Heropening van opleidingskolleges vir onderwysers

  • 1

Die President het in sy staatsrede verwys na die heropening van opleidingskolleges vir onderwysers. Dit is verblydend om te sien dat die regering uiteindelik besef het dat die sluiting van die 29 kolleges vir onderwysopleiding ‘n fatale fout was. Dit het ‘n direkte impak gehad op die ondervoorsiening van onderwysers in die onderwysstelsel en is ‘n groot bydraende faktor tot die krisis in die onderwys.

Daar is ‘n skreiende onderwystekort. Die skokkende realiteit is dat Suid-Afrika meer as 20 000 onderwysers benodig om die huidige tekort aan te vul. Die grootskaalse uittog van hoogs gekwalifiseerde en ervare onderwysers is rampspoedig, omdat hulle nie oornag vervang kan word nie. Daar is veral ‘n tekort aan manlike onderwysers, onderwysers in die grondslagfase waar onderrig in die moedertaal so belangrik is, en onderwysers in sleutelvakke soos wiskunde en wetenskap.

Studies het bevind dat die aantal nuwe onderwysers wat aan universiteite opgelei word, nie genoeg is om dié wat aftree of sterf te vervang nie. Daar word tans 8 000 onderwysers gemiddeld per jaar opgelei. Die krisis word vererger deur die feit dat twee derdes van die onderwyserskorps ouer as 40 jaar is.

Dit het verder ook aan die lig gekom dat die Departement van Basiese Onderwys geen idee het hoeveel onderwysers in watter grade en in watter vakke benodig word nie. Daar sal indringend gekyk moet word hoe om professionele mense wat in spesifieke vakke gestudeer het en waarvoor daar te min onderwysers is, na die onderwys te lok.

Daar sal dus ook gekyk moet word na die bestaande opleiding wat voornemende onderwysers by instellings kry. Die heropening van die opleidingskolleges word dus as ‘n praktiese manier gesien om die knelpunt van onderwyservoorsiening aan te pak en op te los. Universiteite slaag nie daarin om genoeg onderwysers te lewer nie.

‘n Stap in die regte rigting is die konkrete aanbevelings van minister Trevor Manuel se nasionale beplanningskommissie vir die lewering van gehalte-onderwys teen 2030. Wat nou kort kom, is ‘n plan wat uitstippel hoe beleid en voorstelle rondom onderwysopleiding in die praktyk gestalte gaan kry. Die regering het uiteindelik die lig gesien dat jy nie instellings wat ‘n verskil gemaak het in onderwyservoorsiening, net oornag van die tafel afvee nie.

Die implementering van weldeurdagte opvoedkundige beginsels en praktyke is die enigste manier waarop ons Suid-Afrikaanse onderwys weer op ‘n suksespad kan plaas, sodat ons met die beste in die wêreld sal kan meeding en vergelyk kan word. Ons kinders verdien gehalte-onderwys.

Danie van Wyk


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Anthony Wilson

    Dankie Danie!

     

    Ons het destyds almal gestry toe daar besluit was om die kolleges toe te maak en hulle NIE reg beplan het om die leemte wat die sluiting sou veroorsaak aan te spreek nie. Hulle het geredeneer asof almal uit bevoordeelde gemeenskappe kom. Nog een van die regerende party se groot flaters. Peuter aan die onderwys en jy peuter aan die beskawingspeil van 'n volk!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top