Hester se Skattebolletjie

  • 0

Dis skuins voor vyfuur. Die lig is stadig besig om die nag se donker weg te ruk en Hester kan die mossies buite hoor tjirp. Sy gaan nog ’n rukkie lê. Haar dag het nie rede tot haas nie. Daar is nie ’n kind of ’n man wat moet ontbyt kry nie. Niemand wat moet skool toe of werk toe haas nie. Net Buksie wat honger is. Sy is altyd honger.

Nou lê die klein bruin snip nog heerlik knus by haar voete, onbewus van die dag wat buite breek en die windjie wat liggies die wilger se takke teen die sinkdak laat skuur-skuur. Na ’n paar minute skuif sy die kombers af en voel-voel met haar voete op die grond vir haar pantoffels. Sy gaan maar ’n teetjie maak; die slaap is in alle geval nou weg.

Sy trek haar japon stywer om haar lyf waar sy buite op haar stoepie sit en wag dat die son deur die takke van die laning beur. Wat sal sy vandag tog doen? Die rose bietjie wegsny, die nuwe bolle wat Koos vir haar gebring het in ’n paar blikkies plant en dalk maar afstap rivier toe. Dit sal help om die tyd om te kry.

Hester skraap die laaste paar takkies en afvalblare van die rosies bymekaar en buk om dit in ’n emmer voor haar voete te gooi. Sy stap na Gert se wegrydrom wat buite op die sypaadjie staan. Ja, dis nou die nuwe ding hier met die baie probleme wat ons het. ’n Gehuurde vullisdrom, want jou gewone een se kanse om opgelaai te word vir wegry is skraal.

By die drom hoor sy ’n geritsel en ’n fyn geluidjie. Versigtig loer sy na die gras en takke wat binne lê. Daar in die donker is sowaar ’n piepklein voëltjie, skaars ’n dons op die lyf, net snawel en ogies.

Sy lig die bondeltjie lewe versigtig uit die drom, bekyk dit van naby en sit dit in haar voorskoot se sak. Buksie draai nuuskierig om haar rond en snuif-snuif teen haar bene. Hester gooi haar emmer se blare en takke in die drom en stap na haar kothuisie in die hoek van die erf. Sy vat die vrugtemandjie op die tafeltjie wat buite staan. Sit ’n stuk geskeurde koerantblaai onderin en gaan haal ’n paar stukkies lap uit die besemkas. Sy lê die nessie knussies uit en sit dan die weggooivoëltjie daarin.

Dit kos geduld en tyd om ’n bietjie ProNutro en water in die klein bekkie afgeforseer te kry. Maar Hester het daarvan oorgenoeg. Na ’n paar minute se gespook en spartel het die voëltjie iets voelbaars in sy krop. Nog net ’n druppel water dan kan sy rus. Sy sit die laaste bietjie pap voor Buksie se neus neer en dié verorber dit met een tongelek.

Sy gaan sit op die stoep om te rus. Rus, waaroor nogal? Dis al wat sy deesdae doen. Dit, en krieket kyk. Gelukkig kan sy darem nog krieket kyk. So word die lang dae minder alleen en stil.

’n Week later, nadat sy haarself twee keer uit haar eie huis gesluit het (hoe kry mens dit twee keer in een week reg?), is die voëltjie sigbaar ’n klein duifie. Die donse begin plek maak vir vere en die snaweltjie raak groter. Die rooi kraalogies volg haar oral waar sy haar draai en die bekkie is nie vir ’n oomblik stil nie. Hester meng nog steeds ProNutro, maar nou voer sy sommer bruin volgraanbrood tussenin ook. Parmantige klein duifie, dié ... Hans Donsie.

Die weke het maande geword en die klein duifie is nie meer klein nie en heet nou Skattebolletjie. Hy ry doodluiters op Hester se skouer, net waar sy haar draai maak. In die kothuis, deur die tuin; en as sy die dag besluit om dorp toe te stap, “ry” Skattebolletjie saam. “Hester, Buksie en haar mak duif,” glimlag die vrouens by die tuisnywerheid as sy straataf met haar mandjie en blougrys bosduif aangestap kom.

Sonnige somerdae het plek gemaak vir die geelbruin herfsblareval en die windjie het koeler begin waai. Buitelugmens soos sy maar nog altyd was, het Hester te laat, te veel in die koel aandlig vertoef. Die dokter het longontsteking gediagnoseer. Sy was verplig om binnenshuis te bly en die swakheid het haar vir lang tye in die bed gehou. Selfs die bietjie krieket wat daar op die televisie was, kon nie vergoed vir die son op haar vel en die gevroetel in die tuin nie. Hester het bleekwit en maer, maerder as wat sy reeds was, geword. Haar groot bekommernis was Skattebolletjie. Wat gaan van hom en Buksie word?

So skraap sy die krag en moed bymekaar en stap een Sondagvoormiddag met Skattebolletjie op haar skouer af rivier toe. Sy gooi vir hom krummels en mieliepitte op die plat klippe teen die kant van die rivier. Sit hom versigtig neer en staan treetjie vir treetjie terug. Skattebolletjie pik vraatsig aan die krummels en pitte en merk nie hoe Hester met betraande oë teen die oewer op verdwyn en oor die veld die paadjie terug huis toe uitsukkel nie.

“Ag, mag die Vader tog net gee dat hy leer om vir homself te kan sorg,” dink sy benoud en baklei teen die skuldgevoel en magteloosheid. Tuis sluk sy swaar aan ’n koppie rooibostee en klim dan maar weer met ’n swaar hart in die bed. Sy sluk haar voorskrifpille en wag vir die slaap om te kom. Dis so stil, so alleen, so bitter eensaam … Sy wonder oor Skattebolletjie. Gaan hy oorleef?

As sy oudergewoonte die volgende oggend met ’n swaar hand die kombers van haar koue voete afstoot, hoor sy die getik-tik teen die kamervenster. Sy sit regop op die bed en stoot die gordyne weg. Daar, ewe kontant, sit Skattebolletjie. Hy is terug. Hy soek kos. Buksie spring rats teen die venster op en hap, hap na die grys duif.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top