Hoe veilig is ons bejaardes?

  • 2

Hierdie naweek was die nuus dat Cheryl Carolus se skoonouers vermoor in hul huis aangetref is, voorbladnuus.

Eers later het ek besef hoekom Rosalie Bloch se naam so bekend klink. In die tagtigerjare het ek vrywilligerwerk by Black Sash gedoen, en Rosalie was die persoon om te nader wanneer ons onseker was oor ’n regsaspek van ’n saak. Ek het haar nooit ontmoet nie, maar sy was altyd telefonies beskikbaar en bereid om te help.

Sy was in haar tagtigs, en haar lewensmaat in sy negentigs.

Hulle moord verskerp die fokus op ’n vraag wat al meer voorkom: Hoe beveilig ons ons bejaardes wat nog in staat is om onafhanklike, selfstandige lewens te lei? Wanneer ouer mense sieklik is, mobiliteit verloor en in ’n ouetehuis of aftree-oord se siekeboeg beland, is dit ’n ander saak. Hulle word dan normaalweg op ’n gereelde basis gemonitor, en toegangsbeheer is strenger.

Hierdie vraag handel eerder oor bejaarde persone wat in hul privaathuis aanbly, met of sonder hulp, soos wat die geval met Bloch was. Selfs aktiewe ouer mense is minder beweeglik as jonger mense, waarmee ek natuurlik nie probeer impliseer dat jeug ’n vrywaring daarteen is om die slagoffer van misdaad te word nie. Inteendeel. Slaan maar net ’n koerant oop en die teendeel word bewys.

Wat egter wel baie keer waar is, is dat ouer persone minder agterdogtig is teenoor vreemdelinge. Hulle kom uit ’n era waar, om ’n Jim Reeves-lied aan te haal, “a stranger’s just a friend you do not know”. Mense wat in ’n meer gewelddadige era grootword, weet ’n vreemdeling is baie keer ’n wolf in skaapsklere.

Die gebied waar ek woon, het heelparty ouer mense wat nog hups genoeg is om op hul eie te bly. Daar is die 85-jarige ant S wat elke dag nog ’n paar kilometer stap. Daar is juffrou R, min of meer dieselfde ouderdom, wat nog elke Sondag die orrel speel in die kerk. Oom M werk nog self in sy tuin, en hy is ook al tagtig. Oom J, die oom wat my gras sny, is ook nader aan negentig as tagtig. Ek wou onlangs ’n boom gesnoei hê, en vra hom toe of hy nie weet van iemand wat dit kan doen nie. Ek was skaars klaar gepraat toe klim hy in die boom op en begin saag! My eie ma, in haar middel-sewentigs, word nog soms gevra of sy nie by die spreekkamer waar sy gewerk het, kan uithelp as hulle vasdraai nie. En alle aanduidings is dat sy die jonger mense stokflou werk.

Dis ’n onreg om van sulke mense te verwag om hul onafhanklikheid prys te gee vir die oënskynlike veiligheid wat ouetehuise bied.

Hulle deel egter een belangrike oortuiging, wat ek vermoed potensieel bydra om van hulle soft targets te maak: hulle glo jy moet ’n medemens in nood help. As ’n vreemde persoon van die pad af inkom en ’n stukkie brood vra, sal elke enkele een van hulle die deur wyd oopmaak, plek aan die tafel voorberei, en die persoon bedien. Hulle kom uit ’n era waar mens meer kos voorberei as wat jy gaan eet, “vir die man op die pad”, sodat as iemand onverwags etenstyd opdaag, jy hulle kan voed.

Oom H, ’n afgetrede ambulansbestuurder in sy tagtigs, het so eendag ’n vreemde vrou met ’n hartseer storie ingenooi om vir haar brood te gee. Toe hy terugkom met die brood, vind hy sy is vort met sy broodrooster en ketel. Hierdie naweek is sy tuinhekkie met boute en al gesteel.

Dis ’n jammerte dat mense wat omgee vir hul medemens en probeer help, so dikwels die slagoffer is. Dis nie reg dat ons wantrouig moet staan teenoor ander nie. Iets van ons menswees gaan verlore elke keer as ons eers die risiko’s moet opweeg voordat ons iemand wat op die oog af in nood is, help.

Ons leef egter in ’n wêreld waar om oud te wees, mense laat reken dat jy geteiken kan word. Dis veragtelik.

Ons het soveel ouer mense wat nog ’n groot bydrae kan lewer in ons samelewing en nie toegelaat word om dit te doen nie, omdat voorkeur gegee word aan jonger mense wat baie keer nie dieselfde werksetiek het nie. Dalk dra dit daartoe by dat hulle dan privaat gemeenskapswerk doen en hulself blootstel aan die donkerder elemente in ons samelewing.

Wat is die oplossing? Laat ons ouer mense toe om so lank as moontlik deel te wees van die aktiewe bevolking. Maak hulle mentors, en vergoed hulle daarvoor. Op daardie manier dra hulle aktief by tot ons land se verbetering, sonder om jonger mense van hul werk en geleentheid om ondervinding op te doen, ontneem.

Natuurlik is dit alleen nie genoeg nie. Daar is aansienlik meer wat gedoen moet word om sosiale geregtigheid te laat geskied, om die siklus van geweld te stuit. Daar is ernstige gesprekke wat gehou moet word, en daar moet daadwerklik opgetree word om armoede, swak vooruitsigte en hopeloosheid te voorkom voordat geweld aangespreek kan word.

Natuurlik gee ek nie te kenne dat dit die rede is hoekom Bloch en haar lewensmaat van hul lewens ontneem is nie. Wat ek wel met vrymoedigheid kan sê, is dat dit gereeld genoeg ’n faktor is dat dit wel in berekening gebring kan word.

Kom ons hoop die gesprek kan uiteindelik nou met ’n mate van erns deur politici, en dié met invloed in die politieke sfeer, gedryf word.

  • 2

Kommentaar

  • Dis bly vir my absoluut onverstaanbaar dat menselewens wat so kosbaar is, so maklik sommerso beëindig word, so asof hulle netnoumaartjies weer sal wakker word. Hoekom ouer mense wat meestal waardig probeer lewe en weerloos is, teiken? Gemeenskappe, veral bure sal regtig ernstig daarna begin strewe om mekaar se hoeders te wees. Suid-Afrikaners sal regtig uit hul selfopgelegde ballingskap en gemaksone moet beweeg. Volgens my is dit verskriklik om jou aanrander in die gesig te staar en aanskou hoe die persoon jou beroof om langer hier op moeder aarde te wees.

  • Corrie van der Laan

    Ons het 35 jaar op ’n plot gewoon, Maar toe ons 73 jaar is besef ons, dit is gevaarlik vir ouer mense om so alleen op ’n plot te bly. Hartseer besluit ons toe om die plot te verkoop en in Montana-aftreeoord ((Pretoria) ’n huis te koop. Baie dankbaar hier. Nog ’n mooie tuin om ons huis, in alles is ons selfstandig en ek voel baie veilig hier.
    My man is drie jaar gelede oorlede maar ek is baie bly dat ons nog 10 jaar hier saam gewoon het. My kinders is ook baie dankbaar dat ek hier so veilig bly.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top