Heimwee

  • 1

In die snerpende oggendlug rook al die vroeg-uit-die-vere-voëls. Die mistigheid sluk jou in en die rede vir die wasem is ’n engel wat te lank gestort het. Jou gehawende vellies laat blywende spore op die dun ryplagie op die grasperk. Ek hou jou fyn dop en wonder, hoekom loop jy met soveel seer vasgevang in jou oë? Soos jy jou blou hande warm blaas, voel ek ’n rilling deur my gaan. Motors, van verskillende groottes en kleure, rits haastig verby, maar jy laat jou nie aanjaag nie. Jy vind die tussen-êrens-en-nêrens-bankie net betyds, voor jou bene ingee. Toe jy die flentertjie-Bybel uithaal, weet ek jy gaan uit Prediker 3 lees. Die blaaie van jou Bybel het potloodkrabbels in soos jy met God worstel oor die verlede. Jou fluisterende stem, ’n herinnering van jou laaste drie woorde aan my …

Sommige dae vleg ek, slegs ’n spook uit jou verlede, deur die verkeer. Voor ek weet, sit ek in jou grootwordhuis. Dis nou ’n verlate, oorvol stoorkamer, maar die houtmeubels dra nog die reuk van heimwee. Tussen bokse wit olifante lê jou kleintyd kiekies tussen begrafnispamfletjies versteek. Ek benat die plante met my trane en praat met die weeskinders, wat miaau vir melk. Die troeteldiergrafte getuig van die prediker se wysheid oor geboortes en sterftes, asook plant en ontwortel.

Ek breek die kettings wat my gevange hou en vlug die bekende strate in. Wanneer ek my ore spits, hoor ek nog die weglooptrein. Wandelend op die geroeste treinspore verlang ek na jou omhelsing. Was ons naïef, onrealisties en uit beheer? Of was ons net te jonk?

Sonder rigting sweef my warboel gedagtes tot waar die pad skei. Ek hunker na die dae van eindelose keuses met ’n legio uitkomstes. Nou is ons slegs herinneringe. Was hierdie ons Godswil-pad? Nietemin was ons braaf genoeg vir die grondpad.

My paadjie, vol eg Suid-Afrikaanse slaggate, lei my tot in die middestad met ’n miernes bedrywighede. Die miere skarrel rond op soek na rykdom, kennis en mag. Maar al wat hul werklik benodig, is behoort met ’n doel. Die mensdom raas, selfs in hul stilte van onsekerheid. Soos ek hulle dophou, wonder die Prediker in my: Kom alles werklik tot niks?

Wanneer die stadsliggies besluit om met God se hemelruim te kompeteer, word my sirkel voltooi. Ek loer om boomstamme, op soek na jou. Want na ’n dag se probeer vergeet, om te onthou, verklaar ek ’n skietstilstand oor die oorlog binne my.

Op die einste bankie vind ek jou. Jy lig jou kop, asof jy die blare hoor ritsel en my parfuum kan ruik. Ek kom sit langs jou; jy is onbewus van jou engel. Selfs die tyd om lief te hê, kom tot ’n einde. My hand lê in joune, toe jy oudergewoonte uit Prediker 3 begin lees. Soms wonder ek met heimwee … waarom is ek slegs ’n engel wat oor jou waak, na die noodlottige motorongeluk?

Jy sluit jou gebed af met daardie laaste drie woorde … “Tyd is relatief.”

  • 1

Kommentaar

  • Dorette, dankie vir hierdie herinneringsvlug na die kruispaaie en vurke op ons lewenspad. Daardie gebeurtenisse wat die hele verloop van ons lewe 'n ander koers laat inslaan het.Daardie mense wat ons pad gekruis het en later hul eie rigting ingeslaan het, deur ons agtergelaat is of net uit ons lewens verdwyn het, sonder dat ons kon groet. Daardie voortdurende gewonder, van tyd tot tyd, hoe dinge so anders kon gewees het, sal maar altyd knaag en vir ewig 'n raaisel bly. Soms voel mens tog dat 'n engel jou bewaar het van kwaad. Sommige van daardie mense mag dalk ook nie engele wees wat oor jou waak nie. Hoe sal ons ooit weet? Al wat ons weet, is dat ons dus relatief uiters min weet oor dit waaroor ons so graag wonder. Bewaarengel klink vir my na 'n heerlike werk - al weet die begunstigde nie eens jy is daar nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top