Onderhoud: Waar het die spoor van Afrikaans as onderrigtaal begin?

  • 4

gedenkskool650

In Die Burger se berig oor die Du Toit-huis op Augusta-Kleinbosch wat afgebrand het, word genoem dat die Hugenote-gedenkskool (1883 opgerig) die eerste skool was waar Afrikaans as onderrigtaal gebruik is.  Is hierdie inligting korrek?

Afrikaans is in die 19de eeu al lankal gepraat, deur verskillende groepe sprekers, en op verskillende maniere. Daar was toe nie ’n algemene manier om Afrikaans te skryf nie, maar die verskeidenheid was herkenbaar Afrikaans, en nie ’n ander taal nie. Een van die groepe het Afrikaans al baie vroeg as onderrigtaal gebruik, die Kaapse Moesliems, soos Achmat Davids hulle in sy navorsing noem. Teen 1840, en selfs miskien vroeër, was Afrikaans die onderrigtaal in die bekende Dorp Street Madrasah. Enkele jare vroeër is hierdie Afrikaans heel moontlik al as onderrigmedium in skooltjies van die London Missionary Society gebruik. Dit was lank voordat GRA-Afrikaans in die Hugenote-gedenkskool onderrig is.

Achmat Davids het grondige navorsing gedoen oor die deurslaggewende rol wat die Moesliems aan die Kaap in die ontwikkeling van Afrikaans gespeel het.  Wat het sy navorsing aan die lig gebring?

In die Dorp Street Madrasah is Afrikaans gebruik om gedeeltes van die Moesliemgodsdiensgeskrifte neer te skryf in oefeningboeke en van buite te leer, en andersom. Die boeke was bekend as "koplesboeke", omdat die leerlinge die lesse uit hulle koppe geleer het. Maleise ritmes uit die slawetyd het met die onthou daarvan gehelp, maar die hoofdoel was om met behulp van Arabiese karakters te leer skryf, waarin die kinders goed geslaag het. Die Arabiese karakters is aangepas om die Afrikaanse klanke noukeurig weer te gee, wat ondersoekers ’n goeie idee gee van hoe daardie variëteit van Afrikaans geklink het. Tuan Guru, Jan van Boughies en Abu Bakr Effendi is bekende name wat geassosieer word met die Moesliem-Afrikaanse geskrifte, en naas Achmat Davids (in verskeie studies van die 1980’s af) het A van Selms (1951), Piet Muller (1960), H Kähler (1971) en andere al in die tweede helfte van die 20ste eeu al op die verskrifteliking van hierdie Afrikaans gewys. Hulle het eintlik net gewys op die manier waarop die sprekers van die Bo-Kaap en omstreke al vir ’n eeu of langer met Afrikaans geleef het.

Die Hugenote-gedenkskool het wel ’n belangrike rol in die uitbreiding van Afrikaans as onderrigtaal gespeel?

SJ du Toit, die stigter van die GRA (die Genootskap van Regte Afrikaanders) was ’n groot pleitbesorger vir die Hugenote-gedenkskool waar GRA-Afrikaans ’n onderrigfunksie kon verkry. In sy pleidooie vir die totstandkoming van die Hugenote-gedenkskool het hy hom onverskrokke oor die voordele van moedertaalonderwys uitgelaat.

Onder skoliere van die Hugenote-gedenkskool tel AG Visser, DF Malherbe, Totius, en AI Perold (bekend in wynboukringe). Van hierdie oudleerlinge van die Hugenote-gedenkskool het later ’n groot rol gespeel in die latere standaardisering van ’n ander vorm van Afrikaans.

gedenkskool

Advertensie vir die Gedenkschool der Hugenooten soos dit in Ons Klyntji in Maart 1904 verskyn het. Bron: Ons gaan ’n taal maak.

Word daar genoeg erkenning gegee aan die rol van die Moesliem-gemeenskap in die bestudering van ons taalgeskiedenis?

Sosiopolitieke strominge en die godsdienstige isolasie van Moesliem-Afrikaans het meegebring dat kennis van dié besondere Kaapse variëteit (en ander variëteite van Afrikaans) tot laat in die 20ste eeu nie in die hoofstroom van die geskiedenis van Afrikaans opgeneem is nie. Die situasie het sedertdien beduidend verander. Die uitgangspunt dat Afrikaans uit al sy variëteite bestaan, word in die laaste dertig-veertig jaar baie meer algemeen erken as vroeër.

 

  • 4

Kommentaar

  • Watter taal het die Kapenaars gepraat tydens die Boere-oorlog? Dieselfde as die Transvalers? Het die Boland anders as die Oos-Kapenaars of Middellande gepraat?

  • Christo van Rensburg

    Hierdie vrae, Koos, is eintlik ʼn lang antwoord werd! Maar dit is interessant om in ʼn neutedop daaraan te roer, op grond van gegewens wat tans bekend is:
     
    Watter taal het die Kapenaars gepraat tydens die Boere-oorlog?
    Die inwoners van Kaapstad het van die sewentiende eeu af verskillende soorte Afrikaans gepraat, wys ou dokumente vir ons. En ons kan dit vandag nog steeds hoor!
     
    Die basiese soorte? Voordat die Kaap ʼn verversingspunt geword het, het die Kaapse Khoi al ʼn Aanleerdersafrikaans gepraat. Die slawe uit die Ooste, en VOC-werknemers na diensbeëindiging op pad terug Nederland toe wat vir maande lank hier oorgebly het, se Afrikaans het verskillende grade Oosterse invloede vertoon. Nedersetters uit Europa het ook variëteite van Afrikaans gepraat met hulle onderskeie moedertale se eienskappe daarin. Taalbeïnvloeding het oor en weer plaasgevind.
     
    Dieselfde as die Transvalers?
    Die inwoners van Kaapstad en omstreke se verskillende soorte Afrikaans het verskil van die Afrikaans van die Noorde, party soorte meer, ander weer minder. Aan die einde van die twintigste eeu was dit die geval, soos vandag ook nog.
     
    Die gelykmakende effek van Standaardafrikaans op die spreektaal, na die oorlog, sedert 1917, het hierdie verskille verminder.
     
    Het die Boland anders as die Oos-Kapenaars of Middellande gepraat?
    Verskeie reisigers het opgemerk dat daar twee oorheersende tale in die Binneland gepraat is, ruweg in die landstreek tussen die Hottentots-Hollandberge en Graaff-Reinet, en die Oranjerivier en die see, gedurende die honderd jaar van die agtiende eeu. Die een taal was Khoi-Afrikaans, ʼn Afrikaanse variëteit wat die sprekers van Khoi se Khoi-moedertaal as gevolg van verskeie omstandighede verplaas het, en die ander taal was die Veeboere se Afrikaans. Hierdie soorte Afrikaans het verskil van die soorte Afrikaans van die Boland, hoewel daar baie ooreenkomste ook was.

  • Dit bly 'n intense onderwerp. Daar was vir baie jare 'n baie eng interpretering van die ontwikkeling van Afrikaans soos ons dit vandag praat. Dan praat ek nie eers van die miskenning van die rol van slawe en ander inheemse sprekers nie. Taal ontwikkel nie in afsondering van sy omgewing nie. Waar 'n taal in 'n area gepraat word, word dit beïnvloed deur die omgewing, deur die mate van afsondering van die taalgemeenskap en beslis ook die mate van kontak met inheemse groepe. Hoe meer afgesonder 'n taalgemeenskap, hoe meer seker is dit dat hulle 'n "anderste soort" taal gaan ontwikkel. Daardie unieke taal sal gestalte kry in 'n ander uitspraak en natuurlik woordeskat. Dit impliseer natuurlik dat soos kommunikasie oor die jare verbeter taalvarieteite sal verminder. Ek verluister my aan die streektale van die Wes-Kaap. Dit sal jammer wees as dit êrens in die toekoms sou verminder of selfs verdwyn.

  • Dank aan Prof Christo van Rensburg vir hierdie inligting, en vir plasing van die advertensie van die Hugenote Gedenkschool. Aangrypend!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top