My hart is ’n soutpilaar

Soms, ook maar net soms
word ek bewerig, benoud-bang
wanneer ek my kop neerlê
luisterend na die tjankgeluide
van jou roetbevlekte winde
wat suisend sjie-sjoe huil
deur die oopgesplete balke
van my verkluisenaarde ruïne hart
se verminkte stowwerige hoeke.

Dan wonder ek of jou draaikolk
ook dwaal rondomdeur ons ruimtes
van vervreemde tyd en kennis
want deur die beton fondasie
van my bouvallige hart
stoom gemummifiseerde rooknewels
van ons laaste saamwees se styftrekkings.

Hier moet jy my nou alleen los
buite die hekke van jou hel
in my triestige verdrietige bouval.
hier 
    wil 
        ek
           bietjie
                    rus
saam met lot se vrou
want my vlug na die berge
lê soos sewe sakke sout voor my.

 

© 2016 Caren Kearley

Kopiereg voorbehou

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top