HS Durbanville se tienertoneel saam met 'n professionele produksie op die verhoog

  • 0
Tydens die naweek van 7 tot 9 November gebeur baanbrekerswerk by die Hoërskool Durbanville: tienertoneel en professionele teater word sáám voorgesit. Naomi Meyer het met Jan Burger, kultuurhoof by HS Durbanville, gesels oor die produksies wat die leerders opvoer. Albert Maritz het foto’s voorsien van Die Van Aardes van Grootoor, wat ná die tienertoneel te sien is.

Hallo Jan, dankie vir die geleentheid tot gesprek. Ek sien van die lekker tienertoneelstukke wat ons lesers in die Kaap volgende week by Hoërskool Durbanville kan gaan bywoon. Vertel asseblief vir my nog hiervan. 

Ons skool voer elke jaar twee tot vier tienertoneelproduksies op, waarby ons 20–40 kinders betrek. Met hierdie produksies tree ons by verskeie tienertoneelfeeste op, onder andere Hoërskool Durbanville se jaarlikse tienertoneelfees, waarin elke jaar 15–24 produksies van oor die Wes-Kaap en Noord-Kaap ingeskryf word. Die hoogtepunt is die ATKV Nasionale Tienertoneelkompetisie, waarvoor elke jaar landswyd ongeveer 150–170 stukke inskryf en 10 gekies word om aan die finaal in Potchefstroom deel te neem as deel van Aardklop.

Die twee tienertoneelstukke wat ons vanjaar gedoen het en wat ons saam met Die Van Aardes van Grootoor opvoer, is Rooi en Die skyn van Vernis.

Rooi (geskryf deur Garin Hauptfleisch en verwerk deur Jan Burger en Amelia van Wyk) is een van ’n trilogie (Groen, Rooi en Pers) wat Garin geskryf het, waarin hy bekende sprokies in die moderne idioom oorgeskryf en met mekaar vermeng het en onderliggend ook aktuele kwessies (soos die Groen beweging) aanspreek. 

In Rooi span drie vertellers saam om Rooikepsie se verhaal te vertel. Hulle stry gedurig oor die verhaallyn en oor watter karakters moet in of uit. Hulle Rooikepsie is ’n rabbedoe, 16 en welbedeeld. Sy het ’n fassinasie met diere se sterte en aan haar gordel hang al ’n hele versameling daarvan. Wanneer sy dus vir Ouma aan die ander kant van die woud gaan kuier, is die hele woud se diere in hul pasoppens vir haar. Sy bring ook gereeld ’n nie-so-onskuldige-nie besoekie aan oom Houtkapper

Die wolf in die storie is ’n gay dwelmsmous, met sy persoonlike glam guru wat oral saam met hom gaan. Dis sy broer wat die drie varkies uit hul hophuisies verwilder het en hulle is nou op vlug deur die woud. Langs die pad kruis Wolfie en die drie varkies swaarde met Rooikepsie en kom sleg verrinneweer anderkant uit. Hulle span kragte saam om haar op haar plek te sit, kaap ’n paar quad bikes en gaan lê vir Rooikepsie voor op haar ouma se werf.

Ouma is ’n hardlywige tantetjie wat die meeste van haar tyd in haar gemakshuisie op die longdrop deurbring. Soos die storie ontwikkel, verloor die drie vertellers ongemerk hul greep op die verhaal en dit begin ontspoor, met skreeusnaakse gevolge!

Die skyn van Vernis is deur Jan Burger geskryf. Wanneer ’n hewige donderstorm op ’n Saterdagoggend op die dorpie Bosdrif losbars en mense vinnig moet skuiling soek, beland ’n plofbare mengsel karakters saam in die dokter se wagkamer.

Die ontvangsdame is gefrustreerd omdat haar kêrel nie so ver kom om te wil trou nie. Haar haarkapper-vriendin probeer haar moed inpraat. ’n Wit vrou wat al 15 jaar ’n boemelaar op die dorp is, is ook daar, maar word gedwing om "daar eenkant" te gaan sit omdat sy stink. Oom Herklaas is daar vir sy jaarlikse prostaat-ondersoek. Mevrou dominee Hartslief kom soek mediese hulp vir haar flatulensie-probleem. ’n Lingerie-verkoopsagent uit die stad is op pad na ’n lingerie-partytjie vir ’n klompie boervroue op ’n plaas daar naby, maar die pad is nou onbegaanbaar. Die dorp se jong kunstenaar, wat agter sy rug deur die jong boere as ’n moffie gespot word, het ook kom skuiling soek. ’n Ryk jong boervrou is daar vir haar ses-maande-swangerskap-ondersoek. Die dorp se Martie Martelgat is uit gewoonte in die spreekkamer, soos gewoonlik half gesuip. Die jong onderwyseressie by die laerskool en baie suksesvolle rugby-afrigter kom wys gesig. Die 12-jarige Ashwin kom ook skuiling soek en vertel hulle van die oggend se groot vuisgeveg op die koöperasie se stoep. Wanneer Dawie de Witt daar opdaag, begin die poppe dans – en dans hulle nie! 

Heerlike plattelandse humor en bolangse praatjies-maak geleidelik plek vir iets wat nie een van hulle kon voorsien het nie.

Julle kombineer tienertoneel en volwasse, topklas-toneel. Trek julle in die proses ook ’n jonger gehoor – wat dalk lus word om eendag in te skakel in die dramawêreld? Of is dit juis die ouer akteurs en mense met invloed in die teater wat weer die jeugdige talent hier ontdek? Wat is julle rede vir die samevoeging van twee toneelstukke (eers die tienertoneel en dan Die Van Aardes) na mekaar?

Dié projek is ’n eksperiment met meer as een oogmerk.

Aan die een kant wil ons maniere ontgin om aan topgehalte professionele Afrikaanse toneel, die dramaturge, regisseurs en akteurs groter blootstelling en groter erkenning te verleen. Afrikaanse dramas kan nie net op kunstefeeste oorleef nie. Ons moet dit verder omarm deur aan hierdie dramas ’n verlengde lewe te gee. Teaterproduksies in Suid-Afrika het besonder kort speelvakke. Waar ’n produksie oorsee vir jare kan loop, sukkel ons hier om ’n speelvak van een week die moeite werd te maak.

Een van die groot oorsake daarvan is dat die befondsing en finansiële ondersteuning van sulke projekte baie laag op die prioriteitslys is. Saam daarmee is daar veral in Afrikaanse gemeenskappe ’n baie klein persentasie teaterliefhebbers - te min om enige toneelstuk ’n lang speelvak te waarborg.

Die oplossing is om belangstelling in teater by die jeug aan te wakker, want hulle is die gehore van die toekoms. In die korporatiewe en sakewêreld moet ook ’n bewustheid gekweek word van die gehalte waartoe Afrikaanse teater in staat is, dat daar opwindende talent vir die toekoms is en dat die ondersteuning en ontwikkeling van teater ’n belegging in die kulturele gesondheid van ons gemeenskap is. Slaag hierdie projek, speel dit ’n klein rol om oor tyd ’n groeiende gehoor vir Afrikaanse teater te kweek. Hopelik ontstaan dan nog sulke projekte.

Ons het die vrymoedigheid om tienertoneel op een aand saam met professionele toneel op die verhoog te sit omdat ons daarvan oortuig is dat daar by die breë gemeenskap nie ’n besef is van die gehalte van tienertoneel nie. Hierdie projek is dus ’n manier om mense wat andersins nie tienertoneel sou gaan kyk nie, daaraan bloot te stel. Albert speel egter ’n groot rol om seker te maak dat die tienertoneelstukke van so ’n gehalte is dat ons hulle met gemoedsrus kan laat optree. In die toekoms sal daar waarskynlik altyd een van Hoërskool Durbanville se stukke op die verhoog wees, nie net omdat die skool en sy ouditorium die gasheer is vir hierdie inisiatief nie, maar ook omdat die skool bekend is vir tienertoneel van baie hoë gehalte. Ons gaan egter ook ander skole en groepe met puik toneelstukke nooi om vorentoe deel van die projek te word. Die toekoms van Afrikaanse teater lê in ons jeug en hulle verdien ons ondersteuning en aanmoediging.

Ja, ons glo dat die jongmense wat hul tienermaats kom ondersteun, terselfdertyd sal leer om die professionele produksies ook te leer waardeer en sodoende ’n groter gehoor vir die toekoms te kweek. Net so hoop ons dat professionele akteurs, resensente, teaterpraktisyns en mense met invloed die gehalte van tienertoneel ontdek en leer waardeer, en ook daarin belê.

Vir die tieners wat optree, is dit ’n baie groot motivering en voorreg om saam met ’n professionele stuk te kan optree. Vir die professionele akteurs is dit ’n geleentheid om die toekomstige teaterpraktisyns te motiveer en aan te moedig. Wie weet waartoe hierdie soort wedersydse blootstelling kan lei? Met die regte ingesteldheid behoort die goeie wat hieruit kom, die minder goeie ver te oorskadu. Deel van hierdie projek is dat die professionele span akteurs en tegnici vir die tieners wat optree, ’n kort werkswinkel ook aanbied - iets wat andersins baie moeilik sou wees.

Hoe voel jy oor die talent van jongmense op die gebied van drama? 

Daar is in enige gemeenskap en enige skool altyd ’n klomp verhoogtalent - dit moet net ontgin word. Of dit sang, drama, ’n musiekinstrument, visuele/beeldende kuns, woordkuns of wat ook al is, dit is beslis daar! Op dramagebied moet die gemeenskap net die moeite doen om tiener- en studentetoneel meer te ondersteun, dan sal hulle besef hoe ongelooflik die talent onder ons jongmense is. Dit lê en wag om ontgin te word en die resep daarvoor is baie eenvoudig:

Bestanddeel 1: Vind die mense met die passie en kundigheid om dit te ontgin.
Bestanddeel 2:Gee vir hulle ’n gehoor wanneer hulle optree - die beste motivering wat daar kan wees.
Bestanddeel 3: Ondersteun hulle finansieel - belê daarin, want dit kos geld en hulle moet leef!

Hoe voel jy oor hulle toekoms as hulle inderdaad die potensiaal en die talent het? 

Ongelukkig is daar maar ’n baie onseker toekoms vir toekomstige verhoogakteurs en -aktrises. Groot internasionale musiekteaterproduksies wat Suid-Afrika toe kom, kan nie uitgepraat raak oor die kwaliteit van die talent in ons land nie. Maar as verhoogkunstenaars nie in films of sepies rolle kry of in TV-advertensies optree nie, is dit slegs ’n baie klein persentasie wat daarin slaag om ’n lewe uit teater te maak. Enige tiener wat beoog om ’n loopbaan ’n drama te volg, moet ’n groot passie daarvoor hê, saam met ’n klomp deursettingsvermoë. Finansieel is dit ’n baie onstabiele en onseker beroep, en ek maak enige aspirant-akteur/-aktrise terdeë bewus daarvan. Dit hoef egter nie so te wees nie en ek wens dit was anders. 

Beoog julle in die toekoms weer sulke samewerkingsgeleenthede, of het dit in die verlede reeds plaasgevind? 

Beslis, maar dit gaan in ’n baie groot mate afhang van hoe dit ondersteun word. Daar word alreeds ’n soortgelyke een vir vroeg in 2013 beplan, maar eers moet ons hierdie een maak werk. Ek hoop die ondersteuning is van so ’n aard dat ons met groot vrymoedigheid die volgende ronde sal aanpak.

Foto’s: Die Van Aardes van Grootoor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top