Huldeblyk: Nico Carstens, musikale genie

  • 1

Nico Carstens se onlangse heengaan op 90-jarige ouderdom het natuurlik gelei tot ‘n stroom van huldeblyke en staaltjies oor hom soos mense wat hom geken het, dit met die res van ons gedeel het. Dit is die norm as groot geeste ons verlaat, maar in hierdie geval moet mens regtig ‘n tree of wat terugstaan om die volle omvang van hierdie besonderse musikant in te neem. Ek het ongelukkig nooit die voorreg gehad om hom te ontmoet nie en moet dus staatmaak op ander metodes om iets sinvol oor hom te skryf. Gelukkig is daar is geen tekort aan biografiese materiaal nie en is die meeste mense reeds daarmee vertroud, maar net vir ingeval ...

Ofskoon hy grootliks uit die publieke oog was die afgelope dekade of twee, was Nico Carstens op die kruin van sy loopbaan die grootste plaaslike musiekster. Dit is alombekend dat hy op 19-jarige ouderdom (in 1945) by Hendrik Susan se orkes aangesluit het en dat dit ‘n groot invloed op hom gehad het. Na vyf jaar het hy sy eie orkes begin en vinnig wyd bekend geword, veral nadat hy begin saamwerk het met sy groot liedjievennoot, Anton de Waal. Saam het hulle oor die 600 liedjies gekomponeer. Altesaam het Carstens seker oor die 2 000 liedjies geskryf. Tussen 1955 en 1959 het hy meer as ‘n miljoen langspeelplate verkoop – die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat dit kon regkry. Dit het hom op dieselfde liga van plaaslike populariteit geplaas as Elvis Presley en Jim Reeves, en vir laasgenoemde het hy selfs ‘n paar nommers gekomponeer met dié se besoeke aan Suid-Afrika in die vroeë sestigs.

Nico se musiek is ook deur ander internasionale kunstenaars opgeneem. Eddie Calvert se weergawe van “Zambezi” was die bekendste en het op nr 13 op die Britse trefferparade gedraai. Van sy plate is in Amerika vrygestel. Hy het musiek uitgebring op 78’s, langspeelformaat, enkelsnitformaat, kassetbande, CD’s, DVD’s – amper elke formaat denkbaar – heel moontlik die enigste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat dit gedoen het.

Op kommersiële vlak was Nico Carstens dus ‘n reusesukses en dit is duidelik dat hy en De Waal hulle toegespits het op musikale resepte wat gewerk het vir Afrikaanse gehore van die 1950’s en 1960’s. Hierdie tydgleuf was natuurlik ‘n belangrike een, om vele redes. Dit kan nie geïgnoreer word dat dit amper perfek oorvleuel het met die eerste twee dekades van apartheid nie. Dit het ekonomies baie beter gegaan met die Afrikaners van hierdie periode as met die vorige generasie, en Carstens se plate, optredes en publieke beeld (met sy Cadillacs en aandpakke ens – hy was lief vir spoggerige karre en vroue) het dit weerspieël. Hy het hom dus bevind in ‘n era van Afrikaner-nasionalistiese optimisme wat eers heelwat later sou taan.

Daar is geen tekort aan volksikonografie op sy plaatomslae van hierdie tyd nie, en as ‘n mens regtig die politieke spook om elke draai sou wou soek, kan dit vertolk word (soos sommige skrywers reeds gedoen het) as ‘n mate van subtiele onderskrywing van die politieke narratief van die tyd. ‘n Meer aanvaarbare gevolgtrekking – soos die een waartoe Willemien Froneman in haar doktorale tesis oor boeremusiek kom – is om dit eerder te sien as pragmatiese bemarking in ‘n tyd van ekonomiese opbloei. Ten spyte van hierdie sukses, was die milieu en mark egter ook vir hom inhiberend.

Carstens was ‘n musikale genie wat deur ‘n baie wye spektrum musiekstyle beïnvloed is. Daarin lê ‘n basiese ironie. Alhoewel hy gereeld na verwys is as die “Boeremusiekkoning” – iets wat vele boeremusiekpuriste ontstel het – het hy self nooit sy musiek as boeremusiek gekategoriseer nie. Vir hom was dit nader aan jazz. Hy is stilisties diep geraak deur die bruin musikante van die Kaap – ‘n styl van speel wat duidelik onderskei kon word van die boeremusiek in die destydse Transvaal. Hy was lief vir kwêla en ghoema. Hy het op sy kruin geleef soos ‘n rockster op ‘n vlak wat die mees gewilde plaaslike rockers van vandag net van kan droom. En dít in ‘n tyd van sombere, grys pakke. Op filosofiese en geloofsvlak is hy weer diep beïnvloed deur die esoteriese Oosterse spiritualisme van Sant Mat. Vir iemand wat volksbesit was, was Carstens op ‘n verrassende wyse anders.

Maar kom ons keer terug na sy impak. Nico Carstens was ‘n ongelooflike musikant met verstommende ritme en melodie. Komponis, trekklaviervirtuoos, rockster. Zen. Hy was ‘n onortodokse buitestander wat terselfdertyd sentraal staan in populêre Afrikaanse musiek. So iets is raar, en dit spreek boekdele van sy bydrae tot plaaslike musiek.

  • Schalk van der Merwe se doktorale navorsing het gehandel oor identiteit en populêre Afrikaanse musiek in postapartheid Suid-Afrika.
  • 1

Kommentaar

  • Klem Carstens

    Baie dankie hiervoor Schalk. Ek sal baie graag eendag met jou wil sit en gesels oor Oubaas se musiek. Die koffie is op my.
    Mooi groete,
    Klem

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top