Huis, woning, tuiste: Huis is waar jou hart is

  • 0

Huis is waar jou hart is

As kind was huis     
Die reuk van varsgesnyde gras as ek by die huis kom van die skool af
Die veilige hawe van my ma se sagte arms as ek bang is
En krap van my Pa se baard as ek hom druk

As tiener was huis
Die donker, koue koshuiskamer wat ek met drie ander moes deel
Die smaaklose kos wat vassit in my keel
Die irriterende gelui van die koshuisklok

As student was huis
Die lang kronkelpad wat ek elke naweek moes ry
Lang geselsies met my eerste regte pel
Die sagte gedreun van die yskas in my eenmanwoonstel

As jong getroude vrou was huis
My man se warm lyf as ons lepel-lê
Moerkoffie wat met liefde gemaak is
En klipharde vetkoek van my eerste probeerslag

As ma is huis
Die sagte giggellaggies van twee dogtertjies
Bruin moddervoetjies op die kombuisvloer
Rustige aandetes om die ou hout-kombuistafel

Huis is nie net die tuiste waarin jy bly nie
Dit is in alles wat jou omring
’n Veilige bekende kring
Huis is waar jou hart is


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top