Hoe om kroeshare straight te kry

  • 5

As jy gebless is met straight, gladde hare, gee dank aan jou vaders en voorvaders want jou lewe is klaar makliker as die duisende meisies wat met pittekoppe moet sukkel. Mense dink ʼn relaxer is al manier om kroeshare glad te kry, maar dit kos baie meer as net chemicals. As jy nie na jou gerelaxde hare kyk nie, kan dit afbreek of verdun. Maintenance is baie belangrik. You must suffer for your beauty: dit kom nie sommer na jou toe omdat jy ʼn nice persoon is nie. Jou shampoo en conditioner routine is baie belangrik, asook jou oil-treatments. Maak seker dat jy ʼn goeie hairfood het wat jy elke tweede aand in jou kopvel in moet smeer. ʼn Goeie blowdry borsel en hairdryer is ook baie belangrik. En onthou om jou swirlkous elke tweede maand of so te verander, want die band rek en na ʼn tyd is dit nie styf genoeg om jou hare straight te hou nie. Deesdae se meisies is lucky want ʼn GHD electric straightener is fantasties om kroeshare in toom te hou. Maar as jy nie ʼn GHD óf geld vir ʼn hairdresser elke week het nie, kan jy ʼn basiese routine volg.

Was routine

  • Was jou hare twee keer met die shampoo. Die eerste was is om al die olie build-up op die kopvel te verwyder en die tweede was is om die hare self goed skoon te kry.
  • As jy colour op jou hare het, onthou dat shampoo die colour baie gou uit die hare uit strip. In plaas van ʼn shampoo doen ʼn pre-poo waar jy jou hare met conditioner was en die shampoo heeltemal uitlos. Die kleur sal dan langer in jou hare bly as jy pre-poo in plaas van shampoo.

Treatment en conditioner

  • Doen ʼn oil treatment een keer ʼn
  • Sit ʼn goeie treatment op jou kop, dan ʼn plastic sak en sit dan onder die hood dryer vir ʼn halfuur, of sommer net buitekant in die son.
  • As jy nie ʼn oil treatment by ʼn winkel kan afford nie, meng kookolie en ʼn fyngedrukte avokado en gebruik dit as ʼn treatment.
  • Spoel die oil treatment af en sit jou conditioner op vir so twee minute en spoel dit ook af.

Indraai en droogblaas

  • Toweldry jou hare en draai dit dan in met pienk rollers vir kort hare, blou rollers vir medium lengte en orange rollers vir lang hare.
  • Maak seker dat jy die hare mooi om die roller kry en die punte reg in die roller in draai, otherwise gaan jy nie die hele kroes uitkry nie.
  • As jy huis moet skoonmaak, ʼn tjommie gaan visit, of winkels toe moet gaan, hou die rollers in sodat die wind en son dit droogmaak.
  • Maar as jy issues het om met rollers in die straat te loop, sit dan onder ʼn hood dryer op ʼn lae spoed for at least een uur.
  • As jy ʼn hand dryer moet gebruik, vra iemand om jou te help sodat jy seker maak dat jou hele kop gelyk drooggemaak word.
  • Moenie onmiddellik die rollers uithaal wanneer jou hare droog is nie. Wag eers dat die rollers afkoel en die hare set.
  • Maak seker dat jy die rollers versigtig uithaal. Moenie aan jou hare trek nie. Onthou die hitte van ʼn dryer of dié van die son maak die hare sensitief so dit kan maklik breek.

Blowdry routine

  • Daar is twee tipes meisies in die wêreld, dié wat hulle eie hare goed kan blow en dié wat hulp nodig het. As jy miskien jou suster of tjommie se hare goed kan blow, beteken dit nie jy kan dit self met jou eie hare doen nie.
  • Voor jy begin blow, figure eers jou style uit. As jy ʼn pushback gaan doen, is dit simple, want dan blow jy jou hare straight agtertoe.
  • Maar as jy ʼn bob of ʼn fringe wil hê moet jy jou hare in gedeeltes opbreek en stukkie vir stukkie blow. ʼn Fringe moet altyd laaste geblow word.
  • Jy sal miskien verskillende groottes borsels moet gebruik vir verskillende gedeeltes van jou kop.
  • Baie belangrik: haarolie word eers ná die blow aangesit.
  • Begin met die langste hare eerste, trek die hare stadig deur die borsel en blaas die warm lug van die dryer direk op die hare.
  • Blaas een stuk hare nie meer as drie keer nie, otherwise brand jy jou eie hare.
  • Maak seker dat jy die punte met die borsel krul, otherwise gaan dit maklik mince dan is al jou harde werk vir niks.
  • Vat jou tyd met die blaaswerk tot al die hare glad en straight is.
  • Check veral jou voorkop en agter in jou nek om seker te maak dat die hare glad is en dat daar geen pitte is nie.
  • Wanneer die hare afgekoel is, smeer dan die haarolie aan.
  • Dit is belangrik dat jy onmiddellik jou hare moet swirl sodat die blow kan set.
  • Baie meisies maak die mistake om hulle vars-geblowde hare vir ʼn walk te vat, om dit miskien te gaan afshow. Maar wanneer die wind of ʼn bietjie vog aan daai hare raak, dan mince dit onmiddellik tot ʼn afro toe. And it goes without saying dat dit ʼn ware ramp is.
  • Swirl maar rather, al doen jy dit vir 15 minute.
  • ʼn Goeie swirl is wanneer die hare eers rondom die kop geborsel word, dan word die swirlkous opgesit en ʼn paar keer in die rondte gedraai om seker te maak dat al die hare straight om die kop sit.
  • Gebruik ʼn sterk pantyhose sodat die kous lekker styf op die kop sit.
  • Onthou om die voetgedeelte van die pantyhose te gebruik as die swirlkous.
  • Sny die kous by die kniegedeelte af sodat jy ʼn lang stuk kous het om om jou kop te draai.
  • Na die swirl, borsel jou hare met ʼn wyetandkam of -borsel.
  • Jou hare is nou ordentlik en jy is gereed om uit te gaan en jouself vir die wêreld te wys. 

Papgeld

                                                                                     Lester se storie

                                                                                             Junie 1960

 132 Beetlestone Road, Gelvandale, Port Elizabeth

Mel sit onder die droër en maak asof sy nie vir Claudine hoor nie.

“Mel! Mel!” skree Claudine, desperaat om haar aandag te kry. “Die kind huil, kan jy nie hoor nie?”

Mel ignoreer haar jonger suster en die gehuil van die kind: sy moet haar hare uitsorteer.

Claudine skakel die droër af en druk haar gesig onder in.

“Ek sê jou kind huil! Jou pap baby van twee maande is honger en jy worry oor jou hare! Gee vir die kind bors!”

Claudine kyk Mel stip in die oë soos sy met haar praat. Claudine sien niks emosie in haar suster se gesig nie. Haar oë is groot en donker. Dis nie die eerste keer dat Claudine wonder wat in haar suster se kop aangaan en hoekom sy die dinge doen wat sy doen nie.

“Ek is nie nou lus vir die kind nie. Gee hom vir Mammie, ek is besig hier.”

“Mammie is besig met haar eie kind, Mel! Daar’s twee babies in die huis. So Mammie kan nie haar kind los om na joune te kyk nie. Jirre, Mel. Ek kan hoor aan die kind se huil dat hy honger is. Maak dit nie jou hart seer om jou kind só te hoor huil nie?”

Mel se aandag is weer by haar hare. Sy maak ʼn haarkruller los om te toets of die hare droog is. Die oranje kruller kom maklik los en die hare lyk droog.

Mel forseer haarself om na die huilende kind te kyk. Sy het nie onmiddellik ʼn naam vir die gevoel wat in haar opkom nie. Irritasie? Ontsteltenis? Haat? Ja. Miskien. Haat is seker al rede hoekom sy voel dat sy hom met sy blou babakombers kan versmoor. Haat is moontlik die rede hoekom sy die baba se boude blou knyp wanneer sy die doeke omruil. Hoekom sy nog nooit vir hom geglimlag het nie. Hoekom sy hom op sy maag laat slaap in die hoop dat hy gaan versmoor. ʼn Stem in haar kop vra haar of dit normaal is vir ʼn ma om te wens dat sy haar kind kon vermoor. ʼn Stem uit ʼn ander gedeelte van haar kop is van mening dat sy so gou as moontlik hier moet wegkom voor sy iets ernstig aan die baba doen wat sy nie sou kon wegwens nie.

As sy net haar hare mooi droog en in ʼn swirlkous kan kry, sal sy reg wees om uit te gaan en weg van die geraas af te kom.

Sy besef dat die baba opgehou het om te huil. Claudine het hom opgetel en haar vinger vir hom gegee. Die baba suig ernstig aan die vinger, sy gesiggie rustig. Met sy gesig ontspanne kan mens sien hoe mooi die kind is. Wit vel, vet ronde wange, groen oë, ʼn bos gekrulde swart, sagte hare, nes sy ma s’n.

Claudine sing saggies vir die kind: “Claudine se seuntjie, Claudine se hart, Claudine se noenoes, Claudine se skat.”

As mens nie geweet het nie, sou mens gedink het dat die twee ma en seun is, dink Mel.

Die twee susters is nie bewus dat Ester, hul ma, hulle vanuit die deur van die kamer dophou nie. Sy het self nou net haar eie kind van ses maande aan die slaap gemaak. Haar hart breek in stukkies elke keer wanneer sy dink dat sy en haar 16-jarige dogter albei pap babas het.

Toe sy haar huwelikspligte nagekom het teenoor haar man in die donker slaapkamer, het haar oudste kind oop bene in ʼn bos gelê met ʼn outjie wie sy nie ken nie.

En sy het gedink die skande was verby toe Mel op 13-jarige ouderdom die skool moes verlaat omdat sy swanger was met haar eerste kind. Mel het geweier om te sê wie die pa is, maar toe die baba kom het sy haar die naam Annaline gegee en die maatskaplike werker gevra om vir haar ʼn ander familie te kry. Sy het gesweer dat sy nie ʼn valkind gaan grootmaak nie. Maar nou sit Mel weer met ʼn baba.

“Kom Claudine!” roep Ester. “Sit ʼn doek op jou kop en laat ons gaan.”

“Waarnatoe Mammie?” vra Claudine terwyl sy ʼn doek oor haar lang hare vou.

“Ons gaan vir miesies Sturvey gaan sien,” sê Ester.

“Nou hoekom moet ék gaan en nie Mel nie? Dis sý wat die ma van hul kleinkind is.”

“Daai Mel gaan my net embarrass,” sê Ester. “Jy mag vier jaar jonger wees, maar at least is jy oopkop en weet hoe om jouself te gedra. En bring die baby saam, sy ma gaan nie reg na hom kyk as ons hom hier los nie. Daai kind is nie safe alleen by sy ma nie.”

Ester neem haar slapende kind en gaan los hom by haar buurvrou. In die huis vou Claudine Mel se slapende baba in sy blou kombersie en tel hom op. Die twee vroue ontmoet mekaar in die pad en begin stap.

Mel wag net dat die voordeur toe gaan, toe spring sy op. Sy trek die swirlkous van haar kop af, borsel haar hare uit en trek die tas onder haar bed uit. Sy het dit al ʼn week gelede gepak. Sy druk die pak oranje krullers in haar tas en zip dit toe. Sy het nou alles wat belangrik is. Mel trek haar jas aan, gryp die tas en loop by die huis uit.

By die deur bly sy vir ʼn oomblik staan om te wonder of sy ʼn nota moet los, om te verduidelik dat sy dit nie meer kan vat nie en dat sy op pad Kaap toe is om ʼn beter lewe te soek. Die stem in haar kop vertel haar om nie die nota te los nie.

Die bure langsaan sal baie bly wees om haar ma te laat weet dat sy die huis met ʼn tas verlaat het en hulle sal dit dan self besef. Sy voel ʼn bietjie jammer oor Ronald, maar sy het ʼn regte man nodig, nie ʼn laaitie wat loswerkies doen nie.

Die wind waai sterk in die Baai. Dit is koel, want winter is op pad, maar gelukkig reën dit nie. Die pad is besig: vol kinders wat speel en karre wat ry.

Ronald draf in Beetlestone Road teen ʼn stadige pas. Hy dink aan Mel, sy mooiste meisie ooit. Hy het die tyd nodig om oor die baba te dink. Vandat Mel hom gesê het dat sy swanger is, is die baba die heeltyd deel van sy gedagtes. Hy is wel slegs 19 jaar oud, maar hy voel dat hy reg is om te trou en na ʼn familie om te sien. Maar toe hy vir Mel sê hulle moet trou, toe wil sy nie.

Watter speletjies speel sy? Vir wat raak sy swanger en weier dan om met die kind se pa te trou? Sy het dan agter hom aangehardloop en kon nie wag om haar bene oop te maak nie, maar nou maak sy asof sy hom nie ken nie. Sy is so mooi, maar baie verwarrend. Hy weet nie wat met haar aangaan nie. Ronald draf verby Gelvan High. Hy het verlede jaar skool in standerd 8 gelos. Hy was gelukkig om ʼn los werkie by GM te kry; ten minste maak hy R450 elke tweede week. Dit maak sy ma gelukkig, want nou kan hy na die huishouding help omsien.

Die vrou wat die deur oopmaak waaraan Ester en Claudine klop se gesig is suur asof sy permanent iets slegs ruik. Sy kyk die twee mense op en af en sê niks.

“Miesies February, ek is hier vir die baby se papgeld. Die kind is amper drie maande oud en sy ma gee nie meer bors nie. Ek moet ekstra blikkies melk koop en somtyds my eie kind se melk vir die baby gee.”

Soos Ester praat, wys sy met haar vinger na die bondel in Claudine se hande.

“Dis nou amper winter en die construction jobs droog op en my man pay maar min. Waar gaan ons die geld kry om twee babies te voer? Nee, jy moet papgeld betaal.”

“Watse nonsens praat jy?” vra miesies February, haar stem onnatuurlik diep. Die diep basstem vul die voordeur waar die drie vroue staan. Dis asof die stem vanuit die grond en die mure van die huis kom en nie vanuit die lyf van ʼn klein vrou nie.

“Ek het nie geld vir ʼn valkind nie. Loop! Ek het jou gesê toe jou dogter met haar groot maag in die straat rond parade het dat ek nie die kind aanvaar nie. My kos wag vir my in die kombuis, ek moet klaar kook.”

Claudine neem twee tree nader aan miesies February en lig die kind op na haar. Die baba maak sy oë oop soos die koue lug sy gesiggie tref. Hy gaap.

“Groen oë?” vra miesies February.

“Nes Ronald s’n, nè?” sê Claudine.

“Spierwit vel,” sê miesies February saggies.

“Nes joune,” sê Claudine weer. “Kyk, hy het ook jou man se cleft chin.”

Miesies February lig haar arms op om die baba te vat. Sy bekyk sy gesiggie goed. Haar uitdrukking sê vir Ester dat sy gelukkig is met wat sy sien.

“R2. Ek vra R2 per week vir papgeld. Ek moet melk koop en waspoeier vir die luiers. En babyklere. En kos …” begin Ester te eis.

“Jy’s mal as jy dink ek kan R2 se papgeld elke week vir ʼn valkind afford. Die kind mag mooi wees, maar dis nie asof hy wit is of iets nie.

“Vir wat vra jy witmense-pryse vir ʼn valkind? Anyways, wie sê dié is Ronald se kind? My seun is goed grootgemaak en ʼn kerkloper. With all due respect, maar jou dogter is los. Is dié nie haar tweede kind nie? Sy is nie ʼn virgin nie. Haar virgin is gebreek!”

Miesies February se gesig raak rooi soos sy praat.

“Sy het my Ronald getarget omdat hy jonk en onskuldig is en hom verlei soos Solomon in die Bybel. Met haar groot tette en … en … gebreekte virgin! Blame jy vir Ronald? Want ek blame hom nie. Om alles so op ʼn skinkbord geoffer te word. Wat kan ʼn man doen?”

“Ek dog jy sê Ronald is nie die pa nie? Admit jy nou dat hy my dogter pregnant gemaak het?” vra Ester.

“Ek admit niks! Maar wat kan ʼn mens doen as ʼn hoer jou iets verniet aanbied soos in die dae van Sodom en Gomorra?”

“Dit klink vir my asof jy admit. Watch jy Ronald se elke move? Waar is hy nou? For all you know is hy nou in die bos met ʼn ander hoer besig om jou tweede kleinkind te maak,” skiet Ester terug.

“My kind lê nie in bosse nie! Jóú kind lê in bosse! Almal weet van haar, sy is die straathoer!”

Die baba begin weer huil. Claudine haal ʼn bottel uit haar sak en loop ongenooid die voorhuis binne. Sy gaan sit op die settee en gee die baba sy bottel, maar hy draai sy koppie weg. Ester stap ook binne en miesies February maak die deur toe.

“Wat is fout, Noenoe? Hoekom wil jy nie drink nie?” vra Claudine saggies.

“Hy het ʼn wind,” antwoord miesies February. “Sien jy hoe hy sy beentjies optrek en sy lyf styf trek? Dis ʼn wind. Los die bottel. Breek eers sy windjie.”

Claudine lê die kind op haar skoot en druk sy klein beentjies tot op sy magie. Stadig pomp sy die beentjies. Sy lig hom dan op tot by haar skouer en klop sy rug saggies. Die baba stop sy gekerm en breek kliphard ʼn wind.

“Dis goed, Noenoes, dis baie goed,” sê Claudine.

Al drie vroue kyk verbaas op toe die voordeur skielik oopgaan en Ronald instap. Hy het ʼn sweetpak aan en sy gesig is natgesweet. Ronald loop tot by Claudine, gaan tot op sy hurke en bekyk die baba.

“Ronald, kom weg van daai kind af. Jy is nat. Netnou gee jy vir hom ʼn verkoue,” roep miesies February.

Ronald ignoreer sy ma en vra vir Claudine: “Kan ek hom vashou?”

Claudine gee die kind en die bottel vir Ronald. Hy hou die baba styf vas en bekyk sy gesiggie noukeurig.

“Hy drink baie. Hoeveel wil julle hê vir hom?” vra Ronald.

“Wag nou Ronald, wat praat jy van geld? Jy weet nie eens of dit jou kind is nie,” roep miesies February.

“Ma, ek sal betaal! Hoeveel, antie Ester?”

“R1 ʼn week sal genoeg wees, Ronald,” sê Ester.

Die deernis wat hy vir die kind wys het skielik Ester se hart versag.

“OK,” antwoord Ronald. “Claudine kan die papgeld elke Vrydag by ons kom optel. My ma sal dit hê. Ek sal like om die baby ook te sien. Wat is sy naam?”

“Lester John,” antwoord Claudine.

“Dis ʼn ernstige naam vir só ‘n klein kind. As ek mag kan ek hom ʼn derde naam gee? My oupa was Martin.”

“Dis oukei, Ronald,” antwoord Ester. “Martin kan sy derde naam wees.”

Die huis is doodstil toe Ester en Claudine terugkeer. Claudine gaan kamer toe om die baba neer te lê.

“Mel,” roep Claudine, “ons is terug!”

Ester maak die agterdeur oop, stap uit en skree oor die draad na die buurvrou: “Koowee, ons is terug! Jy kan die baby maar weer bring.”

Claudine stap ook by die agterdeur uit.

“Mel!”

“Sy is hier weg met ʼn fancy jas en ʼn suitcase,” antwoord die buurvrou soos sy Ester se baba oor die draad aangee.

“Huh, wat sê jy?” vra Ester.

“Mel is weg met ʼn suitcase,” sê die buurvrou weer.

“ʼn Suitcase?” hoor Ester vir Claudine agter haar vra.

Hulle draai en kyk na mekaar sonder om iets verder te sê.

“Ja, dit lyk asof sy êrens op pad was. Maar haar hare het mooi gelyk, dit het geblink en gewaai in die wind. Daai meisie is gebless met gladde hare, sy moet dankie sê vir haar voorvaders.”

  • 5

Kommentaar

  • My hare is is skouer lente en is erg gekoek ek het nie piesangs nie help as wat kan ek alles probeer of gebruik asb wil al huil.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top