Hoekom homophobia die nuwe apartheid is

’n Jarelange vriend wysig onlangs sy Facebook-profiel na “Interested in: Men.” By sy “About me” skryf hy die mees hartroerende bekentenis sedert Ellen Page se coming-out toespraak vroe?r vanjaar by die Time to Thrive-konferensie in Las Vegas. Hy het die volgende dag alles van sy profile verwyder, maar sy pogings om skadebeheer toe te pas was futiel; dié van sy vriende en kennisse wat hulle News Feed nougeset volg, sou dit sonder twyfel nie kon misloop nie.

Ek bel hom later van my selfoon af. Is dit waar wat ek op Facebook gesien het? Ek móés eers vra want ek glo nie altyd alles wat ek lees nie, veral nie op sosiale netwerke nie. Miskien was dit sy idee van ’n joke. Of dalk was sy rekening gehack. Of hy het moontlik ’n weddenskap verloor en moes hy sy naam só gat maak. Maar hy sê: nei, my broe’, dis waar. Hy het die vorige aand te veel rum en coke gehad en, wel, drank laat ’n mens stupid goed aanvang. Hy’t dapper genoeg gevoel om uit die kas te kom, maar is nou spyt daaroor. Wat doen hy nou? Hy het bang geklink. Bang dat ek hom as vriend sou afskryf. Bang vir die gemeenskap se reaksie.

My aanvanklike reaksie was om in vyftien jaar se geheue rond te krap op soek na die tekens. Hulle sê wanneer iemand uit die kas kom, is dit gewoonlik nie nuus vir ander nie want die tekens was altyd daar. In hierdie geval was daar egter nooit tekens nie. Hy’s een van die mees straight ouens wat ek ken. In sy profielfoto’s op sosiale netwerke pose hy gewoonlik met donkerbrille en daardie gangster-handgebare. Mind you, die mense sê altyd hy loop en praat ook soos ’n gangster. En dan is daar natuurlik sy meisie van die afgelope drie jaar.

Maar maskuliniteit beteken nie noodwendig heteroseksualiteit nie. Hierdie goed kan dalk net o?verblindery gewees het.

Ek kon nie veel daaroor besin nie want my vriend het my ondersteuning nodig gehad. Ons het saam grootgeword, hy vertrou my oordeel, so dit is my plig om hom by te staan. Ek erken ek is nie goed met sentimentele sake nie; ek sal veel eerder dat hy aan Antie Mona van Die Son skryf, maar ek kon hom nie in die steek laat nie.

Wat sê ’n mens aan iemand wat bieg hy’s gay? Skielik was ek spyt ek het nie meermale na Dr Phil op TV gekyk nie. Daai ou het altyd geweet hoe om social issues te tackle; ek kon nou ’n hele paar tips in my sleeve gehad het. Maar toe kom die besef: wat van my gunsteling TV-programme? In Glee kom die karakter Kurt uit teenoor sy pa; ook in Happy Endings erken Max teenoor sy ouers dat hy van dudes hou. Die reaksies op die skerm was altyd dieselfde: “Jy bly ons seun en ons is steeds lief vir jou.” Voorspelbaar, maar veilig. Ek het vir ’n oomblik oorweeg om ook daai te sê: “Jy bly my bra, en ek’s steeds lief vir jou.” Maar die Bybelse Dawid-Jonathan-approach het ’n bietjie awkward geklink. Ek wou toe vir hom sê, hou gou ’n paar minute aan, dan kon ek vinnig iets Google. Iets soos what to say when your friend tells you he is gay. Maar ek het geweet die resultate sal my neem na webtuistes waar elke Jan, Rap en sy maat pretend om professionele sielkundiges en sosiale werkers te wees. Dus besluit ek toe, fok TV-programme en Google, ek sal my eie manier kry om hiermee te deal.

Ek wou eers my vriend hoop gee. Dalk is jy nie regtig gay nie. Miskien is dit ’n eksperimentele fase waardeur jy gaan. Of dalk is jy biseksueel – dit klink darem effe beter as om heeltemal skeef te wees. Maar maak nie saak hoe ’n mens daarna kyk nie, hy’s steeds aangetrokke tot dieselfde geslag. En in ons gemeenskap met sy konserwatiewe en heteronormatiewe waardes is dit ’n verafskuwing. Ek en my vriend weet dat hierdie wolk nie eintlik ’n silwer randjie het nie. Of jy nou gay, bi of confused is – jy is verdoem. Die mense gaan jou target. Die gangsters gaan jou eliminate soos hulle vir Plonsie, ’n jong transvestiet in ons gemeenskap, keelaf gesny en in die veld gaan dump het. By jou begrafnis gaan die kerkbroers hulle koppe skud en dink: shame, vandag brand hy in die ewige poel van vuur want hy wou mos nie sy gaygeit laat staan nie.

In ons straat het daar destyds ’n gay tiener gewoon. Sy regte naam was Lance maar hy het homself Tamara begin noem. Hy het soms vroueklere gedra. En ’n pruik en make-up. Dan, as hy so straataf stap, het die kinders hom gespot: “Kyk daar loop daai bunny!” En die ho?rskool drop-outs, wat heeldag op die staathoek rondhang, het geskree: “Eksê Evita Bezuidenhout, hoe lyk ’it? Wil jy nie my piel kom suig nie?” en dan rol hulle soos hulle lag. Niemand wou met die gay tiener maats wees nie. Hy het darem een of twee vriendinne gehad, maar al die ouens in die buurt het wye draaie om hom gegooi. Ek inkluis. Nie omdat ek wou nie, maar omdat ek móés. Om in die company van ’n moffie gesien te wees, is amper net so erg as om een te wees. Van al die straight ouens is daar verwag om die gemeenskap se gays en hul leefstyl ten sterkste te veroordeel.

Toe, eendag verklaar my niggie haarself as ’n lesbiër. Die familie was dit te wagte want in haar geval was die tekens daar. As kind het sy met die seuns krieket in die straat gespeel, sy het altyd verkies om mansklere te dra, en het later haar hare kort begin skeer. Dit beteken nie dat die familie minder gewalg is deur die idee van twee vroumense saam in die bed nie. Die meeste ooms en tantes, neefs en niggies, kom darem later poker-faces wys en maak of hulle cool is met haar seksualiteit. Maar namate ek gewoond geraak het aan die idee van ’n lesbiër in die familie was ek meer verdraagsaam teenoor gays.

Boegenoemde gevalle bewys dat homophobia soortgelyk is aan apartheid. Daar is die diskriminasie gebaseer op seksuele voorkeur in plaas van velkleur. Tydens apartheid was bruin en swart mense ontneem van sekere voorregte of verbied om sekere plekke te besoek. Net ’n paar jaar gelede in my tuisdorp is ’n gay paartjie toegang tot ’n gastehuis geweier – ’n insident wat die gemeenskapskoerant gehaal het. Dan is daar die geweld teen lede van die LGBT-gemeenskap. Plonsie was net een van die baie homoseksueles in Suid-Afrika wat die slagoffers van homophobia was. David Olyn van Ceres, Aswin Albrecht van Manenberg, die gay nagklubeienaar Bruno Bronn, en Sihle Skotshi in ’n Kaapse plakkerswoonbuurt, om ’n paar op te noem, het almal hul lewens verloor aan haatmisdade. Soos apartheid aanleiding gegee het tot neerhalende terme, is daar ook maniere hoe homofobe op aanstootlike maniere na homoseksueles verwys: moffie, bunny, nancy, trannie en queen. Soos interrassige romantiese verhoudings tydens apartheid taboe was, word homoseksuele verhoudings vandag in sommige gemeenskappe nog ten sterkste veroordeel. Waar bruin en swart mense in die verlede hulself teen apartheid verset het deur openbare, soms gewelddadige betogings, protesteer gays vir hul gelykheid deur middel van gay pride-optogte. Nes bruin en swart tydens apartheid die gemarginaliseerdes van die samelewing was, is gays vandag steeds randfigure.

Maar een ding weet ek: nes baie blankes teen apartheid was, keur menige heteroseksuele nie die onregverdige behandeling van gays goed nie en veg hulle ook vir gay-regte. Ons sal dalk nie gou die negatiewe houdings teenoor gays kan uitroei soos met apartheid nie, maar ten minste is nie alle straight mans – ek inkluis – homofobe nie. Dis die skrale troos wat ek my vriend gegee het.

Foto's voorsien.

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top