Huis, woning, tuiste: Louisa Beukes se inskrywings

  • 0

Ek verlang

Ek verlang na my kindweestyd
Na tuinmaak, mekaar sopnat spuit
Moddervoete en vrugtesteeljolyt
Hope pret en wegholplesierigheid
Ek verlang na Ouma se ruim hart
en groente wat nooit opraak
Ek verlang na die swartkole-koelkas
gevul met vleis en room en kaas
Ek verlang na oom Boy se bruin brood
en oom Loel se blou voorskoot,
stout oë se loer om die hoek
’n gesteelde doughnut se soet
Ek verlang na ’n optelpennie se gelukkie
Soetweesdrukkie se kondensmelkpikkie
Ek verlang na die goeie ou tyd se slae kry
op Outa se werf waar ons kon wipplank ry.

 

Oom Frikkie gaan huis toe

Die wind druk hom agteroor met mag
So asof hy sy rug wil breek
Hy verset hom en beur orent
Wind se greep verslap, die boom oorwin

’n Opgewekte kinderstemmetjie weerklink
“Frikkie is nie meer siek nie; Frikkie moet opstaan
Jy moet saam met ons huis toe gaan”
Hy kan nie anders nie as om te glimlag
“Ja, huis toe gaan,” prewel hy sag.

Steek aan die kers, hou dit brandend!
Dis die vlam van hoop, die vlam van lewe
wat die hart versterk, al sou die liggaam bewe
Kosbare tyd met familie wat pyn weg streel
Genade-oomblikke met die Here te deel.

“Dit sal my leuse wees, nader my God by U”
Sing sy saggies, terwyl sy moedig by hom waak.
Vir jare kon hy skadu gee, maar sy tyd het opgeraak
Die wind ruk verwoed aan hom, krag het hy nie meer
Die ou boom gee mee; die wind triomfeer!

 

Kombersie

U sprei ’n reënkombersie oor ons land
Dankbaar ontvang ons uit U hand
Sagte reëns dring deur die droë sand
Elke druppel weerspieël die liefdesband
O Skepper van reënkombersieland.

Plantjies verrys, die gras so welig groen
Ek staan verwonderd oor wat Hy doen
God’lik liefde wat ons met Hom versoen
Met sorg en liefde soos net Hy regeer.
As wolkies voor die son inskuif
Moet hittegolf sy warm asem ophou
Mens en dier in liefdeskombersie toevou

 

Vat nie ons Rehoboth

Vat nie ons Rehoboth, roof nie ons ruimte,
Verag nie ons liefde, ons harte se warmte
Verdroog nie ons vrede, ons binneste kalmte
Ontneem nie ons bome, ons beskermende skadu
Vertrap nie ons rooi sand, ons sagte rusplek

Vroeg uit die vere, werk toe, so getrou
Manne wat vure helder, brandend hou
Vroue wat trots pot aan die kook hou
Met kinderpret vroegoggend in die lug
Verdwyn ou skoolsak se gewig op sy rug

Vat jy ons ruimte, vat jy ons Rehoboth
Hoor hoe huil die wind, geniepsig die koud
Saam staan, saam bid, bly steeds ons behoud
Roof jy ons erfenis, roof jy ons trots
God sal vir ons stry, Hy, ons ewige rots.

 

Woestynland

Dis hier waar mens en dier die pad versier
Motoriste toet en trek hul gesigte suur
Maar almal is vry, daar is hope plesier
By Water-is-life sjebien drink jy smaaklik jou bier
En by die “outdoor” slaghuis teen die kerk se muur
Sny die ou met die saaglem sy vleis na jou gier

Ja, in Namibië haal ’n ou man nog sy hoed vir jou af
En ’n jonge dogter groet uitbundig as sy draf
Daar’s vrede in jou sonsopkoms, kalmte oor jou vlakte
Waar die gemsbokkie doodluiters verby jou huisie stap
’n jagluiperd sy nek uitsteek en aan jou strooihoed hap
terwyl ’n klompie kinders sing en vrolik dans in ’n kring
Mamma los daai “fancy” kos, gee liefs mieliepap ’n kans
Laat my weer impulsief soos ’n kind vrypostig lag en dans

Êrens biggel ’n traan oor ’n stofbesmeerde wang
In Woestynland is daar ook onlus soos in enige ander land
’n Jakkkals huil en die ooswind sing sy droewige gesang
In die stilte hoor jy die seemeeu roep oor die strand
Hou my bietjie langer vas, land wat praat soos my hart
Skuif jou witbruin sandduin oor my huistoegaanpad
Hou my vas, Woestynland, Namibië sonskynland

 


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top