Hersenspinsels oor die Week van de Afrikaanse roman 2016

  • 5

‘n Maand voor my vertrek

Om halfvyf staan ek by die venster en skuif dit oop. Die byt is uit die lug, maar die winter is nog nie verby nie en ons kort nog reën. “Reëns,” het die oumense altyd gesê. Ek moet in ’n ander land oor Wonderboom gaan praat; ’n land waaruit ons vokale en klinkers uit blouwit gespoeg is. Oerkruisbestuiwing en oerblaam se Blaam. En tussen hier en Den Haag lê ’n halfeeu, ’n demokrasie en drie leeus se gifdood in die noordweste van Namibië. Tullamore gaan nou sy broers begin soek. Hy gaan hulle baie mis, DB 13/8/2016. Hoe poog mens dit wat jy tot ’n mate implisiet begryp soos patrone in die veld en die reënmeter se metronoom? Ek dink aan die woord “unpack” dan dink ek aan die woord “pack”. Reis. Swerf. Vlug.[i]

Donderdag 15 September

Wie sit daar teen die skemer? Dis Joost van den Vondel in sy park. ‘n 17de-eeuse skrywer tussen rooi kannas. Niks skeel hom nie. Regs van hom rook ’n groep gelukkige mense zol. Eybers fluister in my oor waar ek soos ’n kleuter in Vondelpark bly staan: grondelose verwondering. Fietse flits verby, feitlik geruisloos. Jy sal sweer hier val niemand ooit van ’n speek af nie.

Dit is 30 grade Celsius, ’n rekordtemperatuur vir hierdie tyd van die jaar. Ysbere ontbind.

Ons tuiste vir die volgende tien dae is Hotel The Neighbour’s Magnolia. Veertig trappe na bowe in die solderkamer maak ek nes.

[i] Uittreksel uit Spoorskryf:skrywers op die pad, seminaar - Menselijke natuur? Herinnering, ecologie en esthetiek in hedendaagse Afrikaanse letterkunde, 23 September 2016, VOC Zaal, Bushuis, Universiteit van Amsterdam, sameroeper: Hanneke Stuit

Vrydag 16 September

Nederlands wieg teen mens aan soos ’n skip wat kraak teen ’n wye see. Maar ook hoor jy breinaalde. Alles werk, die trem is betyds, die strate in die museumgebied is skoon. “Dit is die buurt van professore.” Onwillekeurig dink mens aan die gemors waarin ons tersiêre instansies (oa) verkeer. En wie sal die blaam daarvoor dra? ’n Skuit seker, of ’n burokraat met ’n stywe lip, of dalk ’n mynmagnaat? Wie weet, iemand of iets iewers sal die skuld kry vir die kots van ons geskiedenis. Maar ek is vir tien dae vrygeskeld van die geliefde mishoop; tien heilige dae.

Op pad na Foam-fotografiemuseum is die stadsboekwinkel in Vijzelstraat waar ek twee publikasies ontdek: Labour of love (Portrait of a garden) met fotografie deur Elsbeth Tijssen en Hannah de Groot (teks). Dit is ’n publikasie ter ere van die botaniese tuin van die VU Amsterdam wat blykbaar een van Amsterdam se mooiste geheime is: “’n Ander wereld, asof jy ’n hortus conclusus binnegaan.” Die tweede boekie is Langs monumentale bomen in het centrum van Amsterdam. In dié A5-juweel lees ek van ’n Hollandse iep in Oudemanspoort, ’n bruine beuk in die tuin van Museum van Loon en ’n trompetboom. Net daar raak ek verlief op die stad.

Skuins oorkant die boekwinkel, in Keizersgracht, is die Foam-fotografiemuseum waar die Sjinese kunsaktivis Ai Weiwei se uitstalling #Safe Passage te siene is. Dit handel oor die duisende migrante/vlugtelinge wat na Europa stroom: die lot van die individu teenoor die oorheersende sisteme van die samelewing. Die mure van die ruimte waar sy uitstalling gehou word, is van vloer tot plafon bedek met duisende foto’s wat hy met sy selfoon geneem het. Muurpapier op sy kop gekeer. Hierdie reuse-collage reflekteer die kunstenaar se persoonlike interaksie met individue binne die tragiese situasie wat in die Mediterreense gebied ontplooi, die fragmente van mense se lewens deur kraaie uitgepik. Ek merk dat die besoekers, interessant genoeg, hoofsaaklik op oogvlak na die werk kyk en dat weinig toeskouers hul blik boontoe of na die beelde langs die vloerlys wend.

In die middel van die uitstalruimte is ’n reddingsboei uit marmer gegiet. Dit sink loodswaar, die afwaartse navigasie van ’n wêreld wat weerloos ploeter teen die gety.

Straatdokumentasie

Teen skemer vind die amptelike opening van die Week van de Afrikaanse roman plaas by Vondel CS in Vondelpark. Op pad daarheen eet ons by Willems, Willemsparkweg 177. Die ete is vyfster; ek sidder om te dink aan die rekening, maar prys nietemin die borge. ’n Konyn kyk my aan met een oog, maar ek smul gewetenloos. Dis wat mens nodig het om te oorleef: geen gewete.

Willems Restaurant

Wie stap almal teen vroegaand deur Van Eeghenstraat, verby knus gekoesterde wonings? Ingrid Glorie die koördineerder, Jente Rehbergen wat op ’n boot bly, Randall Maarman wat oor drie dae terugkeer na Suid Afrika, Simon Bruinders langs sy mooi vrou Girty en hul dogter Marguerite. Hulle stap op hoë polvye asof hulle daarmee gebore is, die twee fyn vroue. Francois Smith en Ena Jansen ry fiets.

Die saal is vol, die gehoor afwagtend. Ingrid Glorie en haar span hou die leisels stewig vas. Randall Maarman is mede-aanbieder; Karin Hougaard en Mart-Marie Snyman maak musiek.

In die donker stap ons terug hotel toe; in Nederlandse oor klink ons seker soos ’n vreemde koor.

Saterdag 17 September

Vertrek na België saam met Maurice Jorissen en Francois Smith vir die Tom Lanoye-gesprek wat by die M – Museum Leuven gaan plaasvind. Die rit neem ongeveer drie uur. Ons gesels langsamerhand. Oor musiek, vriendskap, onrus. Iewers naby Antwerpen vra ek vir Francois of hulle ’n hegte gesin is. In sy kalm stem antwoord hy: “Ja.” Maurice besit ’n boot waarmee hy gereeld besoekers uit Suid-Afrika langs die kanale van Amsterdam laat vaar. Hy het as jong kind sy hart verloor op ’n dogtertjie wie se gesin Suid-Afrika toe verhuis het en so het ’n hunkerende fassinasie met die land by hom posgevat.

Eers doen ons die huis aan van gespreksleier Ludo Teeuwen (wat verbonde is aan die Brusselse kampus van KU Leuven) en sy vrou, Martien Verbeek. Ludo is die laaste persoon wat met Andre P Brink ’n onderhoud gevoer het toe die Franstalige Katolieke universiteit in Leuven op 2 Februarie 2015 ’n eredoktorsgraad aan Brink toegeken het: http://www.litnet.co.za/andre-brink-impressions-afterthoughts.

Ludo neem ons vir middagete by Il Peperoncino aan die Mgr Ladeuzeplein. Dis September: karnavaltyd en harswesens vermom die plein. Suidoos van die plein staan die neo-Renaissance-biblioteek van die Universiteit van Leuven.

Il Peperoncino: Maurice Jorissen, Martien Verbeek, Francois Smith, Ludo Teeuwen

Na ete het ons ’n uur of wat om te verwyl en ek wend my na die Lieve Blancquart / Ecce Homo-uitstalling in die M. Die fotograaf / dokumentêre filmmaker se werk is noukeurig tussen museumstukke geïnstalleer om ’n hedendaagse interaksie tussen haar beelde en die eeue oue kuns in die versameling te bewerkstellig.

Om skuins voor drie, alvorens ons die ouditorium in M – Museum binnegaan, maak ons kennis met Herman Meulemans, hoogleraar in die Department Sosiologie aan die Universiteit van Antwerpen. (Hy lewer gereeld bydraes vir LitNet.) Sy gemoedelike teenwoordigheid herinner my aan ’n duiweboer.

Die gesprek met die formidabele “slagerszoon met een brilletjie”’ word ’n rittelrit tussen kontinente en tydsones; inderdaad reg uit die hart. Met kwistige pen teken Tom Lanoye my kopie van Gelukkige slawe. Skielik is ek vry.

M – Museum: Maurice Jorissen kliek vir Tom Lanoye, Stefan Dixon en Francois Smith

Karnavalbaba met biblioteek van UL in agtergrond

Sondag 18 September

Heuglike tydverwyl saam met Banksy en Warhol by Moco Museum. Die ikone lag: Laugh Now, Barcode, Girl with Balloon, Flower Thrower, en Chris Moukarbel se dokumentêr Banksy Does New York. Kuns as organisme.

Roelie Wilms neem my per motor na die Schrijven Werkswinkel by Diemen. Ons is net vroue – dertien. Wanneer ek foto’s wil neem, keer een van die deelnemers. Later blyk dit dat sy werk met slagoffers van mensehandel “waarvan Amsterdam ’n groot afsetgebied is”.

Maandag 19 September

Niks op hierdie aarde kon mens voorberei vir die Van Gogh Museum nie. Been there, done it? Vergeet dit, jy het niks gesien nie, dink ek by herhaling. On the verge of insanity: Van Gogh and his illness.

Die bleek oor lê stil. Dit is die hele oor en nie net ’n gedeelte nie, soos bevestig in die korrespondensie van Felix Rey aan Irving Stone.

Die pistool waarmee hy homself (in alle waarskynlikheid) geskiet het, is ’n 7 mm-Lefaucheux à Broche. ’n Model daarvan word in ’n perspeksboks uitgestal saam met die “oorspronklike” vuurwapen wat dekades later deur ’n boer in die Auvers-streek gevind is terwyl hy besig was om sy landerye om te ploeg.

Van Gogh Museum

Elize Zorgman (van die hand-en-span-dienste) vergesel my na de Donkere Kamer #29 by Pakhuis de Zwijger. Pakhuis de Zwijger vorm deel van die renovasieprojek van die Zuidelike IJ Oevers.

Aanbieders Edie Peters en Sterre Sprengers: 300 mense, nege sprekers. Maak kennis met Raman Shabbas, wat onder andere begrafnisfoto’s neem (nota vir karakter); ontdek werk van Isa Touma, die Siriese fotograaf uit Aleppo; Merel Bem gesels oor haar boek Doorkijken, wat handel oor die wyse waarop kuns haar lewe beïnvloed. Na afloop van die program drink ons Heineken saam met Peter de Rijk (Ezra de Haan) en sy vrou, die kunstenaar Judith Heinsohn.

Annabel Oosteweeghel in gesprek met Peters en Sprengers

Fiets aan IJ Wal neffens Pakhuis de Zwijger

Dinsdag 20 September

Onder die koelte van Koninginneweg se platane loop ons al met die sypaadjie na ons afspraak by die Vertalershuis. Luister mooi na die kordate raakvatter: Noord-Liberies-gebore, nou Nederlandse skrywer Vamba Sherif – Het land van de vaders (1999) en The Black Napoleon (oor Samori Toure) (https://afrolegends.com/2011/04/30/samori-toure-african-leader-and-resistant-to-french-imperialism). Die man wat Mandingo, Gbandi, Kissi, Engels, Arabies en Nederlands magtig is, vertel met gemak en op ’n amper terloopse wyse van sy oorleefbeweging tussen grense en tale en die nut van veeltaligheid. Terwyl hy praat, dink ek aan die uitbundige kapasiteit wat dit mens gee om soveel woordeskatte te versamel en te kan uitoefen. Ander kanonne wat die gesprek voer: Jan Gielkens, ontvanger van die Filter Vertaalprijs 2016 vir sy vertaling De woorden van Grimm: een liefdesverklaring deur Günter Grass en Peter Bergsma, direkteur van Vertalershuis.

Vertalershuis

Blommemark: Singel 630

Woensdag 21 September

Rijksmuseum vir ontmoeting met Martine Gosselink (hoof: Geskiedenis) en Maria Holtrop (junior kurator), wat beide betrokke is by die toekomstige uitstalling Good Hope: South Africa – Netherlands 1600–1994. https://www.rijksmuseum.nl/en/press/press-releases/expected-exhibitions-at-the-rijksmuseum.

Die dames vra ons advies aangaande ’n openingspreker en min of meer almal is dit eens: Marc Lottering.

 

Detail: Martine Gosselink se kantoor

Daarna is elkeen vry om hul besigtigingskeuses uit te oefen tussendeur 800 jaar / 80 kamers se kunsskatte. Ná Rembrandt, Vermeer, Lievens, Verspronck, Cuyp, Asselijn, Hals, die lyke van die De Witt-broers (Jan de Baen) voel ek soos ’n drenkeling in Adriaen Pietersz van de Venne se Fishing for Souls.

Giuseppe Penone: Ideas of stone, tuin van die Rijksmuseum

Donderdag 22 September

Brussels. Daardie klein ronde groentetjies en die spook van koning Leopold.

Apocalypse then, now.

Gelukkig is dit ook waar mens vir Magritte vind: Koninklijke Musea voor Schone Kunsten van België, Regentschapsstraat 3. Skuins voor die ingang lê ’n groen appel. Ena meen dis ’n ode aan René Magritte?

Tussen die opulente gildehuise op die Grote Markt verloor ons vir Simon Bruinders. Ingrid Glorie vind hom terug.

Vlaams-Nederlands Huis de Buren. Almal praat. Ek oorleef die driftige Joost Vandecasteele danksy Willem Bongers-Dek.

Rene Magritte: Girl Eating a Bird, 1946, gouache/papier 36 x 49,5 cm, Coll: Lucien Bilinelli

Vrydag 23 September

Seminaar: “Herinnering, ecologie en esthetiek in hedendaagse Afrikaanse letterkunde”, VOC Zaal, Bushuis, Universiteit van Amsterdam, sameroeper: Hanneke Stuit

Herman van Veen Arts Center, De Kapschuur, De Paltz. Curiouser and curiouser. Skemer in Van Veen se woud

Saterdag 24 September

Met sowat ’n driekwartier speling voor die lesing by Letterkundig Museum Den Haag begin, vaar ek snel na Onderweg: Met de fotograaf op reis, by die Nationaal Archief.

Nederlandse skrywersgalery (kloksgewys van bo) Henri Dekking deur HE Mees 1932, Maurits Dekker deur Meijer Bleekrode 1941, Jules Deelder deur Hans Verhagen 1996 en Tom van Deel deur Neel Korteweg 2009.

Foto van Elisabeth Eybers as deel van tydelike Tentoonstelling Afrikaanse Literatuur In Het Letterkundig Museum in Den Haag (saamgestel deur Ena Jansen, Ingrid Glorie en Jente Rhebergen).

In die volgepakte lesingsaal word die wisselwerking tussen Nederlands en Afrikaans behaaglik uitgepak. Lees gerus Marike van der Watt se knap weergawe hiernaas: http://www.litnet.co.za/week-van-de-afrikaanse-roman-2016-7-dae-amsterdam.

Sondag 25 September

Unseen Amsterdam, Westergasfabriek

Blurred, Costuming, The Sublime, Grids, Juxtaposed images, 8 Female Photographers you should know at Unseen Amsterdam. https://www.unseenamsterdam.com

Oh Arles where art thou? https://www.rencontres-arles.com/Home

(Om so ’n aanbod fotografie van ’n buitengewone aard te beleef stem mens tot ’n mate bedroef, want waarheen keer jy terug? Die groot vyf? Ag wat, jy kan darem prente kyk op die internet. Dis soos lees, wat jou laat reis.)

Sondagmark buite Rijksmuseum

’n Week na my terugkeer

Om halfvyf staan ek by die venster en skuif dit oop. Die Lae Lande het gefluister: die Sersant gaan geskoei wees op Maurice Jorissen. Iemand gaan doof wees, ’n oor gaan in ’n veld lê, Ingrid Glorie gaan sing, maar vir wie? Nietemin. Môre kan alles natuurlik weer verander. Hoofstuk een.

Tussen Amsterdam en Den Haag

Magritte

Jan Verhas: Review of Scholars (1878) Koninklijke Musea voor Schone Kunsten van België

Lien Botha

November 2016

  • 5

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top