Herinneringe aan Henning Snyman, my professor

  • 17

My eerste kennismaking met Henning Snyman was vroeg in 2004 op die dag van registrasie vir die meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. In ’n lokaal met honderde studente het ’n tiental dosente van Geesteswetenskappe een na die ander op die verhoog gestap en hul vakke gepromoveer. Dit-en-dat is die intrinsieke waarde van sosiologie, filosofie, ensovoorts, ensovoorts as keusevak. Nog voordat prof Snyman aan die beurt kon kom, het hy reeds my aandag gehad. Sy geamuseerde klein glimlag het die indruk geskep dat hy ’n geheime insig koester waarin ’n mens deel kon hê deur net naby genoeg aan hom te staan, al het sy ruie wenkbroue ’n demper op dié skynbare toeganklikheid geplaas. Sy pleidooi aan die studente was kort en kragtig: asseblief, hy sal dit werklik waardeer indien so min as moontlik van ons teksanalise as vak kies, "want die meeste mense het ongelukkig nie die vermoë om dit te waardeer óf te slaag nie". Die studente het dit skynbaar eerder amusant as beledigend gevind. Maar dit was ’n stelling soos ’n grens.

Ons was inderdaad net ’n handvol studente in sy klas, en op die dag van kennismaking het hy ons gevra om te vertel na watter musiek ons die vorige aand geluister het – en waarom. Rachmaninoff, het ek bely. Omdat sy styl deur die simbolistiese digters beïnvloed is. Ek had g’n idee dat prof Snyman ’n aanhanger van Rachmaninoff was nie. Dit was die oomblik van herkenning. Die grens is oorgesteek.

Gou het dit vir my duidelik geword dat hierdie prof ’n stip manier van kyk het, soos ’n baasspeurder wat eers die moordenaar se safplek identifiseer voordat hy die potensiële inligting beginne tap. My safplek was nog altyd die mistiek en die metafoor, die mitologisering en ontmitologisering in veral die digkuns. Dis die teorie wat hy my gevoer het: Roland Barthes, Paul Ricœur. Hy het my die kernbeginsel van analise geleer: eers die teks, dan die teorie. Hy kon dit gewoon nie verdra wanneer iemand ’n teks verdraai om ’n teorie te staaf nie. Uiteindelik was teksanalise die vak waarin ek in al my studentejare – voorgraads en nagraads – die beste punt ooit behaal het. Dit onder die leiding van ’n perfeksionis wat mens laat voel dat jy nie te kort skiet nie.

Op die oog af sou mens Henning Snyman dalk as tradisioneel kon tipeer, maar vir my was hy ietwat eksentriek. Hy het graag dramaties vertel van sy besoeke aan huis van DJ Opperman en ook dikwels met liefdevolle deernis gesels oor sy oorlede vrou Annette. Ek het hom ’n man met ’n ontsaglik ruim gees gevind. Hy was ’n wysgeer in murg en been, ’n warmhartige mens met ’n verstommende verstand en begrip van die letterkunde. Jare nadat hy my dosent was, was hy steeds my mentor. Om eerlik te wees, ek het die laaste 13 jaar nie ’n enkele gedig op papier of selfs op die internet gepubliseer voordat ek dit eers vir sy mening gestuur het nie. Dikwels was hy die heel eerste leser van ’n nuutgebore vers – in my boekies ’n daad van grootse vertroue. Wanneer ’n gedig volgens hom slaag, was sy reaksies ’n enkele woord met ’n uitroepteken: "Allerpragtig!" Op die omslag van albei my bundels is sy indruk van my werk – en ek streef steeds daarna om dié woorde waardig te wees.

Die dag voor sy dood is my nuwe roman, Die Bergengel, drukkers toe en het ek juis vir iemand vertel dat ek die boek oor ’n paar weke vir Snyman gaan pos. Want hy, het ek geweet, sou die verhaal tot in die vesels verstaan. Hy sou dit lees soos ’n uitgebreide metafoor, ’n gedig. Nou is dit te laat. Nou het hy oorgestap na die Anderkant. Ek kry ’n boodskap van ’n medeskrywer, een van sy oudstudente: "Ai, Carina, ek onthou hy het ’n skilderytjie van jou in sy kantoor gehad." Wat ek dalk die helderste onthou, is die woord "allerpragtig". Om die een of ander rede het ek dit nooit gebruik voordat ek hom ontmoet het nie.

Hier is ’n foto van ons by my gradeplegtigheid in 2004 en ’n gedig wat ek vir hom geskryf het toe ons ’n naweek by hom in die Karoo gekuier het. Dis opgeneem in my digbundel woud van nege en negentig vlerke (Tafelberg, 2009).

Carina Stander en Henning Snyman (foto: verskaf)

Klip-Karoo

jare later keer jy terug 
na die riffelrugberg
van jou geheue

jou vrou se voete
ratse springbokhoewe 
oor die rimpelpad

julle hoor die geknaag 
van ondergrondse oerdiere

vanaf die plato kyk julle uit:

die trop vreet plante
met wortels vol lug

die wolfgroot dier 
se onderkaak is ’n boot;
sy middel-oog meet 
die siklus van seisoene

miljoene nagte later 
vlug ’n tolkengel steeds 
onder die moddervlokke uit

weer tel jy die penveer op:
dood
jy skryf dit stadig agteruit 
maar die woord bly dood

op hierdie vloedvlakte het jy liefgehad 
soos ’n heilige of nieteling

hier het jy die winterryp sien kom
en die groeiringe in bome 
ná ’n watergebrek

jou vrou draai om en stap terug
oor die rimpelings van rots –
basaltlava bedek haar treë

eens op ’n tyd in die klip-Karoo
was daar spoortjies om haar oë

  • 17

Kommentaar

  • Baie mooi huldeblyk en gedig, Carina!

    Henning Snyman het vir my in 1973 klasgegee op Stellenbosch. Die ene energie en dramatiek!

    • Carina Stander

      Wat 'n voorreg wanneer 'n pad met so Groot Gees kan kruis, Daniel. Ek waardeer jou gawe woorde.

  • Amanda de Stadler

    Ek het my (in die sewentigerjare) altyd verwonder aan die presisie waarmee Henning sy lesings beplan en uitgevoer het - tot op die minuut. Dit was vir my net nog 'n voorbeeld van die respek waarmee hy sy medemens behandel het - wou nie hulle tyd mors nie.
    Dankie vir die mooi hulde aan hom, Carina.

    • Carina Stander

      Amanda, dis 'n mooi, fyn waarneming van jou. Jy is so reg. Hy het werklik die motto geleef van respek wat respek kweek.

  • Albertje Fouché

    Ek het hom nie geken nie, maar deur jou mooi skrywe het ek deur 'n klein skrefie 'n kykie op 'n besonderse mentor gekry. Sterkte.

  • Henning Snyman was 'n uitstekende onderwyser. Hy het vir ons minstens drie jaar klas gegee (Matriek in 1965). Hy was altyd vol energie en het 'n groot inpak op my gemaak. Sy klasse was altyd interessant en 'n plesier om by te woon!

  • Dalene Steenkamp-Brits

    Ek was saam met Robert Louw in matriek in 1965. By ons matriekklas se 40ste reünie (wat mnr Snyman ook begewoon het) het ons almal eenparig besluit dat HY die onderwyser was wat die grootste impak op ons almal gehad het. Wat my nog so beïndruk het daardie aand, was dat hy die fynste detail omtrent my kon onthou! Vir my sal hy altyd MENEER Snyman wees en ek sal hom altyd met liefde en respek onthou.

  • Gerard Bekker

    Môre Al die Klasmaats,
    Dit is met groot hartseer dat ek verneem het van die afsterwe van Prof Henning Snyman. Ek en Mnr Snyman (ek sal altyd aan hom dink as Mnr Snyman) en my paaie het gekruis in 1962 by die Hoër Seunsskool op Cradock. Ek was in st7 toe Mnr Snyman vars uit universiteit ons Afrikaanse onderwyser geword het. Hy was nog baie jonk en soos seuns maar is, het ons ons "luck met hom getry",maar vandat hy sy mond oopgemaak het ,het ons aan sy lippe gehang en was ons tjoepstil in sy klas en was sy klas die hoogtepunt van die skooldag. Ons het van die begin af "geklick" en het ons eintlik goeie "vriende" geword. Ek het hom altyd as onderwyser gesien en hom met groot respek behandel, maar hy was baie toeganklik en kon ek met hom oor enige onderwerp gesels en my probleme met hom deel. Hoewel ek rugby, tennis en krieket vir die skool gespeel het en 'n regte plaasseun was, het hy van my gehou, hoewel ons belangstellings baie verskil het. Ek het baie van Afrikaans gehou en ek het in die klas elke woord ingeneem wat hy gesê het. Hy het loseer net oor die straat van die koshuis en as ek nie sport gehad het nie, het hy my genooi om by hom te kom kuier en dan het ons koffie gedrink, musiek geluister en gedigte gelees. Hy was 'n groot Opperman-bewonderaar. Verder het ek nog twee boekies wat hy vir my gegee het, oor Afrikaanse idiome en gesegdes. Hy en my ouers het goed bevriend geraak en het hy baie naweke by ons op die plaas deurgebring. Terwyl ek en my broer naweke gejag ,geswem en my Pa met die boerdery gehelp het, het hy en my moeder (sy was ook 'n taalonderwyser en het mooi gesing) musiek geluister en oor die kultuur en onderwyssake gesels. Hoewel hy nooit baie van sport en veral van rugby gehou het nie, het hy my altyd soos 'n ouer broer ondersteun en aangemoedig om hard te werk en my bes te doen. Hy was baie lief vir die natuur en het baie gestap, baie keer op sy eie en die natuur op ons mooi plaas bewonder! Aan die einde van 1963 het hy die Afrikaanse pos by die Hoërskool Jan van Van Riebeeck aanvaar en my ouers oorreed om my Jan van Riebeeck toe te stuur vir my laaste twee skooljare. So land ek aan die begin van st 9 in Die Rog(HUIS AJ Van der Merwe ) JvR se seunskoshuis saam met Mnr Snyman. Weer het hy vir my Afrikaans gegee, maar ons kon nie so 'n hegte verhouding soos in Cradock handhaaf nie, omdat die kultuur hier anders was en nie so informeel soos in Cradock nie! Ons het 'n meer afsydige verhouding gehandhaaf, maar hy het my steeds aangemoedig om op alle gebiede my bes te doen. Toe ek hoofseun van die Rog word was hy my groot raadgewer en ondersteuner. Hoewel hy nie baie van rugby gehou het nie, het hy baie keer langs die veld gestaan as ek rugby en tennis gespeel het. Hy was baie "open minded", maar was nog altyd 'n onberispelike voorbeeld met baie hoë Christelike en morele waardes. Ek het ook altyd sy spitsvondigheid en intellek bewonder. Ek sal nooit vergeet hoe hy met 'n glinster in sy oog na my gekyk het toe ek my eerste liefde ontdek het nie! Hoewel hy klein van postuur was, was hy 'n groot "gees" en het hy vir my en glo ek, vir ons almal geleer om uit die "kassie" te dink en met 'n oop gemoed dinge aan te pak en te ondersoek. Na matriek het ek my militêre opleiding in die Vloot gedoen en het ons kontak verloor, hoewel dit wat hy verpersoonlik het, my altyd bygebly het. Na my studies op Stellenbosch het ek op Elandskuil ons familieplaas kom boer, maar altyd het ek, Mnr/Prof Henning Snyman se vordering met bewondering dopgehou. Oral waar hy gekom het ,het hy respek afgedwing en 'n groot impak gemaak. Na die funksie wat die 1965 matriekklas, wat ek ongelukkig nie kon bywoon nie, vir hom gehou het, het ek hom geskakel en vir meer as 'n uur met hom gesels en was hy baie bly om my stem te hoor. Ons het baie lekker oor die jare wat verby is gesels en ek het onderneem om by hom op Beaufort-Wes te gaan kuier, maar tot my groot spyt ,was ek altyd te haastig en ry ek verskeie kere per jaar deur Beaufort-Wes, maar nou is dit te laat! Ons dink altyd ons sal dit volgende keer doen, totdat dit te laat is! Op Beaufort-Wes was hy 'n groot aanwins vir die gemeenskap en het almal inspireer om Afrikaans en al sy fasette te waardeer. In die kerk het hy 'n baie groot rol gespeel met sy bydraes tot die hersiening van die Bybel.
    Mnr Snyman ons sal jou mis, maar sal jou altyd onthou vir jou nederigheid, meelewendheid ,uitmuntende leermeester, jou uitmuntende bydraes tot jou vakgebied en bowenal as ware "gentleman". Ja 'n seder het geval! Ons voel saam met die familie, kollegas en vriende. Baie dankie Mnr Snyman vir jou wonderlike nalatenskap. Baie dankie aan Annette van der Merwe vir jou sorg, liefde en ondersteuning aan Prof. Snyman. Hy het jou beskou as sy dogter! Weereens het ons geleer dat: "BRING DIE BLOMME TERWYL DIE PERSOON LEEF."
    Groete,
    Gerard Bekker.

  • Joel Claassen

    Dankie vir jou uitstekende huldeblyk, Carina! Prof Snyman was my mentor vanaf my 1ste jaar aan die Universiteit van Kaapstad, tot die laaste dag van my proefskrif, en selfs vir die jare sedertien. Suid-Afrika en Afrikaans het 'n titaniese akademikus en mens verloor.

  • Carina, dit is 'n aangrypende huldeblyk. Ek het hom die afgelope 12 jaar as goeie vriend leer ken, en sal hom geweldig mis.

  • Marliza van der Merwe

    Watter voorreg dat ons paaie weer met hom kom kruis het hier in die diep Karoo! My man was baie jare terug een van sy studente. Met sy stil, waardige, tog innemende persoonlikheid, het hy die droogtes in ons siele hier kom voed met sy wysheid en insig. Ons gaan hom mis.

  • Matilda Burden

    As iemand my die afgelope 40 jaar gevra het wie my beste dosent op universiteit was, het ek altyd sonder huiwering geantwoord: Henning Snyman! As hulle vra hoekom, dan kan ek dit nie verwoord nie. Wat was dit aan Henning wat van hom 'n uitmuntende leermeester gemaak het? 'n Mens kan 'n paar eienskappe noem, wat Carina en Gerard mooi raakgevat het, maar daar was iets baie dieper wat hy oorgedra het, wat 'n mens laat voel het dat dit waarmee jy besig is, die moeite werd is. Ek sal hom altyd onthou en eer as 'n uitmuntende dosent wat my ongelooflik geïnspireer het vir my lieflike taal.
    Ons derdejaarsklas van 1976 by Afr-Ndl aan die US (slegs die Taal Spes-groep), het daarop aanspraak gemaak dat ons hom en Annette, wat natuurlik ook vir ons klas gegee het, uiteindelik tot trou gebring het!

  • Die beste dosent ooit. Hy het 'n wonderlike invloed op my gehad. Ek salueer hom en mis ons kontak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top