Hans du Plessis (1945-)

  • 0
 
SêGoed van Hans du Plessis:

“Afrikaans gaan nêrens anders heen as waarheen ons dit vat nie. Ons moet produkte skep wat só goed is dat mense agter ons aanloop” (Beeld, 30 September 2002).

“Daar moet ontslae geraak word van die elitisme in die Afrikaanse letterkunde. Boeke moet wyer en anders uitgegee word, want daar is ’n mark vir liefdesverhale en dié soort letterkunde moet ook deur onder meer resensies in die media aandag kry” (Beeld, 30 September 2002).

“Afrikaans moet in Afrika bestaan, en hy doen dit al eeue. Die vraag is net of sy kundiges dit wil weet – ás hulle natuurlik vir die taal Afrikaans net soveel omgee as wat hulle vir die vak Afrikaans omgee ...” (Beeld, 23 April 1997).

In 1992: “Die Afrikaanssprekendes moet end kry met sy eie ongegronde pessimisme oor die toekoms van die taal. Afrikaans se status in die nuwe Suid-Afrika gaan nie bepaal word deur wat die PAC, ANC, NP of die KP daarvan sê nie, maar deur die gebruik van en liefde vir Afrikaans deur sy eie mense, wit, bruin en swart” (Beeld, 21 Maart 1992).

“As Afrikaans losgemaak word van sy eie benepenheid en jy kan Afrikaans wyer oopmaak, jy kan ’n hergedefinieerde een kry, dan kan hy brugbouer wees” (Beeld, 21 Maart 1992).

“Om oor die digter as vakman te praat, is soos om oor die liefde te praat: wie kan so arrogant wees om te dink jy verstaan daarvan iets?”

“Vir my is die digter aan die werk as jy oer-eerlik jou talent kan omsit in die woord. Die digter is aan die werk as jy wat jy teoreties weet, doen sonder dat jy weet jy doen dit. Om te kan dig, is om die vermoë te hê om te gaan sit en dig, en agterna self te wonder wat het jy nou eintlik gedoen.”

“Die Afrikaanse boek wat sy sout werd is, bly sy staan staan” (Die Burger, 14 Mei 2001).

“’n Gekerm oor die agteruitgang van die jeug is eintlik maar die oumense se erkenning van hul eie mislukkings. Die jeug is so goed as wat die oues haar maak. Oumense is die verlede, jongmense is die toekoms en ek is positief oor die toekoms as hy oor homself positief is” (Die Burger, 14 Mei 2001).

“Ek is al doer in die sewentigerjare daarvan beskuldig dat ek Afrikaans wou weggee! Afrikaans was vir my lank voor dit mode was, die totaal van al sy dialekte. My oortuiging is ouer as die ‘liberals’ en die ‘lefties’ s’n. Dis nie dat ek die onreg wat ons Afrikaans aangedoen het, ontken nie – ek was self deel daarvan. Maar die erkenning van skuld moet ook die vereffening daarvan veronderstel. Die skrywer is deel van die erkenning én die afbetaling, sonder om jou te veel aan die politieke gerinkink daaromheen te steur” (Die Burger, 14 Mei 2001).

“As ek liefde verstaan het, het ek God verstaan en dan was daar niks om te glo nie. Daarom: Dankbaar om lief te hê en liefgehê te word. Want liefde is in God, maar omdat dit ’n flippen stukkende wêreld is, word liefde te maklik mens.”

Hoekom skryf hy? “Nee, ek glo nie ek weet hoekom ek skryf nie. Iets kom staan net in my binneste en sê: ‘Ek wil gesê wees, plak jou neer en sê!’ Daarna word dit al die ander goed, want eintlik skryf ek nie, ek word geskryf.”

“Wit het met Afrikaans se geskiedenis, hede en toekoms net mooi niks te make nie, al het ons hard geprobeer om die teendeel wetenskaplik te bewys” (Rapport, 28 November 2004).

“’n Taal se lewenskragtigheid lê veral in sy variasie. Die woordeboek (Annerlike Afrikaans) is daarom lewende bewys daarvan dat Afrikaans as taal nie naastenby aan die uitsterf is nie” (Flapteks van Annerlike Afrikaans).

“Ek sit op my Muse – kreatiwiteit kos harde werk! Dit moet stil en donker wees om my kop. En dan moet hulle nie kom infoeter nie. Dis ’n vreeslike alleenproses. My stimulus is iets mooi ... dis byna nooit mensgemaak nie. Dis eenvoudige goed wat na aan jou is soos die Bosveldse Botterklapperboom wat lyk en proe of die son dit vrystel. Kreatiwiteit gaan ook altyd gepaard met emosie, maar jy moet afstand kry anders is dit net ’n private ache. Die Muse is nie suinig met idees nie – almal kry hulle. Maar dis die ware kunstenaar wat die vermoë het om daardie gawe om te sit in ’n kunswerk. Daar’s tegnieke om dit te slyp, maar dit kos harde werk.”

Beteken die Skryfskool iets vir sy eie skryfwerk? “Ek dink so, ja, want deur die skryfskool is ’n mens daagliks besig met skrywers en skryfopleiding. Dit stimuleer ’n mens baie en dit dryf jou telkens terug om te gaan skryf” (Beeld, 13 Februarie 1992).

Wat het die Griekwas hom geleer? “Vreemd genoeg is die Griekwapsalms van my skryfwerk die goed wat ek die maklikste geskryf het. Miskien juis omdat dit vir my so wonderlik is dat die Afrikaanspraters van die uithoeke, Afrikaans so kan praat sonder die hulp van woordeboeke en Engels. Hulle tel hom sommer so uit die sand uit op en praat hom presies nes hy is. Dit, het ek geleer, is Afrikaans” (Beeld, 13 Februarie 1992).

Watter bydrae kan die taalkundige benadering tot die voortbestaan van Afrikaans lewer? “’n Reusagtige bydrae, glo ek. Navorsing oor Afrikaans se verskeidenheid binne die sosiolinguistiese benadering het die uitsluitlike wit kyk na Afrikaans verwoes. Skielik kon ons almal sien dat Afrikaans die besit is van almal van ons wat hom in die mond neem. Die lekker Afrikaans, die lewende ene, lewe buite handboeke in die mond van sy mense” (Beeld, 13 Februarie 1992).

"Afrikaans het die oorgang na die nuwe bedeling nie net oorleef nie, dit het boonop een van die voortreflikste voorbeeld van transformasie in Suid-Afrika geword sedert die dood van apartheid. Taal van die demokrasie, en taal is die mense wat dit praat" (Die Warm Debat, Gemeenskap en Kultuur, 12 September 2014).

"Dis nie vir my ’n probleem om af te tree nie. Want ek tree nie af in die sin dat ek ophou nie. As aftree ophou beteken, dink ek gaan jy dood. Aftree moet ’n nuwe begin wees, sê die (toekomskundige) Piet Muller. Ek dink ’n mens moet dit sien as ’n nuwe lewe. Ek meen, jy kan ’n jaar lewe, maar jy kan ook nog 20 jaar helder wees em dan’t jy eintlik wéér ’n loopbaan voor jou" (Beeld, 13 November 2011).

"My filosofie by die skryfskool – en dis deels hoekom ek die skryfskool gedoen het – is dat daar net een manier is om Afrikaans in stand te hou: Maak hom onmisbaar. En daarmee bedoel ek: Skryf goed, doen goeie navorsing, doen goeie goed – en práát hom net eenvoudig met mekaar. Ek glo vas jy kan nie iemand leer skryf nie. EK kan nie talente gee nie, ek het te min, ek kan nie nog weggee nie!" (Beeld, 13 November 2011).

Gebore en getoë

Hans du Plessis is op 15 Januarie 1945 in Pretoria gebore as Hans Georg Wilhelm. Hy is een van vier seuns en word op Silverton groot en woon die plaaslike laerskool by. Hy vertel aan Elfra Erasmus dat Silverton daardie jare ’n plattelandse dorpie was wat vir hulle as kinders ver van die stad af gevoel het.

Hy matrikuleer in 1962 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Hulle moes aanvanklik met die trein hoërskool toe gaan en later met die bus, aangesien daar net ’n laerskool op Silverton was.

Hans vertel aan Erasmus (Beeld Kalender, 13 Februarie 1992) dat hy en sy broers maar soos plattelandse seuns van die vyftiger- en sestigerjare grootgeword het. “Omdat die mense op ons dorp in die algemeen maar arm was, moes ons ons ontspanning buite in die veld loop soek. Om mispels of stamvrugte of wildeperskes te soek, was deel van ons bestaan. Ek meen dat my liefde vir die natuur en ’n empatie met enige agtergestelde mens toe al bestaan het en dat dit ’n groot invloed op my skryfwerk gehad het."

Hans se ma en pa het ’n groot rol gespeel in sy grootwordjare en ook in die tipe mens wat hy geword het. “Ek het met boeke grootgeword. Hoewel ek in my laerskooljare nie ’n goeie leser was nie, het ek dit later geword.”

Verdere studie en werk

Hans wou aanvanklik na skool ’n radio-omroeper word, het hy aan Anim van Wyk (Beeld, 13 November 2011) vertel. "Nou waar ek daaraan gekom het, moet jy my nie vra nie. Ek het nie die stem nie, maar ek het gelukkig die looks vir ’n radio-omroeper!" Dit was dan ook hoekom hy aanvanklik geskiedenis en Noord-Sotho as hoofvakke geneem het.

Na skool gaan Hans na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1966 sy BA-graad behaal. Hy studeer later verder aan Unisa en verwerf sy UOD (universiteitsonderwysdiploma) in 1969. Hy slaag sy BA honneurs met lof in 1970 en so ook sy MA-graad in 1972. In 1975 behaal hy sy DLitt et Phil. Na voltooiing van sy doktorsgraad in Afrikaanse Taalkunde word die senior beurs van die RGN in 1976 aan hom toegeken en sit hy sy studies voort aan die Harvard-universiteit in Amerika, waar hy ’n kursus onder die taalkundige Susumu Kuno volg. In Amerika studeer hy ook verder in die algemene taalwetenskap by die wêreldbekende Noam Chomsky, destydse ghoeroe op die terrein van die transformasionele generatiewe grammatika.

Na ses jaar in die onderwys (onder andere vier jaar aan die Hoërskool Evander) word Hans in 1971 aangestel as lektor in Afrikaanse taalkunde aan Unisa. Vanaf 1977 tot 1980 is hy senior lektor aan die Randse Afrikaanse Universiteit. In 1981 word hy professor in Afrikaanse taalkunde aan die Potchefstroomse Universiteit (vandag die Noordwes-Universiteit). Sy intreerede handel oor die Afrikaanse taalkunde as besondere wetenskap en hy sê dat mense wat die taalwetenskap bemeester het sonder om die taal behoorlik te kan gebruik en te spel, nie veel vir die taal beteken nie. Hy bepleit ’n instituut vir eietydse Afrikaans aan die Potchefstroomse Universiteit, omdat ’n opname en behoud van kwynende vorme soos Griekwa-Afrikaans en Johannesburgse Afrikaans noodsaaklik is.

Hans is al sedert 1985 betrokke by skryfkursusse wat die ATKV saam met die departement Afrikaans van die Noordwes-Universiteit aanbied, en toe die universiteit in 1989 besluit om ’n skryfskool te stig, was Hans die logiese keuse om as die eerste direkteur aangestel te word. In 1990 kry hierdie skool beslag en staan dit bekend as die ATKV-skryfskool.

Hy is in 1968 getroud met Magdaleen Potgieter en die egpaar het vier seuns, Rudolph, Louis, Hansie en Tjaard.

Hans se eerste gedigte word in letterkundige tydskrifte soos Kol (1969) en Tydskrif vir Letterkunde (1978) gepubliseer. Benewens verskeie resensies in koerante en oor die SAUK, verskyn daar ook wetenskaplike artikels in onder andere KlasgidsTaalfasette, Tydskrif vir GeesteswetenskappeLinguistic Inquiry en Die Transvaler. Hans is ook die outeur van etlike taalkundige publikasies soos Sintaksis vir eerstejaarsVariasietaalkunde en En nou, Afrikaans? Saam met Dawie Steenberg is Hans die redakteur van Skryfateljee: gesprekke oor skryfwerk, waarin bekende Afrikaanse skrywers hulle menings oor skryfwerk met lesers deel.

Buiten sy skryfwerk lewer Hans ’n belangrike bydrae om Afrikaans van sy historiese en politieke beperkinge te bevry met sy ondersoeke na die variasies van Afrikaans. In die begin van die tagtigerjare het Christo van Rensburg, toe van die Universiteit van die Vrystaat, ’n omvattende navorsingsprojek oor die Afrikaans van die Griekwas gelei. Hans was een van die medewerkers en het saam met die navorsingspan veldwerk onder die Griekwas gedoen. Hy lei ook later ’n ondersoek na die gebruik van Afrikaans in Namibië. Soms het hy alleen op ver plekke na Afrikaanse dialeksprekers gaan soek, en kon hy hoor hoe Afrikaans die taal van Afrika geword het.
 
Hans se eerste digbundel, Kleinwild, word in 1978 deur HAUM gepubliseer. Hierdie bundel beklee ’n besondere plek in Hans se hart, omdat hy die oudste is en die swaarste gekry het. Hoewel Hilda Grobler in Hoofstad (1 Februarie 1979) die bundel nie baie goed ontvang het nie, skryf Rika Cilliers-Preller (Beeld, 12 November 1984) later: “Die soort epigrammatiese kleingedig van Hans du Plessis se voorkeur, of stemming- en natuurindrukke, vra ’n sintuig vir klank, ritme en beeldevokasie waaroor dié digter, myns insiens, wel beskik. Kleinwild se bekoring het daarin gesetel.”

In 1984 word sy tweede digbundel, Gewete van glas, deur Human & Rousseau gepubliseer en hieroor sê Rika Cilliers-Preller (Beeld, 12 November 1984): “Dit is egter die digter se werkwêreld in sekere tegnieke wat die aandag opeis. Daar is die reeds genoemde pogings om te skryf soos ons praat (wat ek maar as sambreel vir verskeie prosesse gebruik), reeds in die motto geantisipeer deur die poëtiese ou vertaling deur die nuwe, spreektaalgerigte te vervang. [...] Weliswaar is die digterlike transformasies nog nie konsekwent tot poësie deurgevoer nie en al slaan die dink- en maakwerk nog deur, is [daar genoeg] aanduiding dat ene ‘Kleinhans’ (van ‘Silverton’) tog in die land van die muse bly.”

Grensgeval, Hans se eerste roman, word in 1985 deur Human & Rousseau uitgegee. Dit vertel die verhaal van ene Jan Adamse se reis deur Namibië, in die eerste plek om na die wortels van Suidwes-Afrikaans te gaan soek (hy is naamlik ’n taalkundige) en in die tweede plek om op die spoor van sy eie herkoms te kom. LS Venter (Volksblad, 22 Maart 1986) skryf "Dit is ’n alleenreis, maar Jan Adamse het tog ’n verbeelde reisgenoot, oom AE, met wie hy voortdurend in ’n soort innerlike debat gewikkel is. Die groot deug van hierdie roman lê nie in die storie of in die oorspronklikheid van die gedagte dat ’n wit Afrikaner bruin voormense het nie. [...] [D]ie deug van hierdie roman lê in sy styl. Du Plessis skryf ’n sappige en soms werklik pittige Afrikaans. Daarby het hy die vermoë om met enkele raak, beskrywende woorde ’n situasie te teken.”

In 1990 publiseer HAUM-Literêr Hans se volgende roman, Skuiwelinge. Die roman handel oor drie Suid-Afrikaners uit totaal verskillende agtergronde, wat in ’n kamertjie in ’n parkeergarage vasgekeer word wanneer politieke geweld die stad se strate in ’n slagveld omskep. Hoewel hierdie drie mense, elkeen op sy eie manier, geweld verwerp, word hulle gesamentlik en afsonderlik slagoffers daarvan. En hoewel Barend Toerien (Die Burger, 16 Augustus 1990) meen dat die roman nie werk nie, skryf Heilna du Plooy in Beeld (11 Junie 1990) dat die roman sy verhaal op ’n gemaklike en eenvoudige manier vertel en dat dit vlot lees. “Maar dit het meer om die lyf as net ’n storie van mense in Suid-Afrika. [...] Hierdie roman spreek in sy aktualiteit. Die gemaklike verteltrant is toeganklik en die menslikheid van die karakters, veral in die herinneringsvlugte, bewerkstellig warmte en natuurlikheid. Die oplettende leser gaan egter veel meer as ’n storie kry en sal waarskynlik heelwat nadink oor die manier waarop kontemporêre probleme die mense van hierdie land, as individue en as groepe, raak.”

Hans se eerste jeugboek, Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou, word in 1991 ook by HAUM-Literêr uitgegee. Hy dra die boek aan sy vier seuns op, want, sê hy aan Elfra Erasmus, hy het baie by sy seuns geleer. “Baie wat ek nou van myself as kind weet, het ek deur my seuns leer verstaan. Omdat ons ’n hegte gesin is, leer ons (hulle hopelik ook van my) baie van mekaar.”

Op ’n vraag hoekom daar destyds so min jeugboeke in Afrikaans was, antwoord Hans: "Ek raai dat ons letterkunde vir die jeug kwalik by die bendeboek verby kon kom, omdat daar te veel taboes vir ’n jeugboek was. Moet nie politiek praat nie, niks seks en kinders vloek mos nie! Ek meen ons het die jong lesers klaaglik onderskat en ons skewe beheptheid met nasionalisme het veroorsaak dat ons ons kinders in dom, wit watte verpak het. En dan, natuurlik, sou jy uit jou eie ’n leser geword het op grond van die klomp goed wat jy op skool (en universiteit) voorgeskryf gehad het?” Sy seuns se reaksie op die boek was volgens Hans verrassend goed, “maar hulle het kritiek gehad wat ek opgevolg het – ek meen tot voordeel van die boek”.

Die verhaal beeld die politieke en sosiale werklikheid van die Suid-Afrika van die vroeë 1990's uit. Thomas is ’n bruin seun wat nadat sy pa oorlede is, saam met sy ma en twee sussies in ’n kamer op die erf van die Ankers, ’n wit gesin, woon. Ook in die kamer woon sy pa se neef wat die kinders aanrand en beledig. Sy ma laat hom ook agter en al wat Thomas het om aan vas te hou, is sy vriendskap met Dirk Anker. Dirk en sy pa wend pogings aan om hom by die "blanke" skool te laat skoolgaan, maar daar is weer mense soos Hare Harmse en sy maats wat glo hy behoort nie in die skool nie.

Thomas van der Walt (Beeld, 7 Desember 1992) meen dat dit een van dié jeugboeke tot op daardie stadium in Afrikaans is. “Een van die positiewe aspekte van die boek is die lekker taalgebruik, Afrikaans, soos jong mense hom vandag praat, en soos die bruinmense van die Noordweste hom praat. Die humor in die boek spruit gewoonlik ook uit die taalgebruik voort. [...] Dit is egter ’n boek wat vir groot leesplesier sal sorg, miskien juis omdat hy so bitter eerlik is.” Gunther Pakendorf meen egter dat die roman nie heeltemal oortuig nie, omdat dit té skematies en resepmatig is.

Op versoek van die dramadepartement van die Hoërskool Pro Arte Alphen Park in Pretoria verwerk Hans in 1995 Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou tot ’n eenakter. Dit was die eerste keer dat hy sy hand aan ’n toneelteks gewaag het. Die skool bring die stuk op die planke tydens die jaarlikse ATKV-tienertoneelkompetisie in 1995. Die beoordelaars, Lizz Meiring, Fred Steyn en Etienne Bloemhof, was só beïndruk dat hulle aan Hans die CR Swart-prys toegeken het, ’n geldprys wat jaarliks toegeken word aan ’n nuutgeskrewe eenakter wat in ’n betrokke jaar by die ATKV-tienertoneelkompetisie opgevoer word. Volgens hulle word ’n verhaal “wat kennelik behoort aan die Suid-Afrika van die onlangse verlede, met groot ekonomie vertel. Die situasie is kontemporêr; daar is konflik op meer as een vlak; die karakters, ofskoon stereotipes, is aanvaarbaar en die dialoog oortuig feitlik deurgaans. Dit is duidelik dat die skrywer baie tyd daaraan bestee het om die teks te visualiseer, en die praktiese uitvoerbaarheid daarvan deurgaans in gedagte te hou” (Beeld, 7 Januarie 1997).

Hans se volgende jeugboek is Bakgat, en wat van my? wat in 1995 deur Human & Rousseau uitgegee is. Hoewel baie van die karakters wat in Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou ook in hierdie verhaal optree, kan dit op sy eie gelees word. Herrie is nou die hoofkarakter en hy moet na Johannesburg gaan om sy matriek te maak. Elsabe Steenberg (Beeld, 10 Julie 1995) skryf: "Hiergaan dit om die geestelike groei wat Herrie, baie jare emosioneel verwaarloos deur sy ouers, in die eerste persoon beleef; dit word moontlik deur verhoudings met veral sy pa en die meisietjie Loelien. Die werk is ’n besonderse jeugwerk."

In 1996 verskyn Ditsem, Dawid! by Human & Rousseau. Lindie Visser sit die verhaal in Die Burger van 19 Maart 1997 as volg uiteen: "Al die bestanddele van ’n klassieke avontuurverhaal is in dié jeugverhaal aanwesig: ’n probleem wat opgelos moet word, volop aksie, helde en skurke, ’n intrige wat opwerk na ’n klimaks en die ontknoping waar die 'goeie' die 'bose' oorwin. Dawid word uitgenooi na die Bosveldplaas van die pa van Ernesta, ’n meisie op wie Dawid sy oog het. Daar word hulle by wildstropery betrek. Die dialoog is die loslit Afrikaans van die tiener en dit lees lekker. Sonder om moraliserend te klink, word die etiek van jag bespreek en word die natuurskoon en diere met liefde en deernis beskryf."

Tydens die KKNK in 1997 word Hans se eerste Griekwadrama, Broerse, opgevoer. Dit word ook beskou as die eerste drama in Griekwa-Afrikaans, hoewel daar al in ander dramas karakters was wat in hul eie dialek gepraat het. Hans vertel aan Theunis Engelbrecht (Beeld, 5 Maart 1997): “Broerse is ’n storie van ’n gesin wat deur kleurvooroordeel uitmekaar geruk word; die storie van broers wat weerskante van die kleurlyn beland, en dan deur ’n kleurbehepte gemeenskap van mekaar af weggehou word. En tussen die twee staan ’n mooi meisie – ’n mooi meisie wat ook nie altyd haar kies gekies het nie. ’n Liefdesverhaal eintlik, maar hoe het mense lief as hulle nie altyd toegelaat word om lief te hê soos wat die liefde dit wil hê nie?” Dit was Salome Combrink se idee dat Hans ’n drama vir die KKNK moes skryf wat iets moet “weergee van die diep wonders van Afrikaans en iets van die mense wat in die ou Suid-Afrika die agterspeen gehad en nou, in die nuwe ene, ook nie juis ’n voorspeen in die mond het nie.” Ben Kruger was die regisseur en die akteurs Anthony Wilson, James Winkler en Jackie Davids.

Saam met Annette du Plessis ontvang Hans in 1997 die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Erepenning vir Afrikaanse dokumentêre televisieprogramme vir die program Afrikaans: ons eie mixed bredie.

In 1999 het Hans met die komponis Wilhelm Joubert kragte saamgesnoer om ’n besonderse stuk Suid-Afrikaanse geskiedenis na teatergangers te bring. Dit is Liefde en oorlog, ’n kabaret/musiekspel oor die Anglo-Boereoorlog, wat tydens die Aardklop Kunstefees in 1999 opgevoer is. Die produksie is spesiaal vir Aardklop se hooffees ontwikkel. Daar was die klanke van viool en saksofoon wat in teenstelling is met die visuele beeld van ’n outydse Mauser en ’n moderne waarheids-en-versoeningsverhoor. Die akteurs was At Botha, Heidi Bouwer en André-Jacques van der Merwe. Die regisseur was Alwyn Swart.

Reeds in Hans se bundel Gewete van glas verskyn daar gedigte in Griekwa-Afrikaans. In 1999 publiseer hy self ’n boekie, Die Griekwapsalms en annerlike goeterse yt die Woord yt. Dit is die voorloper van Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte wat in 2001 by LAPA Uitgewers verskyn. Hierdie bundel is die wenner van die Christelike Boekhandelvereniging van Suid-Afrika se algemeen-Christelike kategorie. Dit word die Afrikaanse boek waarvan tot op daardie stadium die meeste eksemplare in die eerste jaar – nagenoeg 38 000 – verkoop is. Hans vertel aan Gert Coetzee (Die Burger, 23 April 2002) dat hy een aand, tydens Christo van Rensburg se navorsingsprojek, in die hotel op Douglas gesit en wonder het hoe Psalm 23 in Griekwa-Afrikaans sou klink. Tydens sy navorsing het Hans besef dat die Griekwas “iets ongeloofliks” in hulle het. “Hulle het ’n kinderlike geloof – amper ’n Europese toegewydheid – in God, maar terselfdertyd leef oer-Afrika se mite in hulle. Dié paradoks in hulle maak van hulle oer-Afrikane, én dat die woord vlerke kry hoe verder dit loop.”

Hans het verder verduidelik: "My Griekwagedigte is nie vertalings of omdigtings nie, maar ’n transponering op drie vlakke. Eerstens is dit ’n transponering in tipiese Griekwa-Afrikaans met ’n vertaler wat eenvoudige taal praat en woorde soos ‘kinderse’ en ‘goeterse’ gebruik. [...] Dit is ook ’n transponering van die omgewing. Dawid slaan sy oë op na die berge, maar in die Kalahari is nie berge nie, ook nie ’n dal van doodskaduwee nie. Daar is wel koppe en strate (tussen die duine). Dawid kan ook nie onder ’n olyfboom sit nie, maar onder ’n kameeldoringboom. En die aarde is net so groot soos Prieska. Laastens is dit ’n transponering op godsdiensvlak. Dawid beskryf die stryd tussen goed en boos deur beelde van oorlog en siekte. Vir die Griekwa is onheil die beerlou, waterslang, son en droogte.”

Hans meen dat die sukses van die boek waarskynlik te danke is aan ’n mengsel van die bekende en die onbekende (soos Psalm 121 in onbekende metafore) en omdat die eenvoud van die mense in poësie oorloop. “Ook is daar iets geesteliks in die bundel. Baie mense het aan [my] gesê hulle het nie meer die Bybel gelees nie, totdat hulle dié bundel onder oë gekry het.”

Wium van Zyl skryf in sy resensie (Die Burger, 16 Julie 2001) dat GR von Wielligh in 1925 gesê het: “Hul taal is ongetwyfeld die laagste vorm wat Afrikaans bereik het.” Van Zyl skryf verder: “Die bundel bied egter spanne leesplesier en ’n nuwe ervaring van die rykdom van die Afrikaanse streektaal, sowel as van die literêre skatte van die Bybel en Psalmboek. Dat Afrikaanse digters en taalkundiges vandag aangetrokke voel tot die Griekwataal, bevestig dat Von Wielligh se optiek ver agter ons lê. Hierdie bewonderaars is egter steeds nie-Griekwas, iets wat ’n ligte nasmaak laat: van ’n eens trotse kultuur waarmee nou as kleurryke, onskadelike folklore omgegaan word.” Cecile Cilliers (Beeld, 14 Mei 2001) beskou veral Du Plessis se hantering van die psalms as “meesterlik” en sê dat daar in hierdie bundel “’n weelde van woord en mens opgesluit” lê.

Hans vertel aan Gerda Dullaart (Beeld, 5 Mei 2001): "Innie skylte vannie Jirre vang die romantiek van eenvoud vas op die manier waarop sterre, doringbome, veldheuning en bokke ingespan word om groot geestesgoed te sê. Daar is ’n onmeetlikheid, ’n wyd- en woestheid nie net in die landskap en in die Heer se goedheid nie, maar ook in die intense gevoelens wat gedig word.” Hans voel ook dat hy aansluiting gevind het by die Griekwabenadering tot geloof: dat ’n mens kinderlik afhanklik van God is.

Innie skylte van die Jirre het Paulette van Heerden so geïnspireer dat sy ’n unieke reeks linne met uittreksels uit die psalms daarop geborduur, die lig laat sien het. Griqua Linen word vanuit haar huis in Scarborough in die Kaapse Skiereiland bedryf. Die reeks bestaan uit duvetoortreksels met bypassende kussingslope in wit katoenbatis, geborduur in goud of steenkool.

Randall Wicomb toonset Hans se Griekwapsalms en bied landswyd konserte aan, met groot sukses. Randall se CD’s is ook suksesvol.

Hans se volgende twee bundels is op dieselfde lees geskoei as Innie skylte vannie JirreBoegoe vannie liefde: Griekwahooglied (2002) en Hie neffens my (2003) word ook albei by LAPA gepubliseer. In ’n onderhoud met Elise Tempelhoff (Beeld, 25 September 2002) vertel Hans dat Randall Wicomb hom gevra het om net een liefdesgedig in Griekwa-Afrikaans te vertaal. “Dis toe dat ek deur die Bybel blaai en op Hooglied 8 afkom. Ek het onmiddellik geweet Hooglied roep om in Griekwa-Afrikaans vertaal te word. Die erotiek en die mistiek van die liefde moes na die Kalahari gebring word.” Hans het Hooglied woord vir woord in die idioom van die Griekwas oorgeskryf, sonder om iets by te voeg of weg te laat. Hy meen dat Hooglied ’n liefdesgedig is waarin die man en vrou hul ekstase oor mekaar uitspreek. “Sommige teoloë meen dis ’n allegorie wat die verhouding tussen die kerk en Christus uitspel. Dit mag so wees, maar liefde is tog Godgegewe. Daarom hoort dit in die Bybel.”

Hy erken teenoor Ronél van Oort dat hy nog nooit soveel navorsing en moeite met ’n boek gedoen het soos vir Boegoe nie en dat hy nog nooit so hard gewerk het nie. “Magdaleen, my vrou, het aanvanklik die manuskrip gelees en gesê die liefde is mistiek en Boegoe het dit nie. Sy was reg, en ek het gaan oorskryf. Boegoe is meer literêr gesofistikeerd as Innie skylte vannie Jirre, maar is nie ontoeganklik nie.”

Hans vertel aan Elise Tempelhoff dat toe hy ’n eksemplaar van die bundel vir een van die Griekwakapteins geneem het, die man daaruit gelees het en uitgeroep het: "Maar dis dan in ons Afrikaans!”

Cecile Cilliers skryf in Beeld (4 November 2002) oor Boegoe vannie liefde: "Hierdie samevoeging van ’n liefdesverhaal van ongeveer 2 000 jaar gelede met ou Griekwagebruike, maar dan geplaas binne ’n moderne opset, val nie vreemd op nie, maar skep ’n dinamiese spanning. Alledaagse beelde word afgewissel met liriese gedeeltes van uitsonderlike musikaliteit en digterlikheid. [...] Dit sou maklik wees om te sê dat Hans du Plessis op die rug van Griekwa-Afrikaans ry om die gedigte so bekoorlik te maak. En miskien is dit gedeeltelik waar, want veral met hardop lees word mens verlei deur die ritmes van die tongval. Maar dit is nie hele waarheid nie. Wat sowel opset as raamwerk betref, is hier ’n digter aan die werk. Elke woord is op sy plek, en die oorspronklike Hooglied word (sonder verlies van respek vir die bron) omgeswaai om in die raamwerk van ’n eie verhaal te pas. Selfs die mees uiteenlopende stof word ten volle geïntegreer, onder meer met die gebruik van herhalings of herhaalde gedigte in ietwat veranderde vorm.”

Hans se rubrieke wat oor die jare in veral in die Potchefstroom Herald asook in ander koerante en tydskrifte verskyn het, word in 2004 deur LAPA uitgegee onder die titel Splinters: ’n keur uit rubrieke. Vir Gretel Wybenga (Beeld, 13 Desember 2004) is rubriekskryf die een genre wat Hans baie goed pas. Hy is ’n “bobaas-oorreder, boonop geseën met ’n gladde tong. En hy kén al die tegnieke.”

Na ’n stilte van negentien jaar in die genre van die roman verskyn Hans se roman Verbrande paradys in 2009 by LAPA Uitgewers. Willem Pretorius (Die Burger, 9 Maart 2009) vertel: "Die verhaal speel in die Vredefortkoepel af waar die Koepelaars onrustig woon asof hulle bewus is daarvan dat daar geen beskerming vir hulle teen die noodlot is nie. Die verhaal gaan oor Sybrand Venter wat baie vinnig moet grootword wanneer sy pa tragies sterf; sy broer Henro, wat goed kan 'weld', maar wie se hyser voor die boonste verdieping stop; en Andries Spogter, die atleet." Pretorius beskou die roman as ’n lekker lees.

Stoffel Cilliers (Beeld, 6 April 2009) beskryf die roman as "veelvlakkig, iets wat hom nie sommer in ’n genre laat plaas nie. Tiener- of studenteverhaal is dit nie. Ook nie juis ’n gesinsroman nie. Dit sal beslis kan kwalifiseer as karakterroman. Sommige lesers sal dit ’n natuurroman wil noem. Verskeie temas word in die verhaal aangeraak, soos die verantwoordelikheid van die mens teenoor die natuur, die dood met sy vele gesigte en gevolge en die verganklikheid van die mens. As aktuele, eietydse roman bied Verbrande paradys inderdaad baie stof tot nadenke oor ’n verskeidenheid onderwerpe. [...] Dit bied ’n besonder aangename leeservaring.”

In 1977 tydens ’n FAK-byeenkoms op Sasolburg sê Hans dat die bruin mense in Suid-Afrika deel is van die Afrikaanse gemeenskap. In 1998 vertel hy aan Alta van Wyk dat hy toe nie eens bedank is vir sy referaat nie en boonop daarvan beskuldig is dat hy “die taal weggee”. Vandag sê hy: “Dit was ons hele probleem met Afrikaans. Die feit dat politiek diegene wat nie sogenaamde algemene beskaafde of Standaardafrikaans praat nie, uitgedefinieer het; dat ons nie wou erken dat al die variante van Afrikaans die taal verryk en verruim nie. Dit terwyl Afrikaans hoeka uit Hottentots stam. [...] Die stryd teen Afrikaans was egter nie teen die taal nie, maar teen die witgeverfde gesig daarvan. Daarom is ’n inklusiewe herdefiniëring nodig. Want plaas jy vir Standaardafrikaans baklei, baklei jy vir ’n minderheidstaal. Baklei jy vir Afrikaans in al sy skakerings, bevorder jy ’n taal met sowat sestien miljoen sprekers – die grootste taal in Suid-Afrika!”

In 2000 word Hans verkies tot ondervoorsitter van die ATKV, ’n posisie wat hy beklee tot 2008 aangesien hy deur die ATKV se grondwet verplig word om op 63-jarige ouderdom as direksielid uit te tree. Hy was voorsitter van die FAK se Taalkomitee, voorsitter van die direksie van LAPA Uitgewers, trustee van die Kanselierstrust van die PU vir CHO, en trustee van die Arts and Culture Trust van die President. Hy dien ook in die direksie van die Aardklop Nasionale Kunstefees.

Tydens 2000 se Aardklop Kunstefees lewer Hans ’n lesing getiteld "Sol Plaatje en Totius" waarin hy die ooreenkomste tussen die Batswana-skrywer-politikus en die Afrikaanse digter-teoloog uitlig. Albei is in 1877 gebore en albei het doktorsgrade ontvang.

Hans se uitsprake rondom Afrikaans is alombekend. In 1997 skryf hy in Karring, die Universiteit van Wes-Kaapland se tydskrif vir taalonderrig: “Die bitterbekke wat so kla dat dit deesdae kwansuis sleg met Afrikaans gaan, het die ding aan die stert beet. Dit gaan in die nuwe bedeling inderdaad goed met die taal Afrikaans. Dis by die vak Afrikaans wat dit lol. [...] Dat die vak Afrikaans soveel teenspoed ondervind, veral aan Afrikaanse universiteite, het te doen met die vak self en met daardie universiteite se vakmense wat ongewillig is om by die nuwe eise aan te pas. [...] Kortom, wie wil nog weet van die teoretiese sintaksis of die literêre semantiek? Die twintig wat aangemeld het vir die akademiese vak, ja, maar hulle is nou die minderheid. Versigtig: so mis jy die ander duisend wat Afrikaans wil leer praat, omdat hulle dit op hul werkplek sou nodig kry of omdat dit ’n ander venster op Europa kan oopmaak.”

In 2002 lewer Hans die Hoërskool DF Malherbe se sewende gedenklesing. Die titel van sy lesing was Afrikaanses en Afrikaans: van Malherbe tot Mbeki. Hy spreek die mening uit dat Afrikaans vir hom in die eerste plek die somtotaal van al sy dialektiese en sosiolektiese moontlikhede is. “Met dit in my agterkop het ek in 1993 al die term Afrikaanses die eerste keer gebruik, bedoelende daarmee al die moedertaalsprekers van Afrikaans, maar ’n belangrike groep het uitgebly: die gebruikers van Afrikaans wat nie moedertaalsprekers van Afrikaans is nie, maar ’n belangrike deel uitmaak van die sogenaamde sekondêre taalgemeenskap. Juis binne die eksterne omgewing, speel hierdie deel van die Afrikaanse taalgemeenskap ’n belangrike rol.”

Hans skryf graag vroeg smôrens, “alleen saam met die voëls wat baie mooier as ek skryf” en gewoonlik vanweë werkdruk op Potchefstroom; maar, vertel hy aan Jeanette Ferreira, “verkieslik in my aardse skylte op Eersterivier waar ek alles wat ek skryf, gaan afrond, want stilte en alleente is dáár vanself, al raas wie ook al. As ek vashaak, wil ek opstaan, die natuur om my hê”.

Op ’n vraag van Jeanette Ferreira oor hoe hy skryf – sommer so, of eers met notas, frases, so aan – antwoord Hans: “Lang aanloop. Los woorde baiekeer in die kerk, vroeër agter in die Gesangeboek, maar deesdae sit ek maar altyd skoon papier in my kerkpak se sak.”

Hans het sedert die vroeë negentigerjare las van ’n oorerflike oogsiekte waarvoor hy laserbehandeling gekry het. Hierdie behandeling het sy detailsig so aangetas dat hy nie meer kan motor bestuur nie en met behulp van die tegnologie moet lees. Hy spot: “Ek kan byvoorbeeld nie mense se gesigte erken nie, maar dan vóél ek maar wie hulle is!” Ondanks sy sigprobleem gaan hy onverpoosd voort met skryf. In Finesse van Februarie 2002 vertel Hans aan Alita Vorster: “Die genade is mos altyd groter as die moeilikheid, maar moeilikheid se moeilikheid is dat dit so sigbaar is. Genade se genade is daarin dat dit daar is as jy dit die nodigste het, al sien jy dit eers later raak. Eintlik moet genade ook met ’n hoofletter begin, want ek praat van God se Genade. Miskien het ons geloof en godsdiens só ingewikkeld gemaak dat ons dit in sy eenvoud (en ons eie eenvoudigheid) nie wil raaksien nie. Hoe kan die hemelse Genade dan so aards, so alledaags, so wêrelds wees? Tog is dit. En al wat ons moet doen, is om dit raak te sien, en te ervaar. [...] En toe die Genade: die bundel (Innie skylte vannie Jirre) word ’n wegholsukses, Awie (van Wyk) se koor bly sing en Randall (Wicomb) maak met ’n produksie en CD nuwe paaie oop. Maar dit is genadegoed dié, want ek het nie vooraf besluit ek wil ’n godsdienstige boek skryf nie. Ek het gedigte geskryf wat uiteindelik groter as ek geword het.

"Die ou met die swak oë en die onvaste woorde word deur die Genade saggies gevat en op ’n pad vol verrassings gesit – ’n pad wat hy nie vir homself só sou kon uitdink nie. Ook maar goed, want die Here se pad loop beter. En dan wonder ons steeds of genade groter is as moeilikheid?”

Tydens die Woordfees van 2011 op Stellenbosch het ’n groep jong kunstenaars van Potchefstroom onder regie van Adri Breed Boegoe vannie liefde opgevoer, Hans se Boegoe was die basis van hierdie produksie. Dit is getoonset deur Lize Beekman met Franco Prinsloo op klavier.

Marina Nel skryf in Die Burger (10 Maart 2011) dat hierdie ’n produksie is wat "jou geloof in die skoonheid van, en noodsaak vir, woorde en musiek opnuut bevestig.

"Dit begin as ’n kamma-lesing oor dialektologie, voorgedra deur die Professor (Natie Klopper). Hy spreek die gehoorlede direk aan en berispe en prys hulle by naam, of hulle werklik sy studente is. Die lesing word egter net gebruik om die sangnommers te bind en aan die taalvariant konteks te verskaf. Die hoofbestanddeel is die erotiese dog tere liefdesverhaal van Koib (Jako Meyer) en Kois (Netanja Brink), wat daar tussen die rooi duine van die Kalahari in die allermooiste beeldspraak ontvou.

"Ester de Vos, Kois se vriendin, dans ’n riel dat jy jou verbeel jy sien die stof staan op die verhoog. Pierre-Louis le Grange en André Klopper, Kois se broers wat haar eer moet beskerm, laat ook nie op hulle wag nie.

"Die sukses van Boegoe vannie liefde lê in sy eenvoud: die klem altyd net reg; die byeenbring van uitstaande stemme en treffende verwerkings deur Prinsloo. Daar is ’n iets van alles – kostuums, dekor en rekwisiete – maar die musiek en lirieke is altyd voorop.

"Benewens die klavier, bestaan die begeleiding uit kitaar (Deon Meiring), perkussie en – wag hiervoor – ’n traporreltjie (Rineke Viljoen). Laasgenoemde is wat die produksie bo die alledaagse verhef. Dit skep ’n klank wat jou dit as waarlik outentiek laat ervaar.

"Bowenal maak Boegoe vannie liefde jou ook verlief – op Afrikaans in al sy vorme en variante."

Hans du Plessis het aan die einde van 2011 afgetree as hoof van die Noordwes-Universiteit se ATKV-skryfskool. Die 28 November 2013-uitgawe van die tydskrif Literator is aan hom opgedra.

Maar hy het beslis nie stilgesit sedert sy aftrede nie. In 2011 is Die pad na Skuilhoek gepubliseer, in 2012 Karos orie dyne, in 2013 As die wind kom draai en in 2014 Inboekeling.

Die pad na Skuilhoek speel af tydens die Groot Trek. Hans vertel aan Anim van Wyk (Beeld, 13 November 2011): "Ek het geweet ek wil ook eendag in my lewe ’n liefdesverhaal skryf. My vrou het gesê: Wat weet jy daarvan af?" Hans moes ekstensiewe navorsing doen vir Skuilhoek. Só het hy uitgevind dat die Voortrekkers die Vaalrivier die eerste maal by Parys oorgesteek het.

"Daai stuk van die Groot Trek se geskiedenis was vir my verstommend interessant en lekker. As jy nou mooi gaan kyk, dan weet ons niks daarvan nie," vertel hy aan Anim van Wyk. "Baie van daai geskiedenis van ons is gekleur deur Afrikaner-nasionalisme. Wat gemaak het dat ons heeltemal verkeerde helde het. Afrikaner-nasionalisme het Bloedrivier en Sarel Cilliers tot die Groot Trek verhef.

"Ek probeer in die roman heeltemal ’n ander beeld van die Afrikaner (te gee) – maar ek noem die woord glad nie, want hulle het hulself nie Afrikaners genoem nie. Daar is ’n stilte in die geskiedenis, met ander woorde, waar jy niks weet nie. Die feit dat daar nie soveel feite is nie, maak dat jy lekker fiksie daarin kan skryf."

In Beeld van 2 April 2012 skryf Joan Hambidge dat die roman baie vlot geskryf is en dat dit die geskiedenisboeke van Van Jaarsveld uit haar jeug oproep. En hoewel Die pad na Skuilhoek as ’n roman vir jong volwassenes aanbeveel is, kan dit dalk eerder persone soos die resensent help om die geskiedenis wat hulle op skool gelees het, te deromantiseer.

"Die verhaal gebruik die geskiedenis van die Matabeles wat in die nag van 23 Augustus 1836 ’n staning Voortrekkers uitgewis het. Net twee jong mense (Lourens en Petronel) en hul vriend, Vryheid, oorleef. Daar is rassespanning en geweld. Name soos Meester, Vryheid en Bybeltjie stel ’n tyd van voor waar begrippe soos 'staning' eweneens ’n gelade betekenis het. Swart mense is nasies of 'die volk'. Hier is dus ’n waarheidsgetroue weergawe hoe wittes ander mense gesien het. (...)

"Die verteller se taalgebruik val presies in die karakters se mond, behalwe een keer wanneer die begrip 'krities' gebruik word en binne die konteks te geleerd klink. Die prosa is gestroop en sonder enige taalfoute wat vele romans deesdae ontsier. Daar is ook ’n nuttige outeursnota vir die speurende leser en ’n indrukwekkende bibliografie, Die roman is soos ’n diorama."

Met die publikasie van Karos orie dyne in 2012 het Elias Nel op Versindaba aan Hans du Plessis gevra of hy reken daar kan kopiereg op tradisie, taal of ’n variëteit daarvan wees. Hierop het Hans geantwoord: "’n Taal, of enige vorm daarvan, het nie op sigself kopiereg nie, want dit is nie iemand spesifiek se intellektuele eiendom nie. As dit was, sou ek of Antjie Krog ook nie in Engels mog skrywe nie – of Elias Nel in Standaardafrikaans nie. Afrikaans is die somtotaal van al sy dialekte, en Afrikaans behoort aan almal wat dit praat. Intellektuele eiendom lê daarom in die oorspronklike skepping in die besondere taal en nie in die linguistiese kode self nie. Sou die Griekwapsalms dus iewers bestaan het voordat ek dit geskryf het, beteken dit dat ek iemand anders se intellektuele eiendom gesteel het en as my eie skepping voorhou. Nie een van die gedigte bestaan egter elders as in my eie publikasies nie. ’n Kunstenaar kan net approprieer wat reeds geskep is. Geen wet of reël of regulasie kan egter voorskryf in watter medium die kunstenaar mag skep nie. Dis soos om te sê ek mag nie op ’n rots met plant-en-dier-verf teken nie, want iemand anders het dit al gedoen. Dit is egter ’n ander saak as ek ’n rots met ’n oertekening daarop uitkap en dit as my eie kunswerk gaan uitstal. Dit is appropriasie. Plagiaat, of steel in gewone Afrikaans. Dit is nogal vreemd dat niemand dieselfde vraag met betrekking tot die gebruik van die Bybelgedeeltes vra nie. Miskien is dit simptomaties van ons gebroke taalgemeenskap, ’n taalgemeenskap met grense wat nie bestaan nie, maar deur politieke domastrantheid gefabriseer is. Inteendeel, die skep in ’n variëteit is daarop gemik om die variëteit se potensiaal as skeppingsmiddel te bevestig. Dit probeer juis grense afbreek." 

Oor Karos orie dyne skryf Bernard Odendaal op Versindaba: "Met hierdie derde bundel Bybelse poësie in Griekwa-Afrikaans maak Hans du Plessis en Lapa-uitgewers as ’t ware weer so: vlot, toeganklike en waarskynlik gewaarborgde gewilde verskuns vir waardeerders van Christelike literatuur én van die verkwiklike seggingskrag van ’n niestandaardvorm van die taal.

"Die twee genoemde waarderings het ook met mekaar te doen. Naas Du Plessis se vaardige omdigtings van die Bybelse materiaal – hy noem in die 'Outeursnota' dat al die gedigte in die bundel, 'op een of twee uitsonderings na', gegrond is op Bybelstekste – is dit juis die kleding van die bekende geestelike stof in die aards-konkrete, romanties-eenvoudige baadjie van die Griekwatongval wat die poëtiese effek bewerkstellig. (...)

"Die klem val deurgaans eerder op die menslike afhanklikheid van God en op God se liefdevolle, deurlopend reddende teenwoordigheid in die leefwêreld wat hier uitgebeeld word – die 'karos' van die 'jimmel … orie donker dyne' waarvan in 'Die Jirrie spannie jimmel' gewag gemaak word, en waarvan die bundeltitel afgelei is.

"Met Karos orie dyne versterk Du Plessis die gewaardeerde posisie wat hy as religieuse digter en as funksionele benutter van ’n niestandaardafrikaans-vorm beklee."

Op LitNet het die uitgewers, LAPA, Karos orie dyne as volg bemark: "Karos orie dyne is ’n splinternuwe bundel met Griekwapsalms deur Hans du Plessis. Dit is weereens oorspronklike gedigte in die aangrypende Afrikaanse dialek van Griekwaland-Wes en bevat die res van die Dawidspsalms en ook verse oor ander Bybelgedeeltes, soos van die gelykenisse.

"Die gedigte vertel van die skepping, die voorspelling en geboorte van Christus, die kruisiging en die einde van die aarde, maar veral van die Groot Genade. Bekende sowel as minder bekende Skrifgedeeltes word weer nuut gemaak deur die seggingskrag van hierdie variëteit van Afrikaans en die treffende transponering van die Bybelse omgewing na dié van die Kalahari. Die verse verras weer met die vernuwing van die Bybelse metafore."

As die wind kom draai maak net soos Skuilhoek sy draai tydens die Groot Trek en daarby saam is ook ’n liefdesverhaal ingeweef. Die verhaal van Skuilhoek word hier verder gevat en vertel die storie van Vryheid.

Op LitNet vertel Nini Bennett van As die wind kom draai: "Dit is 1844 en die seun van ’n slavin, Vryheid, raak verlief op Magriet Prinsloo. Haar gesin, en veral drie broers, is ernstig gekant teen hulle verhouding, en dié weerstand ontketen ’n paar kwelvrae: Wie is Vryheid se pa? Wat is die Prinsloos se groot geheim? Waarom mag net die wit trekkers grond besit? In sobere styl beskryf Du Plessis die lotgevalle van sy karakters; die historiese stoffering van die verhaal is oortuigend en outentiek.

"Naas Vryheid se liefde vir Magriet sentreer die roman ook om twee ander sleutel-intriges, naamlik Lourens se ambisie om veldkornet van die Berglandwyk te word en Bybeltjie Steyn se roeping om in Nederland vir predikant te gaan studeer. Meester Joachim Roos, wat drie uur te perd van die plaas Skuilhoek op Mooirivierdorp (Potchefstroom) woon, is die aangewese persoon om die drie jong mans met hulle onderskeie vrae (wat inderwaarheid die kern van ideologiese vraagstukke vorm) te help.

"In oënskynlik onskuldige verhaalgebeure word ’n paar magsdiskoerse van die Afrikanergeskiedenis geaktiveer. Sonder om in historiese pedanterie te verval, volg die verteller op trekkersweë self die oorsprong van netelige kwessies, byvoorbeeld dié van Afrikaner-identiteit (slawe en rassevermenging en -afkoms ingereken)."

Bennett sluit af: "In As die wind kom draai word die karakters se interaksie en noue verbondenheid met die natuur akkuraat en liries geskets. Naas verwysings na die weer, diersoorte en plantegroei word laasgenoemde ook effektief ingespan om betekenis aan die individue se innerlike monoloog te gee, wat op sy beurt weer die emosionele beleweniswêreld van die onderskeie karakters registreer.

"As die wind kom draai is ’n liefdesverhaal en historiese roman wat eindelik daarin slaag om magsvraagstukke te besleg deur die morele hoë grond te kies. Dit is ’n genietlike werk vir oud en jonk en spreek omstrede kwessies met die nodige piëteit aan. Dit is ’n boek wat getuig van hoop – en binne die historiese inbedding steeds ’n tydlose relevansie sal hê."
 
In Rapport van 6 Mei 2013 skryf Malene Breytenbach dat Hans du Plessis in As die wind kom draai daarin slaag om nie net die tydsgees nie, maar ook die omstandighede en die geestelike en fisieke deel van die lewe van daardie tyd oortuigend te skets. "Die kwessie van slawe, rassevermenging en afkoms kry dikwels aandag in ons literatuur en hier is dit weer die kruks van dié verhaal. Die roman lees maklik en lekker en die karakters is geloofwaardig in hul stryd teen hul omstandighede en vooroordele."

Hans se jongste publikasie, Inboekeling, is weer ’n roman wat op die Voortrekkers in die noorde van Suid-Afrika fokus. Hierdie slag vertel hy van die inboekelingstelsel waarvan baie mense, en dan veral wit Afrikaanse mense, weinig weet.

In Rapport (16 Augustus 2014) skryf André Gouws oor Hans se Inboekeling: "Die Voortrekkers in die noorde van die land het in die middel tot laat 19de eeu, toe slawerny reeds in die Kaap afgeskaf is (1834), steeds voortgegaan met die handel in 'swart ivoor'. Swart kindertjies wat op strooptogte gevang is, is 'ingeskryf' in ’n boek op die dorp en het as slawe vir die Boere gewerk. Sommige is ook uitgevoer.

"Inboekeling begin met ’n man wat aan ’n riem op die werf van Hier aangebring word deur die bullebak Niklaas Opperman. Niklaas kan niks verkeerd doen in die oë van sy oupa, die patriarg Hermaans Opperman, nie. Die vreemdeling met die riem aan die nek stel homself voor as Japie Niemand, van Elders. Hy is ietwat stadig van begrip. Hy kan glad nie onthou met watter pad hy by die mense van Hier aangekom het nie. Sy broer is iewers langs die pad doodgemaak, maar hy deel nie veel meer van sy storie nie. Hy is vreeslik honger en dors en kan homself kwalik in toom hou wanneer die Coetzees hom nooi vir ete.

"Die verhaal wentel meestal om Japie, wie hy is en waar hy vandaan kom, met ’n hele paar ander storielyne daar rondom. Japie gee voor hy is ’n ystersmid, wat hy nie is nie. Die patriarg stel hom voor ’n toets, want die mense van Hier is maar agterdogtig teenoor dié vreemdeling wat so uit die bloute opgedaag het en net sê hy was op pad na Niemandsland. Hy sê ook nie waarom hy daarheen op pad was nie, maar Niemandsland is nie ’n goeie plek nie?.?.?. Daar is (aanvanklik) geen geografiese aanduidings in die boek nie.

"Inboekeling is ’n heerlike boek. Dit lees soos ’n speurverhaal wat ’n mens nie wil neersit nie, maar ’n mens kan ook nie te veel sê sonder om die hele storie weg te gee nie.

"Die lewenswêreld van die inboekelinge is ’n groot deel van die verhaal. Eenkant, maar tog ook nie heeltemal nie. Die vroue (Susanna Coetzee en haar kinders) verteenwoordig die teenslawerny-mening. Hulle is erg gekant teen die steel van die swart kinders en die inboekelingstelsel, maar die ander steun dit steeds. Tarentaal, een van die ingeboektes, kom in opstand teen die hele stelsel. ’n Mens wonder of Japie ook ’n inboekeling is?

"Die boek slaan soms oor na die eerstepersoonsverteller, wat aanvanklik steurend is, want ’n mens het geen idee wie aan die woord is nie. Eers later blyk dit 'Meester' is die skrywer van die boek en praat soms in die eerste persoon.

"Daar is iets steurends aan die ontwikkeling van die storielyn van Meester se eie verhaal. Dit voel geforseerd en dra nie vir hierdie leser werklik by tot die verhaal nie. Dit doen egter geen afbreuk aan die res van die teks nie."

"Hierdie roman het my op hierdie oomblik geneem na ’n herbesoek van die Afrikaanse geskiedenis en in welke mate romans die waarheid beter kan vergestalt as geskiedenisboeke," skryf Joan Hambidge op LitNet. "Dit is 'n roman klein in omvang wat baie nadenke tot gevolg het."

Wium van Zyl het in sy resensie in Rapport (22 September 2014) gemeen dat ’n mens die indruk kan kry dat publikasie van Inboekeling afgejaag is en dat dit ’n baie goeie literêre spanningsverhaal sou kon gewees het, maar daar is ’n onafgerondheid aan die boek wat nie Hans du Plessis waardig is nie.

Op 18 Junie 2014 het Hans du Plessis saam met Bernard Odendaal, Christo van Rensburg en Jaap Steyn ’n brief aan die pers geskryf oor ’n Afrikaanse universiteit: "Wat van ’n Afrikaanse universiteit? Daar is mos genoeg Afrikaanssprekendes in die land, nie waar nie? Ons praat van ’n volwaardige staatsondersteunde Afrikaanse universiteit wat sonder druk van binne of buite vrye Afrikaans as onderrig- en administrasietaal gebruik. Een van die bestaande universiteite, waar die infrastruktuur reeds bestaan. Personeel is klaar aangestel. Ons vra nie toestemming om op die leemte in ons hoër onderwys te wys nie en ons praat ook nie namens enige organisasie of instansie nie.

"Natuurlik is so ’n universiteit ook nie uitsluitlik vir Afrikaners of Afrikaanssprekendes nie. Die studente hoef nie Afrikaans te wees nie, hulle moet net aanvaar dat dié veelrassige instelling se ankertaal Afrikaans is. Ons ken die geskiedenis van Afrikaans. Aan hierdie nuwe universiteit kan sonder kniebuigings of inmenging skoon begin word. Ons het volle vertroue in die versoenende toekoms van Afrikaans en in die onmisbare gehalte-bydraes wat daardeur gelewer sal word. Ons praat van ’n outonome, nie-rassige Afrikaanse universiteit, wat net ’n bate vir Suid-Afrika kan wees.

"So maklik. So regverdig."

Publikasies:

Publikasie

Kleinwild

Publikasiedatum

1978

ISBN

0809701507 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wat is wat?: ’n inleidende ondersoek na wat-verskuiwing in Afrikaans

Publikasiedatum

1979

ISBN

08697013200 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: RAU

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sintaksis vir eerstejaars

Publikasiedatum

1982

ISBN

086874168 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gewete van glas

Publikasiedatum

1984

ISBN

0798117184 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Taalfeite en –foute: hersieningsoefeninge vir Afrikaans

Publikasiedatum

1984

ISBN

0869541692 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Macmillan

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Grensgeval

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798119179 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sintaksis

Publikasiedatum

1985

ISBN

086874221X (sb)

Uitgewer

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Variasietaalkunde

Publikasiedatum

  • 1987
  • 1995

ISBN

  • 0620115882 (sb)
  • 0798635525 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Serva
  • Pretoria: Kagiso

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skuiwelinge

Publikasiedatum

1990

ISBN

0798630574 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou

Publikasiedatum

1991

ISBN

0798632489 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Jeugroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

En nou, Afrikaans?

Publikasiedatum

1992

ISBN

0627018084 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skryf ’n storie: praktiese wenke en opdragte vir die voornemende skrywer

Publikasiedatum

1993

ISBN

(sb)

Uitgewer

Pretoria: JP van der Walt

Literêre vorm

Letterkundige gids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bakgat, en wat dan van my?

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798133740 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ditsem, Dawid!

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798136626 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugroman

Pryse toegeken

ATKV-Kinderboekprys 13–15 jaar 1998

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Griekwapsalms en annerlike goeterse yt die Woord yt

Publikasiedatum

1999

ISBN

0620251921 (sb)

Uitgewer

Potchefstroom: H du Plessis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte

Publikasiedatum

2001

ISBN

0799328758 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Algemeen Christelike Boeke 2002 (Christelike Boekhandelvereniging van Suid-Afrika)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Boegoe vannie liefde: Griekwahooglied

Publikasiedatum

2002

ISBN

799330507 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hie neffens my

Publikasiedatum

2003

ISBN

0799330256 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Splinters: ’n keur uit rubrieke

Publikasiedatum

2004

ISBN

0799333220 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Rubrieke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verbrande paradys

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780799343137 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die pad na Skuilhoek

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780799351613 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Karos orie dyne

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799355314 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

As die wind kom draai

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780624057468 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Inboekeling

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624069355 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Hans du Plessis as redakteur

Artikels deur Hans du Plessis beskikbaar op die internet


Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top