Hoogvat, wurggreep en kopklem – rugby en teater se ooreenkomste

  • 1

The measure of man is what he does with power. – Pittacus (650–569 vC)

Dink elke ou wat rugby kyk, die wurggreep waarin spelers mekaar soms plattrek – met die arm om die ou se nek geknyptang – is gevaarlik, onsportief, en behoort verban te word? Dis mos boonop ’n hoogvat! Indien wel, hoekom kry niemand ooit ’n strafskop, of ’n geelkaart, of beter nog, ’n rooikaart daarvoor nie? Of dink net ek die hoë nekklemvat is lewensgevaarlik? Iemand gaan nog sy nek gebreek kry. Kan die refs dit nie sien nie?!

Refs blaas gereeld nie – vir die mees obvious dinge. Vorentoe aangeë, ag ... ens ens. En kopklemme. Met die Bulls teen die Chiefs doen die Chiefs ’n vinnige lynstaan toe die Bulls al almal daar rondstaan. Weliswaar het hulle nie in ’n lyn gestaan nie, maar hulle was daar. En toe gooi die Chiefs die bal reguit na die agterlyn. Nou as daar al ooit ’n skewe ingooi was, was dit daai een. En die ref laat die wedstryd aangaan. Lynregter sien niks verkeerd nie. En die toeskouer kyk maar volgende Saterdag weer. Of kyk hy?

Maar ons vergeet gou. Surfers skrik soms, maar die vierders van die salige natuur skrik nooit vir lank nie. Een kopklem wat ons wêreld getref het, is ons samesyn met haaie. Oor die redes vir soveel meer haai-aanvalle as voorheen, kan mens lank bespiegel. Maar dalk omdat ons die spesifieke “surf spot” by Kogelbaai so dikwels besoek het, en ’n mens as surfer jouself al baie afgevra het: Waar is die grysjasse? So – toe die nuus onlangs breek, probeer ons almal vrede maak met die gebeure, deur dit te verstaan. Daai vrees wanneer ’n haai in die omtrek is, moet aanjaend wees. Jy word eers van hom bewus as hy jou stamp. ’n Oordosis adrenalien pomp jou liggaam in; om oorlewing, om verdowing? En ’n haai behoort nie aan te val na hy met so ’n stamp agterkom jy is nie sy stapelprooi nie. En die bodyboarder – hy beweeg weg van die dier af, met die skop van sy voete, in die rigting van die aanvaller. En hy kom weer!

Tyd lawe die pyn van almal wat agterbly. En nie lank nie of die surfers doen weer dit waarvoor hulle lief is.

Akteurs en gehore kom óók terug vir nog. Soms.

By The Intimate Theatre, tuiste van The Mechanicals, was King Lear op die planke.

Gepraat van oordosisse: King Lear, die produksie van The Mechanicals, getuig op enkele uitsonderings na van oordaad. Soos Kogelbaai, is King Lear ook ’n ou pasmaat sedert universiteit. Dis die titelrol waaroor akteurs sê: ’n akteur met uiterste lewenservaring moet hom speel. Met ander woorde: ’n jongetjie, met die regte energie, is dadelik uit die prentjie uit, en ’n oue, met die ervaring, het weer nie die energie nie. Voorts onthou ek die tonele waar die koning soveel empatie verwek wanneer hy – in oortreffende trap – vir die onregte van sy eie, deur soveel onreg, en uiteindelik deur die elemente platgeslaan word. Mense wat vir hom lief is, probeer hom die vernedering spaar as hulle hom gedurende ’n massiewe storm alleen buite gewaar. Hy is in ’n toestand van verwarring. Wanneer hulle hom te hulp snel, maak die een skoon asof hy behoorlik mal is, om die arme ou koning se gevoelens te spaar.

Dis maar enkele voorbeelde van hoe ryk die gelade teks is. Maar anders as met hulle briljante produksie van verlede jaar, A Midsummer Night’s Dream, is sirkusrige eienaardighede hier ongelukkig oorheersend, en neem die aandag weg van die essensies. Selfs in die spel van die koning ondersoek die akteur – die briljante Fleur du Cap-genomineerde Graham Weir – te min, indien hoegenaamd, die grys areas in ag wat bestaan in die realiteit tussen misverstand, wraak, haat, woede, verwerping, inkeer, gebrokenheid – ai, soveel om op te noem, onder soveel omstandighede - soos met mag, in desperasie, met simpatie … soos in die lewe.

Adrian Galley en Jeroen Kranenburg werk met sigbare menslikheid, en enkele akteurs, soos Shaun Acker, is hoogs vlytig en vermaaklik. Die drie susters is skitterend.

Hierdie produksie lyk na harde werk, en verg dit ook van die gehoor. Anna Neethling Pohl het glo die standpunt gehad: as mens nie ’n gehoor roer nie, mis jy miskien die opdrag. In die lig van sommige gloeiende resensies is ek dalk verkeerd. Miskien is die regisseur geniaal om die teks bloot te lê – as dat dit hope waansin as inhoud het. Maar dalk is daar tog lesers wat bostaande opinie deel en bevestiging soek vir hul mening.

Soos hope mense se gedagtes kom myne ook gereeld terug na die jong David se lot. Sy broer vertel hoe hulle kon sien aan die wonde aan sy hande hoe hy die haai wou afweer. Dit klink of hy alles gedoen het, wat kenners nog altyd gesê het mens moet doen. Slaan die haai, steek jou vingers in sy oë – talle teoretiese aspekte. Of truuks waarmee mense al suksesvol was – dis die dinge wat die jong stryder probeer het, in sy stoksielalleen, laaste, riller-oomblikke. Daar was dit net hy – wat in die dier se oë probeer kyk, probeer wegkom sonder om sy bene na die dier uit te strek in ’n poging om van die aanvaller weg te swem; probeer om sy bord tussen hom en die moordvis in te druk, probeer om die moorddier met sy hande te slaan. Tot hy – wat seker in dié stadium soos genade moes voel, sy bewussyn verloor weens bloeding. Hulle sê wat die meeste menselewens kos na ’n haai-aanval, is die effekte van die trauma, van die skok.

Omdat ’n liewe mens – ’n kampioen boonop – die slagoffer was, is daar baie fokus op die hartseer. ’n Lewe is verloor. En dan fokus mens op hoe jy elke oomblik eerder lief moet wees vir ander; eerder dit as vyandig. Die besef dat die ruimte wat jy iemand toelaat om in vrede en met hoop te leef, jou ook beskore is. Dat jy deur die daad van medemenslikheid reeds vrede vir jouself werf.

Maar daarteenoor wil mense ook iemand skuld gee; skuldiges vastrek. Maar Die Burger se surfing-korrespondent, Jarvis, sê in Australië is ook so ’n haai-aanval “frenzy”, maar “chumming’” is daar verbode. So wat veroorsaak dit daar? En is “chumming” totaal onskuldig? Die Burger se surf-korrespondent praat ook van Pavlov se honde.

UK se dramadepartement het aangebied: Dreams of Clytemnestra.

Teater is net so belangrik vir die mensdom as Pavlov. Die storieverteller in elke stam in enige deel van die wêreld is die draer van veel meer as net vermaak. In sy gereedskap en sy inhoud lê die belewenis van kultuur wat mense se bloed laat bruis wanneer mens die regte ervaring meemaak en beleef.

Wanneer jy hoor Jacqui Singer doen regie, kan jy maar jouself aansleep soontoe. As Mari Borstlap betrokke is, gaan dit daai ietsie ekstra hê – vanweë haar flair sedert skooldae, en die ervaring as student, oa onder Marthinus Basson. En jy is nie teleurgesteld nie.

Die gehoor wat op die verhoog die ruimte met die akteurs deel. Die akteurs wat die ouditorium oorneem. Ander interessante ruimtes wat ook gebruik word.

Die legende van Clytemnestra word interessant uitgebeeld deur beide teksskrywer en regisseur. Clytemnestra se man, Agamemnon (Daniel Richards) het so ’n sterk charisma op die verhoog dat ’n gehoorlid elke speler wat teenoor hom speel, aanvanklik jammer kry. Hy is ook handsome, sodat die vroue - waarvan hy baie het – se taak vir hulle uitgeknip is. Hier is geen wegkruipplek nie – dis die een stuk waar almal op ernstige toneelspel moet fokus. Want die uitdaging is aan die interne; en hef nou die binneste mens tot groter hoogtes.

En talle akteurs verhef hulself inderdaad vir die geleentheid. ’n Stuk met spieëlbeelde van mense, die gebruik van eienaardige en wonderlik ongewone ruimtes, kostuums, verfrissende beligting, kleure en stel, laat die aand voel soos ’n ommesientjie. En siedaar – nog ’n handvol goed-opgeleide, jong, bedrewe akteurs is deel van die wye wêreld; gereed om die kat aan sy stert te swaai.

Miskien haat ek kopklemme omdat ek kloustrofobies is. So, dalk is daar niks mee verkeerd nie. As ek bevooroordeeld is, moet ek stilbly. Maar hoe weet ’n mens? Maar ...

Los Heyneke Meyer uit! ’n Kopklem is dat elke besluit van hom deur sportskrywers onder ’n vergrootglas beskou word. Heyneke het nou al ’n permanente frons. Hy is spiritueel, maar mensig – hy’t sweerlik nie gedink die joppie gaan sy persoonlike lewe so omverwerp en in krisisse dompel nie?

Terwyl hy in ’n land leef van opskuddings oor enigiets – van mynwater wat so suur is dat dit Johannesburg gaan wegvreet van onder af, tot skilders soos Christo Coetsee destyds in die Kaapse museum, wat sy werk opgekerf gekry het, en die jonger kunstenaar nou, wat syne opgeverf gekry het in prys.

Nou ja, dit werk duidelik teenoorgestelde vir rugbyafrigters. OK, die logiese afrigter vir die Peter de Villiers-era was Heyneke. Toe kies hulle hom nie. Niemand sou naby ’n oorwinning aan sy span gekom het destyds nie.

Maar Peter het die Wêreldbeker gaan wen – los nou maar Bryceland se wanvoorstelling uit die prentjie uit. Peter se span was die wenners – oa juis weens John Smit.

Maar nou! Nou sit Heyneke met ’n nuwe skip wat hy seewaardig moet kry. Dis ’n ma-se risiko. En as hy hierdie Engelse wen – is Heyneke weer die grootste!

Waar sal die naastie joernaliste en meningsgewers dan wees?

The first and great commandment is, Don’t let them scare you – Elmer Davis

 

  • 1

Kommentaar

  • Die kopklemme pla my ook! Maar, "the play's the thing" - dis 'n lekker bespreking dié, maak my lus om teater toe te gaan!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top