Hou hierdie oomblikke in 'n dagboek vas

  • 0

Foto: fremdeng.ning.com

Die stofpaaie van haar hartsplek, die Karoo, die skreeuende skarniere van hul plaashek en ‘n warm hand in hare is lankal  vergete, maar die swart  ink op gevlekte papier vertel ‘n ander storie. Daardie ink op papier ken nie die verlepte angeliere in die hospitaalventers, die X-strale met die slegte nuus of die vreemdeling wat haar ma noem nie. Die kursiefgeskrewe letters vleg saam, blaaie gebind met kleeflint van geheime en heimwee van verlange,  skuil in die donkie ore van ‘n ou Croxley-hardebandboek.

My geroeste Volksie staan eensaam in die parkeerarea, my hoëhakskoene se geklik-klak weergalm deur leë sale en my moeë arms klou haar geskenk vas. Die mensgemaakte lyntjiespapier wat terugdateer na herinneringe vanaf 1950-'80 prikkel my nuuskierigheid. Slegs dié gedagtes opgesluit in hierdie 30 jaar  het nie verstrooid op die ongelukstoneel bly lê nie. Die note van reëndruppels op die hospitaaldak harmoniseer met die gekoer van tortelduiwe. 

Ek gaan sit op die kreunende stoel voor haar bed. Voor my lyk haar 78-jarige skraal liggaam bleek, leweloos en onherstelbaar. Wrede wonde kan deur nuttelose verbande gesien word en die permanente letsels weerspieël die motorongeluk op die voorblad van die plaaslike koerantjie. Ek vleg my vingers deur haar koue, beplooide hand om die vrese vir flikkerende ligte, skreeuende remme en gille te vervang met die van ‘n enigste dogter se liefde.

Toe haar geskrewe woorde oor my lippe val, rol die trane saam. Die gordyne trek oop, silhoeëtte van akteurs verskyn en haelstorms juig haar toe. Haar lewe flits verby in ‘n aantal wedervaringe. Penskrabbels wat vertel van die eerste skooldag, die smaaklose koshuiskos, rooihakskeentjies, spanningsvolle eksamens, rebelse tienerjare en tye toe uitveërs probleme kon oplos. Sketse, klein vlerksleepbriefies, Huisgenoot-uitknipsels en hul troukaartjie skuil tussen die blaaie. Haar dagboek vertel die ordinêre lewe van ‘n nederige bestaan vir ‘n onordinêre mens. ‘n Meisie wat trou met haar skoolkys,’n Karoo-boer, en geseën word met haar eie vlees en bloed, maar die  tragiese gebeure daarna word nooit vasgevang in swart-en-wit nie.

Niemand sal weet van haar oorlede man, die eensame woonstelletjie in die stad, die kankertoets op daardie bewolkte oggend of haar geheue wat stelselmatig wegkwyn nie. Wat nog te sê van die motorongeluk. Medici  vermoed my ma gaan sterf en ruikers van sogenaamde vriende neem afskeid. Met haar dagboek teen my bors, bid ek as kleingelowige, smekend  terwyl my hart in my keel klop en ek bewe soos ‘n riet.

Toe ek my oë oopmaak, ontmoet ek en die dagboekskrywer mekaar in die middel van ‘n tweede kans. Dis oomblikke soos dié wat tussen die lyne van ‘n dagboek vasgepen moet word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top