Hartlam, kortverhale oor die liefde: ’n onderhoud met Deborah Steinmair en Gerda Taljaard

  • 0

Hartlam, kortverhale oor die liefde
Samestellers: Deborah Steinmair en Gerda Taljaard

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082736

Skrywers oor hul nuwe boeke: Naomi Meyer gesels met Deborah Steinmair en Gerda Taljaard oor ’n onlangse bundel wat hul saamgestel het, Hartlam, kortverhale oor die liefde.

Deborah en Gerda, baie geluk met dié bundel. Handel die bundel se stories oor romantiese liefde?

Deborah: Oor liefde in al haar gedaantes en daarom terloops ook oor romantiese liefde, maar ek en Gerda het albei ’n voorliefde vir die gekantelde perspektief.

Gerda: Daar is ’n hele aantal verhale wat wel gaan oor romantiese liefde, maar beslis nie almal nie, want romantiese liefde is maar net een manier waarop die mens kan liefhê. Die liefde is sekerlik die mees genuanseerde menslike emosie, en liefde lê soms baie naby aan haat, juis omdat die mense wat jou die liefste het, jou die seerste kan maak. Lesers gaan dus die liefde in al sy vele gedaantes hier aantref: onvoorwaardelike liefde, gewelddadige liefde, erotiese liefde, obsessiewe liefde, onbeantwoorde liefde, liefde tot die dood toe ...

Op die omslagfoto loer ’n oog deur ’n sleutelgat. Wat sien sy? Loer sy af? (Wag, is dit ’n vrou?)

Deborah: Goeie vraag. Die woord maskara is immers afgelei van masker. Wie dit ook al is, hy/sy kry niks. Hoewel hy/sy nie alleen agter die deur staan nie, glo my.

Gerda: Die persoon wat deur die sleutelgat loer, sien die vele gesigte van die liefde, en ja, nie al dié gesigte is ewe mooi nie, want hoe maklik verander romantiese liefde in obsessie of jaloesie? Die afloerder is inderdaad nie noodwendig ’n vrou nie, want in hierdie versameling stories is daar ook ’n man of twee wat maskara dra ...

“Liefde verdra als, maar het tande.” Die stories van jul keuse is edgy, en dit kan verwond. Ander vertroetel en is teer. Praat met my oor die 42 verhale en dimensies van liefde in hierdie bundel.

Deborah: Hollywood se “meet cutes” met ’n klein misverstand en uiteindelike gelukkige einde is gelyk aan vervelige kortverhale. Selfs Huisgenoot se liefdesverhale is deesdae edgy, donkerder en onverwags. Daar wou-wou effens van ’n patroon ontstaan: daar was soveel inskrywings oor latere liefde, liefde in Huis Herfsblaar. Die liefde ken geen perk, maat, geslag of ouderdom nie. Ons het probeer om te sorg vir lekker variasie in die verhale.

Gerda: Dit was Deborah wat met dié treffende uitdrukking (met sy wrang kinkel) vorendag gekom het: “Liefde verdra alles, maar het tande” – want dis dikwels daai groot liefde waarvoor jy so hard baklei het wat omdraai om jou aan die agterent (of hakskeen?) te kom byt.

Op ’n stadium het Deborah dié baie raak opsomming oor die 42 verhale gemaak:

’n Ma pak klippe vir haar gay dogter; hasie-pantoffels word vol modder soos jy weghardloop van die prentjie van Oupa wat vir Marta voor die opwasbak bevroetel; obsessionele liefde gedy in ’n gestig; ’n lyflike vervoering laat hom opeens dink aan iemand anders se mond; ’n ma gooi haar ooilam vir die wolf; ’n vrou dink terug aan haar eerste liefde; ’n sosiologie-professor fikseer premenopousaal op die gomgat Boela Potgieter; Destiny September is vasberade om ’n ryk uitlander raak te drink by die hotel; Kosie se ma hou sy bebloede lyfie in die ambulans vas; ’n engel met Vigs saai verwoesting; Leendert van Zyl kweek ’n fratspampoen; ’n pocket rocket laat ’n ouer vrou hoog bo Kaapstad vlieg elke keer as hy haar beklouter; Habakuk Dorsveld is vasberade om gay te word; Madama Bibiana Wolnik kon Duits praat soos ’n Berlyner en het ’n bietjie soos Marlene Dietrich gelyk; Raaia Erasmus is ’n supernova-maanblink-hoer; ’n klein, swart nommertjie word aangeskaf vir die Valentynsbal; by die agterdeur blom die wit koningin van die nag in die donker; ’n middeljarige digter-akademikus raak verstrengel by ’n konyntjiekoker; Sara word oorrompel deur die swartgallige, getroude Russiese tromboonspeler ...

Wie is die skrywers wie se stories jul gekies het? Dalk kan jul ’n paar name uitsonder wat vir julle uitgestaan het.

Deborah: Gerda het ’n meer georganiseerde donker kop en kan die skrywers opnoem. ’n Mens wil kwalik iemand uitsonder – die skrywers voel al amper soos ’n mens se kinders. Ek hou van Nini Bennet, Emma Bekker, Henning Pieterse en Keina Swart s’n. Onder andere.

Gerda: Ons het hier ’n heerlike konglomeraat van uiteenlopende skrywers wat gewoonlik heeltemal uiteenlopende genres skryf: liefdesverhaal-ghoeroes soos Helene de Kock en Erika Murray Theron; gruwelverhaalskrywers soos Martin Steyn en Jaco Jacobs; speurverhaalskrywers soos Kerneels Breytenbach en Deborah Steinmair; gesoute joernaliste soos Keina Swart en Jan Beyers; digters soos Emma Bekker en Ilse van Staden; akademici soos Henning Pieterse en Heilna du Plooy. Die resultaat? Telkens ’n unieke blik op die liefde ...

Watter temas word aangeroer? Het sekere hiervan julle verbaas? Het die uitnodiging om verhale dit dalk uitgestippel dat jul nie op soek is na konvensionele liefdesverhale nie (wat dit ook al beteken)?

Deborah: Ons het dit so probeer uitstippel, ja. En ons is steeds verbaas oor wat in mense se koppe en lewens aangaan. Aangenaam verbaas.

Gerda: Ek en Deborah het in ons uitnodiging aan skrywers gevra vir “intelligente liefdesverhale wat oorspronklik en enduit boeiend is” en wat al die manifestasies van die liefde omvat. Die verhale wat ons ontvang het, was allesbehalwe konvensioneel – party van die verhale speel in psigiatriese hospitale af, ander eindig in moord, sommige gee jou hoendervel (en nie op ’n lekker manier nie!) en ’n paar gee jou ’n gevoel wat iewers huiwer tussen wanhoop en genoegdoening ...

Julle albei skryf ook – vertel my asseblief oor jul stories in die bundel. Wat het jul geïnspireer of die snellers gebied tot jul eie verhale in die bundel?

Deborah: Myne is suiwer fiksie en meer wil ek nie sê nie.

Gerda: My verhaal handel oor moederliefde, wat selfs die dood nie kan stuit nie. Ek het nie my eie kinders nie, maar ek kan my goed voorstel watter onvernietigbare band daar tussen ouer en kind moet wees. Ek vermoed Guillermo del Toro se film Mama was die sneller vir my storie. Soos met byna al my ander skryfwerk, gaan die leser ’n lekker koue rilling (of drie) kry!

Vertel my of jul keuses van verhale ooreengestem het (en wie’t gewen)?

Deborah: Ek en Gerda stem min of meer altyd saam, daarom werk ons so lekker saam. Ons het ’n soortgelyke manier van kyk. Soms wen sy, soms ek. Maar ons is lakonies-inskiklik en vertrou mekaar se oordeel. En die eerste deel van die vraag: die samelewing is gebreinspoel deur chickflicks en Mills & Boon, Romanza et al. Wat mense konvensioneel as liefde beskou, is eintlik maar daardie malse eerste fase van verliefdheid, soos ’n koors of ’n kopverkoue, met fladderings in die buik. Dis maar ’n klein deeltjie van liefde. Hunkering is natuurlik eindeloos verwoordbaar. Soos Rodriguez sing: “The sweetest kiss I ever knew is the one I never tasted.” En obsessie maak spannende leesstof.

Gerda: Ek en Deborah het gelukkig nogal dieselfde idees oor wat werk en wat nie, dis dié dat ons so lekker saamwerk.

Oor die invalshoeke en eerste-/derdepersoonvertellers – iets wat jul opgeval het in die stories? Waarmee is jul ingelok in die verhale?

Deborah: Vir my altyd die eerste sin of paragraaf. Sit ek regop en spits my ore? Wil ek weet waarom?

Gerda: Daar is al oneindig baie oor die liefde geskryf, maar dis verhale wat op oorspronklike wyse hiermee omgaan, met ongewone invalshoeke, unieke intriges en geloofwaardige karakters wat die oog vang – bejaardes wat weer hunker na seks; ’n basterbrakkie wat ’n gemolesteerde kind se enigste troos is; ’n man wat sy vrou selfs ná haar dood met fynproeweretes bederf; lewelose objekte (soos fietse) wat meer oor die liefde verklap as die verliefdes self ...

Was daar ’n spesifieke keuse ten opsigte van volgorde van verhale?

Deborah: Gerda het meer voetwerk of boude-op-die-stoel-werk ingesit as ek.

Gerda: Vir my was dit belangrik om bekende skrywers se verhale af te wissel met dié van nuwe skrywers, eerstepersoonsverteller-stories met derdepersoonsverteller-stories, en aweregse verhale met meer “outydse” liefdesverhale.

En dan: die liefde se tande. Dis eintlik baie realisties, of hoe, dat die liefde so lyk? Baie ander van die liefdesverhale in bundels met gelukkige eindes is dalk juis nie die realistiese soort nie. Dis toe nie julle wat die liefde op sy kop gekeer het nie; julle het stories geskryf wat die liefde beskryf soos dit is – bloed, derms en woede. Bestaan die liefde op sjokoladebokse en op poskaarte uit Parys?

Deborah: Hollywood en Bollywood en Kavalier-films en wie ook al het die liefde verdun tot spookasem. Sjokoladeboksliefde bestaan miskien wel – ek wil niks afskiet nie – maar is dit die stories wat ons wil lees? Is langdurige, rimpellose geluk vervelig? Miskien smag ons almal daarna, maar ons lees graag oor die bloed en derms – ander mense s’n.

Gerda: Danksy die media het die samelewing ’n totaal verdraaide siening oor wat liefde (en verhoudings) is. Liefde mag dalk vir ’n rukkie eufories wees, maar verhoudings is harde werk en gaan hoofsaaklik oor kompromieë, om mekaar tegemoet te kom. Daar is nie iets soos perfekte verhoudings en ideale liefde met ’n gelukkige einde nie, en dit is waaroor dié verhale hier gaan.

Tradisionele liefdesverhale dien as ontvlugting – om vir ’n paar bladsye lank saam met die personasies beeldskoon en op eksotiese plekke te wees. Sulke liefdesverhale het natuurlik hulle plek, maar die verhale in Hartlam het nie daardie lagie vernis nie. Hier is outentieke karakters met plooie en hangborste, met sielkundige en finansiële probleme, met pa’s in die tronk en afknouerige susters. Natuurlik het die meeste van ons al daai tjoklitboksoomblik beleef, maar wat uiteindelik oorbly, is letsels, verlange en teleurstelling. Maar gelukkig ook onvoorwaardelike liefde wat irriterende gewoontes en knoffelasems miskyk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top