Hans steek die Rubicon oor: ’n onderhoud met Rudie van Rensburg

  • 0

Hans steek die Rubicon oor
Rudie van Rensburg

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801471

Skrywers oor hulle nuwe boeke: Naomi Meyer vra vir Rudie van Rensburg oor sy boek Hans steek die Rubicon oor.

Rudie, met Hans steek die Rubicon oor steek jy self ’n persoonlike Rubicon oor: dis nie ’n spanningsverhaal hierdie nie. Hoekom nie? En voel jy as skrywer dat jy binne enige genre wil kan skryf en nie ingeperk wil word nie, sonder dat iemand hierdie soort vraag vra?

Ek noem dié boek ’n “asemskepboek” tussen die spanningsfiksie deur. Dit is beslis nie ’n nuwe rigting wat ek inslaan nie. Maar soos jy tereg opmerk, wil ek ook nie ingeperk voel as ek die behoefte het om ’n ander genre aan te pak nie. En ek wil ook nie die moontlikheid uitsluit dat ek dit weer in die toekoms gaan doen nie – hoewel spanningsfiksie maar altyd my eerste liefde sal bly.

Jou karakter Hans steek ’n Rubicon oor. Vertel asseblief waaroor die storie gaan?

Die storie handel oor ’n 90-jarige man (Hans) wat deur sy verloopte kinders (wat almal in die buiteland bly) gedwing word om ouetehuis toe te gaan. Hy is nie lus of gereed daarvoor nie. Sodra hy met die drakoniese bestuur van die plek te make kry, word hy ’n rebel en aktivis, ’n oom wat niks het om te verloor deur in opstand te kom nie. Hy word die matrone se grootste nagmerrie: ’n ou man wat vir homself kan dink en tot aksie oorgaan. En uiteindelik is Hans ook die katalisator vir die ander senior burgers se verset.

Oudword en hoe dit uitgebeeld word – nóg ’n Rubicon. Humor en oudword is nie maats nie, of hoe? Of dink jy dis hoe dit (dikwels) met humor werk: hoe erger en hoe meer skreiend, des te snaakser?

Ek dink nie humor het ’n ouderdomsperk nie. Die eiesoortige en soms ouwêreldse woordeskat van die bejaardes het as die basis vir die humor in die boek gedien. En teen die agtergrond van hulle ouderdomsbeperkings en soms -gebreke is hulle manewales juis snaakser as wat dit met ’n jonger geslag karakters die geval sou wees.

Wat het hierdie storie geïnspireer?

Die boek het ’n lang aanloop. Dit het “ontkiem” toe Kassie Kasselman, die speurder in my spanningsromans, se bejaarde ma in Kamikaze deurmekaar raak met ’n oom wat nie sy goedkeuring wegdra nie. Dit het vir lekker humor gesorg en het my geïnspireer om ’n kortverhaal oor ’n senior burger (Hans) te skryf vir die US se Woordfeesbundel van 2017. Dié kortverhaal het bly spook by my en “gesoebat” om ’n boek te word. En só het Hans se storie lyf gekry.

Die volwasse kinders wat oorsee bly, die bejaarde ouers wat in die aftreeoord ingeboender word. Dis iets waarmee baie Suid-Afrikaners kan identifiseer. Was jou boek dalk nie net ’n satire nie, maar ook ’n vorm van protes? Dalk kan jy hierop uitbrei.

Dit was beslis ook ’n vorm van protes. Eerstens het ek ’n weersin daarin as jonger mense wat mag het oor oueres, op ’n neerbuigende manier met hulle praat deur onder meer verkleinwoorde te gebruik asof hulle kinders is. “Oumensies” se wysheid en ervaring mag nooit onderskat word nie – iets wat juis in die boek sleg boemerang vir hulle wat bejaardes vlak kyk. En ja, tweedens wou ek die groot Suid-Afrikaanse tragedie belig dat soveel bejaarde ouers vereensaam in inrigtings omdat hulle kinders en kleinkinders in die buiteland is én dat hulle soms teen hulle wil in daardie inrigtings geboender word.

Wat is eenders en wat is anders om spanningsfiksie te skryf versus ’n humoristiese verhaal?

Anders as in my spanningsromans het ek dié verhaal deurgaans lig en speels gehou, maar soos in spanningsfiksie het ek die leser probeer nuuskierig hou om te sien of Hans die stryd gaan wen teen die “onmenslike” gesaghebbers van die ouetehuis. In ’n groot mate gebruik ’n mens maar dieselfde spanningsromanresep om die lesers geïnteresseerd en in afwagting te hou.

’n Jeugdige wêreld vol van millennials, voel dit soms. Dink jy daar is ’n mark vir boeke oor ouer lesers vir ouer lesers?

Hans se storie sal seker meer aanklank vind by ’n ouer geslag lesers, maar ek was nogal verras oor die positiewe terugvoer wat ek van jong lesers gekry het. Wat dalk daarop dui dat ’n boek oor bejaardes ook leesbaar is vir ’n breër mark.

’n TV-reeks van verlede jaar, Stranger things, het my aandag gevestig op hoe die leefwêreld van kinders van die tagtigerjare in ’n verhaal aangewend kan word: landlyntelefone, outydse TV’s, modes en die rekenaarspeletjies van daardie tyd. In ’n boek wat toegespits is op ouer lesers, watter navorsing moes jy doen om toegang te verkry tot die leefwêreld van jou teikenmark?

Ek het gelukkig self in ’n tyd grootgeword sonder TV’s en rekenaars, en mét safaripakke, kruisbande, landlynfone, tikmasjiene, die Skim en Tarzan, Borgwards, langspeelplate en Chamberlain se hoesmedisyne. So dit was darem nie te moeilik vir my om daardie leefwêreld te skep nie, omdat ek volgens alle definisies self op die rand van bejaardheid staan! (Iets wat ek in die openbaar natuurlik ten sterkste ontken.) My grootste uitdaging was wel om argaïese uitdrukkings te soek wat by Hans en sy pelle se taalgebruik sou pas. Daarvoor het ek Afrikaanse spreekwoorde en uitdrukkings uit die vyftigs, sestigs en sewentigs gaan opdiep wat nie meer vandag algemeen voorkom nie.

Waaraan skryf jy op die oomblik?

Ek is besig om aan twee manuskripte (albei spanningsfiksie) te werk vir 2019. My nuwe spanningsroman, Ys, is klaar en verskyn vanjaar in April.

Wat lees jy – en kry jy tyd daarvoor? Watter boeke/films/teaterwerk/TV-reeks het jou onlangs getref?

Waar ek altyd ’n ywerige fiksieleser was, kry ek tot my groot spyt deesdae nie tyd om meer as drie, vier fiksieboeke in ’n jaar te lees nie (gewoonlik net beperk tot die werk van my gunstelingskrywers). Ek lees egter wyd en deurlopend aan niefiksieboeke as deel van navorsing vir my eie boeke. Naas Jacques Pauw se opspraakwekkende onthullings het die Britse ondersoekende joernalis Tom Burgis se The looting machine: warlords, tycoons, smugglers and the systematic theft of Africa’s wealth ’n groot indruk op my gemaak. En ek moet meld dat kykNET se TV-reeks Waterfront my voete onder my uitgeslaan het. Dit vergelyk uitstekend met enige bekroonde internasionale reeks.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top