Huldeblyk aan André Rossouw

  • 7

Ek moes André Rossouw speel – ’n jonger weergawe van die ouer man, in ’n TV-reeks hier teen die Weskus; geregisseer deur Danie Joubert. Wat ek probeer naboots het, om darem ietwat van ’n karaktertrek van die ouer man te hê, was iets wat ek nou in woorde moet omskep: ’n stywigheid in sy kaak; ’n skorheid in sy stem; ’n beslistheid aan die einde van frases soms. Maar hoe boots jy André na? Hoe kry jy die oorgawe, sigbaar in sy oë, onderstreep deur die manier waarop sy hele liggaam sy uitdrukking aksentueer? En hoe kry jy die gewoonheid, uniek aan André? ’n Aangename man, wat – wanneer die kamera of mikrofoon stop, uit die karakter, uit die trauma – dadelik sommer net André is? Die kaak, die skor stem, die eienaardige frasering wat soms onverwags eindig in ’n “full stop” – dis amper onmoontlik om na te boots. Dis moeilik om André te probeer wees.

Toe ek in Johannesburg sit en in 1996 besluit om ’n TV-reeks te vervaardig, wat ek sou noem Die Goue Naelstring – waarin ek ons sterre, besonge en onbesonge, besing – kies ek twee om in die episode te speel wat as loodsepisode die knoop sal moet deurhaak. Dis die loodsepisode wat ek – in tye toe mense skaam was oor Afrikaans – na Nelson Mandela in die parlement, na Afrikaanse sakemanne, na uitsaaiers en potensiële uitsaaiers sou stuur. In my loodsepisode was daar twee mense wat ek dink deel was van die kern van die goue naelstring van ons vermaaklikheidsbedryf: Goliath Davids en André Rossouw.

André is vir verskillende mense verskillende dinge.

Vreemd genoeg, as ek aan André dink, is die eerste ding wat by my opkom, sy afknip van sinne aan die einde. Die eienaardige frasering wat soms onverwags eindig. Hy sou ’n frase beslis beëindig. Met ’n punchline. As hy vertel van die aktrise wie se borste opgestop was met kondome vol water: “Toe lyk dit nou baie góéd!”

Die tweede ding oor André waaraan ek altyd dink, is sy stoutgeid. En dit had André, tot op die einde. Van die staaltjies is herhaalbaar. Ander is ook veilig, maar beter gebêre as uitgestal. Maar hy’t stoutgeid geken.

Ek begin as pikkie rondom 10 jaar oud radiowerk doen, meestal by die kwaai vrou, Suzanne van Wijk. In my standerd 7-jaar moes ek rugby los, om elke tweede Saterdag 14 episodes op te neem saam met die bestes in die Kaap. So, by ouderdom 14 neem ek ’n pellie, Hennie Schoeman, saam SAUK toe vir geselskap. En ons is stuitig. So in ateljee 2 – die ateljee langs die kontrolekamer – sit ek en hy en steek ’n “entjie” aan – ’n reeds voorheen gerookte stukkie sigaret. Ons rook skelm, hier laag op die vloer – by die houtasbak met die sand in. Dis die domste poging tot kwajongens wees wat jy jou kán verbeel. So, nodeloos om te sê: op ’n gegewe moment gaan die klankdigte ateljeedeur wat die ateljee met die gang verbind – waar kolonies grootmense sit – oop. Ons drop die toppie in die asbak. Die rook stáán! ’n Kop kom stil om die kant van die deur. Dis André, die onnie, ’n kollega van my pa, die onnie – ’n gereelde radiospeler.

Radioateljees is een ding. Die mikrofoon is bestem om klank te laat lééf. Maak jy hier ’n geluid, is jy van gewéét. Onnies is ’n ander ding. Hulle is in daai jare onverbiddelik. Vang hulle jou rook, hóór jy daarvan. En André was altyd méér onnie as akteur …

André kyk, trek sy mondhoek op ’n “o so?!”-manier. Hy trek sy wenkbroue op. Hy lig een vinger op en wys eers na Hennie, “tilt” sy kop lakonies saam. Doen dan dieselfde na my toe. Ons wag. Die rook is al minder sigbaar as nou-nou. André glimlag – en trek die deur toe.

André het verstáán: niemand is perfek nie. J Want so het hy dieselfde stoutighede gehad. Stoutigheid was deel van sy programmatuur! Maar dis amper disrespekvol om oor André se begrip vir die ander kant van die draad te praat as hy vir sovéél van ons ’n vreugde diékant van die draad was. Dirk de Villiers, voorste filmmaker, het André ontdek – het hy beweer. In my Goue Naelstring-reeks was sy woorde: “En as ek ’n man geontdek het, bly hy geontdek vir altyd.” (Opgeneem in Impresario: https://vimeo.com/225988072.) 

Maar die mense vir wie André sy waardevolste werk gedoen het, was die doodskootkombinasie van Manie van Rensburg en Johan van Jaarsveld. André was so wonderlik gewoon; hy was – amper wonderbaarlik – sy loopbaan lank onder die radar. Selfs in 2016, toe hy in my film Tussen as en hoop (Maritz, Denton, Myburgh) as beste ondersteunende speler aangewys word (Best Foreign Film) by die Amerikaanse Christen-filmfees, bly dit onder die maatemmer. Daar was ’n tyd toe hy Artes-akteurstoekennings gewen het vir sy werk as radioakteur. Die SAUK kon daai dae darem nog nuus maak van iets kultuurs. So daar was ’n ophef oor André as Jakob in Kanna hy kô hystoe!. Ook later as Saliéri. Hy het gatgeskop op die verhoog ook – ’n medium waarvoor hy sê hy nogals bang was! Wie sou ooit sy Winkjan kon vergeet – verewig deur die foto van hom en Faan op die voorblad van die Pieter Fourie-dramaboek, asook op die program van Faan se stasie.

Soos helde voor hom – en is dit vergesog om sy naam te noem in dieselfde asem as Van Gogh, die skilder? – sal ons hopelik noudat André weg is, trakteer word op heruitsendings van sy beste werk. Wat hierdie keer gehore sal laat wéét van hom. Ek sien hom nou nog in Verspeelde lente. Die versukkelde ou man – pa van die Ian Roberts-karakter. ’n Skildery van ’n mens. Dan die trotsste sekretariële man in Die perdesmous. Ernstig, tot die punt.

Die mees bekende karakter waarvoor die meeste mense hom sal onthou, is seker die mislike, lamsak-pa van Annie Malan se karaktertjie in Fiela se kind. Waar hy, soos Katinka Heyns vertel, self – modderbesmeer – in die boom geklim het om kastig van die “grootpoot” weg te kom. Hy was al 60.

Iewers in die tagtigs is die SAUK op die kruin van kwaliteit Afrikaanse programme. Annie Basson is regisseuse van Die sondaar. Verfilming vind plaas te Oudtshoorn. Dieselfde Suid-Afrikaanse kameraman wat nou Neil Sandilands in ’n hoofrol in Amerika verfilm, Alwyn Kumst, het ’n sterk filmspan bymekaar. Die akteurs sluit in Dawid Minnaar, Tess van Staden, Eric Nobbs, Lochner de Kock – en vele ander. Annie se regterhand is Magda Sydow (nou by Binnelanders as Magda Verster, organiseerder). Tegnies is Soois, Bennie en nog ’n paar legendes.

In die reeks wat ek as Goue Naelstring verfilm het (later uitgesaai as Impresario), vertel André hoe hy op daai stel sien iemand loer vir hom en die aktrise Tess van Staden om die deurkosyn, waar ’n toneel met hulle twee op die dubbelbed verfilm word. Tess speel ’n wellustige vrou wat ’n onwelvoeglike verhouding met ’n getroude man begin. André speel die man. Dis hier waar haar buuste effe opgestop is met kondome vol water – juis omdat sy baie uitlokkend moet lyk. So, tipies André, maak hy moeite om die agie agter die deurkosyn te vermaak. Of dis wat André sê. Hy knoei vinnig met Tess oor die ding, en net daar druk en trek hy die opgestopte wellus en hulle diékant toe en daaikant toe; steune en kreune ingesluit. En hy sluit af met ’n lekker lag en dan die besliste “punchline” – en die agie “géé pád!”

Wie Die sondaar gesien het, sal onthou hoe die einste, selfde man vir die grappige oomblik in die TV-drama in ’n toneel in die veld aangehardloop kom en homself tragies in ’n waterpoel werp omdat die trauma hom inhaal. Die toneel daar in die modderplas – al weer André in modder, is briljant. Kyk dit gerus hier: https://vimeo.com/225988072.

André kon grappies maak, maar hy kon spéél!

Speel kón hy – op die verhoog, op die mikrofoon, op die televisie en op aarde. By die afsluitingspartytjie wat Alwyn se span vir ons gereël het, tuimel André – wat hier langs my staan – aan die verkeerde kant van die getypoel se muur af. Ek steek my hand uit om hom terug te help, deur die aanstormende maar darem veilige branders. Maar André ken nie gevaar nie. Hy lag. Wat my altyd sal bybly, is die stuitige, guitige gleuwe tussen die voortande, en die lag. Veral die lag. André kon lag sonder terughou, soos die dag daar aan die verkeerde kant van die getypoel se muur.

Die stories is legio. André wóú werk. Ek bied hom een keer ’n rol in ’n verhoogstuk aan. En met die meeste respek wys hy dit van die hand. Hy kén homself, het hy gesê, en daai was, op sy ouderdom – en met sy reeds bestaande vrees vir die verhoog – te veel gevra.

Op my 50ste verjaarsdag begin hy weliswaar nie, soos die ander grote, die baie snaakse Johan Malherbe (LitNet: Johan Malherbe-huldeblyk), sommer ’n monoloog tussen die toesprake deur nie. Maar daar waar hy aan tafel sit, gons dit van de lagge en lawaai. Sy liewe vrou, Ansie, lei later die seningbol vreugde, toe al in sy 70’s, aan haar hand daar uit na veilige waters. By die partytjie had ek wyn van alle soorte aan te bied. Wyn wat klokkies lui. Een was Vergelegen-wyn. ’n Ander Fleur du Cap. In Goue Naelstring vertel André die toerverhaal van die dronk akteur en die verdoemende insident tydens een opvoering van Vergelegen met kleur en geur (gedeeltelik opgeneem in Impresario). Maar behalwe dat dit sy debuut as verhoogakteur was – onopgelei, en nogals in die tweede hoofrol, los ons daai baie snaakse storie as lokaas vir lesers om dit op die internet te siene te kry.

By my 50ste verjaarsdag

André Rossouw en Johnny Malherbe

André Rossouw, Johnny Malherbe en Ansie praat gelyk.

Toe ek hom eendag bel om in my tweede film te speel – die rol van ’n simpatieke man, ou Mosie – is hy dáár. Dis ver van die huis af; die wind steek op. Die weer is ongenadig. Maar hy is dáár. Nie gesond nie, maar dáár. Hiervoor wen hy in 2016 die prys as beste akteur in ’n ondersteunende rol in die film Tussen as en hoop by die Amerikaanse Christen-filmfees.

Iewers eendag word ek en André genooi om die enigste twee rolle in ’n radioteater te speel. Ek lees die teks en besef dis ’n baie moeilike opdrag. Om die waarheid te sê, die enigste manier om hierdie een te oorleef, is om baie goed jou eie koers deur hierdie teks voor te berei. En alles verloop voor die wind. Laataand stap ons twee by die SAUK in Seepunt uit – moeg, maar tevrede en dankbaar. En ek stop hom.

Ek moet byvoeg: dis dagdrome as mens dink in hierdie bedryf is alle mense heeldag maats. So ek was deeglik bewus van die onderstrominge en skinder en dinge; soms met André aan die ontvangkant. So, ek wou vir hom sê wat ek van hom dink, terwyl ek nog die geleentheid had.

“André, ek wil graag vir jou sê jy is ’n superster,” het ek gesê.

“Dankie,” het hy gesê, en was op die punt om – gentleman wat hy was – komplimente terug te gee. Maar ek stop hom.  “Min mense sou vanaand se sessie so maklik hanteer het. En jy’t daardeur geseil, André.”

“Ja, maar die ouderdom vang my. Ek is oud nou.”

“Presies, André”, was my reaksie. “En weet jy wat? Niemand sal dit dink nie. Want jy is – vandat ek jou ken – so goed voorbereid, en so ’n kunstenaar; niemand sal weet jy’s oud nie.”

“Ag dankie.” Daai afsluit van ’n onderwerp.

André was grapkas, poetsbakker, genieter. En – soos PG du Plessis – geseënd met ’n geduldige vrou. Hy het baie ernstige rolle gespeel. Ons het nog nie eens die briljante Nic de Jager se reeks met die titel 1945 genoem nie. Nie Die Mannakwalanners van Johan van Jaarsveld nie. Met sy karakter so, so snaaks. Ek onthou hom nog teenoor Marie Pentz in ’n klug op TV. Die naam sal ek nooit onthou nie. Maar bereid om naam weg te gooi – dit was André. Ter wille van die waarderende gehoor.

Ek skink vir Johan van Jaarsveld Fleur du Cap.

Gedurende wat ek gedink het sy laaste jare sou wees, verfilm ek en Neil Sandilands bykomende materiaal met André, in Kunstekaap. Hy ontpop ’n filosoof. ’n Man wat met gedagtes doen wat hy sy lewe lank met hout, bakstene en woorde gedoen het. André – onnie, sportkommentator by die skool, houtwerkman by sy huis, bouer vir die gesin, gesinsman, radioman, pretman.

Hy vertel ons van die hoogtepunte. Van die kere wat die veiligheidspolisie se manne sonder uniform met hul grys skoene in die teater kom sit het om stukke te sensor. Die stukke se name vlieg verby: Die plaasvervangers van Pieter Fourie. Wat die veiligheidspolisie erg senuweeagtig gehad het. Hy vertel van die menslike ekskresie wat hy op sy voorstoep aantref gedurende daai speelvak. Cyrano de Bergerac is die stuk wat die bestaan van die Alhambra-teater afgesluit het. Die Kaapse teater met die sterretjies in die plafon, wat na die opvoering se speelvak afgebreek is. Hy was in Cyrano.

Ons vra hom oor die toekoms.

André vertel: “Mense vra, wanneer maak julle weer vir ons iets moois?“ Die kamera is baie naby. Ons sien by tye net sy oog. Hy antwoord: “Ons sal weer daar kom.”

Nou is van André prentjies oor. En sy skilderye. Die mins lekker prentjie van hom is die stil prentjie: sy doodsberig in die koerant. Daar’s klankgrepe. Die mins lekker een sy seun se mooi terugblik op sy pa, wat meer jare geleef het as wat hy oud was, en ondanks stoutgeid, hard speel en harde werk, salig die ewigheid in is.

’n Goeie tyd om hom te ontdek – soos Johan van Jaarsveld het; soos Manie van Rensburg het – is nóú.

  • 7

Kommentaar

  • Johan Esterhuizen

    Dankie, Albert. Wel te ruste André, dit was alyd 'n eer en groot plesier om te kon saamwerk!

  • Albert Rossouw

    Dit is baie mooi, verskriklik mooi, geskryf. Baie dankie.
    Ek is sy seun, Albert. Ons gaan hom verskriklik mis, maar hy sal altyd diep binne ons lewe.

  • As 'n persoon kan ek hom opsom in 'n enkele woord: Ikoon; legende ...
    As 'n onnie ... Dis 'n heel ender storie: Toe ek in standaard 8 (vandag se graad 10) met biologie begin het, het ek vir hom gesê dat ek nie van biologie hou nie... Sy woorde was: "Ek donner jou deur biologie totdat dit jou beste vak is" Aan die einde van my skoolloopbaan, het sy woorde waar geword. Ironies? Nee... Toegeweid, beslis!

    Meneer Rossouw, jy los 'n leemte wat geen reus kan vul nie ...

  • Marlene Carstens

    Dankie Albert vir jou pragtige woorde , ons as 'n familie waardeer dit en dankie ook dat jy saam met ons Saterdag sy lewe kon vier en kom afskeid neem het. Ek dink soms julle het hom beter geken as ek. Die gevoel wat ek en baie ander altyd gekry het as jy met hom gesels, is dat jy op daardie oomblik DIE belangrikste persoon in die vertrek was. Ek gaan hom geweldig mis.

    Sy suster,
    Marlene

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top