Huis, woning, tuiste: Jadrick Pedro se inskrywings

  • 0

Godin van vrugbaarheid.

Daar onder lê sy in die
vallei neergestrek,
’n vrug is haar kroon
en die aarde haar troon.
CERES,
knus onder ’n lappieskombers
geweef uit vrugteboorde
en landerye, my tuiste is
getroud met ’n koning
ons gunstige klimaat.
Sy is omsingel deur berge
om haar eer te beskerm.
CERES,
o soetsappig is die
vrug van haar skoot
vanuit die koringlande kom
ons daaglikse brood
en die skone nooi is nie onvrugbaar gelaat
ons godin is tot alles in staat.


 

O Ceres, Godin van vrugbaarheid sing vir
my ’n treurlied en
laat jou hartseer spoel
tot in die holtes van hierdie vallei.

Laat die ritme van
jou gebroke stem
ons oor vlaktes
van jou hart begelei.

O moeder van hierdie
stukkie grond
met onblusbare vlamme en ook
diep gewond
is die aarde aan die bewe
en jou kinders skarrel rond.

Skreeu uit die leemte
van jou omsingelde hart.
Roep om genade al
hoor niemand jou smart.

 

Ons bekers loop oor.

O God van Abraham, Isak en Jakob
was dit nie vir jou was ek maar arm;
arm in die gees en arm in die vlees, maar jy
het ons geseën met groen weivelde.
vir al die mense in hierdie Ceres-vallei
en ook vir my.
ons besit ’n vallei van heuning en melk,
            ons bekers loop oor
O God … was dit nie vir jou
was ons sout-van-die-aarde-plek nog laf
was ons koring nou kaf.
  O herder van Dawid
was dit nie vir jou
was hierdie stukkie aarde nog onbewoonbaar en rou.

 

Oukop

Vasgekluister, nou al
vir jare staan jy
die waker van Ceres,
ook die grootste berg hier in ons kontrei.
Jy is vir ons ’n natuurlike
wolkekrabber
’n struktuur waarteen
miswolke hang elke wintersnag.

Jy wat die eerste
koue voel
en die eerste toeriste begroet.

Oukop het ons
jou gedoop,
ons geheime ikoon.
Hier bly jy staan
ons erfenis veteraan.

Oukop het ons
jou gedoop,
want toe die aarde bewe
geboue gesloop,
maar jy het bly staan
ons erfenisveteraan.


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top