Huis
(Aan die einde van ’n lang dag)
’n oranje kombersie
beskerm teen die onbegrip van buite
downloads van ander se lewens bring
tydelike ontsnapping van jou eie
sussende melodieë van groewe
gesny uit polikarbonaat
die reuk van koffie
en van spek in ’n pan
die geluid van ’n prop
uit ’n bottel gefermenteerde vog
sagte, vergewende lig van
energiespaar-lampe
lawende druppels van ’n warm stort
was die frustrasie weg
geselskap en teenwoordigheid
van dié wat jou verstaan
’n kooi in wit
bolster teen onbegrip
ruimte vir wees
wie en wat jy wil
Vooruitsig
Soos die swart en wit klawers van ’n klavier
lê die maan se lig
op die sinkplaat golfies
van die water voor jou.
Na regs weet jy
pronk die berge
met hulle
wit sneeu-doilies.
Anderkant toe,
daar waar ’n dowwe lig
die wolke verhelder,
waak die stad
oor die einde van die meer.
Voor jou fluister
’n houtbank met wit kussings,
“Kom sit op my en geniet die uitsig.”
In die skadu van ’n gepotte plant
knik ’n kersie
deur die gekerfde patroon van sy houer
“Ja, ja, dis ’n goeie plan.”
Jy glimlag,
skop jou skoene uit,
gooi twee glase groenvars wyn
en sê,
“Kom stoep toe skat, vertel my van jou dag.”
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
Kommentaar
Sanmarie, jy moenie ophou skryf nie. Welgedaan.
Pragtig beskrywend.
Jou rakker!
Jy laat my lag, jy laat my huil. Jy maak my trots om jou sussie te wees.