Hartklop – iets om te beleef

  • 0

Gisteraand was die opening van Hartklop, ’n splinternuwe drama deur Jan Groenewald wat in die Kunstekaap speel. Gaan kyk dit. Dit, wel, tref die hart.

Jessica (gespeel deur Nadia Valvekens) wil ’n berig in die koerant kry oor die belang vir hartoorplantings, iets wat vyftig jaar gelede die eerste keer gebeur het. Sy het egter ’n veel dringender behoefte as bloot die geskiedenis: haar pa is besig om te sterf en hy het dringend ’n nuwe hart nodig.

Haar geliefde, Daniel Cloete (Christo Davids), is ’n goeie joernalis en hy help haar om allerlei invalshoeke te vind vir haar storie, maar hy het ook veel meer onmiddellike planne. Hy wil trou en hy wil kinders hê ...

Die dilemma is, blondekop Jessica se pa is een van daardie wit mans wat nie wil toelaat dat ’n swart of bruin verpleegster hom moet versorg nie. Daardie laaste bietjie hart wat nog in sy borskas oor is, sal waarskynlik summier gaan staan as hy moet weet wat in sy dogter se sekslewe aangaan ...

Dit is ’n wonderlike stuk. Nie maklik nie, maar so deksels van toepassing op ons samelewing. Chris Barnard het dit duidelik gemaak dat alle harte dieselfde lyk, dit maak nie saak wat die draer se velkleur is nie. (Hier lê iets belangrik vir die stuk, maar gaan kyk dit self!)

Jan Groenewald en sy genoot, Pieter de Vos, verfilm gereeld oorplantings en is aktiviste vir orgaanskenking.

Pieter het voor die stuk begin het, weer ’n passievolle pleidooi gelewer dat mense die onderskeie verenigings moet ondersteun wat orgaanskenking moontlik maak.

Die stuk is goed nagevors en berus op verskeie verhale wat Susan Vosloo, die baie bekende hartoorplanter, aan Jan Groenewald vertel het.

Marlene le Roux doen wonderlike werk in die Kunstekaap. Sy ondersteun die kunste, maar ook die mensdom!

Wat die hart van vol is ...

Pieter de Vos, Marlene le Roux, Christo Davids, Jan Groenewald en Nadia Valvekens

*

https://www.odf.org.za

Terloops: Asseblief, besoek die orgaanskenkersvereniging (https://www.odf.org.za/) en registreer as ’n skenker.

En ook: Asseblief, vertel jou geliefdes om dadelik jou organe te skenk as jy in ’n ongeluk is en breindood is. Jou hart, jou longe, jou niere en jou oë kan soveel vir iemand anders beteken. Dit is baie belangrik.

(Ek is ’n orgaanskenker. As ek sou sterf met bruikbare organe, wil ek baie graag dat ander daarby baat.)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top