Huldeblyk aan Suna Venter

  • 25

Liewe Suna,

Jy is so skielik weg. Al het van ons besef of gehoor dat dit nie meer lank so kon aangaan nie, het dit tog ’n mens tot stilstand geruk. Ongeag vele bewyse van die teendeel, klou ons ou sterflinge mos vas aan daardie ou onwaarheid dat die dood regtig net vir die grysaards onder ons wag. Jy was dan so jonk.

En tog was jy soms so veel ouer as ons. ’n Ou siel, so het ’n beter skrywer as ek dit lank gelede beskryf.

Suna, ek dink jy sou dit amusant vind dat mense jou nou ’n engel noem. Wat is dit van ons volkie dat ons heeltyd na bybelse konsepte en mites wil gryp om iets of iemand te beskryf wat ons nie andersins sou verstaan nie? ’n “Angel-child”, sê een van die mense op Facebook, iemand wat jou nooit geken het nie.

Ek weet jy sal my vergewe as ek sê jy was soveel meer as een van daardie vlekkelose wesens wat geheel aan die inisiatief ontbreek om soms darem so ’n bietjie interessant en sondig te wees. Ek is nou moedswillig, want ek weet eintlik wat hulle probeer sê, maar ek voel steeds sterk dat ’n mens daardie idee in die kiem moet smoor. Jy was tog ’n mens van soveel fasette, goed en minder goed soos ons almal, dat dit vir my ’n bittere onreg sou wees as enigiemand jou sou verdoem tot ewige een-dimensionele engelskap.

Jy kon lekker moeilik wees. Hardkoppig met sterk, dikwels onwrikbare opinies. Durf ek dit sê, soms onredelik in jou strewe na wat jou visie van perfektheid was? Dit het jou ook nie alom bemind gemaak dat jy in baie gevalle heeltemal reg was nie. Maar hoe kwaad of gefrustreerd jy mens ook al soms kon laat, was dit alles mis voor die son wanneer daardie sonskynglimlag skielik deurgebreek het.

Ek onthou so goed toe jy destyds by ons op RSG aangesluit het. Hoe vinnig jy ’n begrip getoon het vir ’n medium wat baie ander oor die jare gepootjie het. In die huldeblyke na jy weg is, maak baie mense melding van jou mooi stem. Wat hulle nie weet nie, is hoe hard jy gewerk het om daardie stem meer gesag te gee deur op ’n laer toonhoogte te praat, stadiger te praat, al die klein truuks van suksesvolle stemwerk. Baie sou weggehardloop het, nie jy nie.

Foto: Facebook

Jou ou “partner in crime”, Nico Strydom, het elders ’n mooi huldeblyk aan jou gelewer, geskryf oor die dae toe julle langs mekaar in ons nuuskantoor gesit het.

Julle het my bekommer. Ek het meer as een maal vir julle gepreek oor die manier waarop julle daardie spreekwoordelike kers aan albei kante gebrand het. Dat julle besig was om ’n kredietnota aan julle lywe en gesondheid te skryf wat eendag opgeëis sou word wanneer jy dit die minste wil verwag. Hier waar ek sit en skryf, wonder ek of dit nie dalk die begin was nie?

Iemand met ambisie en sterk menings maak ook nie net vriende nie. Ons, ek en jy, het ook lekker kopgestamp. Soms was jy reg. Ek sou graag tong in die kies wou sê ek was meermale reg, maar nou is jy nie hier nie. Weg. Hoe ontsettend finaal klink daardie woord skielik.

Ek onthou toe jy die eerste reise na die Midde-Ooste aangepak het. Eers met Gift of the Givers, toe op eie onkoste Sirië toe, Egipte toe, Libië. Om getuie te wees, verslaggewer oor die onmenslikheid van mense. Die passie wat dit in jou laat ontvlam het. Die woord word tog so oorbruik, maar dit is die perfekte beskrywing vir die gedrewe liefde wat jy vir daardie streek en veral vir sy vroue en kinders ontwikkel het. Maar dit het ook afguns en selfs woede ontlok van mense wat dalk gedink het daardie streek is hulle persoonlike domein. Ook van mense wat bloot nie dieselfde inisiatief aan die dag kon lê nie en dit ook nie vir ander gun nie. Die lot van die suksesvolle joernalis. Baie van dié wat in die verlede jou probeer pootjie het, jou uiteindelik in die dae van jou nood gefaal het, is die afgelope dae van jou voorste pryssangers. Go figure, sou jy dalk effens sinies gesê het.

Oor die jare heen, toe jou gesondheid jou begin parte speel het, een dokter na die ander raaiskoot op raaiskoot gewaag het, maar niemand regtig by die waarheid kon uitkom nie, was daar een konstante anker waaraan jy in die storms kon vasklou. Foeta Krige, Monitor en Spektrum se Uitvoerende Regisseur en pa-beer. Van die begin af het hy jou aangemoedig, raad gegee, gedra wanneer jy nie meer kon nie. Jou onredelik briesend gemaak het toe hy soms jou vlerke moes knip om die druk op jou gesondheid te verminder. Foeta en die formidabele vroue in sy huisgesin. Far above and way beyond the call of duty, sou sommiges gesê het. Baie min mense sal ooit weet van die reuse-druk en spanning waaronder hulle ook almal geleef het, maar hulle het onwrikbaar voortgegaan om vir jou onderdak te gee, te help dokter, aan te moedig.

Jou dood het ’n vloedgolf van emosie onder luisteraars en lesers ontketen. Baie het nie besef presies hoe wreed jy die afgelope jaar geteister is deur skimfigure wat die skadu bo die lig verkies nie. Maar ondanks druk, pleidooie dat jy moet terugstaan, moet rus en skuil, het die skraal vrou met die afgetakelde lyf uitgestaan, voor geloop. Die bomenslike deursettingsvermoë wat jy met verlede jaar se protesoptog na die Konstitusionele Hof getoon het deur heel pad voor te loop, sal my altyd bybly. Ek het agter jou geloop en ek weet hoeveel wilskrag dit geverg het om daardie optog te voltooi.

I am Suna Venter, die enigste sin op die klein plakkaat wat jy saamgedra het. I am Suna Venter. Almal weet vandag wat daardie sin eintlik gesê het.

Met liefde,

Cobus

  • 25

Kommentaar

  • Rolene Oosthuizen

    Ja dis die hartseer van die dood van iemand meer besonders as ons gewone siele ... iemand so formidabel soos Suna Venter. Ek wil sê,met appologie aan Koos Dup:" ons groet sonder woorde, want hartseer is stom ..."

  • Santie. Mouton

    Ek het jou nie persoonlik geken nie, maar altyd geluister wanneer jy gepraat het. Nou is jou stem stil ...

  • Liesbet van Wyk

    Cobus Bester, nugter, helder, duidelik en vol begrip. Hoe wonderlik tipeer jy vir Suna en jouself. Uitstekend, dankie!

  • Pieter van der Westhuizen

    Roerend Cobus. Ek het self 'n Suna. Sy is tien jaar ouer en gelukkig my nog gespaar. My hart gaan uit na Suna se ouers wat nou sonder hulle kind moet voortleef. En skielik sien ek weer die ou Kebble die aand van sy kind se moord wat huilend vir die TV-kamera sê: " 'n Kind moet mos nie voor 'n ouer doodgaan nie."

  • Baie goeie deernisvolle huldeblyk aan iemand wie vir ons almal 'n voorbeeld van dapperheid was.

  • Ek wil saam met Daniel en Susan stem en dankie sê vir jou, Cobus vir jou brief aan Suna. Ek is maar net 'n luisteraar, maar die dag na Suna terug was na die uitspraak, was dit wonderlik gewees om weer haar stem te kon hoor. Groot verlies, vir beide familie en RSG.

  • Thijs van der Merwe

    Dankie Cobus. Ons hier in Namibië kry herleide uitsendings van RSG oor NBC se Afrikaanse diens. Suna se bydraes was vir my van belang want dit het my gehelp met perspektief en begrip vir mense met wie ek saamwerk wat in in daardie geteisterde dele van die wêreld mens probeer wees. Wat ek lees is: Suna jy was waarlik méns gewees. Dankie! Want dis eintlik wat ons almal moet streef om te wees!

  • Rachelle Greeff

    Soos duisende ander mense het ek Suna nie persoonlik geken nie, net haar werk. Haar dood is vir die nuuswese, haar luisteraars en al haar hartsmense 'n groot, ontydige verlies. Dit is ook 'n ongemaklike herinnering aan die skaduwees wat eerlike verslaggewing en vertelling bedreig.

  • Sjoe, Cobus, jy mag maar. Baie dankie hiervoor, dat jy vir ons wat haar nie geken het nie, ook 'n kykie gee in die gebeurtenisse.

  • Linda van Niekerk

    Ongelooflik hartseer. Hulle vertel: "Courage is the thing - without courage,we are nothing!" A A Milne. Sy was 'n ster wat uitgebrand het, maar ongelooflik braaf was. As daar maar meer mense soos sy was, wat doen en minder praat.

  • Franco Swanepoel

    Sy kon my kind gewees het. Ek salueer hierdie mens vir haar nalatenskap. Mag sy deur haar lewe en dood nog talle jong mense in Suid-Afrika inspireer om net die beste te wees en die beste te gee wat jy kan. Wat 'n trots vir haar familie. Ek glo, al was die prys te hoog, sou sy presies dieselfde keuses gemaak het as sy kon en weer hierdie pad gekies het. En daarvoor eer ek haar.

  • Jy het reg aan haar laat geskied, Cobus. Baie dankie. Sy het die volgende konsep so goed verstaan: die huur wat jy betaal om op hierdie pragtige planeet te bly is DIENS. Haar grootsheid gaan voortleef.

  • Braam de Vries

    Baie, baie mooi, Cobus. Vanmiddag is joernaliste buitekant die hof rondgepluk. Land, my verlate land ...

  • Estelle Neethling

    'n Huldeblyk so vol nuanse en skakerings en absoluut hartroerend. Suna het die siel van die ware aktivis versinnebeeld. Dis vreeslik om te dink dat mens weet dat niemand verantwoordelik gehou sal word vir haar voortydige dood nie.

  • Dan Badenhorst

    Jy was so dapper met offerhandes gewees
    Met die gras wat om jou brand, alleen, verwese, bevrees
    Hierdie land het jou hart verduister
    Maar ander sal luister
    Daar elders waar jou vlerke blink
    Na hoe jy oor die kinders in 'n oorlog dink

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top