Huldeblyk aan PG du Plessis (1934–2017)

  • 20

PG du Plessis (Foto: Izak du Plessis)

’n Seder sou Pieter Georg du Plessis homself nooit genoem het nie. Eerder ’n withaak in die Bosveld. Daardie reusagtige withaak het nou geval. Met die kortstondigheid van die lewe het hy lankal vrede gemaak, selfs met die skoonheid daarvan, want hy het geglo dit moet so wees. “Jy sien, die dood self is niks, dis net ’n afwesigheid. Jy soek nie ’n gekarring nie.” Hoe menslik so ’n gekarring ook al is, veral wanneer een van sy soort uit jou werklikheid wegval.

PG du Plessis het gehou van sukses in die sin dat hy dinge deeglik en uitgebreid wou doen. Met ander woorde, hy wou ’n ding van ’n kant af vat. Sy dae as onderwyser, dosent, akademikus, koerantredakteur en later RGN-direkteur was iets waaroor hy tevrede was as hy nie groots daarop was nie. Die skrywer, die volle skrywer, was egter nog in ’n ontwikkelingsfase.

Wie hoë en koue paaie verkies, moes wag en kyk. Want dit het tyd geneem om ’n som te maak van hoe diep PG se menslike dramas gedelf het. Siener in die suburbs het feitlik dadelik volksbesit geword. Tiemie en Jakes van Siener se versugtinge het weerklank gevind in al wat ’n sosiale groepering was. Vroue wou van gewéét wees en op Vrydae het die operators gepay, die oues van dae kon maar naderstaan.

Almal het op daardie stadium nie noodwendig eens geweet wie die skrywer daarvan was nie. En dié wat geweet het, het roekeloos verklaar dat hulle “ou PG se goed like”. Gesaghebbendes het sy werk van verdienstelik tot skandelik gevind – die “skeefgetrekte beeld” van die Afrikaner, sien.

Op die lange duur het hy met die mees gesogte pryse begin wegstap, met ’n sjarmante glimlag, natuurlik. En moenie dink hy wou met daardie glimlag beskeidenheid te kenne gee nie. Die man het nou eenmaal nie daarin geglo om te veins nie.

Hy het nooit na sy mislukkings teruggekeer nie. Of dit seergemaak het, weet mens nie, want hy het hom nooit – in elk geval nie in gesprekke nie – die luuksheid van openlike vyandskap of ’n grief veroorloof nie. Een keer, net een keer, het ek hom oor ’n resensent en medeskrywer wat graag by ander skrywers “geleen” het, hoor sê ja, daardie ou is nie baie oorspronklik nie. Met so ’n laggie en die beroemde sliert hare wat met presiese tydsberekening uit die kuif oor sy voorkop geval het. Pieter Georg het sy mense geken en hy was net te slim om die melk te laat oorkook. Maar van wat mens redelikerwyse kon aflei, het hy dit nie eintlik geniet om te haat nie – nie uit edelheid nie, maar bloot omdat haat nie vir hom interessant was nie.

Daardie spesiale plek wat hy met Siener verwerf het in die lewe van minder gesofistikeerde lesers, fliekgangers en TV-kykers, het hy waardig gebly. In produksies en tekste soos ’n Seder val in Waterkloof, Tussen die riewe en Koöperasiestories kon enige Afrikaanssprekende homself, of ten minste ’n hele paar familielede en dorpenaars, herken: die hogeres wat dit deur harde werk en talent verdien het en dus nie regtig geweet het hoe om ’n hogere te wees nie; die waarlik opregtes; die eenvoudiges en die wyses; die desperaat ambisieuses en verskriklik slegtes; die skelms en die kansvatters; dié wat in die genade veragter het; en die sieners, al was dit ’n seuntjie wat as ’n bietjie “simpel” of “agter” geag is. Pieter het gehou van sieners en mense wat nie loop lieg nie.

En van vroue. Sy hart wou gereeld gaan staan oor ’n mooi vrou. ’n Spottery met homself. Almal het mos geweet sy vrou Marie is seker die enigste wat hom regtig geken het. Met sy openbare lewe of sy grappies het sy haar nooit bemoei nie, in elk geval nie so dat mens dit kon agterkom nie. Haar rustige vriendelikheid en ordentlikheid was waarskynlik een van die stewigste faktore in sy lewe. Van sy kinders en kleinkinders weet ons min, indien enigiets. Dit is hoe hy en Marie dit wou hê.

Wie belangstel in ’n volledige weergawe en waardering van sy oeuvre, kan gerus by die volgende skakel daarna gaan kyk: https://www.litnet.co.za/pg-du-plessis-1934.

Daar is grootliks eenstemmigheid dat sy Fees van die ongenooides die hoogtepunt van sy uitsonderlike talent as skrywer en filosoof was. Uit die stroom literatuur wat ná 1999 oor die Anglo-Boereoorlog verskyn het, was hierdie roman myns insiens die een wat tot almal gespreek het wat ooit by hierdie oorlog betrokke gevoel het. In wese het die roman juis nie primêr oor die oorlog tussen die Boererepublieke en Brittanje gegaan nie, maar oor ’n stryd wat so oud soos die mensdom is, naamlik dié tussen die leuen en die waarheid. Met die ding wat Daantjie in hierdie roman “oorgekom” het, het Du Plessis ’n internasionale landskap bestryk waarin die mens kies of hy voor die leuen of voor die pynlike waarheid sal buig. Meer: dit was vir almal toeganklik. Op ’n manier was dit dan ook hierdie skrywer se finale buiging vir die Afrikaners.

Want Afrikaans was hy onbeskroomd, en die sleng wat deel van sy moedertaal geword het, het hy lewenslank met sy geslypte ironie aan die werklikheid uitgelewer, so ook die grootbekke en die beterweters en almal wat eis en ten slotte “demand”.

Populêre politiek het hy verag. Lank ná die struggle van die tagtigerjare bedaar en die nuwe soort struggle van die 2000’s in Suid-Afrika opgevlam het, het Pieter hom eendag by Aardklop op ’n plastiekstoel by ’n tafel oorkant my tuisgemaak. “Darie tyd, jy weet, toe julle in Afrika in op was om te gaan praat met die ANC ...” Tog het hy nie ingeval by die ek-het-julle-gesê-koor nie. Hy was diep bekommerd en eerlik oor die huidige stand van sake en hoe dit almal in hierdie land raak, sonder dat hy slimpraatjies of meerderwaardigheid aangebied het. My indruk was dat sy kommer nie eksklusiwiteit toelaat nie.

Die ding is, PG was solied, en as hy kanse gevat het, het hy reeds ’n plan gehad vir ingeval dit sou skeefloop. Vat nou maar die klipstruktuur wat hy op sy plaas Sé-Mòer  daar naby Rysmierbult gebou het. Daar is gesê mens kan nie ’n hoek bou uit daardie soort klip nie. Maar Pieter het gereken en gemeet en gekap en ingemessel en ’n hoek gebou.

Pieter kon ’n hoek uit ’n sirkel bou, een wat bly staan.

Mens stel jou voor hy het die trappies van hierdie laaste verhoog afgeklim met sy skouers effens krom onder die kruisbande, beslis nie sonder ’n glimlag en ’n laaste woord nie: “Pieter Georg du Plessis. Skuldig aan ’n lewe, voluit.”

 

Bronne:

https://www.litnet.co.za/pg-du-plessis-1934

http://www.netwerk24.com/Stemme/Profiele/PG-du-Plessis-Tagtig-is-nie-so-erg-nie-20150321

  • 20

Kommentaar

  • Knap ode aan die man van Rysmierbult:
    'Pieter kon ’n hoek uit ’n sirkel bou, een wat bly staan.'
    Dankie Jeanette.

  • Louis van Niekerk

    Wonderlike mens en sensitiewe kunstenaar. 'n Kyk en 'n lag wat boekdele kon spreek. Dankie PG.

  • Arno van Zyl, Springbok

    Seker die briljantste taalkundige wat ek die voorreg gehad het om te ken, 'n besondere vriend en 'n besondere mens. Suid-Afrika het, net soos vir Langenhoven destyds bepaald ook vir P G verloor.

  • Al sou hy hom as 'n withaak van die bosveld geag het, was hy vir my 'n seder van gehalte. Dankie Jeanette vir jou pragtige huldeblyk. 'n Groot gees was hy en sal altyd in ons Afrikanertaal bly voortleef.

  • Lida Janaen van Vuuren

    Het sy skerp humorsin, sy deernis en menslikheid só bewonder ...😢
    Dankie, Jeanette

  • Tina Tolken Schoeman

    Ek het sy boeke en die verhoogstukke soos bv Siener in Die Suburbs en Koöperasiestories so geniet. In my lewe los hy 'n literêre leemte. Soos ek reeds gesê het - Diesulkes soos PG word nie gesaai nie, hulle word geplant.

  • Baie mooi! PG was een wat nie sommer weer hier geken gaan word nie. My hart gaan uit na sy mense.

  • Jannie van Zyl

    Een van die bestes en diepstes ooit. Hy is nou afwesig maar tog sal hy altyd teenwoordig wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top