Hidden Figures: ’n filmresensie

  • 1

Regie: Theodore Melfi
Draaiboek: Allison Schroeder
Spelers: Octavia Spencer, Taraji Henson, Janelle Monáe, Kevin Costner, Jim Parsons, Mahershala Ali, Kirsten Dunst, Glen Powell

Hierdie boeiende film is gegrond op die lewe van drie swart vroue wat in die 1960’s ’n belangrike rol gespeel het in Amerikaanse ruimtevaart: die begaafde wiskundige Katherine Johnson, snelrekenaar Dorothy Vaughan en ingenieur Mary Jackson.

Dis 1961, voor die era van rekenaars, en hulle werk in die “colored section” by NASA as deel van ’n span vroue wat daagliks bladsye vol wiskundige berekenings met die hand moet doen. Nadat die Russe die Sputnik I in 1957 gelanseer het, neem die druk op Al Harrison (Kevin Costner), hoof van die ruimteprogram, tienvoudig toe. Pleks van net ’n satelliet in ’n wentelbaan om die aarde plaas, wil Amerika dit regkry met ’n ruimtevaarder. Danksy haar kennis van analitiese meetkunde word Katherine (Taraji Henson) na die Space Task Group geskuif, waar sy uiteindelik direk met Harrison en die hoofingenieur Paul Stafford (Jim Parsons) saamwerk, terwyl Mary (Janelle Monáe) by die ingenieurspan betrek word.

Intussen word die eerste IBM-rekenaar by NASA afgelewer. Dit staan ’n hele vertrek vol, maar niemand weet hoe om dit aan die gang te kry nie. Dorothy (Octavia Spencer) besef dat hierdie masjien die toekoms is – en dat dit haar en haar “girls” hulle werk gaan kos. Sy kry ’n boek oor FORTRAN-programmering in die hande, lei haarself op en begin na-ure met die rekenaar vroetel. 

Die fliek het ’n bekende en beproefde tema – die enkeling wat allerlei struikelblokke moet oorkom om haar potensiaal te verwesenlik – maar hierdie drie had ’n dubbele lading diskriminasie om te oorkom. Nie net was hulle vroue in ’n beroepsrigting wat deur mans toegeëien is nie, weens hul kleur is hulle ook weerhou van die beste moontlike opleiding. Hul stryd word met ’n ligte hand hanteer en merendeels komies aangebied, maar ’n mens krimp ineen oor ’n vrou wat amper ’n kilometer ver in die reën moet hardloop – boonop met polvye aan! – om ’n “colored” toilet te bereik. 

Hidden Figures word hoog aanbeveel. Dit belig ’n uiters interessante stuk geskiedenis terwyl dit jou volkome intrek op emosionele vlak, tot by die baie bevredigende einde. Ten slotte vra ’n mens jou af hoekom hierdie verstommende verhaal nóú eers vertel word.

Sterre: 4

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top