Hoe om ’n boekresensie te skryf

  • 6

Kerneels Breytenbach (Foto: Naomi Bruwer)

Om resensies mooi te verstaan, begin mens by die Incredible String Band se liedjie “The Half-Remarkable Question”: “What is it that we are part of, what is it that we are?”

Dis hoe eenvoudig dit is.

Elmari Rautenbach, een van die finaliste van vanjaar se kykNet-Rapport-prys vir resensent van die jaar, sê onlangs in ’n koerantonderhoud dat boekresensies vandag ’n gesprek met die leser geword het, eerder as die deeglik oorwoë, uitvoerige en meer literêre resensies van die jare toet. Daarmee gee sy die antwoord op die “half-remarkable question”.

Gesprekvoering met lesers.

Ek kom uit ’n era toe die New Criticism hoogty gevier het, en in die verloop van my joernalistieke loopbaan het ek die bevryding van die strukturalisme en postmodernisme ervaar.

Waar die New Criticism ’n mens geleer het om net na die kunswerk voor jou te kyk en die mens agter die boek te ignoreer, het die strukturalisme mens geleer om bewus te wees van jou skryfwerk as ’n vorm van kommunikasie. Daar is ’n sender wat inhoud/kommunikasie aan ’n ontvanger stuur. Die hele aksie veronderstel ’n konteks waarin dit gebeur.

Die postmodernisme weer het geleer dat een daad van kommunikasie binne ’n groot konteks van gesprekke beskou moet word. ’n Soort kruis: sinchronies en diachronies. ’n Boek bestaan as kommunikasiedaad op ’n gegewe tydstip as een aksie op ’n lang as van ander gelyktydige soortgelyke aksies (een boek van vele); dit bestaan egter ook op ’n historiese as, van soortgelyke aksies/boeke van die verlede en die toekoms.

Dis nou heel simplisties gestel.

Die eerste ding wat ’n boekresensent moet vasstel wanneer sy/hy genader word om ’n resensie te skryf, is vir wie sy/hy skryf, of in Elmari Rautenbach se paradigma, met wie sy/hy gesels: koerantlesers, tydskriflesers, radioluisteraars, lesers van webwerwe?

Begin by die opdraggewer. Watse soort publikasie is dit en wie is die lesers? As jy onseker is oor die antwoord, vra jou opdraggewer – mediamense weet deesdae presies wie hul lesers is en waarin die lesers belang stel. Maar in die huidige Suid-Afrikaanse opset sal jou resensie bestem wees vir dagblaaie, ’n Sondagkoerant, radioprogramme, tydskrifte en LitNet.

Moet nooit huiwer om jou opdraggewer te vra of daar enige spesifieke riglyne is nie. Die meeste boekeredakteurs sal in elk geval vir jou ’n lengtevereiste gee. Selfs LitNet – teoreties gesproke ken die internet nie die einde van sy moontlikhede nie, maar webwerwe het ook praktiese oorwegings wat hulle in ag moet neem. Niemand lees ’n resensie wat so lank is dat dit as doktorale tesis aangebied kon gewees het nie.

Elkeen van bogenoemde publikasieruimtes bied ’n spesifieke konteks vir sy leser.

Koerantlesers het nie baie tyd tot hul beskikking nie, en wil gou by die kern van die saak uitkom.

Lesers van Sondagkoerante het ’n bietjie meer tyd, en ’n rustiger gemoed, maar ook hulle voel tot in hul siele gekrenk as ’n resensent aankarring en nooit ’n helder punt stel nie.

Tydskriflesers het meer tyd tot hul beskikking, maar daar is die res van die tydskrif wat aandag vra; wat kan ’n resensie die leser dus bied om te sorg dat sy aandag nie dwaal nie?

Radioluisteraars kan met die druk van ’n knoppie verlos word van die marteling van ’n vervelige bespreking.

En die gierders van die websfeer sal miskien meer tyd aan die lees van die resensie afstaan, maar dan sal hulle ook voel dat hulle darem ’n bietjie intellektuele stimulering wil kry. Anders sien jy net URL’e vlieg soos hulle die gaat vat.

Die bykomende vraag, nie danig “half-remarkable” nie, is natuurlik wat ’n goeie resensie behels. Daar is baie kenmerke wat met goeie resensies in verband gebring kan word: gesaghebbendheid, betroubaarheid, bondigheid, keurige formulering, sekure argumentering. Maar dit moet bowenal leesbaar en onderhoudend wees binne die raamwerk van die publikasiemedium.

Dit is altyd goed om te onthou dat die boekeredakteur jou gevra het om jóú reaksie op ’n spesifieke publikasie te gee en dit as resensie aan te bied. Jy moenie probeer raai wat die mense by Stellenbosch se Afrikaans-departement daarvan dink en dít dan as jou mening aanbied nie. Jy hoef nie te probeer om jou uitspraak te laat strook met die Kerk se amptelike standpunte nie. Jy moet sê wat jý dink. Nét jy.

Hier moet ek ook kortliks verwys na een ander groot oorweging, en dit is hoe jy as resensent saamleef met die eeue oue onderskeid tussen subjektiwiteit en objektiwiteit. Daar is al boeke hieroor geskryf, maar dit kom kortliks neer op die aanvaarding dat alle menings subjektief is, en dat die joernalistiek geanker is in die opvatting dat objektiwiteit nastreefbaar is, al sy dit dan vanuit ‘n heel subjektiewe hoek.

Binne hierdie konteks word daar dus van die resensent verwag om sowel subjektief te wees as objektief – lg omdat die bespreking ewewigtig, regverdig, informatief, evaluerend én interessant/leesbaar moet wees.

Onthou gerus in hierdie opsig Neil Gaiman se kwinkslag: “When people tell you something’s wrong or doesn’t work for them, they are almost always right. When they tell you exactly what they think is wrong and how to fix it, they are almost always wrong.” ’n Slim resensent weet wanneer en hoe om agter vaagheid te skuil.

Nou, mens kan ook wonder hoekom daar op jou as die mees geskikte resensent besluit is. Sekerlik omdat die opdraggewer meen dat jy die publikasieterrein ken, asook die verskillende tradisies waarbinne daardie boek staan. Dat jy die publikasie sinchronies sal kan beoordeel (dws kan vergelyk met of in konteks kan plaas met die huidige publikasieterrein), asook diachronies (dit dus kan vergelyk met sy voorgangers op die gebied).

As jy voel jy word verkeerd getakseer, is dit wys om nie toe te gee aan die versoek nie. Ek sê vir geen oomblik dat jy – ja, jý – nie bekwaam genoeg is nie. Maar as jy dit buite jou spesialiteitsgebied waag, is die kanse groter dat ’n vlieë-afvanger suksesvol gaan wees wanneer hy jou argumente flenters kritiseer.

Daar is uiteraard ander goeie redes hoekom ’n mens soms nee moet sê vir ’n resensieversoek. Dinge soos jou totale renons in die skrywer, of die vete wat jy aan die gang het met die betrokke uitgewery, of jou prekêre finansiële situasie wat sal meebring dat jy die resensie net vir die geldjies wat dit inbring sal skryf, asook enige vooroordele wat jy dalk koester. Komaan, wees eerlik. (En hou ook in gedagte dat sommige versoeke vir ’n resensie uit jou pen neerkom op die joernalistieke ekwivalent van ’n hospital pass: die boekeredakteur het dalk al verskeie ander mense gevra, en hulle het nee gesê, of iemand het nie sy resensie op die regte tyd gelewer nie en nou word daar gesoek vir ’n betroubare resensent wat betyds sal skryf.)

Boekeredakteurs kan onmoontlik op hoogte wees van alle heersende vetes in die skrywerswêreld. Resensente moet liefs belange verklaar wanneer hulle genader word. As die boekeredakteur dan nog vir hulle kans sien, rus daar op hulle die verpligting om daardie belange nie te bevorder nie.

So, jy is dan gereed vir die skryf van die resensie omdat jy die boek gelees het, kundigheid het oor die publikasiekonteks en onderwerp, en omdat jy ’n brandende liefde het vir die boekkultuur. Ek is nie besig om sarkasties te wees nie. As jy daardie liefde nie het nie, moet jy liewer gaan TV kyk. Dit stel geen eise nie.

Dus terug na die vraag: Wat is ’n goeie resensie? Daarmee vra ek nie of dit ’n positiewe resensie is nie, maar wel of dit goed geskryf is. En gegee die huidige gespreksparadigma, sou dit sekerlik beteken ’n resensie wat die leser se aandag van die openingsparagraaf af boei. Wanneer die leesproses voltooi is, moet die leser voel dit was ’n gesprek wat hy/sy nooit sou wou misgeloop het nie. Die leser is nou sommer lus vir ’n lekker lang chat oor die boek – só lus dat hy/sy dit sommer dadelik gaan koop en lees en vir almal daarvan gaan vertel.

Die beginpunt van ’n goeie resensie is dus ’n openingsparagraaf wat só interessant en boeiend is dat die leser op die plek besluit sy/hy gaan aanhou lees om te sien waarheen die resensent op pad is. Daar is absoluut geen verskoning vir inleidings wat só oninteressant is dat die leser onmiddellik die koerant toemaak nie. (Jy hoef nie sulke ekstreme houdings daaroor soos Crito te huldig nie, maar in beginsel moet jy onthou dat dit wat vir jou skoolopstelle gegeld het, ook hier geld: trek van die begin af die aandag.)

Kyk ’n bietjie na die inleidingsparagrawe van vanjaar se wenners van die kykNet-Rapport-prys vir resensent van die jaar:

Bitterkomix het nog altyd graag geskok en hard teen die prikkels geskop, maar Anton Kannemeyer se omslag vir Bitterkomix 17 ontstem op ’n nuwe manier,” begin Danie Marais sy bespreking.

Emile Joubert open weer sy bespreking van ’n boek deur die baas-sjef Peter Veldsman só: “Die kommunikeer van kos en kook en eet laat op die huidige tydstip ’n wrang geur agter my kiewe. Daar is nog nooit in Suid-Afrika – en seker die Westerse wêreld ook – só baie oor die maak en eet van kos geskryf, gepraat en vertoon nie.”

Dit is albei inleidings wat die leser in die res van die resensie in lanseer, omdat hulle jou nuuskierig maak.

Noudat jy die leser se aandag het, moet jy dit behou. Doen dit deur dadelik te sê waaroor die publikasie handel: ’n digbundel oor ekologiese sake; ’n speurroman met ’n heeltemal nuwe uitkyk oor forensiese navorsing; of niefiksie oor staatskaping – byvoorbeeld.

Daarna kwalifiseer jy hierdie oriëntering verder. Die eerste stap is die ou vertroude enumerasie van die skrywer se vorige publikasies, waarna jy onmiddellik die nuwe publikasie se inhoud aanspreek. By digbundels sal jy die tematiek opsom, by romans probeer aandui hoekom die verhaal uniek/vernuwend/interessant is. By niefiksie is dit noodsaaklik om plasing van die werk binne ‘n sinchroniese en diachroniese konteks op só ’n manier te doen dat jy as resensent self argumenterend kan toetree tot die groter gesprek. (Gaan kyk in laasgenoemde opsig gerus hoe Rykie van Reenen haar resensies aangepak het.)

Die bou van resensies is in wese dié van tese, antitese, sintese. In die antitese-gedeelte is dit jou reaksie op die boek wat belangrik is. Afhangend van hoe jy oor die boek voel, moet jy jou afvra: Gaan ek fokus op die foute of die sterk punte? Sommige resensente voel, soos Daisaku Ikeda, dat dit meer sin maak om net te konsentreer op die boek se sterk punte. “You can gain nothing by criticizing their imperfections.” Judith Martin het vir my ’n meer geldige uitgangspunt: “When virtues are pointed out first, flaws seem less insurmountable.”

Ek het my resensentloopbaan as teaterkritikus begin. Die vrae wat ek my ná opvoerings afgevra het, kan ook van toepassing gemaak word wanneer ’n resensent pas ’n boek gelees het en aantree vir die resensie:

  • Moet jy die foute ignoreer?
  • Moet jy brutaal eerlik wees?
  • Bestaan daar by jou die geringste van vermoedens dat jy dalk in die minderheid is wat jou reaksie op hierdie boek betref?
  • Hoe gaan jy die resensie beplan?
  • Wil jy aantekeninge maak om mee te begin, of gaan jy sommer net begin skryf?

Die laaste vraag is belangriker as wat mens sou dink. Terug na my dae as teaterresensent. Ons het destyds op Underwood-tikmasjiene geskryf, en moes alles met ’n deurslagvelletjie doen. Dit was ’n omslagtige proses, en mens se humeur is beproef as jy baie tikfoute gemaak het. Omdat ek van nature ’n lui mens is, het ek alles wat ek wou of sou tik eers vooraf in my kop geformuleer voordat ek begin tik het. Net om oortik of slordige werk te vermy, maar die neweproduk was baie positief: die resensies was bondig en op die punt af. Ek het die waarde geleer van sinne vooruit te komponeer. Mens sal in elk geval soos jy tik deur jou gedagtes gelei word in rigtings wat jy nie altyd kon antisipeer nie, deur frases en sleutelwoorde wat by jou opkom, en wat dan uitkring in sinne en paragrawe in.

Vandag skryf almal op rekenaars. By die meeste mense is dit amper ’n gedagtestroomtegniek wat dan met die herlees geskaaf en afgerond word. Die gevolg is lang, omslagtige resensies.

Tot vandag toe raadpleeg ek daardie ou lysie vrae. Die dinge wat ek destyds kortliks op papier neergestip het, skryf ek nou op die rekenaar, en begin dan onderaan skryf aan die resensie. Later skrap mens mos wat jy nie wil hê nie. QED.

En met ’n bietjie beplanning is dit moontlik om af te stuur op ’n sterk afsluiting. Hoekom is ’n sterk afsluiting belangrik? Dit is die afronding van jou argumentering, die samevatting, jou laaste briljante insig. En vir lui koerantlesers is dit ’n samevatting wat hom kwytskel van die verpligting om die hele resensie te lees.

Indien mens onseker is hoe jy uiteindelik jou besluit oor die boek in die sintese-gedeelte van die resensie sal formuleer, en wat moet uitloop op ’n slot wat jou argumentering afsluit en ’n oordeel oor die boek aan die leser voorlê, sal alles wat jy in die antitese-gedeelte geskryf het, vir jou die sintese van die argument baie makliker maak.

As jy geswig het voor die versoeking om byvoorbeeld by ’n roman die hele storie te wil vertel, gaan die slot vir jou baie moeiliker wees. Daarom sien mens by sulke resensies so dikwels ’n sin of twee oor die dinge wat gepla het. Dit maak vir my geen sin om in die verbygaan te verwys na die dingetjies wat gehinder het nie; as jy behoorlik daarby stilstaan, help jy om die skrywer se ontwikkeling te stimuleer. Dwarsklappe sonder stawing is geneig om skrywers se selfvertroue te ondermyn.

Dink gerus aan Dale Carnegie se opmerking dat enige dwaas kan kritiseer en verdoem en kla, maar dat dit karakter en selfbeheersing verg om te kan begryp en vergewe.

Koerantlesers neem aan dat resensente gekies word omdat hulle ingelig, wydbelese, intelligent en regverdig is. Jy as resensent moet sorg dat ’n gesaghebbende toon/aanslag deel is van jou resensie. Presies hoe jy dit doen, hang van jou taalvernuf af. Hier onthou ek altyd Victor Holloway, toentertydse kunsredakteur van Die Burger, se opvatting dat resensente wat die woorde “myns insiens” gebruik, onseker is van hul saak. As jou naam by die resensie staan, weet almal mos dit is jou insigte.

Dit is nodig dat die resensent sekerheid het oor die maatstawwe wat hy/sy aanlê. Jy gaan tog nie ’n roman van John Miles meet aan dieselfde dinge waarmee jy ’n liefdesroman evalueer nie. Mense wat digbundels bespreek, sal beaam dat daar ’n goeie rede is om jou tot ’n akademiese styl te wend: redes tot vervoering is daar nie dikwels nie. Dit is buitendien baie moeilik om jou vervoering oor ’n digbundel uit te druk sonder dat dit lyk of jy die digter na die kroon steek. Gaan kyk maar hoe aardig lees Merwe Scholtz se resensie oor DJ Opperman se Komas uit ’n bamboesstok.

Dit bly natuurlik ook ’n ope vraag of alle resensente dit maklik vind om hul gesag te versterk. Die manier waarop jy jou reaksie formuleer, is baie belangrik. Bondige, direkte stelwyses is verkieslik bo omslagtige, uitgesponne verduidelikings. Kyk gerus hoe effektief Helize van Vuuren teen omslagtigheid ingeskryf het in die dae toe sy nog resensies geskryf het; Joan Hambidge se gebruik van korter paragrawe is ook baie effektief. Kort paragrawe skep tipografiese wit, wat koerantlesers se aandag help behou omdat dit hulle laat voel hulle vorder met die assimileer van die resensie.

Die redakteurs van boekeblaaie word soms genoodsaak om hulle tot akademici te wend vir sekere resensies – veral by digbundels. Dit maak vir my sin, maar akademici is die mense wat die hardste moet werk om slegte stylgewoontes uit die resensies te hou. Die kenmerkende akademiese styl het die manier om ’n kleed van eenselwigheid en vaalheid oor resensies te trek.

Ek besef dat my uiteensetting ’n mate van skoolmeesteragtigheid behels. Die geluk is dat sodra mens jou voete as resensent vind, jou skryfstyl vinnig begin ontwikkel. Die skryf van resensies word in ’n sekere sin ’n estetiese oefening. ’n Resensent se gesag hang dikwels saam met die mate waarin hy/sy ’n eie styl ontwikkel.

Nêrens is dit meer opmerklik as by resensente van niefiksie nie. Dit het Emile Joubert baie jare van toewyding gekos voordat hy daardie resensie van Peter Veldsman se boek geskryf het. Johan Rossouw se bespreking van Karel Schoeman se laaste werk was vir my ook uiters individualisties.

Ek lees altyd met lus aan Joan Hambidge, Herman Lategan, Cas van Rensburg, Louise Viljoen, Deborah Steinmair en Frederick J Botha se resensies, nes ek jare gelede vreugde gehad het aan Rykie van Reenen, André Brink, Ernst Lindenberg en Gerrit Olivier se besprekings. Elkeen van hulle het ’n eie styl, en ’n mens leer mettertyd ook die persoonlikheid daaragter ken. Wat hulle almal gemeen het, of hulle nou in akademiese trant of meer populêr gerig skryf, is die vermoë om te sorg vir behoorlike inleidings en slotte, en deeglike argumentering wat die twee verbind.

Soms kan fiksie ook baie kreatiewe reaksies uitlok – Koos Kombuis se onlangse skrywe oor Kleinboer se Hierdie huis, om een te noem.

Ten slotte, ’n ou truuk van ’n joernalis. In die begin van my loopbaan het ek as teaterresensent vir my ’n spesiale omstandigheid verbeel wanneer ek resensies geskryf het. Ek het my verbeel ek is besig met ’n gesprek met my beste vriend. Ná my troue was dit ’n gesprek met my vrou. Ek het my verbeel ek gesels met een van die twee, en dit het spesifieke winste gelewer, veral ten opsigte van die toon waarin ek wou skryf. Dink net hoe ernstig of lighartig mens in jou gesprekke kan wees. Probeer dit skryf. Dit werk!

Fluit-fluit. Hopend op ’n nuwe geslag Afrikaanse resensente. Of om die Incredible String Band se liedjie weer aan te haal, nou vir die “breath and its gasp”.

  • 6

Kommentaar

  • Zesta Vorster

    Met lus gelees! Hierdie aangename en insiggewende gesprek met oorgawe geniet. Getref deur die eenvoud, natuurlikheid, helderheid, waarheid en opregtheid - wysheid - van 'n meester self. 'n Kunswerk! 'n Aanhaling van ek weet nie wie nie: "'n Kunswerk is 'n mengsel van genade en berekening aan die een kant en toordery en wiskunde aan die ander kant!" Knap gedaan! Dankie vir die deel, LitNet.

  • De Waal Venter

    Hierdie stuk van Kerneels Breytenbach is so goed geskryf dat mens dit baie goed kan aanbeveel as ’n handleiding vir resensieskrywers.
    Hy benader die onderwerp uit verskillende hoeke en gee baie nuttige, praktiese wenke oor hoe om die taak van resensieskryf aan te pak. Ek wil my dank uitspreek hieroor en hoop dit gaan help om die gehalte van resensies in Afrikaans hoog te hou.
    Skrywers en lesers verwag van resensieskrywers om goeie werk te lewer. Vir baie lesers is die resensie die plek waar jy die besluit neem om die boek te lees of nie. As die resensie dus omslagtig, oninteressant of onnodig negatief is, wys die resensieskrywer baie lesers weg. Natuurlik bedoel ek nie dat die resensie klakkeloos moet aanprys en oorgeesdriftig ophemel nie. So ’n benadering is betekenisloos.
    Ek wil, bo en behalwe al die stellings wat Kerneels Breytenbach maak, een aspek beklemtoon. Skrywers en lesers vereis van ’n resensieskrywer dat hy of sy die teks in diepte moet ontgin. Dit is nie goed genoeg om byvoorbeeld net sekere verse in ’n bundel te lees en oor ander heen te skeer nie. Enige literêre werk van betekenis ontgin nuwe grond en die resensieskrywer behoort daardie nuwe terrein deeglik te verken voordat die resensie geskryf word.
    Indien ’n resensieskrywer self skrywer of digter is, word die taak moeiliker. As skrywer het jy sekere baie sterk vooropgesette idees oor hoe geskryf moet word. Wanneer jy ’n resensie skryf moet jy die vermoë hê om jou eie benadering en werkwyse opsy te skuif en te probeer verstaan wat die skrywer van die geresenseerde werk gedoen het en wat die benadering was. Nie alle resensente het daardie vermoë nie.

  • Dis 'n uitstekende stuk skryfwerk wat self 'n goeie model is, en daar word nuttige wenke gegee. Die verwysings na verskillende benaderings tot die skryf van resensies oor die jare is verhelderend. Die waarskuwings teen die voer van vetes is ook, helaas, nodig en tydig. En ek beaam die ruikers wat hy uitdeel aan knap resensente.
    'n Paar punte: Ek stem hartroerend saam met De Waal Venter hierbo wat betref die lees van boeke wat geresenseer word. Soms lyk dit asof dit bloot gespoedlees is en die resensent het nie 'n behoorlike greep op dit wat daar staan nie. Dan verskyn daar, ondermeer, feitelike foute. Dis een ding om jou eie mening te lug en 'n ander ding om gewoon twak te praat. Soos byvoorbeeld: Die leser word nie voorberei op iets wat teen die einde van die roman gebeur nie, terwyl daar aantoonbaar vier episodes is - tel hulle - wat voorbereidend van aard is.
    Wanneer dit nie 'n resensent is nie, maar 'n buitekeurder wat sulke blapse maak, is dit nog erger. Ek wens lesers aan wie sulke mag toegeken is, wil darem 'n bietjie dink voordat hulle gaan sit en 'n roekelose oordeel vel. Ek het al deurgeloop by iemand wat die manuskrip duidelik gespoedlees het tydens 'n kragonderbreking. My liewe mens, dis my hart en siel en bloed wat jy daar beet het, hê darem genoeg respekte om dit behoorlik te lees.
    Ook dink ek die New Criticism was wel verkeerd om literêre werke uit hul konteks te ruk, maar die toegewyde aandag aan spesifieke elemente van die werk onder bespreking is steeds nodig. Broodnodig. Veral by die reaksie op poësie.
    Dankie hiervoor, Kerneels.

  • Marian Klerck

    Een puik artikel, baie dankie. Helder, insiggewend en goeie, streng riglyne. Ek het in 2012 by Unisa ingeskryf vir 'n graad in 'Creative Writing' en een van my eerste modules was on om 'n boekresensie te skryf. As ek destyds darem dié riglyne gehad het sou my punte seker stukke beter gewees het.

  • Hans Richardt

    Kerneels Breytenbach laat een onderwerp weg, Politieke korrektheid-ideologie en die invloed op 'n resensie. Dit laat soms 'n wrang smaak as resensente die fundamentele regte van lesers van assosiasie, vryheid en keuse ignoreer. Daar is GEEN boek wat Moet-lees is nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top