Huis, woning, tuiste: Marcha Vorster-Roux se inskrywings

  • 0

Huis Aluin

Loseer daar deesdae ’n kielie-krappigheid in jou hartsare
en is jou bene nes esels: gekniehalter?
Kom! Kom na Huis Aluin.
Almal, ook dié wat sabander is, is welkom.
Moet jou nie laat flous deur my naam,
my hoofdoel is mos sametrekkend.
Hier’s my hek, dit sê soveel meer as net oop en toe
of dat dit ’n grens skep.
Vir my is elke gierts-garts oopgaan die voorgereg
van ’n aangename vertoef.
Heel rustig lê my klippaadjie tot by die deur:
Stap gerus nader,
op díé paadjie lewe geen spore,
Wees dus nie beklemd,
niemand hoef te weet jy ís, of wás hier.
Maar as jy spore wíl los, trap op die sagte grond
want jy mag trots wees op jou kuier hier.
So los spore vir die nageslag;
iemand wie ook van sagtrap hou
mag dalk net jou spoor wil volg.
Die Aluinvoordeur is ’n oopdeur – altyd;
wees verseker; daar hang altoos ’n olyftak.
Glip jou arm in myne en gee aan daai bagasie.
Helder kleure oral deur my oopplan-voorhuis
versprei my uitnodiging om voluit jouself te wees.
Sou jou siel smeek om sagte pastel-fluweelkussings,
dalk ritmiese tromme of moontlik geurige blomme,
hier is ’n kamer vir enige dors
of milddadige stiltes wat krag eggo.
Ons kan saamvlok tot ’n nuwe geheel;
sou daar ’n abses woed, glip gou in my serene stort –
witter as was bid ek jou.
Sametrekkende heelword – sonder onderskeid;
dís Huis Aluin
waar siele altoos rus vind.

 

Tregterhuisie

Ek toktokkie om en om,
al in die rondte
dieper en dieper my tregter;
al wagtend dat jy infoeter ...
dan gryp ek verbete,
jou gly-val nou stom

 

Verf is irrelevant

Kom bou saam aan ’n pragkasteel van sand,
ek beloof plegtig: daarop is geen verband
en om dit te verf is irrelevant.
Wat ek wel vra, is tog net iemand
met ’n vaste, betroubare hand,
wie my kasteelwees kan uitbou na alkant
en my oë vrolik laat blink sonder skand.
Hopelik is my kasteel dan byt-bestand
want
dit verteer ek wraggies nou langtand

 

Skemerkelkie op jou voorstoep

Kom sit, ek skink ’n sopie woorde
in jou strakke oorskulp
sal ’n dubbel regtig jou dors les
of mag my hand gly met meer
verkies jy blatante sterkte
of verdun ek dit
verdoesel ek die werklikheid
met ’n skeutjie vroomheid
of is jou oortrommel ’n springmat
waar skelle klanke deurmekaar tuimel
o, jy verkies eerder ysige kilte -
goed, sal fyn ys jou geval
of eerder harde blokke wat al krakend
stom speletjies speel
wag, ek roer dit bietjie met hierdie storiestokkie
en wat van ’n apologie as Versieringsambreeltjie
ja-nee, ek het eintlik verwag hierdie
bekentenis skemerkelkie
sou jou nie ‘stir’
net bleek laat; ‘shaken’


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top