Hulde aan Richard van der Ross: ’n Kuiper se laaste hou teen die hoepel

  • 0

Richard van der Ross en Heindrich Wyngaard (http://www.litnet.co.za/essay-richard-van-der-ross-se-in-our-own-skins/)

“The news came with the force of a personal shock.”

In Augustus 2012, Neville Alexander, Robbeneiland-aangehoudene en “linguistiese revolusionêr”; in November 2012, Jakes Gerwel, akademikus, “dekaan van die staatsdiens”, non-racialist; in Junie 2016, Adam Small, digter, dramaturg, filosoof, vader van Kaaps.

En nou, Desember 2017, Richard van der Ross, opvoedkundige, politikus, historikus.

In my soeke na woorde om dié tyding te beskryf, vind ek die openingsaanhaling uit James Agee se doodsberig oor Franklin D Roosevelt in TIME se 85 Years of Great Writing gepas. Die nuus het my in al vier gevalle met die krag van ‘n persoonlike skok bereik: eers Alexander, toe Gerwel, toe Small, nou Van der Ross.

‘n Liedjieskrywer sou ‘n trooslied kon skryf, soos Richard Holler se “Abraham, Martin & John” oor Abraham Lincoln, John F Kennedy, Martin Luther King jr en Bobby Kennedy; en Harry Belafonte wat, in sy heserige stem, ’n hoër noot sing wanneer hy by die volgende deel van die lirieke kom: “Didn't you love the things they stood for/ Didn't they try to find some good/ for you and me/ Yes we'll be free ...” – maar ter wille van die plaaslike konteks: nie sál vry word nie; ís bevry, danksy mense soos Alexander, Gerwel, Small en Van der Ross se onderskeie bydraes tot die stryd teen die mensonterende stelsel van apartheid; die stelsel wat Alexander saam met Nelson Mandela en ander opgesluit het, waarteen Gerwel optogte gelei het, en waaroor Small protesgedigte en -dramas geskryf het.

Hier het ons dit egter oor Van der Ross, wat Alexander, Gerwel en Small se intellektuele senior was, en wat hom dikwels aan die ontvangkant bevind het van diegene wat gemeen het – steeds meen? – dat hy ’n meeloper van die stelsel was. Dit is ’n (wan)indruk wat ontstaan het weens sy deelname aan apartheidsinstellings soos “Kleurling”-adviesrade; dat hy stigtersleier van die eertydse bruin Arbeidersparty was, redakteur van die bruin koerant The Cape Herald, en eerste bruin rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland.

Bepaald in laasgenoemde rol het hy onder skoot gekom van protesterende studente, maar dan hierdie boodskap van een so ‘n student, nou VGK-dominee Brian Coraizin: “Thank you Prof Van der Ross for paying my bail and sending me lunch when I was imprisoned in 1984. God bless your legacy.”

In die voorwoord van sy outobiografie, A blow to the hoop ... (Ampersand Press, 2010), probeer hy met hierdie (wan)indruk oor hom en sy nalatenskap afreken. Die titel is ontleen, skryf hy, aan ’n uitdrukking van die vername Duitse literêre figuur Goethe aan wie NP Van Wyk Louw hom as student bekendgestel het: “To give a blow to the hoop and a blow to the barrel”. Nes ’n kuiper ’n hoepel versigtig en eweredig moet slaan sodat die vat nie ineenstort nie, moet jy ook in die lewe – só is Goethe se bedoeling met die uitdrukking deur Van Wyk Louw aan hom uitgelê – gebalanseerd optree, al die omstandighede en toestande in ag neem, wanneer jy tot aksie oorgaan.

“Op my eie manier,” vertel Van der Ross sy lesers in A blow to the hoop, “het ek probeer, gestruikel, misluk, en wéér probeer.”

*

Híérin was sy wysheid opgesluit, aldus Henry “Jatti” Bredekamp: dat Richard van der Ross geweet het wanneer om vorentoe te tree en wanneer om terug te tree; wanneer om te gee en wanneer om te neem. “Wat ’n groot gees en wêreldburger het ons Kaapse gemeenskap nou ontval,” reageer Bredekamp, soos Van der Ross ’n historikus, op Facebook.

Nóg kommentaar: hy was ’n katedraal (kultuurman Danny Titus); ’n lid van ons land se aristokrasie (menseregtekenner Leon Wessels); ’n legende (Kaapse musiekmaestro Camillo Robert Lombard). En één, eenvoudige woord van die vermaarde radiopersoonlikheid Tossie Lochner: “Jammer.”

Ook dié reaksie van die akteur Simon Bruinders: “Op sy sterfbed sou hy inderdaad die Skrif kon aanhaal en sê: ‘Die oes is verby ... die somer is ten einde ... en ons (bruin mense) is nie gered nie!” ‘n Traan biggel op die wang van die oudpolitikus Peter Marais, wat na Van der Ross as ‘n “bruin intellektuele reus” verwys. “Niemand kon jou wysheid betwis nie,” skryf hy.

Die oudkoerantman en oudambassadeur Conrad Sidego noem Van der Ross 'n besonderse mens, 'n wyse man “wat kalm kon praat oor die kwaaiste kwessies van ons sosiopolitiese landskap”, en iemand wat “uit oortuiging gehandel [het] en nie vir die populêre steun nie”. Terwyl die nuus oor Van der Ross se dood hartseer bring omdat sy stem nou stil is, “glimlag ons oor die voorreg dat ons kon deel in die insigte en leierskap van so 'n besonderse mens”.

Wysheid, wyse man, besonderse mens.

Patric Tariq Mellet, wat ywerig navorsing doen oor die Kaap se vroeë geskiedenis: “We were from different political persuasions but I had huge respect for him as a community elder and for his legacy of writing. We shared a passion for slavery and indigene history and heritage. He has left us a legacy of written works which will be both treasured and debated in years to come. Farewell to a passionate researcher and recorder of the heritage of the Camissa people. Never afraid to cross swords but always respectful towards those who disagreed with him.”

Ook Franklin Sonn het dit aan Johann Maarman van Die Burger gesê: “Hy het geglo dat ’n mens almal se standpunte moes respekteer.” En nét daar kom ons weer by ‘n raakpunt uit tussen Van der Ross, Adam Small, Jakes Gerwel en Neville Alexander: dat hulle hul gespreksgenote, ongeag hoe hulle verskil het, se reg op ’n mening, se reg om gehóór te word, te alle tye eerbiedig het.

*

Maar die reaksie wat hom die beste leen tot ‘n slotparagraaf vir hierdie huldeblyk is dié van die voorsitter van die Mandela-Rhodes-stigting, Njabulo S Ndebele. Hy skryf op Facebook: “An era is coming to an end, leaving behind the extraordinary human landmarks, such as Prof Van Der Ross!”

Dit sou ewe maklik ’n verwysing kon wees na tydgenote soos Small, Gerwel en Alexander, wat self menslike bakens agtergelaat het, mylpale wat ’n eie hoofstuk in ’n biografie van die bruin mense (met apologie aan Hermann Giliomee en sy Die Afrikaners – ’n biografie) regverdig.

En die opskrif by Van der Ross se hoofstuk sou lui: “’n Kuiper se laaste hou teen die hoepel”.

Heindrich Wyngaard is ’n RSG-aktualiteitsaanbieder, ambassadeur van Afrikaans.com en ’n skrywer.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top