Hoe om van Suid-Afrika ’n beter land te maak

  • 2

Die Amerikaanse president John F Kennedy het gesê moenie vra wat kan jou land vir jou doen nie, maar liewer wat kan jy vir jou land doen. Dit is min of meer die boodskap wat die organiseerders van Suid-Afrika-dag aan Suid-Afrikaners wil oordra. Hierdie inisiatief wat elke jaar op die laaste Saterdag van November plaasvind is vanjaar vir die eerste keer amptelik op 25 November gehou. Jean Oosthuizen wou by SA-dag se bedryfshoof, Barend le Grange, weet wat behels hierdie inisiatief en of gewone Suid-Afrikaners regtig ’n verskil kan maak om van Suid-Afrika ’n wenland te maak.

Suid-Afrika-dag is ’n inisiatief wat elke jaar gehou word om onder andere nasiebou en ’n beter toekoms te bevorder. Hoe het hierdie inisiatief ontstaan en wat behels dit?

Die gedagte het sowat drie jaar gelede ontstaan uit die burgerlike organisasie CPG SA onder leiding van Bheki Shongwe.

Die inisiatief het verdere gestalte gekry deur die betrokkenheid van prominente persone in die Suid-Afrikaanse samelewing en sakesektor. “South Africa Day” is geregistreer en ’n direksie en werkkomitee oorsien die hele proses.

Bheki Shongwe

Wat is die bedoeling van hierdie dag?

Die bedoeling van so ’n spesiale dag is om alle mense van die land te inspireer om saam deel te neem aan die bou van ’n beter Suid-Afrika en die skep van ’n nuwe optimisme vir die toekoms van die land. Hierdie inisiatief skep die platform vir die burgers, die sakesektor en die regering om saam te werk om daardie doelwitte te bereik.

Volledige inligting wat dit behels is op die webtuiste www.southafricaday.org.za.

Daar is reeds ander lande wat ’n soortgelyke dag het soos bv Australië se Australian Day.

Suid-Afrika-dag is vanjaar op 25 November gevier. Hoe suksesvol was dit en het julle bereik wat julle wou?

Hierdie jaar was die aanvanklike loodsjaar en het hoofsaaklik bestaan uit programme om ’n bewuswording te skep vir die eerste amptelike Suid-Afrika-dag wat elke jaar op die laaste Saterdag van November gaan plaasvind. Dit is ’n jaar lange veldtog en om dit te bewerkstellig is die fokus hoofsaaklik ’n oproep dat mense die verklaring en belofte aan Suid-Afrika onderteken en om voorstelle te maak vir projekte vir die jaar wat voorlê. Programme is reeds ook geloods deur ’n verskeidenheid van die groot korporatiewe sakeondernemings wat reeds vennote van die inisiatief is.

Ons staan ook aan die spits in die onderhandelinge met die kleinhandelsektor om “Black Friday” te verander na “South Africa Friday”.

Jy is onlangs aangestel as bedryfshoof van hierdie inisiatief vir 2018. Wat is jou planne vir volgende jaar?

Om alle prosesse en vennootskappe te ontwikkel wat nodig sal wees vir SA-dag om betekenisvol te wees vir die sakesektor wat die borge sal wees en relevant vir die mense van Suid-Afrika wat sal voordeel trek uit die werk van SA-dag.

Kan jy ’n paar praktiese dinge noem wat beplan word?

Prakties sal ons ’n aantal inisiatiewe self loods soos byvoorbeeld die SA-dag ambassadeursprogram soos wat dit op ons webtuiste uiteengesit word. Ons wil plattelandse dorpe wat agteruitgaan bystaan om die agteruitgang deur middel van die “Clean-Up South Africa” program teen te werk. Derdens wil ons inskakel en ondersteuning bied by organisasies soos die Nelson Mandela Foundation en FW De Klerk Stigting met betrekking tot rekonsiliasie- en versoeningsinisiatiewe wat reeds bestaan. Baie aandag word gegee aan die reëlings van byeenkomste vir 2018 se SA-dag en voorstelle van die publiek word ook ingewag.

Hierdie en ander gemeenskapsprojekte word in die nuwe jaar bekendgestel. Daar is reeds uitstekende projekte op verskillende gebiede deur ander organisasies en SA-dag sal as verdere platform gebruik kan word ter ondersteuning.

Wie is die hoofrolspelers wat daarby betrokke is en wie finansier hierdie inisiatief?

SA-dag se president is aartsbiskop Thabo Makgoba saam met beskermhere soos oudregter Yvonne Mokgoro, George Bizos en ander.

Dan is daar ’n raad van sowat 15 lede wat bestaan uit erkende leiers uit die sakesektor en ander terreine.

Die hele inisiatief word hoofsaaklik deur die sakegemeenskap geborg, deur direkte befondsing of deur ander maniere van ondersteuning.

Thabo Makgoba

Daar is reeds ’n magdom ander dae waar Suid-Afrikaners opgeroep word om van Suid-Afrika ’n beter land te maak. Ek dink byvoorbeeld aan Jeugdag, Vrouedag, Mandela-dag, Erfenisdag en ’n swetterjoel ander. Hoe verskil Suid-Afrika-dag van die ander en is daar nie al te veel sulke dae nie?

Hierdie is nie ’n vakansiedag nie. Inteendeel, dit sal ’n dag wees waar Suid-Afrikaners geleentheid het om die Suid-Afrika waarin ons leef te vier, maar met die doel om eenheid na te streef en hulself te verbind tot samewerking vir ’n beter toekoms.

Op julle webwerf is daar ’n belofte aan Suid-Afrika wat Suid-Afrikaners kan onderteken om van Suid-Afrika ’n wenland te maak. Wat behels hierdie belofte?

’n Geleentheid om jouself te verbind om deel te wees van die oplossing in ons land en om ander te oortuig om dieselfde te doen.

Hoeveel terugvoer het julle van die publiek gehad wat hierdie belofte onderteken het?

Vir hierdie eerste jaar is ons baie tevrede met die terugvoer en terselfdertyd verras oor die entoesiasme waarmee dit ontvang is deur die publiek en die besigheidsgemeenskap. Hierdie is egter nog net die begin van die bewusmakingsaksie aangesien baie Suid-Afrikaners nog bereik moet word.

Beloftes maak skuld en dit is maklik om ’n paar mense te kry om so belofte op papier te onderteken maar hoe effektief is dit? Is daar enige praktiese nut daarin?

Ons moet eers besef dat ons in ’n wonderlike land woon, maar dat dit ’n land van baie uitdagings is. Hierdie uitdagings kan nie net aan die regering oorgelaat word nie. Almal moet betrokke raak om van hierdie land ’n beter plek te maak. Hierdie verklaring en belofte is ’n eerste stap en kan nie afgedwing word nie, maar kan help met ’n nuwe manier van dink en dit is om medeverantwoordelikheid te neem vir ons toekoms.

Kan gewone Suid-Afrikaners regtig ’n verskil maak aan die land se probleme en is daar dalk ’n voorbeeld of twee wat jy kan noem waar gewone Suid-Afrikaners ’n wesenlike verskil gemaak het om ’n beter plek van Suid-Afrika te maak?

Beslis. Daar is soveel voorbeelde. Individue en organisasies wat al deur die jare bewys het dat selfs net een mens ’n verskil kan maak. Kosvoorsiening en verskaffing van noodsaaklikhede in informele gebiede; hulp wat verleen word om opkomende boere te help (nie net op formele wyse nie). Mense wat instaan waar noodsaaklike dienste agterweë gelaat word, ens. Dan is daar die verskeie burgerlike organisasies wat uitstekende werk doen. Die uitdagings het egter groter geword oor die afgelope klompie jare en groter betrokkenheid is net soveel meer noodsaaklik. Die SA-dag-inisiatief sal daardie reeds bestaande projekte waar moontlik ondersteun en sal verdere stukrag wil gee.

Jy is baie optimisties oor Suid-Afrika, maar kom ons weer eerlik. Dinge lyk nie goed nie. Korrupsie vier hoogty, dienslewering laat veel te wense oor, werkloosheid skiet die hoogte in om van staatskaping, misdaad en geweld nie eers te praat nie. Hoe kan mens nog optimisties wees onder sulke omstandighede?

Ek is optimisties, maar nie naïef nie. Hierdie probleme sal nie net verdwyn nie, maar dit is juis die uitdaging. As alles net reg was sou sulke inisiatiewe soos hierdie nie nodig wees nie. Ons hoef nie net ons omstandighede te aanvaar nie. Ons moet die regering verantwoordelik hou en terselfdertyd doen wat ons kan doen. Ons kan positief wees. Ons het al baie uitdagings oorleef.

Jy het Afrika al letterlik plat gereis, maar weer eens: Afrika se rekord ten opsigte van die dinge waarna jy en jou organisasie streef lyk nie goed nie. Menseregte en demokrasie is nie juis van Afrika se sterk punte nie. Is jy nie maar besig om Afrika te verromantiseer terwyl die kontinent in werklikheid agteruit boer nie?

Ek was die afgelope 15 jaar dikwels in Midde- en Oos-Afrikalande gedurende ’n verkiesingstyd. Baie van ons hier in Suid-Afrika onderskat hoe polities volwasse en ingelig die algemene publiek in baie van hierdie lande noord van ons grense is. Begrippe soos menseregte en demokrasie is nie meer vir hulle vreemd nie en verkiesings vind gereeld plaas. Ontwikkeling op verskeie gebiede is oral sigbaar. Suid-Afrikaanse maatskappye brei daar uit en winkelsentrums met SA-handelsmerke is nie ’n vreemde verskynsel nie. Daar is groei in die middelklas en ’n vermindering in oorloë. Natuurlik is daar 54 Afrikalande en ons kan nie veralgemeen na enige kant nie. Maar Afrika boer beslis nie agteruit nie. Inteendeel!

Barend le Grange

Wat stem jou die meeste positief ten opsigte van Suid-Afrika en wat stem jou die meeste negatief?

Alles in Suid-Afrika, met enkele uitsonderings, stem my positief. Hierdie baie diverse land met sy verskillende tale, kulture, geskiedenisbeskouings en gebruike. Ons onafhanklike regstelsel, burgerlike organisasies, hoogs gesofistikeerde finansiële bedryf, uitgebreide infrastruktuur, vrye media ens is enkele aspekte.

Ons rasseverhoudings is selfs beter as wat ons onsself krediet wil gee (vergelyk gerus met ander Westerse lande). Dat daar nog baie aan gewerk moet word en dat daar ’n lang pad voor is, is ook waar.

Die negatiewe is ons geweldsmisdaad, werkloosheid en korrupsie. Daaraan sal dringend aandag gegee moet word. Daarvoor moet ons die regering aanspreeklik hou en aktief saamwerk om dit te bestry. Wat my wel bietjie by tye negatief stem is die negatiwiteit van mense asof daar niks aan ons probleme gedoen kan word nie. Ons moet net perspektief behou en aanvaar elke land het sy eie probleme, waarvan ons soos hierbo genoem, ons eie kwota het. Die positiewe oorskadu egter die negatiewe by verre.

Terug na Suid-Afrika-dag. 25 November het gekom en gegaan. Een dag per jaar met mooi slagspreuke gaan nie regtig die kalf uit die put haal nie. Wat gebeur van nou tot volgende jaar?

Om die planne en projekte soos hierbo genoem tot uitvoer te bring en dit op die volgende SA-dag te vier.

Ten slotte, wat is jou boodskap aan daardie Suid-Afrikaners wat nie meer ’n toekoms vir hulle kinders in hierdie land sien nie en kan jy hulle kwalik neem as hulle liewer uitwyk na lande soos Australië, Nieu-Seeland of elders om ’n nuwe toekoms daar te begin.

Ons kan nooit enigeen kwalik neem wat die land verlaat nie. Elke mens ervaar die lewe op ’n bepaalde manier. Moderne vervoer en tegnologie het die wêreld plat gemaak. Suid Afrikaners het veral die afgelope 23 jaar die opsie gehad om so te sê na enige land van keuse uit te wyk.

Dit bly egter jammer as jongmense die land verlaat omdat hulle nie ’n toekoms hier verder sien nie. Ons geskiedenis het ons geleer dat ons nog altyd die grootste van groot uitdagings oorkom het, groter as wat ons tans beleef. Ons geheue is net nie altyd so goed nie. Ons is in ’n unieke situasie dat ons deur geen buitelandse mag bedreig word nie. Ons probleme is alles hier plaaslik, en terwyl ons hier is, kan ons nie bekostig om passief te wees nie. Ons het die verantwoordelikheid om daardie uitdagings te aanvaar, ’n positiewe ingesteldheid te ontwikkel en daaraan iets te doen. Dit is die enigste manier om ontslae te raak van die persepsie dat daar nie ’n toekoms verder vir ons jongmense in Suid-Afrika is nie.

Foto's: verskaf

  • 2

Kommentaar

  • Andre Badenhorst

    'n Goeie begin sal wees om die logo meertalig te maak en aan te pas binne 'n gegewe konteks om 'n bietjie af te wyk van die Engelse smeltpot-idee wat so klaaglik misluk. Dan eers sal mense van bepaalde groepe (en nie net die sakesektor nie) eienaarskap neem van die briljante idee. Tot dan toe sal ek maar eenkant staan en versigtig toekyk of nóg 'n reënbooginisiatief dalk in die slaggat trap van patroondenke wat Einstein beskryf met die woorde: "Ons kan nie ons probleme oplos met dieselfde denke wat dit geskep het nie."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top