Homoseksualisme herbesoek in die Lig van die Woord

  • 13

Die kwessie van homoseksualiteit en homoseksualisme het nou onlangs weer polemiek uitgelok, meer in besonder gelei deur die joernalis Jean Oosthuizen en liberaliste soos Ralph Vorster. Hierdie mense en ander soos hulle probeer die Woord politiseer en val in die proses die inhoud van die geskrewe Woord, die Bybel, aan en skeur-en-sny daaruit na hartelus om hulle nuwe politieke humanistiese standpunte te probeer invleg by die Woord, baie soos ons deesdae sien met die rekenaarprogrammeerders se inlegsels (patches) wat hulle aanbring om ongewenste data te plak met meer aanvaarbare data.

Oosthuizen gaan so ver om te beweer dat dele van die Woord eenvoudig net nie meer geld in die 'moderne' samelewing nie en verwys so sydelings na Ou Testamentiese bepalings soos die verbod teen homoseksualisme, die steniging van oortreders van God se Wet (soos in die Mosaïese wette verwoord), ens. Hy maak verder die bewering, om sy humanistiese politieke standpunt te probeer regverdig in Bybelse konteks, dat die HERE Jesus Christus Homself nie oor homoseksuele 'huwelike' uitgelaat het nie en ook nie homoseksualisme afgekeur het nie.

Barnard en sy mede-kommentator van Tukkies, van Eck, verdraai weer die betekenisse omdat hulle dit nie in die volle konsekwensie daarvan begryp nie. Een voorbeeld van hulle hantering is voldoende demonstrasie. Hulle gebruik Levitikus 18:22, waar homoseksualisme verbied word, en koppel dit aan Levitikus 20:13. Hulle sê as mens die een nog moet gehoorsaam moet jy die ander (die voorgeskrewe steniging van die oortreders) ook gehoorsaam, wat tot absurde gevolge lei, of beide is vandag nie meer van toepassing nie en kan nie verstaan word soos dit daar staan nie. Hulle trek hierdie toepassing van hulle regdeur al die Mosaïese voorskrifte.

Maar hulle verstaan nie die Ou en Nuwe Testament nie. Die Ou Testament handel met verbode optrede en straf geldend gedurende die Abrahamitiese Verbond. Die Nuwe Testament handel met dieselfde verbode optrede en straf onder die nuwe en finale Messiaanse Verbond. Die straf vir die sonde teen God onder beide Ou en Nuwe Testamente is steeds die dood, net soos in die Ou Testament, ook vir diegene wat daarmee volhard (Romeine 2:12-13; 6:23; Openbaring 20:12) en in die Ou Testament deur die priesters volbring moes word. Maar die verskil tussen die Ou en Nuwe testament wat die straf aanbetref, is dat die Messias, die HERE Jesus Christus die Nuwe Verbond (Testament) tot stand gebring het deurdat HY die dood vir die sonde as plaasvervanger vir algar wie Hom aanneem, op Golgota gesterf het en só het HY die doodstraf – wat in die Ou Testament deur steniging voltrek was – aan die kruis gesterf namens, in die plek van, die sondaar. Sodoende behoort alle lewe en vlees aan die HERE Jesus Christus Wie die sondaar losgekoop het met SY Eie lewe en is dit vir daardie rede nie meer geoorloof om sondaars te stenig nie – Jesus die HERE het die doodstraf met SY Eie lewe kom voltrek. Wie egter met die sonde volhard, verloën die verlossingswerk van die HERE Jesus Christus en sal uiteindelik die finale dood sterf by die Oordeel en derhalwe is die prys, die straf, vir sonde steeds die dood (Mattheus 10:28; Lukas 12:4-5). Maar weens die Genadeverbond het die HERE Jesus Christus vir ons die tyd uitgekoop met SY Eie lewe, en het die sondaar nog tyd om te besin, verootmoedig en tot bekering en vergiffenis van sy sonde te kom voor dit te laat is (1 Timoteus 2:4; 4:10; Titus 2:11; 2 Petrus 3:9).

Al wat dus verander het, is die voltrekking van die doodstraf vir volgehoue sonde teen God. Die doodstraf het nie 'verval' nie, maar word uitgestel deurdat die sondaar nie meer nou met klippe doodgegooi mag word nie, maar geleentheid tot bekering gegun word om die doodstraf by die Oordeel vry te spring en daardie geleentheid het die HERE Jesus met SY Eie lewe vir ons gekoop.

Baie van die Mosaïese wette was sosiale-, gesondheids-, landbou- en gemeenskapsvoorskrifte vir 'n volk wat in die woestyn moes trek vir baie jare en, weens hul Egiptiese verslawing waaruit hul pas verlos was, nie sosiale strukturering, landbou en gemeenskapsregulering geken het nie, en het God hulle dus gelei daarin. Baie van die kos en diere wat belet was, was omdat daar nie sanitêre geriewe was nie (vandaar die voorskrifte ten aansien van persoonlike kontak tydens maandstonde vir vroue, ens), en varkvleis, byvoorbeeld, baie maklik parasiete gedra het en kon verderf in die woestynhitte, en so ook baie seekosse (skulpvis) en sekere voëlsoorte, ens. Maar soos hul gevorder het, tot by die Nuwe Testamentiese tye, het hul omstandighede ook verander en was die streng reëls nie meer nodig nie weens verbeterde lewensomstandighede.

Die voorskrifte ten aansien van God se wense vir die mens en hulle verhoudinge onderling en met God – welke losbandigheid en homoseksualisme insluit – bly natuurlik onveranderd.

Die voorskrifte van die Ou Testament is dus mutatis mutandis uit hoofde van die Nuwe Testament ook van toepassing vandag (sien Mattheus 5:17-19). Net die tyd en metode van straftoemeting het verander deur die verlossingswerk van Christus die HERE.

Verder word die suggestie gemaak dat mens slegs kan glo (andersins verstaan mens kwansuis nie die Skrif nie) indien jy ook onderlê is in die antieke geskiedenis om die tekste in die Skrif in die lig daarvan te kan interpreteer – maar watter absolute wanvoorstelling is dit nie. Hoeveel mense het toegang tot die antieke geskiedenis en waar staan dit in die Woord dat so iets belangrik is? As dit waar moes wees, sou slegs die ketterende paar teoloë en studente (wat antieke geskiedenis bestudeer) kon glo want net hulle sou kwansuis dan die Skrif, die Woord, kon verstaan ... hoe durf hulle mense so probeer bedrieg? Dit is valse leringe, spirituele leuens wat geen aansluiting by die Woord het nie.

Die Heilige Gees van God lei die opregte gelowige in die uitleg van SY Woord, SY Skrif (Johannes 14:24-26).

Die HERE Jesus Christus sê tydens die beroemde Bergpredikasie in Mattheus 5:17-19 dat HY nie gekom het om die wet (Ou Testament) of die profete te ontbind nie, maar om te vervul. Die HERE waarsku ook dadelik dat nie een jota of tittel van die wet sal verbygaan totdat alles gebeur het nie en dat elkeen wat die minste van die gebooie verbreek, en die mense só leer, die minste in die koninkryk van die Hemele genoem sal word – dit is presies wat hierdie mense doen.

Sodoende bevestig die HERE Jesus die geldigheid en afdwingbaarheid van Levitikus 20:13, wat homoseksualisme direk, onvoorwaardelik en ondubbelsinnig verbied, wat ook al die doel of omstandighede. Sien ook Levitikus 18:22; Deuteronomium 23:17; Rigters 19:22. Ook in die Nuwe Testament word die praktyk van homoseksualisme sonder voorbehoud of uitsondering eweneens as sondig en strafbaar uitgewys en dit sluit ook ondubbelsinnig beide geslagte in – sien 1 Korintiërs 6:9 en Romeine 1:26-27.

Maar die HERE Jesus spreek Hom ook direk oor die huwelik uit – en by noodwendige implikasie, homoseksuele verbintenisse. Die kwessie van die huwelik het direk ter sprake gekom. God het die huwelik aanvanklik ingestel. In Genesis 2:18 stel God dit duidelik dat HY vir Adam 'n hulp sal maak wat by hom pas – let wel – en só word die vrou Eva – nie nog 'n man nie - geskape uit Adam se gebeente. Nie 'n ander man nie, maar 'n vrou. Fisies, emosioneel en geslagtelik word die vrou deur God spesifiek geskape om by die man te pas. Beide word met bepaalde en spesifiek ontwikkelde geslagsdele toegerus om by mekaar te pas en te kan prokreëer en hulle liefde vir mekaar te verinnig en veral te konsumeer in de huwelikstaat. Die HERE Jesus bevestig hierdie aspek direk en in soveel woorde in Mattheus 19:4-6 en maak selfs die onderskeid dat man en vrou – by name - voor God één word deur die huwelik – ondenkbaar in die geval van twee mense van dieselfde geslag. Sien ook Efesiërs 5:31.

Daar is ook nie 'n enkele wet in die Ou Testament of daarna, wat 'n huwelik tussen twee mense van dieselfde geslag sanksioneer nie. Daar is egter verskeie wat handel oor die huwelik, en verwys direk na 'n samevoeging en konsumering tussen man en vrou.

Dit was dus nie nodig vir die HERE Jesus om Homself teen homoseksualisme uit te spreek nie – hoewel dit 'n praktyk is wat (onder 'n ander naam, waarskynlik) destyds alreeds bekend was. Dit was eenvoudig aanvaar dat 'n seksuele verhouding tussen mense van dieselfde geslag sondig en taboe is (hoe meer duidelik kan dit gestel word as in Romeine 1) en dat 'n huwelik slegs verwys na die permanente verbintenis tussen 'n man en 'n vrou. Die aansprake van hedendaagse homoseksualiste om hul homoseksuele verbintenisse gewettig en erken te kry, is 'n nuwe politieke verwikkeling strydig met Gods Woord onder druk van moderne sekulêre politieke humanisme (wat rebellie teen God is, juis omdat sekulêre humanisme die mens en sy belange bo God se belange stel), welke politieke aspirasies meer as tweeduisend jaar gelede nie bestaan het nie, en derhalwe was dit nie nodig vir die HERE Jesus om tóé reeds Homself direk daarteen uit te spreek nie, veral nie in die lig van SY direkte bevestiging van wat die huwelik eintlik is synde tussen man en vrou. Die Woord is dus universeel en tydloos genoeg om ook vir die moderne sekulêre aanslae voorsiening te maak. Die Woord is steeds net so duidelik soos destyds betreffende die verbod op homoseksuele verbintenisse.

Mens wat dus aandring om 'n homoseksualistiese leefstyl te lewe, ongeag die motief, oortree God se direkte en duidelike verbod en sal direk aan God daarvoor verantwoording (moet) doen want dit is 'n saak tussen mens en sy Skepper, God. Om die Woord in daardie verband te probeer verdraai en te verkrag met allerlei kunsmatige interpretasies om so 'n leefstyl Spiritueel te probeer regverdig, is net so sondig (sien Spreuke 30:5-6; Hebreërs 4:12; 2 Timoteus 2:15; Openbaring 22:18-19).

Kobus de Klerk

  • 13

Kommentaar

  • Kobus De Klerk,

    Jy skryf: "Die Heilige Gees van God lei die opregte gelowige in die uitleg van SY Woord, SY Skrif". Maar in jou onlangse vorige skrywe beweer jy dat slegs "fisiese kontrole" enige "standaard teorie" kan bewys.

    Hoe verduidelik jy dat die "leiding" van een of ander "gees" genoegsaam is om die bybel se antieke gebruike en voorskrifte op die huidige moderne samelewing van toepassing te maak, maar in dieselfde asem sê jy sterrekundiges moet al die pad Jupiter toe vlieg om "fisies" te gaan kyk of die mane daar is?

    Hoe werk dié saak dan nou?

    • Kobus de Klerk

      Rigter,

      Weens jou agnostisisme ken jy nou natuurlik nie die Heilige Gees van God nie, maar HY is betrokke en teenwoordig by die totstandkoming van al daar die dinge waaroor SY Woord getuig. En natuurlik, die Heilige Gees gee dit vir ons vandag nog in dat dit betroubaar is. Die getuienis omtrent die betroubaarheid van die Woord is dus primêre, direkte getuienis vanaf die Skepper.

      Daar is dus nie beter getuienis nie. Ander verifikasie in die omstandighede is dus nie nodig nie, hoewel, as mens oplettend is en ontvanklik is vir die Waarheid (wat maak dat jy die Waarheid verstaan), sien mens gedurig om jou heen ander verifiërende getuienis ook.

      As jy dus die Woord kon verstaan, die diepe insig daaromtrent kon bemeester, sou jy nie hierdie vraag aan my gestel het nie. Jy sou weet dat die Heilige Gees daardie 'antieke' Waarheid - wat eintlik universele Waarheid is - wat in die geskrewe Woord opgeteken is, vandag nog vir ons uitlê vir die universele Waarheid wat dit is, sodat ons dit vandag mutatis mutandis net so van toepassing vind soos destyds.

      Kobus de Klerk

  • Kobus
    Soos gewoonlik vaar jy weer uit teen een of ander verbeelde vyand in die waan dat SêNetters soos jy dink – en dit is dat jy alle kennis in pag het. Ek is ’n natuurwetenskaplike en soek maar leiding vir kwessies waaroor ek nie die nodige kennis of insig het nie, by mense wat in hulle onderskeie vakgebiede bewese kundiges is. In antwoord op jou vuur en swael veroordelende skrywe tov mense met ’n homoseksuele oriëntasie het ek bietjie gaan kers opsteek by wat die godsdienswetenskaplikes en akademiese kenners van die ou- en nuwe testamente van die bybel oor die onderwerp te sê het.
    Prof Hansie Wolmarans is ’n wêreld-erkende kundige van die Griekse taal en ’n nuwe testamentikus wat wyd gerespekteer word en verskeie internasionale boeke en portuur-geëvalueerde artikels op sy kerfstok het. In my baie noue ervaring met hom kan ek getuig van sy onberispelike integriteit as wetenskaplike en mens.
    In ’n goed beredeneerde stuk benader hy die kwessie van homoseksualiteit uit vyf invalshoeke: wetenskaplike insigte oor homoseksualiteit; ʼn teologiese definisie van sonde; ses bybelse tekste; ses populêre argumente; en Jesus se houding. Volle beredenering van sy standpunt kan op op die Nuwe Hervorming Netwerk se webblad gesien word by http://www.nuwe-hervorming.co.za. Ek gee slegs die essensie van die gevolgtrekkings van sy goed beredeneerde wetenskaplike argumente hieronder:
    1 Wetenskaplike insigte oor homoseksualiteit;
    Die wetenskap sê seksuele oriëntasie is nie ʼn patologie nie en kan nie verander word nie. Dit is baie soos linkshandigheid of blou-ogigheid.
    2 ʼn Teologiese definisie van sonde
    ʼn Werkbare teologiese definisie is dat sonde dit is wat jouself, ander of die omgewing skade aandoen. Homoseksualiteit is dus nie ʼn sonde nie; homofobie is.
    3 Ses bybelse tekste
    Hoewel die bybel homogenitale kontak ken, en dit oorwegend afwys, is dit duidelik dat die bybel homoseksualiteit nie as ʼn oriëntasie verstaan nie. Die bybelskrywers, almal mans, is oor die algemeen onbewus van vroue wat tot mekaar aangetrokke voel. Die Adam en Eva fondasiemite is waarskynlik een van die groot redes vir die vooroordele binne die Jodedom en die Christendom teen homoseksualiteit.
    Bybelvertalers is, volgens prof. Wolmarans, akademies oneerlik. In bybelkontekste gaan dit heel duidelik oor sondes wat die sosiale orde bedreig. Gevolglik is meer verantwoordelike vertalings van die betrokke Griekse terme eerder iets soos “seksuele perverte” of “pedofiele”. Die sondelysie is weereens onbewus van vroulike homogenitale kontak.
    4 Ses populêre argumente
    Populêre argumente berus ook op vooroordeel en gebrekkige inligting. Mense misbruik die bybel as ʼn verskoning vir hulle eie onverdraagsaamheid, seksisme en homofobie. Daar is genoeg van liefde, genade en onvoorwaardelike aanvaarding in die bybel om ʼn siek samelewing en siek kerke profeties aan te spreek. Mense soos Kobus is so behep met hulle eie insigte en gewaande kennis dat hulle gewoon nie in staat is om behoorlike navorsing te doen nie.
    5 Jesus se houding
    Jesus het dié wat as onrein en gestigmatiseerd beskou is, ingetrek. Ons behoort dieselfde te doen. Christelike kerke behoort die moed van hulle oortuiging te hê om eenslagtige huwelike te bevestig, homoseksueles in hulle ampte te verwelkom, en die LGBTQ’s van ons wêreld pastoraal te versorg.
    Miskien is ʼn aangepaste vorm van Galasiërs 3:28 van toepassing: “Daar is nie langer Jood of Griek, slaaf of vry, daar is nie langer man of vrou; straight of gay nie; want julle almal is een in Christus Jesus.”
    Kobus, jou homofobiese vuurspuwery hier op die Sê is, net soos jou gebrekkige kennis van die sterrekunde, hoogs lagwekkend maar inhoudelik is dit leeg en ontdaan van enige gesag. Doen ’n slag moeite en kyk wat sê regte kenners oor ’n onderwerp voordat jy ons weer kom verveel met jou kortsigtige stiksienigheid.
    Groetnis daar in Kammaland
    Thomas

  • Jean Oosthuizen

    Kobus de Klerk maak ʼn hele paar taalfoute, denkfoute en feitefoute.
    Ek reageer gewoonlik nie op sulke briewe nie maar aangesien hy my betrek net ʼn paar opmerkings ter wille van die rekord en daarmee volstaan ek.

    Die gesprek en die belangstelling wat dit uitgelok het is egter van belang en dit is bemoedigend om te sien hoe die gety tog aansienlik besig is om wêreldwyd in beskaafde lande ten gunste van groter verdraagsaamheid te draai. Ook in Suid-Afrika as mens die luide geraas van die homofobiese koor buite rekening laat. Die stille meerderheid dink anders.

    Eerstens bestaan daar nie ʼn woord soos homoseksualisme nie. Tweedens kom die woord homoseksualiteit soos ons dit vandag ken nêrens in die Bybel voor nie. Die Bybel lewer géén uitsprake oor permanente verhoudings tussen mense van dieselfde geslag nie. Dit word nie goed óf sleg gepraat nie. Die Bybel lewer geen uitspraak daaroor nie. Jesus ook nie.

    Mense soos De Klerk lees die Bybel uiters selektief. Sommige verse in Levitikus word as die evangelie voorgehou maar ander verse ignoreer hulle. Mens kan maar net die betrokke verse gaan lees om te sien hoe selektief daar met die Bybel omgegaan word.

    Dit is algemene kennis dat Jesus hom nie oor homoseksualiteit uitgelaat het nie en iemand wat beweer Jesus het dit wel gedoen praat nie die waarheid nie. Nie eers by implikasie nie. Die inlegkunde wat gepleeg word om te probeer bewys Jesus het homoseksualiteit afgekeur hou geen water nie. Maar selfs Jesus se uitsprake word nie meer alles nagekom nie, selfs nie deur mense soos De Klerk nie. Anders moes hy al sy goed uitdeel en aan die armes gegee het.

    Lang akademiese relase en woordgimnastiek soos die van De Klerk en ander wat sy standpunt deel bied geen oplossing nie. Die uiteindelike vraag is wat sou Jesus vandag met die kennis tot ons beskikking oor die saak sê.

    De Klerk spring so rond in sy argumentasie oor watter Ou Testamentiese wette nog geldig is en watter nie dat mens later glad nie meer weet wat is nou wat nie.
    Nog een van die talle voorbeelde waar De Klerk mistas is wanneer hy na huwelike van die Ou Testament verwys asof mens dit kan gelykstel met dit wat vandag as ʼn huwelik beskou word. Die twee is so ver van mekaar verwyder soos oos en wes. Oor huwelike in die Bybelse tyd kan mens ʼn boek op sy eie skryf. Poligame huwelike was aan die orde van die dag, dogters is as bruide verkwansel en vroue is as mans se besittings beskou.

    Kobus de Klerk is natuurlik heeltemal geregtig om sy eie interpretasie aan die Bybel te heg al is dit hoe vreemd en onbybels. Niemand verwag ook van hom om homoseksuele mense te omhels nie. Al wat redelike mense vra is dat homoseksuele mense toegelaat moet word om ʼn normale lewe te lei soos wat heteroseksuele mense toegelaat word om te doen. Niemand word gevra om die ander se oortuiging te deel as hy of sy nie wil nie.

    Mens hoef maar net na die taalgebruik en homofobiese moddergooiery op sosiale media te kyk om te besef hoe ver verwyder sulke gedrag van dit is wat Jesus verkondig het. Dalk moet mense soos Kobus liewer weer vir ʼn slag 1 Korintiërs 13 gaan lees en meer aandag gee aan die liefde. Want uiteindelik was dit Jesus se kernboodskap op aarde.

  • Sodom, Gomorra, Alexandrië, hulle was en is nie meer nie en sal weer wees en sal weer nie wees nie. Sodomie is bekend van die oudste tyd af, dis nie 'n ongekose toestand nie, dit is en was nog altyd 'n keuse wat deur G_dloses gemaak was. Regdeur ons geskiedenis het dit opgeduik in beskawings wat aan die val was, Griekse ryk, Romeinse ryk ens.
    Dit begin klein en word uiteindelik met groot opslae gewettig, om weer later herken te word vir wat dit is en dit gaan skuil weer in die vuil krake van die mensdom.
    Om daaroor te argumenteer is tydmors, die siklus gaan voort . Dit is veral 'n merk van beskawings wat aan die uitmekaarval is, hand aan hand met 'n reuse afname in geboortes. Namate 'n beskawing verval in G_dloosheid verloor hulle ook vertroue in die toekoms, hul fokus rus dan op materiële besittings en plesier, alle vorms van plesier wat sodomie insluit.
    'n Riller wat volg kort op die hakke van die wettiging van sodomie is die aandrang van pedofiele dat hul walglike doen en late gewettig moet word, nes in antieke Griekeland en Rome, waar vet ou drêksakke jong seuns as plesiervoorwerpe kon aanhou, veral slawekinders het deur hel gegaan, alles met die goedkeuring van die "verligte" beskawing.
    So, wat is nuut? Absoluut niks. Nes die Bybel sê, daar is niks nuut onder die son nie.

    Duitswester

  • Aag Duitswester

    Soos oudergewoonte stel jy jou absolute onkunde ten toon mbt die geskiedenis asook 'n algehele verkragting van feite met jou uiters subjektiewe aannames.

    Indien jy jou onder die ingeligtes wil skaar, BEWYS eerder jou stellings, dws bewys dat daar 'n verband bestaan tussen homoseksualiteit en die ondergang van nasies; tussen homoseksualiteit en enige nasionale geboorteafnames; asook tussen homoseksualiteit en goddeloosheid.

  • Thomas
    Ek het jou skakel mbt Prof Wolmarans gelees en dit uiters geniet.
    Net een ding wat my altyd verwar (perplex) en dit is dat Christene wat sê dat die Bybel nie letterlik opgeneem moet word nie, of dat dit nie deur God ge-inspireer of "ge-dikteer" is nie, dit wel so gereeld selektief aanhaal om 'n persoonlike godsdienstige stelling te staaf asof dit wel God is wat dan gepraat het.
    Sonder die Bybel sou daar nooit vandag 'n Christen gewees het nie, want die hele ontstaan van die Christendom is aan die Bybel te danke, want daar is geen ander bron waaruit die Christendom spruit nie. Kennis aangaande Jesus is uitsluitlik aan die Bybel te danke en aan geen ander antieke bron nie.
    Ons, en die meerderheid Christene weet dat die oorweldigende bewyse van die moderne wetenskap en sosiale ewolusie, nie Bybels weerlê kan word nie. Nou word daar gepoog om die wetenskap en die Bybel met mekaar te versoen, met die gepaardgaande aanpassings in godsdiens, gevolglik, in die proses word die Bybel se gesaghebbendheid afgewater.
    My persoonlike deduksie is dat enige Christen wat die Bybel, die BRON van hulle geloof, enigsins, hoe gering ook al kelder, kelder die Christelike godsdiens in sy geheel.
    Indien in die Christen-god geglo word, moet in die Bybel as die Woord van God geglo word. Indien nie, moet sodanige persoon liefs glad nie in enige god glo nie, want die fondasie van sy geloof, nl die Bybel, is onder sy voete uitgeruk.

    • Kobus de Klerk

      Jaco,
      Interessante siening wat jy koester, maar jy is nie korrek wanneer jy sê dat die Christelike Godsdiens sy bestaan aan die Bybel te danke het nie.
      As jy bietjie die geskiedenis nagaan, sal jy bemerk dat die Christelike Godsdiens sy rotsvaste bestaan had sonder die Bybel as sulks. Die Bybel het agterna gekom - nie as ontstaansbron nie, maar as hulpmiddel vir vele.
      Jy moet ook probeer begryp en insien dat die Christelike Godsdiens 'n geïnspireerde Godsdiens is - dus op Geestelike (Spirituele) vlak bestaan en bly voortbestaan ten spyte van eeue lange pogings tot verdagmaking en teenkanting vanuit baie rigtings. Dit sal jy werklik begryp as jy besef en aanvaar dat die HERE Jesus Christus, die Woord van God, leef en bestaan en SY Krag aan die Woord verleen.
      Maar omdat daar so baie kettery en wanvoorstellings en afgodery is onder die mensdom, het God besluit dat SY Woord in beknopte vorm op Skrif gestel moet wees om te dien as verwysingsbron - juis ook vir diegene wat nog nie heeltemal gevorder het tot 'n werklike persoonlike verhouding met Hom nie. Vandaar dat HY die geskrewe Woord seën en bekragtig, ten spyte van aanvalle en teenkanting vir baie eeue al.
      In die lig van bogenoemde is jy dus heeltemal reg wanneer jy sê dat indien iemand sê dat hy in God glo, moet in die Bybel as die Woord van God geglo word en indien nie, moet sodanige persoon liefs glad nie in enige god glo nie, aangesien die geskrewe Woord van God nie verwerp kan word sonder om teen God in opstand te kom nie. Dit is logies - mens kan nie sê hy glo in God, maar in dieselfde asem God se Woord verwerp of probeer verdraai nie - dan glo hy eintlik in niks.
      Kobus de Klerk

  • Terwyl ek hierbo lees, wonder ek hoekom homoseksualiteit enigsins in die Bybel aangespreek word.

    Ek het al ( vir Jaco Fourie ) daarop gewys dat evolusie en homoseksualiteit nie versoenbaar is nie.

    Raed-na-Gael

  • Jaco,
    How Civilizations Die deur David P. Goldman sal ver gaan om jou kennis te verbreed. Jy kan beslis daarmee doen.
    En wat jy die "Bybel" noem, onderskei asb tussen die Bybel en die sg Nuwe Testament. Die twee is totaal verskillend en die geloof wat uit die Nuwe Testament ontstaan het is hoegenaamd nie versoenbaar met die Bybel nie.
    Maar hier is darem iets wat jou beter behoort te laat voel, Australië blyk naby te wees aan die "recognition" van sodomitiese samesyne, genoem huwelike.
    En dan sal al die sodomiete verwag dat die hele nasie in nasionale selfbewondering sit en oe en aa.
    Hoe pateties tog, Oor so 'n honderd jaar kom die mensdom weer bietjie by en stop al hierdie snert, soos talle male in die verlede. O, sorrie man, jy het nog nie die moed gehad om feite te lees nie.
    Duitswester

  • Duitswester
    Soos altyd, bontspring jy. Jy het steeds nie die volgende vir die leser feitlik bewys nie, afleidend van jou insiglose emosionele stellings, nl:
    "Bewys dat daar 'n verband bestaan tussen homoseksualiteit en die ondergang van nasies; tussen homoseksualiteit en enige nasionale geboorte-afnames; asook tussen homoseksualiteit en goddeloosheid."
    Jy noem David Goldman as jou bron sonder enige aanhalings vanuit sy boek "How Civilizations Die" om bogenoemde van jou te staaf. Goldman se doktorale spesialiteit is in elk geval ekonomie en musiek.
    Sy boek handel hoofsaaklik oor die ondergang van Islam in die Midde-Ooste as gevolg van geboorte-afnames en post-nasionalisme daar, in 'n gebied waar homoseksualiteit hewig onderdruk word.
    Om net 'n gerespekteerde naam mbt ekonomie rond te slinger bewys nie jou stellings oor homoseksualiteit nie.

  • Duitswester
    Het jy vergeet ek is 'n ateïs? Wat godsdienstig geglo word mbt die Ou en Nuwe Testament, hetsy gesamentlik of afsonderlik traak my eintlik nie. Waar jy my in my respons aan Thomas aanhaal, word dit deur jou buite verband gedoen. My respons aan Thomas was op die Christen gemik wat beide die Ou en Nuwe Testament as sy geloofsbron beskou. So wees asseblief konsekwent.
    Probleme wat jy met sodomiete het, is jou eie bobbejaan wat jy op jou eie skouers dra. Die res van die Australiese bevolking gaan dit nie met jou deel nie. Jou vooroordelende skrywes toon jou aan as 'n persoon wat blykbaar nie die vermoë het om heldersienend te kan wees nie.

  • Kobus
    Miskien het ek myself nie duidelik uitgedruk nie, want ek is met jou eens mbt die gebeurlikhede van Jesus se lewe en bediening wat jare later eers opgeteken is in wat nou as die Nuwe Testament bekend staan.
    Jesus is die oorsprong van die Christelike geloof, welke geloof deur sy apostels na sy dood bevorder en opgeteken is. Dit is in hierdie optekening waaruit die Christen vandag sy geloof se bestaan aan te danke het. Dit is uiters onwaarskynlik dat die Christengeloof sonder hierdie opgetekende rekord, verder as die eerste eeu verby sou gesien het nie.
    Die daaropvolgende kerkvaders soos Tertulian, Origen, Augustinus, ens se optredes was hoofsaaklik hulle kommentare, vertolkings en uitbreidings op die geskrewe optekening van die apostels. Sonder die Nuwe Testament was daar geen rede vir hulle skrifte nie. Dieselfde geld vir die magdom Bybelkommentare vandag.
    Weereens. Ons kennis van Jesus se lewe is uitsluitlik aan die Nuwe Testament te danke en vanuit geen ander antieke bron nie. Dus herhaal ek dat die Nuwe Testament die bron van kennis van Jesus se lewe is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top