Huldeblyk

  • 6

Anton de Bruin blaai na die volgende bladsy in sy ma se telefoonboekie. Dis leeg. So ook die laaste drie bladsye.

"Is dit alles, Ma?"

Sit dan sy selfoon met 'n sug neer toe sy knik. Vir seker die meeste oproepe wat hy nog ooit op een dag gemaak het en die meeste daarvan na familie en kennisse wat sy pa die DDT-mense genoem het. Mens sien of hoor net van hulle tydens ’n doop, dood of troue. Hy grinnik. Sy pa weet nie hoe reg hy was nie, dink hy en trek die koppie met tee nader.

"Wag, ek maak gou ’n vars koppie. Daardie een is al maklik ’n halfuur oud," bied sy suster, Leandri, aan.

"Hierdie is reg, dankie. My keel is nou so rou van al die praat dat ek nie kans sien om dit verder te brand met kookwater nie." Hy drink dit vinnig en staan op. "Kom ons gaan sit binne. My gai is ook seer en die stoele daar is ten minste sag."

"Sy is nogal baie kalm," fluister hy vir Leandri op pad woonkamer toe.

"Ek dink dis die dokter se kannie-worry-pil wat werk."

"Kan wees," antwoord hy en sak neer op die gemakstoel waar sy pa altyd gesit het. "Dink jy hy sal omgee dat ek hier sit? Hy was altyd so heilig oor sy plek."

Leandri gee ’n laggie, tel die TV se afstandbeheer op en skuif dit oor die koffietafel na Anton.

"Miskien sal hy jou vergewe as jy daarin sit en rugby kyk met ’n bier in die hand en die skeidsregter luidkeels kritiseer as hy ’n strafskop teen Province toeken."

Anton lag hardop. "Dis iets om te noem in sy huldeblyk." Dan kyk hy strak na Leandri. "O, shit. Wat sê mens alles van hom? Nee, jig, die gewone goed steek my altyd dwars in die krop. Dit laat ’n dooie mens al te veel na ’n klein godjie klink en Pa was ’n méns."

"Maklik," antwoord sy, "vertel wat jy alles van hom onthou soos die hengse pak slae wat hy jou gegee het oor ..."

"... ek in die kerk gepoep het," val hy haar laggend in die rede en moet na sy lagbui trane uit sy oë wegvee.

"En wat lag julle twee so lekker?"

Sy ma staan voor hom met ’n rooi lêer in die hand. "Sommer oor dinge wat ons van Pa onthou." Hy vat die lêer by haar. TESTAMENT staan daarop. "Regtig Ma, is dit nou nodig. Ek wonder of hy al koud is in die ondernemer se yskas."

"Ja dit is. Hy was baie gesteld daarop dat hierdie lêer die eerste ding is wat ek vir jou moet gee en behalwe vir sy testament, is daar ook ’n brief vir julle."

Heel bo in die lêer is ’n kort nota: “Sê vir jou ma hierdie is ’n verouderde testament. Jy soek die lêer waarop staan Aandele. (Nie dat daar meer iets van oor is nie.) My jongste testament is daarin.” Hy sê dit vir sy ma. Sien haar frons. Weet sy dus nie daarvan nie, wonder hy en vou sy arms. Terwyl sy wegstap, leun hy agteroor en trek groot oë vir Leandri. Haar gesigsuitdrukking kan maklik aan ’n speler by ’n Pokertafel behoort. Weet sy dalk hoekom Ma klaarblyklik niks daarvan weet nie? HKGK, dink hy en hoop hy is verkeerd.

Hy maak die voulêer oop. Die datum bo-aan is ongeveer twee weke tevore. Daarna die opskrif INSTRUKSIES. Tipies Pa. Regeer uit die graf. Ander mense kon dit dalk  waardevolle notas genoem het. Hy vluglees die eerste bladsy.

My dierbare kinders:

Dis nie maklik om hieroor te skryf nie, maar ten tye van ’n sterfgeval is mens emosioneel en dink jy regtig nie aan alles nie, tog is dit nodig om sekere dinge te doen en ander nie. Ek weet julle sal dalk aan meeste hiervan kan dink, maar niemand weet alles nie. Veral nie van my nie.

Moet nie dadelik die bank van my afsterwe in kennis stel nie. Hulle mag dalk besluit om my rekenings te vries en in die proses debietorders soos byvoorbeeld versekeringspremies en die mediese fonds se paaiement terug te stuur. Verder gaan julle ook kontant nodig hê vir die begrafnis/verassing, waarop julle ook al mag besluit.

Daarna volg ’n langdradige bespreking van redes waarom die bank nie dadelik van sy afsterwe moet hoor nie. Ook detail oor hoe om op sy bankprofiel aan te teken en bedrae van oorplasings tussen rekeninge om vir hulle ma bykomende kontant beskikbaar te stel.

Mamma se e-mail is gekoppel aan die hosting van debruinskryf.co.za. Dit word gedoen deur Afrihost.

Bla-bla-bla ...

Die volgende twee bladsye lees hy met aandag. Dit bevat stappe om te volg vir die omskakeling van selfone, versekering, internet-rekeninge wat toegemaak moet word en vele ander items. Heel laaste ’n punt rakende onbekende mense.

Buiten die gewone familie en vriende wie se nommers julle by Mamma sal kry, is daar ’n paar mense wat ek wil hê julle moet laat weet ek is oorlede voordat dit op Facebook geplaas word. (Mamma sal nooit aan hulle kan dink nie, want nie een van hulle val binne haar, of ons gesamentlike vriendekring nie.):

a. Piet Joubert (nie die generaal nie, ʼn gholfmaat. 😊 083 485 1120
b. Melani van Zyl 076 252 9934 (My uitgewer, sodat sy sal weet om my instruksie rakende tantieme en kopiereg deur te voer.)

Gmf! Hy het geweet sy pa het probeer skryf, maar ’n instruksie oor tantieme en kopiereg aan sy uitgewer? Flippen hel. Hoeveel gee die ou man so op ’n skinkbord weg en aan wie?

c. “Anna Serfontein 082 888 1461 (ʼn Vriendin in die boekebedryf.)
d. Thea Wolfaardt (Ook ʼn vriendin in die boekebedryf.) 083 074 0702
Moenie verbaas wees as sy huil nie. Alhoewel baie ver van mekaar, was ons baie naby aan mekaar.
e. Nig Bettie 073 120 1515 (Sy antwoord nie meer haar foon nie. Hardhorend, maar lees wel ʼn WhatsApp.)

Bliksem. Anton sit asof versteen. Kan dit moontlik wees? Jou vriende, ons vriende en my vriende? En een van laasgenoemde so close dat sy dalk kan huil. Fok, dit klink soos ’n saamgestelde gesin. Jou kinders, my kinders en ons kinders en pa as die ramkat in die middel. Dan nog ’n nig Bettie. Iemand van wie hy nog nooit gehoor het nie!

Hy moet homself staal om nie die vraag te vra nie. Plak dan die drie bladsye op die koffietafel neffens hom neer en kyk vir sy ma.

"Nogal volledig sou ek sê, maar niks wat nie tot môre kan wag nie."

Tog weet hy dat hy later, en buite die geselskap, ten minste twee oproepe gaan maak. Ja, okei, en ’n WhatsApp stuur. Sy pa se laaste versoek sal hy uitvoer. Ten minste is die ou man tot ’n mate eerlik. ’n Beter mens as hyself. Sulke inligting sal hy liewer saam met hom graf toe neem.

Leandri neem die A4-grootte koevert, wat Anton vir haar uithou, in haar hande. ’n Laaste brief? Néé! Dis nie wat sy wil hê nie! Hy moet steeds hier wees! Haar binneste wil vulkanies tussendeur haar ooglede uitspoel. “My liefste doggie,” lees sy die aanhef en snuif. Haar troetelnaampie terwyl sy op laerskool was. Dan swem die letters voor haar oë en weet sy die maskara gaan swart strepe oor haar wange trek. Sy spring op, stap haastig uit en klap haar eertydse kamerdeur agter haar toe. Sy wil alleen huil. Nou. Oor haar Dadda. Die pa wat haar beskerm het teen die aanslagte van die lewe en die man wat hom oor ’n modderbesmeerde brakkie ontferm het.

Op pad huis toe het ’n hond onder sy kar se wiele beland en het hy stilgehou om die dooie dier uit die straat te sleep. Eers toe hy haar opgetel het, kon hy sien sy is in melk. Hy het begin soek en ’n piepklein reuntjie gevind. Sy ogies was kwalik oop. Hy het albei in die kar gelaai en huis toe gevat, die ma onder die perskeboom begrawe en die kleintjie skoon gewas. Toe met ’n pipet begin melk voer.

"Wat de duiwel dra jy hier in?" het haar ma gillend gevra toe hy die hondjie op ’n voetekombersie langs die stoof neerlê. "Vat weg! Jy weet mos ek duld nie ’n hond in die huis nie!"

Pa het uitdagend voor haar gaan staan. "Dis myne," het hy sag geantwoord, "en die een wat hom hier wil uitjaag moet nog gebore word. Verstaan jy my?"

Ma het hom een gluur gegee, omgedraai en met afgebuigde mondhoeke weggestap. Vir dae nie met Pa gepraat nie en vir Vlekkie geïgnoreer. Pa moes alles vir hom doen. Kos gee, was, sy kombersie buite gaan uitskud. Selfs later, toe daar, wie weet hoe dit gebeur het, ’n slang in die kombuis was en Vlekkie hom bestorm en dood gebyt het toe hy Ma wou pik, het sy hom steeds soos ’n misbaksel behandel. Arme Vlekkie. Hoe sou hy kon weet sy koms was die waterskeiding in ’n huwelik?

Leandri vee haar oë droog met ’n snesie. Ook Pa was nie haar misnoeë en toorn gespaar nie. Sy kon net nie meer op ’n menslike toonhoogte met hom praat nie. Hy kon ook net mooi niks reg doen nie. Fokkol! Nie eens ’n verjaardag- of Kersgeskenk was goed genoeg ’n ordentlike dankie nie, maar Pa het homself gebly. Bedagsaam gewees, vriendelik en aangehou om vir hulle te sorg asof niks verkeerd was nie.

Sowat een jaar later moes hy op een dag twee uiteenlopende brokkies nuus ontvang. Vlekkie is dood aan katgriep en sy jongste boek het voorblaaie gehaal as topverkoper. Ma se reaksie was kort en kragtig. "Dankie tog, nou sal die huis nie meer na hondepis ruik nie."

Ouboet het verkies om neutraal te bly. Sy voel hoe haar hartseer in woede omskakel. Blerrie manteldraaier. As hy saam met Pa was, het hy vir Ma beswadder en andersom. Die dag daarna het Pa die spaarkamer betrek. Leandri wens sy weet hoeveel keer sy daar in die oggend ’n nat kussingsloop afgetrek en met haar hande gaan uitwas het. Later het dit wel opgehou. Leandri glimlag vir die eerste keer. Dit was kort voor die pakkie.

’n Boetiek se inkopiesak het in die kar gelê toe hy haar een middag by die universiteit kom oplaai het. Sy het gebrand van nuuskierigheid en vinnig gekoekeloer toe hy by ’n vulstasie uitgeklim het om vir die brandstof te betaal. Dit was ’n chemise, gemaak van die sagste satyn denkbaar. Sy het dadelik gewonder of hy wraggies gaan probeer opmaak, maar wou nie uitvra nie. Geweet hy sou self kom vertel. Daarvoor moes sy wag tot na aandete. Hy het by haar kamer ingekom met die pakkie in die hand.

"Ek het by die garage gesien jy loer."

Sy het skuldig afgekyk.

"Draai dit asseblief toe en maak ’n pakkie op. Ek wil dit wegstuur. Dan vertel ek vir jou ’n geheim."

Tot vandag toe weet sy nie hoekom sy nie geskok was nie.

 "Ek is bly vir jou, Paps," was al wat sy kon sê. Sy het die nagklere uitgehaal en die prysetiket afgeknip. Hel, sy het nooit kon droom dat hy soveel vir so ’n klein stukkie lap betaal het nie.

Sy lees verder aan die brief. ’n Verduideliking oor hoekom die testament lyk soos hy lyk; ’n verwysing na ’n polis wat direk aan haar ma as begunstigde gaan uitbetaal en dat sy pensioen ook aan haar oorgedra sal word. Die volgende sin laat haar mond oophang: “Ek het nog ’n geheim om op te klaar. Ek het vir jou gelieg oor Hannes. Dis nie my kind nie.” Nogmaals swem die letters weer voor haar oë. Tog kry sy dit reg om klaar te lees. Jirre, Pa! Vyftien jaar en jy fokken sê my nou!

Sy spring op badkamer toe, was haar gesig en trek haar klere reg, bekyk haarself in die spieël. Dis die staal in haar pa se grou oë wat vir haar kyk.

Daar speel ’n grynslag om haar mond toe sy fier en met ’n ferm tred uitgaan in die gang. Sy steek vas en spits haar ore toe sy Anton se stem, op sy venynigste, hoor.

"Ma weet, wat my die meeste van alles die moer in maak, is dat ons, wat altyd daar was vir hom, niks kry nie, maar die kind van daardie Nig-Bettie-slet, kry die huis. Fok!"

Leandri bly staan vir haar ma se antwoord: "Ja, Boetie, maar kind of nie kind nie, al wat ek jou kan sê is ek gaan geen begrafnis hou nie. ’n Diens by die ondernemer se kapel is goed genoeg. Daarna kan hy bráái in die goedkoopste kis wat beskikbaar is."

Leandri stap die woonkamer binne.

"Nè!"

Soos sy verwag het, ruk albei se koppe in haar rigting.

"Addergeslag, skaam julle," sis sy. “Die man wat sy lewe lank vir ons gesorg het en aan wie ons alles wat ons het te danke is, is dood." Sy bly ’n oomblik stil. "En voor die dag om is beswadder julle hom oor geld! Sies." Sy kyk Anton in sy oë. "Vertel vir ons hoeveel van jou lugkastele Pa gefinansier het. Toe, vertel."

"Dit was altyd op die basis van ’n lening."

Sy knik. "En hoeveel daarvan het jy terugbetaal?"

"Asof jy niks gekry het nie. Verbeel ek my of het jy ses maande lank op Pa se koste in Amerika rondgeflenter?"

"Hoor jy my kla?"

Sy rig haar tot haar ma toe hy nie antwoord nie. "Moenie vir my sê Ma verstaan nie die woordspeling oor nig Bettie nie. Ek was self by toe hy vir jou vertel het van die tannie wat op sterwe gelê het en toe vir die dominee gesê het sy moet die oom verskoon as hy weer trou. Sy het gesê hy moet. Kan nie eers ’n knoop vir homself aanwerk nie. Daarby is hy nog jonk genoeg om weer geluk te kan vind. Toe antwoord die oom mos so droogweg dat hy en nig Bettie reeds dieselfde onderwerp bespreek het."

Haar ma ruk haar skouers styf.

"So, wat het dit met my te doen?"

"Ma het hom voortydig in die spreekwoordelike nig Bettie se arms ingejaag op soek na liefde en huislikheid."

"Se gwhar! Hy het alles hier gekry wat nodig was."

"Nou wie dink Ma het Pa se knope die afgelope twintig jaar aangewerk? Hmm? Sy sokkies gestop, sy gunstelingkos gemaak en ’n huislike atmosfeer geskep toe hy dit nie hier gekry het nie? En dit te midde daarvan dat sy net aalmoese gekry het om in ’n enkelwoonstel aan die lewe te bly."

"Vertel dan. Jy het ons nou nuuskierig, want dit smaak my jy weet meer van my huwelikslewe af as ekself," antwoord haar ma smalend.

"Carol, Ma. Carol Strachan. En vir Ma se inligting, Johannes Jurgens de Bruin Strachan is nie haar of Pa se kind nie. Ma behoort te weet. Jy het hom self by die hospitaal gaan haal na die operasie wat hom sy van manlikheid ontneem het."

"Hoekom dra die kind dan sy naam?"

"Dis sy kleinkind, Ma. My kind. As jy net een maal navraag gedoen het sou jy geweet het ek was nie in Amerika nie, maar vier blokke hiervandaan. In ’n inrigting vir ongehude moeders. Die pa kon nie met my trou nie en ek het nie kans gesien om hom in ’n liefdelose omgewing groot te maak nie. Toe teken ek hom af en ek het vanaand uitgevind dis sy wat hom aangeneem het, ter wille van Pa."

Nie Anton of haar ma sê iets nie.

"Net môre gaan ek vir my pa ’n begrafnis reël soos wat hierdie gemeenskap nog nie gesien het nie. Die begrafnisbrief sal plein wees. Soos hy altyd was. Net ’n foto voorop en ’n uittreksel uit ’n gedig van Jan F E Cilliers: ‘Stil, broers, hier gaan ’n man verby.’" Sy vou haar arms en stoot haar bors uit.

"Nou moet julle my asseblief verskoon. Ek het ’n kind om te leer ken en ’n huldeblyk om te skryf."

  • 6

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top