Het Suid-Afrika meer misdadig geword sedert demokrasie?

  • 2

Daar gaan feitlik nie ’n week verby sonder dat ons hoor van een of ander misdadige vergryp nie.

Hier word ’n baba verkrag, daar word ’n liggaam vir muti gebruik, op ’n ander plek word by die polisiestasie ingebreek, of ’n dak of muur word oopgebreek om toegang tot ’n perseel en eiendom te verkry. Ander kere hoor ons van OTM's wat met plofstof uit ’n muur geblaas word, of kontantvervoerwaens wat met outomatiese vuurwapens van die pad gedwing word.

Dit lyk asof misdadigers meer waaghalsig word.

Maar is dit die realiteit, of is dit bloot dat net die mees sensasionele, buitengewone goed die nuus haal en dan voorgehou word as die norm?

Dis ook nie moontlik om na die misdaadstatistieke te kyk en daaruit gevolgtrekkings te maak nie. Elke jaar deel die polisie ons mee dat misdaad, veral kontakmisdaad, afgeneem het. Ons het net hulle woord daarvoor. Hierdie jaar kon die polisieverteenwoordigers wat aan die parlementêre oorsigkomitee verslag moes doen, nie eens enige statistieke voorhou nie. En daar word wyd kritiek gelewer dat die nieregeringsorganisasies wat misdaadstatistieke byhou, nie dieselfde maatstawwe en data gebruik as die amptelike polisiestatistieke nie, met die gevolg dat appels nooit regtig met appels vergelyk word nie.

Dan is daar die twee groot vrae: Wie pleeg die misdade, en wie is die slagoffers? Die verhale wat die media haal, is feitlik altyd wit slagoffer, swart misdadiger. En wanneer die oortreder wit is, soos met die Oscar Pistorius-saak, word daar altyd ’n denkbeeldige swart gevaar, ’n gesiglose, maar swart misdadiger, geskep wat ten minste gedeeltelik verantwoordelik is vir wat skeefgeloop het.

Die afgelope paar dae is ons gebombardeer met inligting oor die Las Vegas-skietery waar een enkele skieter vir ongeveer 10 minute lank met outomatiese vuurwapens op konsertgangers losgebrand het. Die media se reaksie was voorspelbaar. Die eerste foto's wat bekend gemaak is, was nie van die skieter self nie, maar van sy Asiatiese vriendin, wie op daardie stadium nie eers in die land was nie. Toe dit blyk die skieter is wit, het die narratief dadelik geword dat dit die werk van ’n sg “lone wolf” is. Was die oortreder swart, sou die woord “terroris” lewensgroot op elke voorblad uitgespel gewees het. En in die dae wat volg, is dit steeds dieselfde. Die moordenaar, wat 58 mense se dood veroorsaak het en ’n verdere 527 vermink en beseer het, word beskryf as ’n “gentleman” wat altyd besorg was oor ander. Dit ten spyte van die feit dat hy in besit was van 23 outomatiese en semi-outomatiese vuurwapens in die hotelkamer, asook ’n verdere 19 vuurwapens wat by sy huis gevind is – alles sedert Oktober 2016 gekoop.

Wit oortreders, en wit slagoffers, word eenvoudig anders, meer simpatiek, behandel.

Hoe kan inligting akkuraat wees as die slagoffers en oortreders so verskillend hanteer word? Plaasmoorde word byvoorbeeld deur ’n organisasie soos AfriForum hanteer as die moord van wit plaaseienaars. Wat van al die bruin en swart mense wat ook op plase vermoor word? Hoekom is daar die absolute stilte in die media oor die slagting wat op die Kaapse Vlakte plaasvind? Vir elke wit persoon wat op ’n plaas aangeval word, is daar aansienlik meer wat op die Kaapse Vlakte sterf – sonder dat daar noemenswaardige melding gemaak word in die media.

Elke sterfte is ’n tragedie. Elke persoon wat aan die hand van ’n krimineel ly en sterf, is een meer as wat aanvaarbaar is. Tog word wit lewens meer geredelik betreur – selfs wanneer dit die lewe van die oortreder is.

Hoekom word daar nou ’n film geskiet oor die Reeva Steenkamp-moord? Swart sportsterre met swart slagoffers het nie dieselfde loketpotensiaal nie. OJ Simpson is die uitsondering, waarskynlik omdat sy slagoffer wit en blond is.

En in die Suid-Afrikaanse konteks: Hoekom is die aanname altyd dat misdaad toeneem omdat die regering swart (en by implikasie onbevoeg) is? Hoekom, met elke nuwe misdaad wat in die media gerapporteer word, is daar dadelik die “ons-en-hulle”-narratief wat gebruik word? En soos ’n Moebius-strokie word identiteit altyd rondom die spil van kleur, geslag, opvoeding en ekonomiese status gevleg.

Iemand soos Anene Booysen sou nooit die koerante gehaal het as haar lyding en sterfte nie so sensasioneel was nie. Want verkoopsyfers is al wat tel, en as die meeste koerantkopers nie belangstel om te lees oor swart lyding en sterfte nie, dan word dit eenvoudig verswyg. En dit word ’n bose kringloop, waar die geleefde ervarings van die grootste deel van hierdie land se bevolking verswyg word – behalwe wanneer daardie geleefde ervaring dié van ’n skatryk, korrupte tenderpreneur is. Dis ’n gemaklike, bekende narratief, soos om in jou gunstelingdenimbroek in te glip. Bekend. Vertroud. Gemaklik. Wit mense wat hard werk en belasting betaal, en vergoed word met korrupsie, verkragting en moord.

Maar wat van die ander? Wat van elke vrou in ’n informele nedersetting wat hart in die keel in die nag toilet toe moet gaan, want selfs in 2017 is toilette binne elke huis ’n droom wat onbereikbaar ver lyk? Wat van elke kind wat skool toe gaan, wetend dat daar nie vanmiddag kos by die huis is nie en dat die maaltyd by die skool dalk die enigste is wat hulle gaan kry, wetend dat die tyd tussen Vrydagmiddagete en Maandagontbyt oneindig kan wees? Wat van die meisie wat elke maand vier of vyf dae se skool mis omdat sy nie sanitêre doekies het nie, en meesal nie enige manier het om ’n alternatiewe plan te prakseer nie? Wat van die kind wat elke dag kilometers ver deur die bos moet stap, met al die gevare van mens en dier wat dit inhou, om ’n opvoeding te probeer bekom? Wat van die gogo wat met haar maandelikse pensioen van R1 600 soms agt tot tien afhanklikes moet onderhou?

Is dit reg dat hulle lyding, hulle pyn, hulle swaarkry as minder belangrik afgemaak moet word omdat hulle velkleur as minder belangrik geag word? As dit my, met my betreklik bevoorregte posisie, briesend maak, wat doen dit aan die persoon in daai omstandighede, wat geen hoop, geen toekoms, geen verbetering sien nie, wat elke dag moet hoor en sien en ervaar hy en sy familie is niks?

Het ons as samelewing meer misdadig geword? Ek wonder of dit die regte vraag is om mee af te skop. Behoort die vraag nie eerder dit te wees nie: Hoekom het ons as samelewing so min empatie met mekaar? Wat het in ons nasionale psige gebeur dat ons so teen die Ander se vel vaskyk dat ons mekaar se menswees ontken? Hoe sou ons verhaal anders kon lyk as ons mekaar begin raaksien en iewers verby die wantroue probeer werk? Sou ons dan nog steeds wonder oor misdaadstatistieke?

Of sou ons dit as gemiste geleenthede herken?

  • 2

Kommentaar

  • Dit is jammer dat veral die bendemoorde so min aandag kry. Afriforum meld ook die moorde van die swart plaaswerkers aan. Miskien is dit hoog tyd dat daar ook 'n organisasie ontstaan wat in elke township en woonbuurt hierdie moorde aan alle groot mediahuise stuur. Dit moet uitgeblaker word in alle koerante en op die nuus want dis nou genoeg en om daaroor te filosofeer en doekvoet daar rondom te stap help nie. Ek volg ook swart en bruin skrywers in die media en weinig berig hul daaroor in die media. Wat wel waar is dat op nasionale TV baie min oor plaasmoorde geraporteer word.

  • As statistieke die waarheid praat dan is Suid-Afrika wat moord aanbetref meer misdadig, want voorheen gemiddeld 7000 moorde per jaar,tans so hoog as 21 000.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top