nie. Soos in ’n Amerikaanse fliek word die binnekamergesprekke beperk tot dié wat bloot op die storielyn fokus.
 

 

’n Behoudende roman

Toe André P Brink destyds Kleinboer se Kontrei geresenseer het, was sy afleiding dat dit uiteindelik ‘n baie “behoudende” roman blyk te wees. Sonder om nou die storie weg te gee, wil dit vir my voorkom asof Oop kaarte ook uiteindelik op die “behoudende” rak gaan beland.

Maar moenie afgesit wees nie. Ons vriendin is lank nie meer maagdelik wanneer sy deur die gholfbal getref word nie; maar sy gooi ook nie dadelik haar goue skoentjies agter enige ridder aan nie. Uiteindelik word daar ook heelwat meer vrae oor “oop” verhoudings en poli-amorie gevra as wat daar antwoorde verskaf word – maar die hóé sal julle maar self moet lees. Dis beslis nie bloot ‘n kuise handjievashouery wat hier kop uitsteek nie!

 
 
Ligte vermaak, maar nie bloot stereotiep nie

Oop kaarte is ligte vermaak. Die meisies is mooi en die tonele is in soveel kleur gehul dat ek by tye wou nies. (Die hoofkarakter se huis is pienk en rooi en sy het ’n geel voordeur.) Dis amper of die verteller ons wil neem na ’n sprokieswêreld waar kinders die kleurkwassie swaai. Hier is nie pastelle nie; dié boek se kleure is goud, pers, rooi, knalpienk, geel ... en almal word dikwels saam in een stel gebruik. Die vroue dra goue skoene, en so kan ons aangaan. (Die verskriklik snaakse voorblad sê al iets oor die inhoud!)

Tog word die teendeel telkens ook verskaf. Die twee vroue wat in ’n gayverhouding betrokke is, se huis word heel anders uitgebeeld en is baie meer gestroop. Daarteenoor is die twee gay mans se huis stereotiep beeldskoon en modern. Dit is insiggewend dat steun vir Leandi se verhouding met De Ridder juis uit die gestroopte huis kom, nie uit die sprokieshuise nie.

Nog ’n teenpool vir die verhouding met De Ridder is die ouer vrou, Dehlia, se opregte soeke na ’n seks- en sielsgenoot. Natuurlik is daar talle getroude mans wat haar graag wil bespring (ook jonger mannetjies), maar daarvoor sien sy nie kans nie. Die getroude De Ridder, met sy hoop op ’n sprokiesverhouding met die jonger Leandi terwyl hy skynbaar oop kaarte speel met sy gesin daaroor, word dus gedurig gekontrasteer met dié mans wat werklik net ’n knypie in die donker soek.

En dan moet ons ook erken dat al die karakters uiteindelik besef poli-amorie is nie bloot ’n bietjie rusbankrugby ná werk nie; dis ’n stel komplekse, verweefde verhoudings waarin die psiges van verskillende mense betrokke is – en kinders se brose lewens ook.

Koop gerus die boek en kyk hoe Annemari Coetser al hierdie drade knoop. Oop kaarte bied sigself skaamteloos aan as chick lit, maar doen dit so slim dat dit ook uiteindelik ’n interessante roman word.

 
 
So, wat ís dan nuut?

Ek het begin met: “Dis altyd lekker om iets nuuts te ontdek en dan daaroor te kan verslag doen.” Nou moet ek seker klaarkry.

Oop kaarte se oemf lê nie bloot in die feit dat dit poli-amorie deel van die Afrikaanse hoofstroomliteratuur gemaak het nie; dit gaan verder as dit. Oop kaarte is ’n liefdesroman wat waag. Dit plaas sprokies onder die loep, sonder om noodwendig die sprokie te beswadder. Voorts bevat dit al die elemente van ’n liefdesroman, maar breek weg uit blote stereotipering en gaan snuffel, op ’n ligte manier, rond in die psige van die mens.

Oop kaarte is ligte vermaak en sal sonder twyfel ’n stadige Sondagmiddag verhelder, maar dis nie ’n roman waaroor jy skaam hoef te wees nie. Dalk is dit tyd vir die manne om ook gesien te word met Oop kaarte in jou hande, veral as jy ’n man is wat daaraan dink om ’n ekstra plesiertjie aan te skaf!

Bronverwysings

Brink, André P. 2004. "Kontrei is koning". Insig 191, Maart, 76–77
 
Gilfillan, JM. 2007. Glas. Pretoria: Lapa.
 
Joubert, Irma. 2007. Tussen stasies. Pretoria: Lapa.
 
Kleinboer. 2003. Kontrei. Dainfern: Praag.

Nagtegaal, Jackie. 2002. Daar's vis in die punch. Kaapstad: Tafelberg.

Spong, John Shelby. 1990. Living in Sin? A Bishop Rethinks Human Sexuality. San Francisco: Harper.

Van der Vyver, Marita. 2005. Bestemmings. Kaapstad: Tafelberg.
 
Van Niekerk, Marlene. 1994. Triomf. Pretoria: Queillerie.
 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top