Huis, woning, tuiste: Sybrand B Harris se inskrywings

  • 1

Woning te koop in Absensiestraat
Kondisie: haglik. Ingesluit: dubbelbed.

Al lank
teken ek die bloudruk van ’n huis
vir ons om saam in te trek
’n tuiskoms vir jou vrees, my omgee
om saam te leer leef

eenslaapkamerplek
met ’n dubbelbed
’n groot hond
en ’n stoep wat wes front
met twee stoele en matjie voor die deur

per afspraak beskou ek jou,
bewonder jou in geheim
en trek dan verder planne op
weeg winste (verliese) op
en bepaal of my hart die lening die risiko werd is

liefde huisbou
kan nie op impulsiwiteit gebeur nie
– so laat jy my verstaan –
dis die streng uitvoering van tegniese vakmanskap
(selfs dalk bietjie talent)

Heelwat later aan (met jou uiteindelike goedkeuring) begin (net) ek bou

lê stene neer in vlak gegroude fondasies
rig skewe mure op as skanse teen jou ysige wind
timmer ’n dak aanmekaar vir
beskerming teen ’n son
wat nooit sou skyn nie

toe trek ek in
die huis in wat ek eensaam vir ons opgerig het
sonder ’n bank of ’n stoof of ’n matjie voor die deur
net die naakte dubbelbed as konstante herinnering
van jou afwesigheid

die huis is nou in die mark
of daar ooit ’n koper sal wees
weet ek nie, ek weet net ek wil nie weer
in ’n huis bly wat wes front nie


 

“Ek is die seevoël wat verhongerd daal
en dooie nagte opdis as ’n maal”
–Ingrid Jonker

Altyd iewers in die see is my tuiskoms

Onder die hoogwatermerk
bou ek my kapel
rig ’n altaar op om myself as offer neer te lê
steek die stapel brand en was die as af in die see

Met springgety
los ek op om saam met elke brander
teen die sand neergebliksem te word
laat my dan weer intrek en herhaal tot fyngemaal

Met kontoerde voetspore saam
fluister ek troosteloos in die wind in
sodat my woorde met die klam en sout heengaan
om agter onontdekte duine vergete te gaan lê

Soms giet ek my nat oë
in die sikloniese see
tot massas prul uitgebraak op die kaaie lê
en blou beddings spierwit blomme in die lug gaan sit

Op wolklose somerdae daal ek ook
van die son af neer en val soos edelstene
op my rug, drywend op seevlak om heeldag
die son se blink pad horison toe te volg


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top