Hoe verklaar jy dit? 2: ’n onderhoud met Danny Fourie

  • 0

Hoe verklaar jy dit? #2
Samesteller: Danny Fourie
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781776092031

Danny Fourie wat Hoe verklaar jy dit? #2 saamgestel het, vertel vir Naomi Meyer oor dié boek.

Danny, die radioprogram Hoe verklaar jy dit? word beskryf as “Wetenswaardighede oor die natuur en die wetenskap”. As jy die boek Hoe verklaar jy dit? #2 moet beskryf, hoe sou jy dit definieer?

Ek hou van Carl Sagan (1934–1996) se opmerking: “Iewers wag iets ongeloofliks om kenbaar te word.” Die wetenskap is heeldag besig om die wêreld om ons kenbaar te maak. Die lekker van ’n boek soos Hoe verklaar jy dit? #2 is om ’n keur van vrae oor die wêreld om ons vir lesers op ’n gesaghebbende manier kenbaar te maak.

Is die vrae wat hierin beantwoord word, ook vrae wat oor die radio beantwoord is? Of hoe is bepaal watter vrae in die boek opgeneem sal word?

Al die vrae in die boek kom uit die radioprogram. As samesteller luister ek na die programme en besluit dan watter vrae ons in die boek sal opneem. Ek het egter (gelukkig!) nie die laaste sê oor watter vrae die boek haal nie. My riglyn is om dié vrae met ’n hoë interessantheidswaarde te kies wat natuurlik ook wel leersaam en nuttig is.

Wie beantwoord die vrae in die boek (wie is al die medewerkers)? 

Henk Geertsema – ekoloog en entomoloog
Hendrik Geyer – fisikus en direkteur van STIAS
Jannie Hofmeyr – biochemikus
Dave Pepler – ekoloog
Le Fras Mouton – plant- en dierkundige
Piet Eloff – klimatoloog
Bennie Schlomms – grondkundige
Jurie van den Heever – paleontoloog.

Wat is die soort dinge waaroor mense wonder, gemeet aan die vrae wat die meeste aandag trek nadat dit op die radio bespreek is?

Dit is werklik wyd uiteenlopend. Weerstoestande en weerstelsels oor Suid-Afrika; die planete en die ouderdom van die aarde; die diereryk en diere se rol en lewensiklus en dinge soos die rol van ’n sebra se strepe; chemiese stowwe en die samestelling daarvan en dinge soos is dit waar dat peper sewe jaar neem om te verteer; liggaamsfunksies en dinge soos waarom mense verskillende kleure oë het en ’n mens so min van hartkanker hoor; fisika en dinge soos hoe vinnig draai die aarde werklik en waarom borrel water as dit kook; plante en hoe gevaarlik is gifstowwe in plante vir mense. Letterlik oor alles waaroor mense wonder.

Watter van hierdie vrae het jou persoonlik geïnteresseer of het jy self oor gewonder? Of: noem dalk ʼn paar eienaardige vrae wat in die boek beantwoord word?

Ek het ook grootgeword met die ouvroustorie dat peper sewe jaar neem om te verteer. Wanneer ’n mens logies daaroor dink, is die antwoord eenvoudig. Vrae wat my interesseer: Waarom traan ’n mens se oë as jy uie sny? Hoe werk die Richterskaal? Watter proses word gevolg om vegvliegtuie feitlik onsigbaar vir radar te maak? Kan ’n mens oornag grys word? Waarom praat papegaaie?

Interessante vrae wat beantwoord word, is: Hoekom hardloop atlete antikloksgewys om die baan? Waarom is daar altyd wind by die see? Word visse dors en waarom smaak seevisse nie sout nie? Hoe word muile geteel? Hoe kry ’n verkleurmannetjie dit reg om van kleur te verander? Hoekom is die hart links in die borskas geleë?

Is daar vrae wat nié die boek gehaal het nie wat jy kan noem?

Daar was nie spesifieke vrae wat nie die boek gehaal het nie. Soms was daar vrae oor die evolusie van die mens, maar ons het geoordeel dat lesers nie in hierdie debat sou belangstel nie. Vrae wat ons wel nie ingesluit het nie, was ’n paar vrae oor spesifieke spinnekoppe en die gepaardgaande aragnofobie. Dit is egter vanweë tegniese redes weggelaat en sal hopelik in ’n volgende boek ingesluit word.

Daar vind voortdurend nuwe navorsing plaas – is dit dalk ʼn probleem as ʼn vraag beantwoord word? En ook: Is daar ʼn antwoord op elke vraag? Kán ʼn mens alles verklaar?

Die voortdurende navorsing is nie ’n probleem nie, want dikwels sal luisteraars vanuit hul kennisveld ’n nuwe perspektief bring ten opsigte van ’n produk of waarneming van ’n situasie. In die eerste boek het luisteraars geweldig gereageer op ’n vraag of kraaie ander voëls se oë uitpik en of koedoes wel deur motors se ligte gelok word om in die nag voor ’n motor in te spring.

Dit is natuurlik nie moontlik om alles te verklaar nie. Maar die kundiges sê altyd duidelik dat die program ’n natuurwetenskaplike program is en dat dinge soos spoke en buitesensoriese ervarings nie geverifieer kan word nie en daarom nie verklaar kan word nie.

Hoe verklaar jy die sukses van Hoe verklaar jy dit?

Na die sukses van hierdie twee boeke wil ’n mens vra hoe jy dit verklaar dat mense so ’n honger na inligting en ’n dors na kennis het. Die antwoord is: ons is mal daaroor om antwoorde te kry, selfs al is daar geen oënskynlike voordeel daarin nie.

Hoe verklaar jy dit? #2 is ’n bewys daarvan dat die internet nie noodwendig die plek van die boek kan inneem nie. Omdat daar so ’n ooraanbod van materiaal op die internet beskikbaar is, word inligting deur betroubare en gekwalifiseerde kenners – in hierdie geval die samesteller en die RSG-kenners – vir die publiek gefiltreer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top