Hierdie huis: Herman Lategan gesels met Kleinboer

  • 0

Hierdie huis
Kleinboer

Uitgewer: Uitgewer
ISBN: 9781415207321

Kleinboer se laaste boek in sy trilogie, Hierdie huis, het eersteklas resensies ontvang, en tereg. Herman Lategan gesels met hom oor nagblomme, papsakke, houtbaadjies (doodskiste) en sandkomberse (die sand op ’n graf).

Jou boek is outofiksie, waar waarheid en verbeelding heerlik saam samba en ’n sensuele dans word. Soos onder andere Hennie Aucamp is jy gereeld ’n flâneur wat honger en nuuskierig wandel deur neonbeligte stede van die nag. Wat is daardie hunkering wat ’n mens van kroeg tot kroeg en lyf tot lyf dryf?

Ek het nie "early affirmation" gehad nie. Ek het tienerromanse misgeloop, al was ek as skoolseun heimlik op minstens drie meisies verlief en het ek Jan van Elfen se Wat elke seun moet weet gelees. Ek het die hunkering in my binnekamer bewaar, so daar was ’n groot onvervuldheid wat tot uitbarsting moes kom. Toe word ek later ’n rondloper, of soos jy dit meer beskaafd stel, ’n flâneur. ’n Rondloper oorwin nie, hy neem in, maar dis oukei. Ek het die underbelly verken.

Ek het my eerste seks eers op ouderdom 27 gehad, in soel New Orleans, Amerika. In my eerste boek, Kontrei, was ek te skaam om die 27 jaar plus sowat sewe maande te erken, toe stel ek dit meer kripties: my eerste seks 10 000 dae plus nog 100 dae ná my geboorte. Ek moes dit in die buiteland doen om weg te kom van die lang Calvinistiese skaduwee. Ek was ’n veer wat ondertoe gedruk en daar gehou is vir jare; die spanning het vreeslik geword en moes losgelaat word. My eie Orkaan Katrina het die dyk eindelik gebreek.

Ek is aan die introverterige kant. Is rondfok net my manier van uitreik na die mensdom? vra ek in Kontrei, en ek herhaal dieselfde frase later in Hierdie huis.

Ek sou vreeslik min mense ontmoet het as ek nie die underbelly verken het nie. Nou, ná drie boeke, het my lewetjie weer klein geword. Daar is die roetine van huis, werk, huis, werk. Die flâneur in my is aan bande gelê, ek is getrou aan my nuwe(rige) vrou, ek oefen op ’n stilstaande trapfiets in die slaapkamer, voel nie wind deur my hare nie, en die buurt se uitgelate brakke hol nie saam nie. My grootste ontvlugting is ’n zolletjie soms by die braaivleisvuur – dan reis ek met die petrol genaamd paranoia, maar skud dit later af en raak gehipnotiseer deur die laatnagkole. Totdat my vrou my kom inroep huis toe – sy sê die Jack Russell op my skoot en die panga wat langs my lê is nie genoeg beskerming teen betreders nie, en ek sit boonop en visvang in die seilstoel.

Herman Lategan (foto: Philip de Vos)

Op Facebook skryf jy: “I’m always wanted dread and alive by the evil forces ... (Luister na Peter Tosh se lied hier). En hulle het my gekry. Ek moet einde Januarie my werk as taalversorger verlaat oor my profiel (man, wit, bo 60) nie meer by hierdie maatskappy pas nie. Ek verstaan dit, regtig! Maar is daar iewers ’n plekkie vir my in Johannesburg as vryskut-proefleser of sub, in Afrikaans of Engels? Asseblief. Intussen hou ek aan Lotto speel.” Behalwe die verlies van geliefdes, het jy al voorheen sulke teleurstellings gehad en hoe het jy hulle verwerk?

Ja, daar was ’n verskriklike insident. Ek het dit al vir heelwat mense vertel, maar nog nooit neergeskryf nie (en laat skryf nie meer ruimte vir kleur en geur as vertel nie?).

In September 1983 kom ek terug ná ’n maand in Amerika. Ek was feitlik platsak, al was die rand destyds wragtig sterker as die dollar. Ek het nog ’n paar dae verlof gehad voor ek moes teruggaan na my werk by SA Brouerye in Isando (nie as proeër van bier nie – vervelige adminwerk, helaas). Ek het destyds in Sunnyside, Pretoria, gebly. Ek loop toe een oggend in die middestad en ’n ou keer my voor. Naïewe ek laat my in ’n stegie in lei, en daar sit mans op hulle hurke en kaart speel. Ek word oortuig hoe maklik dit is om te raai watter een van drie kaarte onder die deler se hand versteek is nadat hy vinnige bewegings gemaak het en die geld wat ek sou neersit te verdubbel, en ek loop en onttrek die laaste R600 uit my bankrekening (duisende rande in vandag se geld!). Terug in die stegie staan ek kordaat met die geld in my vuis. Ek sit R20 op die grond en met my voet wys ek daar, daar is die kaart onder die deler se regterhand. Maar skielik word ek van agter gegryp en al die geld word gewelddadig van my afgeneem en die tsotsi's hardloop weg. Gelukkig is ek nie met ’n mes gesteek nie. Wat dit verskriklik maak, is dat die skielike aksie veroorsaak het dat adrenalien my bloedstroom binneskiet. Soos ek worstel om my van die knellende arms om my te bevry, kak ek toe oorvloediglik en onwillekeurig in my broek (die stank het my dalk van ’n lem gered). Ek was ’n hele ent van my woonstel in Sunnyside. Ek was geklee in slegs ’n T-hemp, swart PT-kortbroek en sandale. Ek loop toe ongemaklik, my onderbroek swaar gelaai met die angsdrol, my bene styf-styf soos ’n ou wat pas die Comrades-marathon voltooi het. Ek haal ’n bus maar gaan staan doer in die hoekie, weg van die ander passasiers. Om te gaan sit, sou dinge net vreeslik vererger en morsiger gemaak het. By die Sunnypark-woonstelle sorg ek dat ek alleen in die hysbak is, boontoe na die 21ste vloer, en die reiniging kan begin.

Ek moes toe geld by my pa leen om my deur te sien tot betaaldag, die enigste keer ooit. Iemand het eenkeer geskryf dat mens ná enige ramp op die uitkyk moet wees vir "the seed of equivalent benefit". Nou ja, ek verseker jou dat tsotsi's wat op straat kaart speel of mens mooi dinge belowe, my nooit weer gevang het nie.

Daar is mense wat nog nie die boek gelees het nie, so ek moet doekvoet (saggies en versigtig) oor die storielyn seil – ’n mens wil nie te veel verklap nie. Maar van die roerendste tonele is waar daar sterftes is. Die verhaal vat jou hier, dan daar, en alles is lekker jollie (op die oppervlak), en skielik slaan die woorde en tonele jou wind uit. Dit bring my by die swart hond en ennui. So tussendeur al die katelkaskenades en nagvlinders is daar ’n ysige mineurtoon. Het jy altyd hierdie hartseer in jou gedra, al van kleintyd af?

Dis ’n moeilike vraag, Herman. Ek sal antwoord deur ’n fragment uit Hierdie huis aan te haal wat Ingrid Winterbach se frase "donker vermoede soos ’n skaduwolk oor my gemoed" bevat, en ten spyte van my mineurtoon, hopelik ook humor:

Breinspoeling in my kleintyd het the fear of God in my gesit, veral dié vier frases: strafkampe in die uitgestrekte, yskoue Siberië; laster teen die Heilige Gees; die gruwel van voorhuwelikse seks; en Christus se dreigende wederkoms met die hel se vlamme wat wag vir lasteraars, rondfokkers en ander sondaars.

In Ingrid Winterbach se Die boek van toeval en toeverlaat word beskryf hoe ’n meisie se vertroebelde jeug ingelei word deur die roep van ’n pou op ’n Vrystaatse plaas en die afsterwe van ’n swanger swart jong vrou. My vertroebelde jeug is ingelei in die Van der Horst-koshuis op Wolmaransstad in 1968, toe ek 12 was. My pa is vanaf Kemptonpark na plat Wolmaransstad verplaas vir die laaste ses maande van daai jaar om daar wiskunde te gee. Ek en my tweelingbroer was in standerd 5 (deesdae graad 7), maar is in die hoërskoolkoshuis slaapplek gegee terwyl ons ouers in ’n kamer in die onderwyserskwartiere gebly het. In die koshuis is ek en my broer vir die eerste keer oor seks ingelig danksy wêreldwyse hoërskoolseuns. Die donker vermoede soos ’n skaduwolk oor my gemoed het my een naweek getref toe al die koshuisseuns weg was na hulle ouerhuise. Dit was laatwinter en ’n mistroostige Wes-Transvaalse wind het gewaai. Ek was alleen op die trappe wat na die tweede verdieping van die koshuis lei. Ek het daar gestaan en deur ’n groot venster op ’n binnehof afgekyk. Daar was nie ’n siel in sig nie. My tweelingbroer was dalk in die badkamer of by ons ouers in hulle kamer. Ek en hy het reeds begin katkiseer. Ek het gestaan en dink aan die hardeband-katkisasieboek met die growwe grys omslag en die ewigheidsleringe en verdoemenisse wat daarin gepredik word. Die wind het meteens ’n klomp droë blare op die sementblad van die verlate binnehof saamgekolk en ek is oorweldig deur gevoelens van verlange, verlies en eensaamheid en ’n nuwe wete dat die lewe nie so maklik en sorgvry gaan wees as wat dit tot dusver gelyk het nie. Vir die res van my jeugjare, en eintlik nog tot diep in my twintigs, sou ek soms verskrik in die donker nag regop sit uit ’n nagmerrie of gewek word deur ’n donderslag en bevrees dink dat die Oordeel op ons is en dat ek geweeg en te lig bevind gaan word en in die ewige hellevuur gaan brand.

Vandag op die toilet het ek vaagweg die hoekhuis in Wolmaransstad onthou waar ek en my broer klavierlesse by ’n middeljarige vrou gekry het. Dis meer as 40 jaar gelede. Ek het die klavierjuffrou se gesig vergeet, maar ek onthou die erf se ruie, hoewel steeds geordende tuin met baie blomme en berankte grensdrade en ’n raserige hekkie. Ek het eenkeer ná ’n klavierles ’n moerse opelyfbehoefte gehad, maar was te skaam om die juffrou te vra of ek haar toilet kan gebruik. Die Van der Horst-koshuis was sowat ’n kilometer weg, en ek het myself met ’n skuifeldraffie vol lyding daar gekry, by die naaste toilet ingebars en gekak soos Peter Illich Tsjaikowski teen die einde met cholera.

Jy hou van lysies maak. Orden dit die chaos, gee dit ’n gevoel van in beheer wees, of is dit maar net gewone dwangneurose?

Kleinboer

All of the above. My vroegste kennismaking met lysies was die gebruikte koeverte waarop my neurotiese ma haar inkopielyste neergeskryf het, asook die disse wat sy elke dag tuis wou berei. Sy het potlood gebruik, ek gebruik pen. Lysies is maar daar om mens se geheue te help. Soms dink ek terwyl ek bestuur aan drie dinge, dan kom ek by my bestemming aan en onthou net een of twee – baie frustrerend. Dalk moet ek belê in ’n stemopnemertjie wat ek in my kar kan gebruik. Maar dit gaan heelwat kere die skelwoord "doos!" opvang – kruiende bestuurders en dié wat die verkeersreëls oortree, koer my moer werklik erg.

Dis onmoontlik om proviand te gaan koop sonder ’n lys so lank soos jou arm. Anders kom jy tuis en vind jy het die bliksemse suiker vergeet, dan moet jy jou koffie bitter drink. Ek skryf nie net dinge neer wat ek moet koop of doen nie, maar ook sinnetjies wat ek in ’n boek kan gebruik, soos "Die uitwerk van nuwe lotery-nommers het geen einde, en om ’n grasperk te sny is ’n vermoeiing van die vlees."

Wanneer ek ’n item op ’n lysie afgehandel het, krap ek dit dood. Hier lê ’n stapel ou lysies in my skryfkamer, want al die items is nog nie doodgetrek nie. Eendag wil ek ’n groot bonfire met hulle maak sodat al die ongedane dinge kan wegbrand.

Ek hou van romans wat nie net blokke teks bevat nie, maar hier en daar ’n lysie het. Voorbeelde is Jonathan Franzen se The corrections en Ryk Hattingh se Witskrif.

Die titel van Loftus Marais se MA-verhandeling was: “Die huis as betekenisvolle ruimte in enkele Afrikaanse gedigte, met spesifieke verwysing na die bewoningsfilosofieë van Heidegger, Bolnow en Bachelard”. In sy algemene inleiding skryf hy: “Ruimte in die poësie is veel meer as agtergrond of inkleding. Dit is dikwels ’n integrale deel van liriese uitbeelding. Soms is ’n spesifieke ruimte ook die fokus van poëtiese ondersoek. Die huis is ’n ruimte wat as onderwerp uitgebreid in die poësie verken word. As intieme domein wat die ganse lewens van individue bevat, word dit beklee met ’n sekere intensiteit wat dit bo ander ruimtes laat uitstaan. Die mens se vertroude en voortdurende omgang met die huisruimte maak dus daarvan ’n gelade domein wat by nadere ondersoek die leser bewus maak van verskeie waarhede oor die menslike bestaanswyse.” Dit laat my dink aan jou huis. Is dit ook ’n “gelade domein” en watter rol speel daardie “ruimte” in jou boek?

Selfs ’n rondloper het ’n sterk drang om telkens na sy huis, sy vertroude ruimte, terug te keer. Dis seker in ons DNS vasgelê oor derduisende jare. Kyk maar na die voëlformasies in die lug kort voor sononder. Ek keer terug na my huis waar die hond se stert van blydskap waai en selfs die goudvissies name het. Ja, in my boek is die huis beslis ’n "gelade domein". Die woord "huis" kan teruggelei word na die Griekse keuthos: verborge diepte. Hier word baklei, liefde gemaak, vuur gestook, kos gekook, gedroom.

Die hoofkarakter in die boek verlaat telkens die huis om werk toe te gaan, en van daar doen hy saans soms ’n kroeg of bordeel aan. Maar dan is daar die drang om hoof op eie kussing te gaan neerlê. Ook Lungi verlaat die huis so te sê daagliks – sjebiens is magnete wat haar aantrek. Maar die groter magneet, eie huis, seëvier laataand. Daar is wel op ’n kol ’n krisis in die boek wanneer sy vir drie dae glad nie huis toe kom nie, maar dis uitsonderlik.

Ek het my eie huis later as die meeste mense bekom – ek was reeds 34 toe ek die woonstellewe gegroet het. Ek het dadelik ’n lysie gemaak van dinge wat reggemaak moet word, maar sommige daarvan, soos die hangende geute met hulle gate, lyk ná twee en ’n halwe dekades steeds dieselfde, of erger. Tog het die stoep, badkamer en kombuis nou netjiese teëlvloere, maar onhandige ek moes nutsmanne inkry daarvoor – my neus is altyd in ’n boek en my ore naby ’n CD-speler.

As ek my hele lewe nog net in woonstelle gebly het, sou die boeke wat ek voortgebring het, baie anders gelyk het, of ek sou dalk niks gepubliseer het nie. ’n Huis is geanker in die aarde, jy voel jou wortels, jy het materiaal om oor te skryf.

In die boek is dié versugting: "Ek wou al dikwels wegkom van hierdie huis met sy kakkerlakke, lekkende dak en rotte." Ek speel toe met die titel Hierdie huis met sy kakkerlakke, maar my vriend Jean Meiring beveel aan ek verkort dit, en hy was reg.

Andries Visagie skryf oor Kontrei en sê daar is ’n spanning tussen Eros en Thanatos. “[D]it wil sê die uitgelate en vitale bevestiging van seksuele genot teenoor die somberder representasie van seksualiteit in die verlengde van dood en gevaar, op verskillende maniere aanwesig in die seksuele outobiografie.” Stem jy saam en is dit ook in Hierdie huis aanwesig?

Ek stem saam met Visagie se stelling. Iewers het Breyten dié refrein in ’n gedig: "ek ’n bietjie dood". My interpretasie is dat hy na die orgasme verwys.

In my boek besoek die hoofkarakter ’n bordeel, daar is ’n sessie op die bed en dan: "Agterna hardloop ek uitgelate en kaal die entjie in die gang af van Andile se kamer na die kommunale badkamer om te gaan was, en sy volg laggend met ’n pienk handdoek om haar en liggroen seep in haar hand." Ja, dis ’n uitgelate, vitale bevestiging. Maar elders in die boek breek die kondoom in ’n bordeel, dan ry die hoofkarakter bevrees na ’n hospitaal en vra die dokter om ARV's voor te skryf. "Ek sluk die pille met water af. Go, boytjies, go! Hardloop deur my slagare en are soos PacMannetjies en maak die vyand vrek! Of duik soos kamikaze-krygertjies op die virusfokkertjies neer, asseblief! Ek onthou ’n teksversie uit Deuteronómium: So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei."

Ek huldig ook die teorie dat ’n man tydelik doof word naby fyndraai. Dis omdat Moeder Natuur hom geprogrammeer het om sy saad ten alle koste in die vrou te skiet om die spesie se voortbestaan te verseker. Moeder Natuur wil nie hê hy moet sy voël uitpluk en die kosbare saad op die grond mors nie, en daarom maak sy hom doof vir naderende gevaar. Die senuwee-eindpunte in die voortplantingsorgane gaan so op in die heerlikheid van die orgasme dat alle ander sintuie so te sê uitgedoof word. Dis hoekom ’n krakende matras naby die einde van ’n pomp mens veel minder steur as aan die begin, al kraak die matras nog erger teen die einde. Die mannetjie is weerloos, die wêreld buite sy eie lyf en dié van die wyfie vervaag. Hy maak selfs onwillekeurig meestal sy oë toe wanneer hy kom. (Hy kan wel die stroom probeer teëgaan. In Dan Roodt se Kommas uit ’n boomzol is daar ’n afdeling met die titel “Ek het gedurende geslagsomgang my oë oopgehou”.)

Hierdie is nie kritiek nie, dis net ter agtergrond. Andries Visagie skryf ook (oor Kontrei): “Daar is egter diegene wat bedenkinge het oor die geslaagdheid van ’n identiteitsoeke wat histories gestigmatiseerde praktyke soos die seksuele uitbuiting van prostitute en die erotiese objektivering van die swart vroulike liggaam deur wit mans as vertrekpunt neem. Hoewel Rebekah Kendal (2006) verwag dat Kontrei ’n seminale werk van die postapartheid literatuur in Suid-Afrika sal wees, is sy nietemin krities oor die verteller se erotisering van die swart vroulike liggaam en sy skryf: ‘His attempts at redefining himself by inscribing himself in and on the bodies of black women is ultimately futile ...” Wat is jou siening hiervan?

Ek het vroeër in dié onderhoud gesê ek was ’n seksueel onderdrukte. Ek was ’n verstopte vulkaantjie. My seksuele voorkeur vir swart vroue is meer ’n persoonlike as ’n politieke ding. Sommige van my beste vriende is wit vroue, ek kan met hulle oor poësie en rockmusiek gesels, maar ek is aangetrokke tot die kurwes van ’n swart lyf. Om die oorsprong daarvan vas te pen is onmoontlik, maar dalk het vroeë imprinting daarmee te make. Miskien het ’n huishulp my as kleuter eroties meer geroer as my ma. Ek het geril wanneer ek as tiener per ongeluk my ma se bleekwit bobeen gesien het – dit was vir my onbehoorlik. My ma het vir my in die kategorie van maagdelike Moeder Maria geval. Wellus is vir my gekoppel aan swart, nie wit nie. Ek verkies uitstulpende boude bo ’n plat gat, Brenda Fassie bo Juanita du Plessis. Daar was wel later wit vroue wat vir my eroties was, byvoorbeeld die punksanger Nina Hagen.

My seksuele ontwaking was ’n rebellie teen die onderdrukking van kerk, skool, ouerhuis en samelewing (ek moet byvoeg dat ek myself nie as ’n willose slagoffer ag nie – ek het my láát onderdruk). In my laat 20's en selfs 30's was my middelvinger soos ’n ereksie. Ek bely ek is nie ’n rolmodel vir ’n geestesgesonde in Sielkunde 101 nie. "I have a few of my own fault lines running under my life," sing Tom Petty. (Beuselagtige Thomas. Hy is onlangs oorlede; ek luister tans oor en oor na sy album van twee jaar gelede, Hypnotic Eye.)

Dat ek met swart vroue "reggekom" het ... wel, dis maar hoe die kokende magma die paadjie uit die verstopte vulkaantjie na bo gebreek het om spuitende lawa te word. Ek het wel lekker letterkundige speletjies met oorskrydende seks tussen wit en swart gehad, veral oordat so min ander mense daaroor geskryf het. Hierdie "asprisse" gediggie het LitNet destyds gehaal, maar gelukkig nie een van my boeke nie:

die Here het my benagsaam hier
aan die suidpunt van donker Afrika geplaas
om swart vroue te kersten
ek bedoel kers
ek bedoel waks
ek bedoel wiks
ek bedoel brand
wit soos ’n uitlaatpyp.

Was dit alles futiel? Ek het met honderde jong vroue seks gehad. Heelwat van hulle is seker nou al dood (hulle het gevaarlik naby aan dodelike virusse geleef), en die oorlewendes is nou al te oud om vroue van die nag te wees. Sal daar dalk nou net een van hulle met haar rug teen ’n landelike kleimuur in die son sit en my vlugtig onthou? My gesig, iets wat ek gesê het, my vals naam? (Ek het vroue in kroeë vertel ek is Jimmy want ek was bang hulle spreek Fanie as Fannie uit.) Bruin Lizzy van Bonteheuwel in die Kaap wat in haar bordeelkamer vir my sê: "Ek sê vir my ouma ek is nie ’n hoer nie, maar ek doen ’n hoer se werk.” Onthou sy dit? Ek onthou dit oor ek dit neergeskryf het, en dis vir my nie futiel nie. Die hoere het soveel op my “geskryf” as ek op hulle.

Heeltemal op ’n ander noot: Verbeel ek my of het jy my eenkeer vertel jy het die psigiater en digter Casper Schmidt geken? Indien so, vertel meer.

Ek het Casper nie geken nie, maar besit wel ’n bundel van hom, Terra incognita (1974). By ’n samekoms van digters en aspirantdigters aan huis van Johann Lodewyk Marais in Pretoria in 1983 het ek vertel van my voorgenome reis na Amerika. Ek noem toe dat ek gelees het Casper woon in New York, dalk moet ek hom probeer besoek. Toe sê Johann de Lange, wat ek net daai een keer ontmoet het, met ’n grinnik ek moet pasop vir Casper. Ek het eers later, toe ek uitvind Casper was gay, besef waarop Johann gesinspeel het. En nee, ek het hom toe nie in New York probeer opspoor nie.

Uit Terra incognita – ek hou hiervan:

Twee voete het voor my deur getalm
om vieruur en kwart voor vyf: voëls
in die bome en mis oor die stad.

En elders:

Jy is ’n walgingwekkende alp tussen mindere pieke.

En:

iewers loop in jou tenger gees
ertsriwwe van christus en toorkuns,
soepel liedere van jou mees mistiese
onbleikbare ervaring, en die bose –
ironiese kragte
waaroor jy herhaaldelik panies bieg.

En:

’n maskerbal van die lewe, ’n rare fees,
’n private heelal onkeerbaar op reis.

En:

Nou swel die bekken tot iets verskrikliker as ’n hekseteks.

En:

Hoe lank sal die dromerige winterbome die grys tinktinkies verwerp?

Wat is jou mooiste herinneringe aan jou kinderjare?

Ek was ses of sewe jaar oud toe ek deur ’n onbeboude erf gestap het onderweg huis toe ná skool. Ek het ’n stowwerige kruik in die bosse gesien en opgetel. ’n Lieflike wit kruik waarop blompatrone geverf was. Ek was in erg my noppies daarmee en het dit tuis vir my ma as ’n geskenk gegee. Sy spoel dit toe onder ’n kraan skoon en tap water daarin, maar ag, toe spuit water deur ’n gaatjie soos ’n engeltjie wat piepie. My pa het so lekker gelag dat die gaatjie vir my nie eens ’n teleurstelling was nie. Ek kan nie onthou of my ma die kruik dadelik weggegooi het nie – ek hoop nie so nie.

En dan is daar die minirok en bene van juffrou Gerber, ons blonde kunsonderwyseres in standerd 6. Van die seuns het bespiegel of hulle skelmpies spieëltjies bo-op hulle skoene moet plak sodat hulle die juffrou beter kan beskou wanneer sy tussen die skoolbanke deur loop.

Vir diegene wat nog nie die boek gelees het nie: die Lotto is ’n leitmotief regdeur die boek. Kan jy verduidelik hoe dit werk, hoe dit tot die narratief bydrae?

My salaris is kleinerig, en groot erfgeld is my nie beskore nie. Ek het nie die ballas om ’n bank te gaan beroof nie. Nie dat ek stinkryk wil wees nie, maar ek wil darem my kleinkind se skoolfgelde aanhou betaal, sterk jeans vir my vrou aanskaf, goeie wyn kan koop en lekker vleis braai tot aan die einde van my dae, en ’n goeie dokter kan bekostig wat nie skaam is om morfien voor te skryf nie. Nou vat ek maar ’n kans met die lotery, kyk ek of die geluksgodin na hierdie ou mensie wil afbuig. Maar ek is realisties: "Mens staan ’n groter kans om deur ’n vallende klip uit die hemel getref of deur die weerlig raakgeslaan te word as om die boerpot te wen." En: "Statisties is dit waarskynliker om deur ’n krokodil gevreet te word as om al ses nommers reg te kry, het ek in ’n koerant gelees. Ja, mens se kans is vrekklein, maar as jy nie speel nie is jou kans nul, so ek hou maar aan."

Ook uit my boek: "In 2000, toe Lotto hier ingestel is, het ek (dadelik ywerig) 49 stukkies karton uitgeknip en ’n getal op elk geskryf, 1 tot 49. Toe gooi ek die genommerde meneertjies in ’n koekblik en maak die deksel toe. In die tuin het ek die blik in die lug gegooi sodat die kartonnetjies geskommel kon word, die blik gevang, dit weer en weer boontoe getol en gevang vir deeglike vermenging. In die huis het ek my oë toegemaak, met die blik oop, voel-voel willekeurig ses stukkies karton uitgehaal en die getalle in die kolom van ’n vormpie ingevul: 4, 12, 13, 34, 41, 46."

Maar toe soek ek ’n meer poëtiese manier, ’n minder kliniese metode, om Lotto-nommers uit te werk, en ek betrek die alfabet. Ek het ’n obsessie met die alfabet en met getalle. In my boek probeer ek aandui dat letters en syfers as simbole ineengevleg is. Ek skryf: "Handelaars het lank gelede hulle voorraad getel en woorde gemaak. Die woord taal kan teruggelei word na die Ou-Hoogduitse Zala, wat getal beteken het, ook optel. ... En die Ou-Saksiese tellian het tel, opsom, meedeel beteken, en later tale (verhaal) geword."

My Lotto-metode is te ingewikkeld om hier te verduidelik (ek doen dit wel geduldig in die boek – selfs mense met slegs graad 2-rekenkunde agter hulle naam behoort dit te snap), maar basies gebruik ek A = 1, B = 2, C = 3 ... Z = 26. Ek maak sinne en voer hulle in ’n formule in om by Lotto-reeksies van ses nommers elk uit te kom.

My Lotto-spelery, elke Woensdag en Saterdag, is ’n leitmotief, ja. Die lewe is mos ’n siklus ... braai elke Saterdag, opkyk na die volmaan elke 28 dae, daagliks jou Viagra sluk en vir die vlaghysing wag (nee, ek speel sommer ... slegs twee maal ’n week).

Uitskietgebeurtenisse fassineer my, dinge wat selde gebeur maar ’n groot impak het. Die Springbokke wat die All Blacks in Nieu-Seeland troef ... ’n tsotsi wat ’n oumatjie wil beroof, mes dreigend in die lug, maar dan word hy voor haar oë deur ’n weerligstraal doodgeslaan, haar klere net effens geskroei maar sy is ongeskonde en haar beursie steeds veilig in haar bra ... en iemand wat die Lotto wen na talle futiele probeerslae. Hierdie ou kleinboertjie wat die massiewe boerpot in sy hande hou en skaterend straataf hardloop. Soos Bob Dylan sing: "He won the war after losing every battle."

’n Vervelige vraag, maar interessant vir my: Hoe het jy die sprong van die IT-bedryf na sub en taalversorger by koerante gemaak?

Ek dink nou aan ons wat as seuns in die winter tydens pouse by die skool in die son gesit het. Een seun het voor ’n ander een gaan staan en hom in skadu gelaat. Toe sê die een wat nou koud kry sonder die sonlig op hom verontwaardig: "Is jou pa ’n glasmaker?" Jammer ek verduidelik die punchline, maar die grappie is dalk obskuur: "Skyn die son deur jou?"

Wel, my pa was nie ’n glasmaker nie, maar ’n wiskunde-onderwyser. Onder sy invloed gaan studeer ek toe wiskunde en rekenaarwetenskap op universiteit. Die liefde vir getalle was nie genoeg om my loopbaan in IT interessant te maak nie. Ek het wel 23 jaar lank in die bedryf uitgehou, maar geleidelik al hoe meer ontgogel geraak. Ek het baie letterkunde gelees en met skrywers gekorrespondeer, byvoorbeeld Koos Kombuis en Johan van Wyk.

My laaste werk in IT was by Hewlett-Packard. Aan die einde van die maand moes al die werknemers om vyfuur van hulle rekenaars afteken vir die sogenaamde month-end run. My kollega het op die konsole in die beheerkamer getik "Please log off immediately, month-end run due to start now." Of eerder, só het dit by sy vingers uitgekom: "Plaes log of imedaitely, month-ed run du to stat new."

Toe gaan hierdie liggie vir my op: ten spyte van my kollega se brabbelsin, het die werknemers almal verstaan wat hy bedoel. Maar ek besef toe ek wil in ’n omgewing werk waar taal eksák gebruik word, waar die regte keuse van woorde en korrekte spelling sáákmaak. Ek het toe as ’n sub by ’n tydskrif begin werk, teen ’n heelwat laer salaris as wat ek in IT verdien het, maar met meer vervulling. Ek het oplaas iets gedoen waarmee ek góéd was! En later na ’n koerant geskuif. My verbeelding kom daar tereg, byvoorbeeld met die uitdink van opskrifte.

Baie van ons plaaslike boeke se buiteblaaie is visueel aaklig. Kitsch, sentimenteel, gerig op wié? wonder ’n mens. Sneeublindes sonder enige visuele geletterdheid? Maar jou buiteblad is ’n treffende kunswerk deur Anton Kannemeyer. Vertel meer daaroor.

Dit was Fourie Botha by Umuzi se slim idee om Kannemeyer te betrek met Werfsonde, en nou ook met Hierdie huis. Ek het ’n foto van my huis gestuur en Anton het die huis treffend op die voorgrond geplaas met die stedelike betonoerwoud agter, en die Hillbrow-toring as ’n falliese ding, as mens dit so wil sien. Ek het egter gevra Anton moet ’n groen grasperkie en ’n boom of wat byvoeg – hoe sal ’n kleinboer dan op slegs ’n sementblad kan oorleef? – en hy het dit gedoen. Ek was baie tevrede, alhoewel die daggaplantjie waarvoor ek gevra het, toe nie in my erf ingeteken is nie.

As Kannemeyer die storie se gevoelswêreld met sy voorblad vasvang, wat sal die agtergrondmusiek vir hierdie boek wees?

"Liefde reg deur die jaar" van Gé Korsten. Nee, eerder "Isolation" van Joy Division, met hierdie lirieke:

If you could just see the beauty,
These things I could never describe,
These pleasures a wayward distraction,
This is my one lucky prize.

Maar ten spyte van my isolasie met tye is daar tog ook samesyn en ’n verlange om die lewe met ander te deel. Laat my toe om uit Kontrei aan te haal – dis ’n stukkie oor die tipe musiek wat my roer:

Toe die ergste hael verby was, het ek in die tuin uitgehardloop en my hande vol haelkorrels geskep en dit binnetoe gedra. “What are you doing?” het Jomo gevra. “Kom kyk.” Ek gooi die hael in ’n glas en skink ’n fris whisky daaroor. Joe Cocker is in die CD-speler. Hy word veral onthou vir die oorgawe, deurmekaar hare, toe oë en spastiese arms waarmee hy in 1969 die Beatles se "With a Little Help from my Friends" in ’n verbleikte, hippierige T-hemp by die Woodstock-fees gesing het. Daarna het Joe baie ander musiek gemaak, niks waaroor mens eintlik opgewonde kon raak nie. Mad Dogs and Englishmen was nie ’n slegte album nie. Toe kom hy in 1989 vorendag met One Night of Sin. Vergeet die res van die songs op die album, speel net die eerste een, "When the Night Comes". Dit het alles: stuwende ritme, ’n kitaarsolo met koorsblare, goeie lirieke, Joe se stem, en die rouste oerkreet in rockmusiek.

… when the night comes
I want to be the one
you run to, I want to be
the one you come to … aaaaaaaaaaaaarrrrrggggghhhh!!!!

Hierdie is nie ’n vraag nie, sommer ’n opmerking. Die mooi name vir papsakke wat jy noem het my opgeval: Lekker Lê, Dis Duidelik, Rooi Harte, en so aan. Jy speel lekker met woorde regdeur die boek. Dit maak die boek besonders, dit wys ons hoe idiomaties en kleurvol Afrikaans eintlik is.

Ek bewonder Engels vir haar funksionaliteit, groot woordeskat en ekonomie, maar ek sal moeilik ’n boek daarin kan skryf, veral ook oor dit nie my moedertaal is nie. In Hierdie huis haal ek hierdie frase uit ’n 1966-woordeboek aan: "Die hel is uitgestraat met predikante se kopbene."

En dié fragment uit my boek sal ook iets verloor in vertaling, dis net so Afrikááns:

"Die maatskappy waar my tweelingbroer werk het ’n sensorprogram geïnstalleer. Nou word e-posse wat skurwe woorde bevat nie meer afgelewer nie. Maar ons flous die fokken vrome Big Brother. Ons skryf kuk in plaas van kak, fock pleks van fok, pous in plaas van poes. Ek het al aan hom geskryf van die lieflikste pous wat ek in ’n bordeel gesien het. Big Brother is so preuts dat selfs e-posse wat die woordjie dobbel bevat, geblok word. Ek en my broer omseil dit deur dowwel te gebruik. Hy raak so gewoond aan ons geheime woorde dat hy hulle soms in die aand in teksboodskappe vanaf sy foon aan my gebruik wanneer niemand ons sensor nie. 'Ek gaan nou dowwel!' het hy eenkeer geteks, maar dit was net dronkpraatjies. Hy het gaan slaap en nie casino toe gery nie en die volgende oggend laat weet hy het ’n pouslike babelas."

Ek het al vir iemand gesê die mooiste reëls in my boeke is nie my eie nie maar die poëtiese stukkies wat ek uit die Bybel se 1933-vertaling uitgesoek het, byvoorbeeld Psalms se "Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval."

Dan is daar heelwat uit Spreuke:

’n Deur draai rond op sy skarniere, so die luiaard op sy bed.

In die skemer, in die aand van die dag, in die middel van die nag en die donker. En kyk, daar kom ’n vrou hom tegemoet, soos ’n hoer aangetrek en listig van hart – sy is onrustig en losbandig, haar voete kan nie in haar huis bly nie – nou buitekant, dan weer op die pleine, en sy staan by elke hoek en loer.

Ek het my bed met dekens opgemaak, met bont spreie van Egiptiese linne; ek het my bed besprinkel met mirre, alewee en kaneel – kom, laat ons dronk word van liefde tot die môre toe, laat ons mekaar vrolik maak in welluste.

Al stamp jy die sot in ’n stampblok tussen graankorrels met ’n stamper, sal sy sotheid nie van hom wyk nie.

Die wyn is ’n bespotter en sterk drank ’n lawaaimaker.

Die Nuwe Testament is minder poëties, maar iewers is daar ’n groot waarheid: "Die tong is ’n klein vlammetjie wat ’n groot hoop hout aan die brand kan steek." Een ou skewe woordjie, een skinderpraatjie kan ’n moerse domino-effek hê!

Baie dankie, Fanie. Wil jy enigiets byvoeg?

Herman, jy het alles gedek! Sommige van jou vrae was turksvye wat my laat sweet het, maar dit was nodig. Baie dankie!

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top